Diepduik saam met Franco Schoeman

Chova, die patriarg by Limpopo. Foto’s deur Franco Schoeman, tensy anders vermeld.
Oor die gebruik van infrasonika om met olifante te kommunikeer
Reusagtig groot met lang, dik bene. Die ore is groot en die diere het gewoonlik lang, uitstaande tande en ’n slurp wat as neus en hande dien. – Sakgids tot Suider-Afrikaanse Soogdiere (1992)
Franco Schoeman, aka amaFranx – ’n SAMA-genomineerde musikant (vir die album in the kingdom of the Aloës, 2021) – is ’n virtuoos-baskitaarspeler met ’n voorliefde vir báie lae frekwensies; ’n wêreld wat hom laat vra het: Hoeveel dieper kan ons gaan?
Franco het as meestersstudent in jazzmusiek by Wits die moontlikhede van komposisies in infrasonika – met ’n diepgaande studie oor olifantgeluide – verken. Nou, tesame met ’n groep volhoubaarheidsargitekte en bewaringskenners, neem Franco sy unieke kennis van infrasoniese klank en olifantgedrag om “olifanthekke” te skep – klanktorings wat olifante weg van areas waar hulle skade kan aanrig (en dus ook hulleself in gevaar stel) lok en veilige migrasieroetes (her-) bewerkstellig.
Franco se skeppende verkenning van infrasonika – klanke laer as 20 hertz – het hom gelei na “gesprekke” met olifante (waaronder die projek Talking to elephants), ’n onderneming wat, vermoed hy, lewenslank gaan wees. Die studie ontsluit volhoubare bewaringsmoontlikhede en bied vir gehoorgestremdes ’n unieke ervaring in ’n vermaaklikheids- en verwonderingsin.
Franco het ook die kunsprojek B1DR (uitgespreek Bewonder) geskep as ’n multi-sensoriese ervaring, waar hy infrasoniese olifantklankopnames en interpretasies daarvan op sy baskitaar vergesel met storievertelling – ’n optrede wat kreatiewe, interaktiewe en interpretatiewe gestalte gee aan ’n voorheen ontoeganklike wêreld waar die onhoorbare en onsegbare herverbeel word. ’n Unieke vertoning hiervan, B1DR – Beyond silence: Elephants, infrasound and music, is 8 September by die Fairtree Atterbury Teater in Pretoria (kaartjies hier).
Ek het met Franco gesels oor sy musikale reis in lae frekwensies en infrasonika wat by die dag verdiep: om as tolk van ontoeganklike klanke nuwe wêrelde in gewaarwording te bring, waar stembande so groot soos pomelo’s om mekaar vou en vibreer…
Weer talm sy vir ’n plukkie aan ’n doringboom, die blare kraakvars dié tyd van die nag, heerlik, rêrig, en stap aan [...]. Sy stop, staan net so in die grasveld. Stil, doodstil hou sy haar, lig haar kop op, maar na wat? Die keepoor draai, gevolg deur die linkeroor, fyn gerig op die rondskuiwery en aanganery daar voor. Kan net die storm wees. Hulle is ook op die uitkyk vir die sappige noors. Reg rondom haar registreer haar ore die lewende veld, diep in haar binneoor resoneer ou, ou gewaarwordings. Sy lewe. Hier. – Eben Venter, Decima (2023, bl.90)
JANNIKE: Franco, jy is bekend vir jou werk as solokunstenaar (baskitaarspeler en liedjieskrywer) onder die moniker amaFranx. Kan jy ons meer vertel hoe jou agtergrond in musiek aansluit by jou huidige projekte, Talking to elephants en B1DR?
FRANCO: Nadat ek my BTech in jazz by TUT voltooi het, wou ek graag verder studeer. Ek het by Wits gaan aanklop en met Carlo Mombelli, Jonathan Crossley, Christopher Letcher en Cameron Harris gesels oor wat ek moontlik sou wou verken. Ek reken toe, ek hou van lae frekwensies, ek is nog altyd mal oor bass. Die bass wat ek kies om te speel, het ook ’n laer snaar as die normale four-string, en ek wil graag kuns bou met daardie laer frekwensies. As jy dié tipe “siekte” het en jy so verslaaf is daaraan om laer en laer in frekwensies te gaan, tref jy die limiet van die hoorbare frekwensies – human hearing threshold – wat veronderstel is om op te hou by 20 hertz.
Aan die onderpunt van wat tegnies onder die human hearing threshold is, is daar die klassieke voorbeeld van olifante, en ook walvisse, wat bekend daarvoor is om die laer frekwensiespektrum te gebruik vir kommunikasie. Wat hulle presies “sê” en hoe hulle dit doen is verskriklik interessant, maar dit wat ek uitgedaag het in my studie, is die vraag of ’n mens dit kan hoor of nie. So, ek het dit akademies aangeval en gesê dat ek nie glo dit is die einde van ons ervaring nie. Of dit nou hoorbaar is in die klassieke of anatomiese manier, is dalk ’n goeie gesprek om te hê, maar as ’n kunstenaar kan jy mos ’n performance aanbied en kyk of mense aanklank vind daarby en of hulle enigiets ervaar.
Die posisie wat ons ingeneem het, is dat die limiet eintlik verkeerd is en dat ons kan speel met wat daaronder is. Die akademiese proses het drie jaar geduur, waar ons (ek, Crossley en Harris) begin het om oor al die hekkies te spring. En dit begin natuurlik met die vraag: Hoe weet jy jy is besig om infrasonika te maak? Ek kan tegnies net op ’n verhoog staan met ’n klomp luidsprekers en vir mense sê: “There it is!” Maar hoe sal ons weet of dit besig is om te speel of nie?
Dit is hoe spektrografie so deel geword het van hierdie projek, en nog steeds ’n groot deel is van die projek self – want as jy visuele uitbeelding het van daardie klanke, het jy ’n X/Y-grafiek en bewyse dat wat jy hier probeer doen het, regtig bestaan. So is dit op ’n digitale manier reeds ’n aanduiding dat jy wel doenig is met daardie frekwensies. Ek genereer byvoorbeeld op ’n rekenaar ’n 19 Hz-frekwensie en die spektrograaf wys vir my ek het wel daardie frekwensies gemaak.
JANNIKE: Is spektrografie die visuele uitbeelding van klank?
FRANCO: Yes, dis presies wat dit is – die visuele uitbeelding van klank – en alles wat in daardie klank is. Ons moes verskillende sagteware toets om te weet dat ons die mees akkurate verteenwoordiging van klank het. So, dit was die eerste hekkie. Ons het daarna deur verskillende luidsprekers (subwoofers, groot diafragmaluidsprekers) gewerk – ons het 15”- en 18”-luidsprekers in verskillende configurations en designs in ’n warehouse opgehook en mikrofone wat ook onder 20 hertz kon opneem, en só kon ons die beste luidspreker kies.
Dit was reeds ’n volledige sirkel wat aangedui het dat ons hierdie wél kon regkry: Ja, ons kan infrasonika skep; ja, ons kan lees dat ons dit wel geskep het; en ja, ons kan dit met ’n luidspreker skep. Ons kan dit akoesties in ’n kamer laat gebeur en ons kan dit weer met ’n mikrofoon opneem om seker te maak ons is nog steeds besig om infrasonika te maak. Daar was baie truth-vetting: Praat ons die waarheid? Is dit die waarheid of is ek net besig om vir mense te sê: “Ek het nou net ’n infrasound performance gespeel, het jy dit gehoor?”. Ek wou regtig goeters laat vibreer en daai lyn verwyder. Dis deel van my mission: Haal die lyn uit. Ons beperk onsself deur te sê ons kan net tot hier gaan. Dis maar ons smal laan. Bullshit. Ons kan verby dit beweeg in verskillende maniere.
JANNIKE: Hoe bestudeer mens infrasoniese musiek?
FRANCO: As ek ’n pianis was, sou ek Liszt, Chopin of Rachmaninov se komposisies moes bestudeer om te sê hierdie is my instrument. So hierdie is my meesters – die reuse in my veld – en ek moet nou deur hulle werk gaan om te wys dat ek my huiswerk gedoen het. In my geval is infrasonika my instrument, so waar kry ek die “meester” wat met infrasonika kan werk? As ek na menskomponiste kyk, is daar een of twee mense wat met ontploffings komponeer het, en baie noise music artists gebruik baie wyeband-frekwensies, maar daar’s nie noodwendig dié wat op infrasonika fokus nie. Daar’s mense wat per ongeluk infrasonika gemaak het, soos die Italianer Luigi Rossollo (Art of noises) wat in die vroeë 1900’s infrasonika met groot masjiene gemaak het. Hy het dit intona rumori genoem – ’n “rumoer” wat hy gebou het met verskillende apparate, en ons vermoed dat hy ook infrasonika daarmee gemaak het. So, hy was een van die menskomponiste. Daar is ook mense wat vir die House of horrors en vir die 32 ft-orrelpyp gekomponeer het. Hulle sou ook hier om en by 16 Hz gemaak het.
Hermann Holtzmann is ’n groot outlier van studies met klank en hoe mense dit waarneem. Hy het reeds gesê dat iets soos 18,5 Hz (nie 20 Hz nie) eintlik die frekwensie is waar ons nie meer kan hoor nie. Hier het die boundary al klaar begin sagter en swakker word, wat vir my sukses beteken. Só het ons verder beweeg en besef ons is besig met iets cool hierso, en ons weet ons kan nou elektronies hierdie frekwensies maak.
Ons kon vasstel dat ons die frekwensies elektronies kan namaak, maar ek was my lewe lank meer aangetrokke tot akoestiese klanke, organiese verteenwoordiging, analog-goeters, eerder as synths. Ek like elektroniese musiek, maar ek wil definitief ’n organiese komponent saamsmelt met hierdie sintetiese komponent. En só het ek besluit die meesters wat ek gaan bestudeer om beter te verstaan hoe infrasonika gebruik word, is olifante – omdat hulle daardie frekwensies gebruik om met mekaar te kan kommunikeer. Eerstens, omdat hulle so groot is; tweedens, omdat daai golflengte verhoed dat enigiets die klanke verswak en die klank verskriklik ver oor die landskap kan reis. Derdens, dink ek, is hulle intelligent en sosiaal, so hulle gesels en hulle express, gee vir mekaar byname en sing dalk deuntjies nou en dan. Daar’s amper ’n menslike element in die olifante wat hulle ook toelaat om met die klanke te speel. Dis nie noodwendig net funksioneel of ’n resultaat van hulle ekologie of natuur nie. Dit is hoe ’n musikant wat in ’n akademiese soektog na die laagste moontlike frekwensies by olifante as ’n navorser opgeëindig het om beter te verstaan hoe ons kan kommunikeer en gebruik maak van infrasonika. So, hierdie is soos Hoofstuk 1.
“Ek like elektroniese musiek, maar ek wil definitief ’n organiese komponent saamsmelt met hierdie sintetiese komponent. En só het ek besluit die meesters wat ek gaan bestudeer om beter te verstaan hoe infrasonika gebruik word, is olifante – omdat hulle daardie frekwensies gebruik om met mekaar te kan kommunikeer.”
JANNIKE: Hoe bring ’n mens die manier waarop olifante gebruik maak van infrasonika by die musikale komponent van jou studies by?
FRANCO: Ons moes ’n recital gehou het vir die einde van daardie studie. Dit was ’n 40 minute performance wat omtrent net uit infrasonika bestaan het: die hoofinstrument, die begeleiding, die verbindings tussen die stukke, die uitdrukking, die ritme is alles infrasonies. Daar het ek baie op die afspeling tussen organies en sinteties gefokus. Ons het geweet watse luidsprekers om te gebruik en só het ons in Wits se Great Hall die recital vir alle geïnteresseerdes gehou, maar ook dié wat in die dowe gemeenskap en oudiologiegemeenskap betrokke was. Mense sê nou nog vir my dat dit so spesiaal was om in ’n ruimte te wees waar jy amper voel asof jy binne ’n embrio is; amper soos die organiese klanke wat jy partykeer hoor as jy onder water is, of as jy jou oë toemaak en jy fokus in ’n stil area op jou eie hartklop en die klank van die bloed in jou oordromme, soos ’n anechoic feeling, want die frekwensies neem heeltemal oor. En dit integreer met die argitektuur van ’n kamer, want die vibrasies is so massive. Dit was ’n groot sukses.
JANNIKE: As ek in die gehoor was, wat sou ek gehoor/gesien/ervaar het tydens daardie performance?
FRANCO: Hulle was vreeslik streng dat daar geen “normale” instrumentasie of musiek kon wees nie. Hier en daar kon ek bietjie atmosfeer gebruik – byvoorbeeld, die res van die klanke wat ek opgeneem het terwyl ek die olifante opgeneem het, was amper ’n anomalie wat saam met daai opname gekom het. So, hierso record ek die rumble van die olifant, maar die olifant is nie in ’n ateljee wat beskut is waar ek alles kan beheer nie. Behalwe vir die atmosfeer en ’n bietjie van die equalisation, was alles infrasonies – ek het nie ’n baskitaar of ’n mikrofoon of enigiets gehad nie. Ons het die sweet spot in die Wits Great Hall met rooi tape afgemerk, en dis waar die mense moes sit. Dan was daar ’n uitstalling op die verhoog net van die luidsprekers self. Daar was 12 dubbel-18”-luidsprekers, omtrent soveel subs of so ekstra, vier meer as wat mens by die James Phillips Main Stage by Oppikoppi gehad het. Dis ’n klómp subwoofers wat almal saam werk om saam met die lug te kan couple en die frekwensies te kan maak.
Jy sou ingestap het en amper heel voor in daai rooi area gesit het op ’n stoel, en ek was onder die verhoog met my toerusting. En ek het net vir die mense gesê: “OK, hier gaat ons”, en toe speel ons. Dit was ’n baie streng en amper puristiese infrasound performance. Omdat ons nie normale notasie kon gebruik nie, moes ek met spektrografie en ’n tipe hiëroglifiese sisteem ’n nuwe vorm van notasie bou, sodat die eksaminators die komposisie kon merk.
Mense het hulle oë toegemaak en baie gefokus op hoe hulle dit ervaar. Die dowe gemeenskap, die oudioloë en die mense wat met gehoor- en praatterapie te doen het, was oor die maan gewees, want hulle het gesê dit skep die geleentheid om die dowe gemeenskap in te sluit in ’n entertainment-veld. Dit was 2017. Hierdie hele konsep het daarna gaan lê vir ’n rukkie; ek het in corporate gewerk, my eie maatskappy begin en rondgedwaal en amaFranx gigs gespeel, net op die baskitaar as ’n solo artist.
JANNIKE: Hoe het die Talking to elephants-projek op jou pad gekom?
FRANCO: ’n Groep argitekte het my onlangs genader (via Jonathan Crossley) as die “infrasound guy”. Hulle is sustainability architects met hierdie droom dat ons moontlik oorbevolking van olifante in bewaringareas kan aanpak deur die beweging van die olifante te beheer. Met ander woorde, as ons infrasonika kan gebruik om die olifante van punt A tot punt B te neem, of van punt B terug te lei na punt A, dan het ons moontlik die gereedskap om met nuwe corridors te begin werk. Want as die olifante nie toegemaak is in ’n gegewe spasie nie, maak hulle letterlik meer van die Afrika-landskap soos wat hulle verder gaan. Hulle het ’n single-gut-stelsel en wei net en beweeg rond, en hulle uitskeiding dra by tot die ekosisteem. ’n Maroelaboom wat byvoorbeeld 1,5 m oor ’n jaar kan groei, kan oor 10 jaar ’n hele nuwe bioom stig. Die idee is dat ons infrasonika kan gebruik om eerstens olifante en boere te help met die bestuur van die diere self, maar as ons hulle met infrasoniese klank kan lok, kan ons hulle na areas lei waar hulle nie noodwendig net wíl wees nie – ons kan die infrastruktuur so bou dat hulle byvoorbeeld na droër areas beweeg, en so kan ons verwoestyning beveg. Ons kan koolstofsekwestrasie en kleinskaalse boerdery as ’n sosio-ekonomiese voordeel bevorder.
Die argitekte het ’n kaart geskep wat ongeveer ’n 1 000 km baan is, waar jy kan sien in watter areas daar reeds olifante is of watter areas olifante sal kan hanteer, en dan die corridor tussen die verskillende reservate kies. Dan is daar die rooi areas waar informele verstedeliking gebeur en die gemeenskappe betrokke gaan moet raak om byvoorbeeld met maroela of mango te boer. Die idee is dat ons die infrasonika kan gebruik as die secret sauce om nuwe bewegings en migrasieroetes te stig, of om ou uitgestorwe migrasieroetes weer aan die gang te kry.
Hierdie idee was obviously moerse ambisieus, maar ons wou kyk hoe moontlik dit is – en op ’n stadium het ek besluit om ’n ekologiese netwerk en mense met olifante in hulle reservate hierby te betrek. Daar is byvoorbeeld olifante wat die hekke breek. In plaas daarvan om so groot te praat van duisende kilometers en torings, ensovoorts, hoekom begin ons nie net klein en bou ’n hek wat olifante na die hek kan roep nie; met ’n geoutomatiseerde sisteem kan ons hulle toelaat om tussen twee plase te beweeg. As ons byvoorbeeld ’n karhek met ’n motor kan insit, dan hoef daardie heinings nie die heeltyd reggemaak te word nie. Ons het dit toe gebou en dit werk nog steeds in Limpopo.
In die proses om die regte klank te design vir die heksisteem, het ek klanke getoets wat ons met ’n drone moes sien, want ons speel dit vir hulle omtrent ’n kilometer ver. Ons klanksisteem is tans tussen 2 en 8 km effektief. Jy moet met ’n drone kyk wat gaan dáár aangaan as jy die klank hiér speel. ’n Kilometer is ver vir klank. Dis waar die laer frekwensies baie goed werk. In die proses om die regte klank te vind het ons ’n klomp klanke gekry wat hulle nié van hou nie.
Ons glo ons het die regte klanke om hulle weg te hou, of om hulle te keer as hulle na ’n sekere area toe gaan beweeg, en ons het die klanke wat ons vir hulle kan speel wat hulle nou leer eintlik goed is vir hulle.
Dit was nie asof die positiewe klanke hulle dadelik getrek het nie. Ek is steeds met daardie navorsing besig. Maar ons weet ons kan hulle wegstoot met enige nuwe klanke wat veral ontwerp is om nogal ’n alarming of jarring klank te wees. Ons weet as ons ’n bietjie tyd het, kan ons hulle habituate om te weet om te beweeg na ’n area met meer plek, ander olifante, water en kos. Hulle is so intelligent, hulle leer dit vinnig. Dáár lê die leverage tussen die toepassing van infrasonika vir wildbewaring en die kunstenaar wat net die infrasonika begin gebruik het.
JANNIKE: Prakties, hoe lyk die elephant gate? En wat word nou by die Biennale uitgestal?
FRANCO: Die hek is gemaak van materiale wat ons hier en daar geskoffel het, en donasies, want dis totale groen energie. So, daar is sulke gebreekte ou sonpanele wat net-net goed genoeg is, ou batterye wat ons onder die grond begrawe het en net ’n stuk rubber oorgegooi het, ’n staalhek en ’n raam wat ons iewers gekry het, en dan ’n ronde houtpaal wat met ouer kameratjies en goeters opgestel is, want ons het ’n boksie op daai paal waar al die sensitiewe elektronika in is, byvoorbeeld ons klein rekenaartjie wat die olifante kan herken. As die olifant in die kameraveld inkom, tel die rekenaar hom op as ’n olifant en dan kan hy die hek oopmaak, en as hy hom weer anderkant optel, dan kan hy weer die hek toemaak. Maar dit kommunikeer natuurlik met die veldwagters op hulle fone. Dis ’n AI smart gate (’n nuwe metode vir wildbewaring).
Die olifanthek. Afbeelding: MSSA – Marc Sherratt, Sustainability Architects
Afbeelding: MSSA – Marc Sherratt, Sustainability Architects
Die Talking to elephants-uitstalling by die Biennale Architettura in Venesië
Hierdie olifanthek-projek is genooi om by die Biennale Architettura 2025 in Venesië te gaan uitstal. Ons het saam met ’n Duitse maatskappy wat luidsprekers bou, gewerk, en hulle het vir ons die 24”-luidsprekers gegee. Die uitstalling van die hek se titel is Talking to elephants. Die Biennale Architettura is ’n argitek-spesifieke exhibit. Die rede hoekom dit vir die organiseerders van die Biennale so exciting is, is dat hierdie hek een van die eerste argitektuurinisiatiewe is waar die argitektuur “kommunikeer” – nie net met mense nie, maar met olifante.
So, as jy nou daar is, sal jy die olifante se klanke hoor en daar is ’n cymatic plate wat vir jou wys hoe goed die frekwensies deur die grond travel – die grond is besig om tussen-in die luidsprekers te beweeg – en dan het ons ’n argitekturale model met ons ontwerpe wat verduidelik hoe dit in die veld sal gebeur. Daar is ook die spektrografie wat ek genereer het. Dis gewoonlik net ’n X/Y-grafiek, maar nou kan jy dit buig en ’n iris maak uit die spektrograaf. So dit maak ook hierdie beautiful imagery.
Jy hoor die uitstalling al van buite die gebou af – as jy net om die hoek stap, dan hoor jy al hierdie rumbles van olifante, en soos jy in die kamer instap en daar’s ook ander exhibits wat klank gebruik, hoor jy heeltyd hierdie gerommel iewers. Eventueel kom jy by die plek uit en sien: Wow, hierdie speakers is massive, en jy sien hoe die grond rondskuif soos wat die olifante op die plaat rommel. Sover is dit ’n groot sukses; mense dig dit baie.
“Die rede hoekom dit vir die organiseerders van die Biennale [’n argitek-spesifieke exhibit] so exciting is, is dat hierdie hek een van die eerste argitektuurinisiatiewe is waar die argitektuur ‘kommunikeer’ – nie net met mense nie, maar met olifante.”
JANNIKE: Die projek launch hier in Suid-Afrika op 8 September 2025. Is dit die tentoonstelling van die werk? Wat is B1DR en wat behels die show?
FRANCO: B1DR is ’n “multisensory infrasonic music brand”, en is gefokus op multisensoriese, infrasoniese inclusions – jy luister daarna en jy kan dit voel. Die komponente van die B1DR-musiek is gemik op innovasie en hoe mense met infrasonika komponeer. Daar is interessante maniere hoe ons dit kan bereik. My nuwe metode is nie meer net met sintetiese, digitale klankgolwe nie. Ek het nou die gereedskap om my baskitaar te speel en dit te manipuleer om laer te gaan in frekwensie totdat dit infrasonies is. So, ek kan infrasound live met my bass maak. Dit is iets wat ek nog nie voorheen gesien het nie. Die komposisies is ’n kombinasie van dit wat ons in die natuur hoor, en dit wat ons in die ateljee kan maak, en hoe ek dan byvoorbeeld van die natuur af leer. Ek kan na ’n walvisklank luister en probeer om dit te mimic. So, ek aap die infrasonika na. Ek probeer leer watse komponente, watse tipe karakter is daar byvoorbeeld in die olifante waarmee ek al baie gewerk het – is dit moontlik dat hulle dalk ’n bynaam het vir ’n ander olifant en as ek lank genoeg fokus op hoe ek dit kan mimic, leer ek dalk die “name” wat hulle vir mekaar gegee het (en nie die mensname wat ons vir hulle gegee het nie). Ons verken dus olifantkommunikasie. (Luister na die eerste single ‘Bewonder’ hier.)
JANNIKE: Watter creative triggers het jou werk met die olifante by jou geskep?
FRANCO: Ek dink daar was baie creative triggers met my meesters-recital en toe ek die olifante vir die eerste keer gehoor het – en dit wat die mense die meeste geniet by die Biennale tans, is om net te hoor hoe ’n olifant se rumble klink. Om dit met mense te kan deel is reeds ’n groot wen, want hulle luister byvoorbeeld vir die eerste keer in hulle lewens na infrasonika en ook na olifante. Vir ’n dowe persoon is dit dalk die eerste keer wat hulle enigiets hoor van ’n entertainment-perspektief af. En dieselfde geld dan vir alles anders wat ook infrasonies is, byvoorbeeld die natuur se klanke (vulkane, aardbewings, die auroras, wind, die oseaan). As jy die regte omgewing skep en jy speel die klank, besef mense dat hulle die geleentheid het om infrasonika deel te maak van hulle lewens. Jy boor amper ’n nuwe gat van jou brein af na jou oor toe om oop te wees vir hierdie tipe ervarings. Mens hoor dit nogal baie, soos in vliegtuie – voor ’n vliegtuig aankom, kry ek die idee dat hy naby is, want die infrasonika travel so ver. Jy raak wakker vir infrasonika deur hierdie ervaring. Jy maak jou ore oop vir infrasonika op ’n nuwe manier.
En natuurlik is olifante een komponent, en walvisse is nou nuut vir my, maar dis super exciting. Ek het nou onlangs baie opnames gemaak van die walvisse wat tydens die sardine run hier (naby Hamburg in die Oos-Kaap) rondswem. Hulle sing konstant.
JANNIKE: Hoe het jou werk uitgebrei na walvisse?
FRANCO: Die infrasonika alleenlik sal jou nie noodwendig vir 9 uur op ’n skip in ’n wetsuit deur jou seesiekte laat sit totdat jy sterk genoeg is om ’n hidrofoon vas te hou sonder om die heeltyd op te gooi nie. Dit was ’n lang proses.
Dit het begin met Grace, my meisie, wat tyd saam met haar pa wou deurbring, wat die heeltyd besig is met een of ander massive avontuur. So, ons het begin om na die sardine run te gaan om tyd deur te bring saam met haar pa. Dit was amper makliker om hom daar te kry as wat dit is om hom net in ’n eetkamertafel-setting te kry.
Aanvanklik sou dit net daaroor gaan, maar toe besef ons hoe amazing die migrasie eintlik is. Dit is die grootste migrasie in biomassa op die planeet. Ons het baie geïnteresseerd geraak in wat alles daar aangaan. Soos wat jy leer om dieper en dieper af te duik, hoe meer kom jy die walvisse se sang teë. Dis skaars om hulle onderwater te sien; jy moet eers ’n verhouding met hulle bou, sodat hulle vir jou kom kyk onderwater. As jy hulle skrik maak of te loud is, of nie daardie vertroue ’n bietjie gebou het nie, dan sien jy hulle glad nie.
Maar klank propageer vier keer beter onderwater as in die lug, want die medium is soveel meer dig. Klanke wat dalk net-net ver genoeg is om te hoor op land of in die atmosfeer, kan eintlik vier keer so ver wees en jy kan dit hoor. So, as jy begin duik en jy luister – baie mense wat spiesvisvang en snorkel, ensovoorts, sal sê hulle hoor die walvisse – hoor jy hulle veral as jy so 3 m dieper kan gaan. Daar verloor jy van daai surface crackle en jy kom ’n bietjie meer in die see se medium in, dan hoor jy hoe die walvisse omtrent konstant besig is om te sing.
Dis nou die derde jaar wat ek aktief probeer klanke opneem om (a) te sien wat daar is, en (b) te kyk of daar vir my infrasonika daarin is. Ek weet hulle het die membraan om infrasonika te kan maak – dis hoekom olifante dit kan maak; hulle het stembande (dis nie hulle maag wat die rammelende geluide maak nie – mense maak gereeld daai fout; hulle dink dit is soos peristalsis, soos katte wat purr, dit is glad nie); hulle het stembande soos ons, dis net massief. Die verskil in grootte is: My stembande is omtrent so groot soos ’n pinkienael of ’n ertjie. Chova, die patriarg by Limpopo wat ook so 35 jaar oud is (nes ek), se stemband is omtrent so groot soos ’n pomelo. So, omdat hy daai groot stembande het wat oor mekaar vou en vibreer, kan hy die lae frekwensies maak. En walvisse is nog groter as dit. Hulle het vir seker die gereedskap om infrasonika te maak. Maar is ons wakker daarvoor; kan ons daarna luister; kan ons dit moontlik opneem?
Die gereedskap en infrastruktuur om onderwater op te neem is totaal anders. Hierdie jaar het ek die hidrofoon gevind en eerstens baie, baie opnames van dolfyne gemaak, en toe ons die regte metodes kry, het ons besef die walvisse is baie bekombaar met die hidrofoon-opstel. So, nou scan ek deur al my verskillende prosesse, met spektrografie weer eens, trek dit in die visuele uitbeelding in, dan kan ons check wat onder die 20 Hz-lyn aangaan. Nou is ons besig om dit ook deel te maak van die smorgasbord van verskillende klanke wat ons vir mense kan bied.
Dit maak dit spesiaal om in ’n ateljee, ’n teater of ’n club te sit, of by ’n festival stage te staan en skielik hoor jy hierdie unieke, nuwe stuff wat jy maybe nog nooit (van) gehoor het nie of dalk nooit weer die geleentheid voor gaan kry nie. Dis ’n unieke overlap tussen innovasie, navorsing en toepassing – daar is hierdie drie verskillende aspekte waar ons meer leer van infrasonika, en B1DR sit regtig in daardie overlap van die verskillende sfere wat ons kan deel met mense. Dis die artistic expression van al hierdie navorsing en al hierdie toepassing wat eintlik my legacy gaan wees lank ná ek dood is, hopelik.
JANNIKE: Is die artistic expression-komponent dan die manier waarop jy die klanke gebruik en ’n komposisie daarvan maak?
FRANCO: Korrek. Ek kan byvoorbeeld die storie vertel van ’n groep olifante wat oor ’n droë landskap migreer, en so kan ons daai narratief begin. Jy kan met die baskitaar die harmoniese platform skep om dan verder te gesels daaroor. Soos wat jy die karakters uitken, kan jy die storie begin vertel met moontlik hulle eie name. En dan kan jy temas gebruik, hoe hulle byvoorbeeld met mekaar integreer; hoe die een dalk wegraak; hoe hulle dalk na mekaar verlang; hoe die een dalk agterbly. Hoe hulle voel as hulle oor daardie droë landskap beweeg het en by ’n oase uitkom – daar’s al hierdie moontlike maniere vir ons om stories te vertel deur infrasoniese klanke te gebruik, my eie skeppings saam met hulle klank. Soos wat Walt Disney gesê het: “We entertain to educate, because it doesn’t work the other way around.”
JANNIKE: Dis asof julle nuwe taal of ’n medium skep om ons begrip te verdiep.
FRANCO: Ja, dit is vir seker ’n taal. Kom ons sê die taal wat ons gebruik, is die application: Ek wil met hulle gesels, direk. Sê nou maar die Kruger Nasionale Park vra vir hulp met olifante wat uitbreek. Ek wil eintlik vaardighede, woordeskat en grammatika hê om daardie taal dáár te kan praat. Maar B1DR is die laboratorium waar ons speel met die klanke – om te verstaan wat ons daarmee kan doen. Dit is die sandput waar ons kan gebruik maak van ons eie metodes en kan leer, soos wat ’n baba net klanke maak totdat hulle besef hulle moet die m en die a bymekaarsit om Mamma te kan sê. Maar voor dit is dit net ’n klomp klanke – dis basies waar ons nou is.
JANNIKE: Die navorsing is so concise en presies, en tog is daar ’n hele wêreld van abstraktheid wat daarmee saamgaan, wat dit so mooi maak.
FRANCO: Ja, dis ’n lifelong journey.
JANNIKE: Dink jy as mense blootgestel word aan iets wat andersins net so abstrak is as om met ’n teleskoop in ’n ander sterrestelsel in te kyk, dat hulle meer ontvanklik kan wees vir die bewaringsaspek daarvan?
FRANCO: Ek dink dit is wat besig is om te gebeur. Ek dink die kunsvlerk van bewaringsmetodes is baie onderontwikkeld. Dit is ’n heeltemal ander veld wat ons nou moet bou, om vir mense die twee bymekaar uit te bring. Ons doen altwee hiervan: Ons maak nie net musiek daaruit nie, ons bevorder ook die navorsing, en só kan ons die twee gebruik om bymekaar uit te kom.
Franco by die bou van die olifanthek op ’n wildreservaat in Limpopo.
Hierdie masjien lees die druk van klank – die amplitudevolume van die klanke word deur decibels en Sound Pressure Level (SPL) gemeet.
Ek kan jou nog ’n voorbeeld gee van hoe dit volsirkel gekom het vir my. As ons klank misgis vir iets wat dit nie is nie, dan is ons in die moeilikheid. Byvoorbeeld, as ek ’n estrous female call [roep van ’n olifantkoei op hitte] vir ’n bul speel, gaan ek daarin slaag om die bul na die luidspreker te lei, maar die bul verwag ’n olifantkoei. So as hy by die luidspreker uitkom en daar is nie ’n wyfie nie, het ons daardie verwarring veroorsaak. Vir my is dit die verkeerde manier om die vocabulary te bou. Hierdie tipe boodskappe vereis dat ons klankontwerpe uitkenbaar moet wees. Hoe doen ons dit? Jy kan deur die ekologie gaan spektrografeer watse ander diere daar is, watse gereedskap- en industriële klanke. Jy kan al hierdie aspekte gaan analiseer en op die ou einde van die dag kry jy net weer ’n vet spektrum van klanke waar dit nog nie betekenis dra nie.
Maar toe keer ek terug na my musikaal-teoretiese agtergrond en besef hoe dieper jy gaan in harmonie in, hoe meer kompleks raak die klanke wat mense kan ontwerp. Die jazz harmony-wêreld, waar dit vreeslik kompleks is, is totaal onverwags en bestaan nie in die natuur nie. Daar is nie mense wat ’n palindroom van ’n F-sharp major-7 sharp-11 flat-9 gaan maak nie. Die voëls, selfs al sing hulle almal gelyk, gaan nie daai vreeslike komplekse jazz harmony maak nie. In fact, die meeste musiek het nie eers daai complex jazz harmony nie. Daardie tipe strukture gee vir ons ’n vreeslike vrugbare veld om in die infrasoniese wêreld iets te doen wat eintlik nêrens bestaan nie, en nou bou ons iets wat uniek is, wat nie misgis word vir ’n vliegtuig of ’n trok wat daar gaan parkeer nie. Dis nou weer eens die volsirkel van hoe musiek die verkennende proses uitbou: Die vraag kom dan uit die wildbewaringsbestuur-perspektief en die antwoord kom dan weer uit die musikale perspektief.
JANNIKE: So kan mens olifante op ’n ander pad stuur met komplekse jazz harmonies? Jaag dit hulle weg?
FRANCO: Ja, dit jaag ménse gewoonlik weg! Ek dink dit is moontlik dat as jy dit sonder enige waarskuwing teen ’n sekere volume vir hulle speel, gaan dit hulle tien teen een weghou. Ons moet versigtig wees, want hulle vergeet mos niks nie. Dis totally waar. Al die olifante wat ek al mee gewerk het, weet wie ek is. Hulle weet hoe my kar klink, hoe ek ruik. Hulle sal weet wie ek is. As hulle daardie selfde assosiasies maak met klanke, dan het ons klaar daai neurologiese pad geskep. So nou moet ons versigtig wees. Die klank wat hulle van ’n plek moet weghou, moet ’n ander sisteem wees; dit moet vir seker ’n ander klank wees, anders gaan ons weer confusion skep. Ons het nog baie werk tussen wat ek doen en wat my ekologiese medewerkers doen, en die bewaringspanne, soos SAN-Parke se bestuur, byvoorbeeld. Dis ’n groot etiese kwessie.
Want ons maak ook klank, so ons dra ook by tot klankbesoedeling in daardie spesifieke area. Wat gebeur met die ekologie? Wat gebeur met die ander diere wat ons nie wil affekteer nie? Wat gebeur in die langtermyn in daai area? Hoe embed daai klank? As ons ’n wegstoot-klank vir hulle speel, en hulle besluit eendag: “Screw hierdie ding. Ek moet net my tand deur daai luidspreker breek, dan bly hy stil” – as daar nie ’n nagevolg daarvoor is nie, dan het ons ook ’n etiese probleem. Die enigste rede hoekom dit so belangrik word nou, is omdat daai nagevolg nou direk aan die klank geheg is: Daardie olifant is lewendig wanneer hy in die reservaat bly en hy word doodgeskiet as hy uitbreek. Ons kan ten minste een ander buffer in daai realiteit invoeg: om te sê as ons ten minste hierdie klanke gebruik voordat iets traumaties gebeur, dan wanneer iets traumaties gebeur, kan dit dalk die perfekte geleentheid wees om die respek te bou vir daai sisteme, sodat dit dan al is wat ons nodig het om te gebruik.
Hoe dieper mens in die bewaringswêreld inkyk, hoe donkerder word dit as gevolg van hierdie etiese conundrums.
JANNIKE: As ’n skeppende persoon, wat het die interaksie met die olifante vir jou beteken, as mens nou verby al die navorsing en data kyk?
FRANCO: Wat my so vashou, is die moontlikheid om kommunikasie te ontleed en my fassinasie daarvoor te deel deur ’n storie te vertel. Byvoorbeeld, daar is die storie wat Lyle Watson vertel het van olifante wat op die strand staan en uitstaar oor die see, en moontlik is daar ’n tipe kommunikasie wat tussen die walvisse en die olifante gebeur. Daar’s ’n stukkie in my laaste single wat ek release het, ‘Die loods’ (saam met Chris Chameleon en Daniella Deysel van Kat&Wolf), met so crazy middle section waar ek dit probeer uitbeeld het, waar jy kan hoor daar’s olifant- en walviskommunikasie, en dis ook infrasonies. Daai middle section het so psychedelic interpretation van al die klanke wat beweeg.
“Dis die artistic expression van al hierdie navorsing en al hierdie toepassing wat eintlik my legacy gaan wees lank ná ek dood is, hopelik.”
JANNIKE: Het jy die klanke nagemaak met instrumentasie of is dit opnames?
FRANCO: Ek het ’n gedeelte daarvan nagemaak en ’n gedeelte daarvan is opnames. Ek sou daarvan hou as mense nie die verskil kon agterkom nie. Een van my doelwitte as ’n kunstenaar is om so ’n goeie mimic te wees, dat jy nie meer seker is of dit ek, ’n olifant of ’n walvis is nie.
Een van die maniere hoe mens dit kan raaksien is met die spektrografie. So, selfs met my beste mimicry kan mens die spektrograaf optel wanneer dit ek is. En ook as mens dit met ’n cymatic plate uitbeeld. Die olifante is baie, baie beter in die cymatics as wat ek is. So, toe ek die plaat ontwikkel het wat nou besig is om te vibreer [by die uitstalling] in Italië, het ek probeer kyk of ek die beste sweet spots kan kry om die materiaal wat bo-op die plaat is, te laat beweeg.
Ek het omtrent vir ’n maand lank gesukkel om te kyk waar is die sweet spot van hierdie fisika (frekwensies, ensovoorts). Hoe kan ek hierdie materiaal laat beweeg? Want ek wil by die kuns uitkom deur die wetenskap. Daar is hierdie massiewe wetenskaplike marathon om uiteindelik hierdie klein kunsding uit te beeld. Ek het daai hele marathon gehardloop en net-net by die ander kant uitgekom, en net so ’n klein bietjie beweging gekry met sand op hierdie plaat. Die eerste actual olifantklank wat ek deur daardie selfde ding gespeel het, het al die sand heeltemal van die plaat af laat spring.
Die olifante se seismiese vermoë is so verhewe, omdat hulle dit vir oorlewing gebruik. My beste werk was nie eers ’n patch gewees op hoe goed hulle daarmee is nie. As mens dit spektrografeer of deur ’n plaat speel (die cymatics van die ware klank versus die mimicry), kan mens dit nogal goed uitken, maar as ek dit net vir jou speel, raak dit nogal moeilik om te onderskei wat is mensgemaak en wat is die diere.
JANNIKE: Het jy al daaraan gedink om vir olifante walvismusiek te speel?
FRANCO: Ek dink gereeld daaraan en wil dit graag doen. Een van my kollegas Chloe Caister (’n ekoloog) het ’n studie gedoen waar hulle net klanke met normale luidsprekers vir olifante gespeel het. Blykbaar het die dolfyne hulle heeltemal uitgefreak. Ek wil graag sulke geleenthede so eties moontlik gebruik om te sien wat hulle interesseer. Maar daai geleenthede is maar min, en daar is gewoonlik ’n nood om by ’n spesifieke doelwit uit te kom, maar ek dink omdat die olifante waarmee ons gereeld werk, halfmak is – wat natuurlik baie teengestaan word in bewaring – het ons perfekte geleenthede om hierdie goed te kan toets.
JANNIKE: So, jy kan vir hulle free jazz speel terwyl hulle langs die swembad wei?
FRANCO: Ja, free biodigital jazz en oceanic communications, mammals van die anderkant van die water … Ek het onlangs oseaansafari’s gedoen saam met mense wat ek ken wat betrokke is by wilde diere en bewaring, en toe ons die hidrofoon in die water druk en vir hulle die headphones gee, het hulle almal gesê dit herinner aan ’n olifant- of renoster-agtige klank – want dis soogdierbiologie, met stembande; die grootte en karakter van die stemband stem ooreen met ’n renoster wat na hulle ma soek. Renosters het ’n spesifieke klein nag wat hulle doen. Van die walvisklanke wat ons opgeneem het, klink byvoorbeeld baie soos die renosterklanke.
So, wanneer ons die geleentheid kry om vir olifante walvisklanke te speel, gaan ons definitief al die kameras en al die navorsers betrokke moet hê, want dit gaan ’n skaarse geleentheid wees en al die data wat ons moontlik kan opneem, sal moet opgeneem word. Nou is ek terug in die wetenskaplike wêreld. So jy sien, hierdie marathonne wat mens heeltyd moet hardloop om by die kuns uit te kom, trek mens terug in die navorsing in.
Op die ou einde van die dag is ek net ’n musikant, en ek dink infrasonika klink cool. Dis eintlik die main ding.
Wat ek ook agtergekom het, is dat die kunswêreld mal daaroor is as iets ’n wortel in ’n ander wêreld het. As jy die klank van watermolekules hoor en dit dan sien, gee dit so baie diepte aan die kuns wat mens waarneem. Die aurora borealis is beautiful, want dis ook fassinerend omdat dit is hoe die magnetiese velde met mekaar interaksie het.
JANNIKE: En met die B1DR-vertoning hoop jy om hierdie verwondering aan ’n gehoor te kan oordra.
FRANCO: Die dowe gemeenskap vra al baie lank om weer so ’n ervaring te hê, en wat ek nou besef het, is dat ek dit nie meer so streng infrasonies hoef te hou nie. Ek kan nou begin stories vertel; ek kan nou baskitaar speel en sing; ek kan dit nou infuse met my aanbieding, die toepassings, stories en die musikale aspekte. En dit is wat die B1DR-konsep is: die samevatting van hierdie hele reis, van voor ek met infrasonika begin het, die sukses wat ons behaal het en hoe ons nou al daardie dinge kan saamvat om met mense wat in bewondering van die natuur is, te deel. Ons wil die samples deel, die stories vertel en ons wil kuns maak wat nie die boundary van die 20 Hz-limiet het nie.
Die B1DR-vertoning is nie net vir gehoorgestremdes gemaak nie, maar hulle word aangemoedig om dit by te woon en word deel van dieselfde gehoor. Dis nogal spesiaal. Dis ’n tipe music accessibility waar ons niemand uitsluit nie. Dis vir alle ouderdomme, want dit wat “natuurlik” is, is vir almal fassinerend. Dis ’n performance wat letterlik vir almal is.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Diepduik saam met Franco Schoeman gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.