Klyntji kuier weer in Kampsbaai vir Silwerskermfees

Klyntji kuier weer in Kampsbaai vir Silwerskermfees

Feesfoto’s: Retha Ferguson

Kry jou fliekfees-fix hier!

Die dertiende Silwerskermfees is vanjaar van 20 tot 23 Augustus by die bougie The Bay Hotel en Theatre on the Bay in Kampsbaai gehou. Dié week voel feesgangers waarskynlik steeds dik gevreet aan springmielies, miskien effens babelas ná die wynure op die dek, maar beslis bewoë en geïnspireerd deur die kaliber van ons plaaslike talent.

Andréa Müller, Elodi Troskie, Floris Groenewald en Paul Kammies deel hulle indrukke van die flieks op vanjaar se feesprogram. Dis lekker by die see én die moewies!


 
 

Alma op Pad | kortfilm deur opkomende filmmakers

Kyk dit Saterdag 13 September om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

“All you need to make a movie is a girl and a gun,” het Franse New Wave-regisseur Jean-Luc Godard gesê. Maar ek dink as jy nie ’n aksiefliek maak nie, kan jy die geweer maar met ’n kamera vervang.

Twaalfjarige Alma sit agter in die kar langs haar boetie met ’n videokamera waarmee sy die vakansie probeer vaslê. Sy wil sommer die gewone goed afneem – soos haar pa wat sy tande borsel – nes haar pa altyd vakansievideo’s van die gesin se doodgewone doen en late gemaak het.

Alma op pad is nie jou tipiese road trip-fliek nie. Die reis is nie ver of belangrik nie, maar ingewikkeld: Die eerste vakansieoord waar hulle stop is nie voldoende nie, want iets karring onder die oppervlak aan Alma se ma. En elke volgende moontlike eindbestemming is dieselfde. Die gesin vertel wit leuens vir mekaar, maar niemand se gevoelens word regtig gespaar nie. Daar is spanning in die kar wat nie hardop genoem word nie, en die voertuig word soos ’n tronk waarin Alma en haar gesin vasgekeer is. Die ewige teenwoordigheid van Alma se videokamera maak dinge natuurlik nie makliker nie.

Laudo Liebenberg speel die rol van Alma se pa, en saam met Amalia Uys as die ma, balanseer hulle die wipplank tussen konflik en spanning, teenoor ’n gesin wat tog omgee vir mekaar. Die kinderakteurs is ook goed bekwaam en geloofwaardig.

Alma op pad is deels ’n fliek oor ’n mislukte road trip, maar daar is ’n ernstige coming of age-storie wat agter die stuur van die verhaal is. Alma hou die konflik in die kar dop, sien die mooi in haar gesin en die situasie raak, maar word ook op die ou end vasgevang wanneer die spanning oorloop en ma en pa stry. Die fliek word versigtig en sensitief vertel, en die uiteindelike ontknoping van die onderliggende konflik is nie voorspelbaar nie, al is dit nie ’n mat-onder-jou-voete-uitruk-twist wat wag nie. Daar is een of twee snaakse tonele, wat wys dat hierdie fliek se konsep net so maklik ’n volstoom-komedie kon wees, en ek sou daai fliek ook graag wou sien. Maar uiteindelik is Alma op pad ’n suksesvolle semi-outobiografiese storie oor wat dit vat om die spesiale oomblikke raak te sien, selfs in mislukte vakansies en onperfekte families. — Floris Groenewald

Kyk die amptelike lokprent.


 
 

amazeze (Fleas) | Onafhanklike kortfilm

Onafhanklike films word nie op kykNET uitgesaai nie, maar hou Sanktuary Films se Instagram-blad dop vir die volgende filmfees waar Amazeze vertoon sal word.

Amazeze (Fleas) word in die feesprogram gekategoriseer as ’n drama. Nou ja, die ontknoping van die spanningsvolle klimaks (ek gaan nie spoilers gee nie) is seker kenmerkend van ’n drama-fliek, maar volgens hierdie kyker is “riller” ’n meer gepaste omskrywing van hierdie kragtoer van ’n kortfilm deur Jordy Sanks (regisseur en draaiboekskrywer). My palms was papnat van begin tot einde, en ek was deurgaans bewus van my hart wat toenemend harder in my borskas klop.

