Ons stel bekend: Ons Klyntji 2026 met 115 bydraers

Ons stel bekend: Ons Klyntji 2026 met 115 bydraers

130 jaar van die eerste en oudste Afrikaanse tydskrif

Klyn begin, anhou win! 

Dié leuse van Ons Klyntji geld al sedert 1896 toe die destydse taalvegters die titel geskep het as Afrikaans se eerste volwaardige tydskrif. In die 1990’s het Koos Kombuis die tydskriffie laat herleef as ’n spoeg-en-plak-styl zine, en sedertdien is dit aangepass van een stel redakteurshande na die volgende, soos ’n goeie tapyt van een studente digs na die ander verwissel – en hier sit ons nou, voete op dieselfde mat, in 2026, en dis Jaargang 130!

Vanjaar se uitgawe hou by die zine se kernwaardes (klein, maar getrain) en probeer steeds om soveel moontlik skrywers en kunstenaars blootstelling te gee. Die omslagkuns is deur Paula Stephanie Kruger (ons het ook limited edition tote bags en hoodies gemaak met hierdie ontwerp op, wie is keen?) en die bladuitleg deur Lara-Louise Venter wat al meer laatnagte aan Ons Klyntji gewy het as wat enige mediese plan sou kon cover.

Binne-in kry jy 152 bladsye se gedigte, kortverhale, strokies, prentjies en foto’s. Daar is Ons Klyntji-veterane soos Sjaka S Septembir, Danie Marais en Clinton V du Plessis, maar ook mense wat vir die eerste keer in die zine publiseer, soos Emilie Badenhorst en Heléne van der Westhuizen.

Om een of ander rede kom bome vanjaar sterk deur as tema, met ’n foto van Stefan Krynauw, kortverhaal deur JP du Toit en strokie deur Anton Barnard. Daar is iets stuitigs uit die penne van Rietkooinooi en Soekie Vogel, terwyl Cailyb Prinsloo miskien die koek vat met dié lyn: “[I]f I had a testicle for each time I’ve read a poem that a teacher of mine wrote about his penis published here, I’d have a full set.”

Daar is gedigte en stories oor Mosselbaai, die Vrystaat, tarentale, vuil vadoeke, die Boland, kuikens, die eindtye vir vetplante, Food Lover’s, toeriste, imperialisme en, natuurlik, die dood. 

Van ons hoogtepunte sluit in Kabous Verwoed se roerende gedig oor Gert Vlok Nel (‘Beaufort se ander beautiful’), Donovan Greeff se malsnaaks kortverhaal ‘Betreffende Saterdag’ en Bill Dodd se sorgvuldige waarneming vanuit die haarkapperstoel: 

One by one we went under the flashing scissors,
almost at home now with death.
You can cope with some things better
in a barber’s shop than in a church.

Die zine sal ná die bekendstelling te koop wees by Book Lounge in Kaapstad en Love Books in Johannesburg.

Gegroet, vriende, en geniet dit!

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Ons stel bekend: Ons Klyntji 2026 met 115 bydraers gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand