Fresh off the press: Ons Klyntji zine 2025

Ons Klyntji 2025: Cover art deur Octavia Roodt
Jaargang 129 is hier met 100+ bydraers
Presenting Ons Klyntji 2025!
In die nuutste uitgawe toer ons tussen dekades rond, met byvoorbeeld Gérard Rudolf se onthoustorie van die keer in 1988 toe hy vir Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis ’n lift gegee het van Joburg na Bloemfontein. Alternatiewe musiek van dieselfde era is ook ter sprake in die versameling huldeblyke vir die musikant Gary Herselman (The Kêrels, Gereformeerde Blues Band) en Fred de Vries bespreek ’n paar van sy gunsteling-T-hemde wat jou bekend stel aan, onder meer, Italiaanse anargiste, die Rotterdam-punk-band The Apers en die keer toe Fred jare gelede vir Nick Cave & The Bad Seeds gaan kyk het in New York. Huldeblyke duik ook op in van die gedigte, soos Tiaan la Grange se ‘Seeglas’ (vir Joha van Dyk) en Sjaka Septembir se ‘Ugli Bob’ (vir Rob Murray).
Onder die digters verskyn verskeie Ons Klyntji-regulars, soos Clinton V du Plessis, Danie Marais, Abigail George en Diane Awerbuck, plus van ons beste jong digters soos Pieter Madibuseng Odendaal, Ryan Pedro, Neo Mehlomakulu, Naidene Lottering en Shane van der Hoven. Temas onder bespreking wissel soos altyd wyd oor die spektrum: van die genocide in Gaza en memories oor Steve Biko tot ontvlugting in die natuur en ’n skrywer se selfstruweling met ChatGPT. Daar is kortverhale deur Eben Venter (‘My laaste Oujaarsaand’), Ciaran R Maidwell (‘Choose your adventure’) en emma olivier (‘Druk “speel”’).
Sterk artworks word ten toon gestel, met werk deur William Bishop, Anton Barnard, Salome Wessels, Lezanne Scott, Vincent Engelbrecht en Mieke Loubser wat uitstaan, asook foto’s deur onder meer Bernard Brand, Liny Kruger en Gerdus van der Watt.
Oudergewoonte word Ons Klyntji 2025 by Tuin van Digters in Wellington bekend gestel. Die zine launch is op die feesprogram vir Saterdag 13 September, 19:00–20:00. Bydraers sal van hul werk voorlees en die zine sal te koop wees teen R65. Loer hier na die volledige Tuin van Digters-program; kaartjies is hier te koop.
Die zine sal binnekort ná die launch in voorraad wees by boekwinkels, soos The Book Lounge en Clarkes Bookshop in Kaapstad, en Love Books in Johannesburg. Stuur ’n e-pos aan zine@klyntji.com vir enige navrae oor bestellings.
Dankie aan kykNET se borgskap wat dit moontlik maak om nóg ’n jaar makietie op papier te hou met alternatiewe en veeltalige gedigte, kortverhale, kuns en fotografie. Ons het dit al 129 keer gedoen and we’re not stopping any time soon. Volgende jaar is 130 jaar van Ons Klyntji – die eerste en oudste Afrikaanse tydskrif. Watch this space, ons gaan dit beslis nie stil-stil laat verbyglip nie. Klyn begin, anhou win.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Fresh off the press: Ons Klyntji zine 2025 gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.