Die film plaas die kyker in Tonderai (Brandon Matizanadzo), ’n jong Zimbabwiese seun wat in ’n Suid-Afrikaanse township woon, se wêreld. Hy en sy boetie, wat siek in die bed lê, wag vir hulle enkelma om terug te kom van die werk af. Sy is later as gewoonlik. ’n Xenofobiese groep is op mars deur die township om al die amazeze – Zulu vir “vlooie”, oftewel buitelanders – uit te roei. Wanneer Tonderai vir sy broer water by die gemeenskaplike kraan gaan haal, bou die spanning. Elke oomblik van sy reis na die waterkraan en terug na sy sinkhuis is gevul met xenofobiese bedreiging. Die jong Brandon vertolk die rol van vreesbevange jong Tonderai ongelooflik goed en oortuigend. ’n Jong talent om dop te hou!

Dit was ook fantasties om tydens die fees ’n film met eg Suid-Afrikaanse tematiek (en realiteite!) in ’n taal anders as Afrikaans te kyk. Dis verblydend en verfrissend dat die fees voorsiening gemaak het vir die showcasing en bemagtiging van plaaslike talent en stories buite die verwysingsraamwerk van die deursnit Afrikaanse (en, kom ons wees eerlik, kykNET-) kyker.

Amazeze is die tipe storie wat ’n mens herinner aan die mag en voorreg van die kuns van film: om die kyker te neem na plekke en ervarings wat hulle nooit self sal besoek of ervaar nie, om momenteel in ’n ander se wêreld geplaas te word en deur jou eie onkunde geruk te word. Amazeze sal by jou spook lank ná die credits oor die skerm gerol het. Andréa Müller

Kyk die amptelike lokprent.


 
 

Ark | kortfilm deur gevestigde filmmakers

Kyk dit Saterdag 6 September om 21:40 op kykNET (DStv-kanaal 144).

In Ark is ’n man en vrou op ’n ruimtetog na Mars met die missie om die mensdom se voortbestaan te verseker. ’n Nege maande lange reis na Mars. ’n Ruimtetuig-taalmonument wat ons taal en kultuur bewaar. En die opwinding en angs oor die nuwe lewe wat die karakters verwag.

Dis ’n wetenskapsfiksiefliek wat verskeie bekende genremotiewe herwin en saamvoeg. Daar is ’n AI-robot wat die ruimteskip beheer en alles met ’n gloeiende rooi oog dophou, nes HAL 9000 uit 2001: A space odyssey. Die paartjie op die ruimteskip wat hulle isolasie en verhoudingskonflik navigeer, soos in Passengers. Soos in Moon en Aliens is die karakters paranoïes oor hulle missie, die werklike bedoeling daaragter en die fisiese veranderinge wat hul lywe ondergaan.

Ark is gemaak deur ’n kombinasie van produksietegnieke. Die LED-skerm-agtergronde is nuwe tegnologie wat ’n indrukwekkende wêreld rondom die karakters skep, en AB50, die swewende robot, is ’n pop wat regtig op die stel voor die akteurs gebruik is. Die virtuele agtergronde is veral indrukwekkend in die tonele op Mars se oppervlak, waar die weerkaatsings in die karakters se ruimtehelms pragtige beelde maak wat nie met ’n green screen sou werk nie.

Alles in Ark is ’n metafoor, en ek vermoed daar is verskeie lae om af te dop en te ontdek as jy die fliek weer en weer kyk. Maar die grootste van al die metafore is oor ’n toksiese verhouding en ’n vrou wat hierin (en ’n metaforiese swangerskap) vasgevang is en probeer loskom. Daar is ook baie verwysings na Afrikanerkultuur en Christenskap, wat gelyktydig inkleding is, maar ook dien as simbool vir die reëls waarvolgens ons leef, die verwagtinge wat deur die samelewing en kultuur geskep word en hoe dit ons kan vasvang in ongesonde situasies.

Ark is ’n multidimensionele, satiriese wetenskapsfiksiefliek wat jou gaan los met baie om oor na te dink en te ontsyfer. Alles is ’n metafoor, maar dis ook nét absurd genoeg dat jy dit nie te ernstig hoef op te neem nie en liggies kan giggel vir ’n buiteruimtelike bakleitoneel wat amper in ’n langarmdans ontaard, sonder dat die kyker die erns van die toksiese verhouding uit die oog verloor. — Floris Groenewald

Kyk die amptelike lokprent.


 
 

Bliksems in bothaville | Kort dokumentêr

Kyk dit Sondag 31 Augustus om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

In die kortdokumentêr, Bliksems in Bothaville, kry die kyker ’n intieme blik in die lewe van Bothaville se laaste rofstoeier. In sy daaglikse lewe, by die kunsmisfabriek waar hy werk, en wanneer hy by sy bure kuier, reageer hy op Roger – maar wanneer hy in die kruit klim, is dié massiewe man met die sagte, gesellige geaardheid bekend as The Kill Switch. Sy droom is om Bothaville se rofstoeiklub weer aan die gang te kry en om die kampioenskaptitel later vanjaar huis toe te bring. Dink Nacho Libre in Bothaville. (Die kinematografie werk uitstekend om laasgenoemde te verwesenlik.)

Maar hierdie dokkie vertel ’n verhaal wat veel wyer (en dieper) strek as só ’n simplistiese vergelyking, al is daar vele LOL-oomblikke wat net so uit ’n indie-film kon kom. Deurgaans is ’n mens bewus: Dit is regte lewe; dis Roger se regte lewe. Tussendeur skote van Roger wat in sy agtertuin, tussen oorgroeide gras en vibracrete-mure, sy rofstoei-moews op ’n ou matras oefen, of as The Kill Switch in die mielielande loop, is daar talle oomblikke waarin Roger se kwesbaarheid en menswees met diepe deernis uitgebeeld word. Soos wanneer hy oor sy verhouding met sy pa, of oor sy egskeiding en sy dogtertjie en sy liefde vir haar praat. Of wanneer hy die oorsprongverhaal van sy rofstoeiernaam vertel. Óf wanneer hy by sy dogtertjie se ou skool ’n motiveringspraatjie lewer – die boodskap is eenvoudig, maar hartroerend binne die konteks van die film: Jy is goed genoeg om jou drome na te streef. Ons leer ken Roger daarom as ’n massiewe man met ’n baie sagte hart, en ’n droom waarin hy glo. Die dokkie doen wonders om Roger, sy kwesbaarhede en sy droom – so bisar soos dit dalk mag klink vir sommiges – met empatie en respek uit te beeld. Brava aan die regisseurs. (Roger is een van hulle se vorige boyfriend se oom.)

Ek moet ook die fantastiese Bitterkomix-esque plakkaat vir die film uitsonder – dit vang die speelsheid van die film en Roger se byna seunsagtige, goedgelowige geaardheid besonder mooi vas. (En dit lyk boonop net baie cool. Waar kry ek een om te raam?)

Die dokkie is ’n moerse plesier om te kyk, veral vir enige iemand wat grootgeword het met WWE op e.tv. Vir diegene wat onsself té ernstig opneem, bied dit ’n waardevolle herinnering dat grootmense ook kan (en mag) speel en droom. Verwag om met ’n groot glimlag op jou gesig te sit en kyk, en om weg te stap met ’n diep waardering vir Roger, die koning van kleindorpdromers. — Andréa Müller

Kyk die amptelike lokprent.


 
 

Die superette | Kortfilm deur gevestigde filmmakers

Kyk dit Saterdag 20 September om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 114).

Die Superette oppi exterior isse simple, fun en exciting short film. Die short film het my lat lag inni teater; it’s lighthearted en hou sy composure deur ’n sterk storie te het. Die film is mainly held together deu June van Merch se witty en loving Tannie Sonja. Even though haa moments is waa die pacing vreemd is, heighten dit die film se quirky en off-beat nature, en lat dit die winkel ’n ruimte wôd vi die spontane. Die Superette isse highlight vi regisseur Dominique Jossie en draaiboekskrywer Byron Simons, want myns insiens speel hulle metti experimental en die unusual om ’n nuwe blik op Coloured life te create.

Tannie Sonja is spicy, jolly en motherly. Sy niem haa wêk baie ernstag op, but sy gie om virri gemeenskap. Is alles ’n normale dag todat sy ’n threatening message enne gun in haa boss (Dirk Stoltz) se kantoo vind. Dan word hulle gyselaar gehou wanne twee robbers inloep – chile, it’s a stick up now. Tannie Sonja is unmoved en handle die hele situation met calmness, even being so funny as vi een vanni robbers ’n kaart te skiet by saying die robbers kannie eers ’n proper burglary reg doennie. Sy confront hulle because sy gloe hulle kan beter choices met hulle lewe maak. Daar’s of course ’n twist in die storie, but it’s cute. 

Wat ek dink meer belangrik is, en wattie film oek doen, is om die unassuming heroes te highlight. Iemand soes Tannie Sonja is ’n community leader, but sy’s ook net ’n cashier by ’n bubby shop. Haar warmness en omgee transform into armour: Sy staan sterk teen die robbers, alhoewel hulle op haa enni anne hostages vloek en hulle manhandle. Daa is baie mense soes dié; hulle weet’ie dat die kindness wat in hulle is, ander mense en hulself kan save’ie. Die way uit die in-betweenness van poverty, violence en swaakry is om op softness te lean.

Ôs moet continue om violence enni legacies van fear te resist. Die film remind ôs om dai te doen – dat die unassuming completely potent kan wees. Paul Kammies

Kyk die amptelike lokprent.


 
 

Felix by die koppie | Kort dokumentêr

Kyk dit Sondag 7 September om 20:45 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Hancu Louw en Xolani I Nhlapo se kortdokumentêre film, Felix by die koppie, handel oor veteraan-fotojoernalis Felix Dlangamandla en sy werk tydens die Marikana-slagting in 2012. Kollegas soos Leon Sadiki, Alet Pretorius en Pieter du Toit beskryf sy onwrikbare werksetiek, nederigheid, fyn aanvoeling vir stories en geslypte vaardighede wat sy internasionale impak op fotojoernalistiek onderlê.

In die film deel Dlangamandla sy lewenslange fassinasie vir die moontlikhede en impak van visuele storievertelling, hoe hy as kind reeds ’n belangstelling in die fotojoernalistiek ontwikkel het en sy dankbaarheid teenoor sy ouma wat hom grootgemaak en hom universiteit toe gestuur het.

Tussendeur persoonlike vertellinge deel hy sy herinneringe aan die Lonmin-staking in Augustus 2012, toe die Suid-Afrikaanse polisie op 16 Augustus 34 mynwerkers doodgeskiet het, talle ander beseer het en honderde gearresteer het. Dlangamandla en Sadiki onthou hoe hulle die koppie by Marikana in die voorafgaande dae betree het, hulle gesprekke met mynwerkers, hoe hulle die vertroue van Mgcineni “Mambush” Noki gewen het – die onderwerp van Sadiki se alombekende man-in-die-groen-kombers-foto. In van die film se mees treffende oomblikke kyk Dlangamandla en Sadiki terug na die foto’s van daardie tydperk en herken hulself in die agtergrond van foto’s wat deel van Suid-Afrika se kollektiewe herinnering geword het. Dlangamandla besoek weer die koppie by Marikana en deel sy pleidooi dat dié gebied in ’n gedenkplek omskep moet word.

Marikana is steeds die dodelikste misbruik van mag deur Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte post-1994 – en meer as ’n dekade later is niemand nog tot rekenskap daarvoor geroep nie. Bo en behalwe hierdie herinnering, is Felix by die koppie ook ’n huldeblyk aan die nuuskantoor as public good en persvryheid as ’n pilaar van die demokrasie. 

Puik dokumentêre storievertelling en ’n moet-kyk vir elke Suid-Afrikaner. Elodi Troskie

Kyk die amptelike lokprent.

Bo en behalwe hierdie herinnering [aan Marikana], is ‘Felix by die koppie’ ook ’n huldeblyk aan die nuuskantoor as public good en persvryheid as ’n pilaar van die demokrasie.
— Elodi Troskie oor 'Felix by die koppie'

 
 

finding optel | speelfilm

Kyk dit vanaf 24 Oktober op Showmax.

In Finding Optel is Claire Abrahams ’n amateur-detective. Haar special skill is dat sy altyd ’n lost item kan vind. However, wanne Optel, die neighbourhood se brak, wegraak, unravel’et secrets wat met Claire se eie lewe intertwine. Die film is quirky, eccentric en seeped inne conviction van community, kindness en (re-) discovery. 

Ek het metti film se skrywer Mikayla Brown gechat oo vanni mee conceptual ideas rondom’ie film. Brown speel ook die hoofrol van Claire Abrahams en sy het oek die film saam haa broer Jesse Brown gedirect. Die rolverdeling sluit ook in Oscar Petersen, Zenobia Kloppers, Rodney Goliath, Maurice Carpede, Omar Adams, Nequin Petro en Elton Landrew. Finding Optel gaan nie net oo die different ways wat grief enni unknowing vi ons ve’anne nie, but also about how ons rerig joy weer kan ervaar. — Paul Kammies

*** 

PAUL: Mikayla, die film is so special and delightful. Is tender. Is ek correct as ek sê dis jou eerste feature-length film wat jy gemaak het?

MIKAYLA: Ja, very much so!

PAUL: Ek’t al jou play Jantjies and The Pearls gesien. Jy’t ’n diep connection and understanding vanni theatre form. Dis deeply playful, layered met styl and metaphor. Hoe kom die twee disciplines – teater en film – vir jou bymekaar?

MIKAYLA: Ja, ek sal beslis sê dat my teateragtergrond really made a strong foundation for going into film. Teater het my laat leer hoe om symbolically te skryf, want oppi stage het jy nie die luxury om na ’n scene te cut nie, jy moet leer hoe om visuals en messages en themes te convey. Vi film, you need to practically show and not tell. I think theatre het my rerig geleer hoe om dai te doen.

PAUL: And your work is completely symbolic. Ek wil by Optel ees uitkô, die cute little hond wat os meet. What drew you to using Optel asse metaphor vi velies, coping en life’s delights? 

MIKAYLA: Initially Optel wasn’t a pavement special. The fact dat Optel nie ’n huis hetti is al kla saying something deep – and you know these pavement specials, they live long, they never die – but I wanted to bring across hoe grief alles is wat ammal experience. Jy’s bound om vi iemand te veloo. Optel encapsulates dai universality. 

PAUL: As karakter is Claire likeable, hopeful and zany, maa sy is ook complex en verstaan haa life selfs op 16, alhoewel sy ’n bietjie naive is. Hoekom is Claire a good detective; hoekom het sy success om die goed waarna sy soek te vind? 

MIKAYLA: Wat Claire ’n goeie detective maak, is dat sy baie resilient is. To ’n point where it’s not good. Sy sal teen haa pa se opdrag gan; sy sit haaself in danger, selfs as sy nie actually in danger issi. So, ek dink there’s this stubborness that Claire has. But you know, Claire is just a girl, she makes mistakes.

PAUL: Finding Optel avoids die clichés wat mense verwag van soe ’n film. Inni wêreld wat jy nou gemaak het, what happens after? Veral cause it seem likes Claire en haa pa nou uiteindelik deur die final stage van grief kan kom? 

MIKAYLA: Yoh Paul, how can you ask me about a sequel … 

PAUL: ’n Mens moet ma, why not.

MIKAYLA: ’It sal nice wees om te dink dat hulle happily ever after live, but the reality is dat hulle nog issues het.

PAUL: Ek is ook nogals interested in die community in die film. Hulle is uplifting en hou die mense accountable. Is ammal aunties en uncles wat ons ken, but ons sien’ie hulle baie nie. Wat het jou inspire om die community as uplifting te configure?

MIKAYLA: I played off of people I knew. Uncle Henry – ek kenne uncle soes dai. Ek draw van mense en moments wat real is. It was oek important om die community reg uit te beeld. For example, Aunty Doreen is dai mentor inni hero’s journey, om vi Claire te protect. But sy’t oek foute gemaak. Ek wou karakters uitbeeld wat hulle eie human struggles het. And I just had fun.

Kyk die amptelike lokprent.


 
 

hen | speelfilm

Vanaf 10 Oktober in teaters.

Ek dink nog once anni toorkrag van Hen

Die film follow vi Dawid (Stian Bam) wat ’n young boy in ’n veld vind. Die boy, Lukas (Dawian van der Westhuizen), is petrified en mysterious. Dawid bring vi Lukas huis toe waa sy vrou Hanna (Amalia Uys) skepties vi Lukas in hulle huis verwelkom. Die black en white film gie die impression dat dinge heeltemal virri familie gan veanne. Die film read soos ’n parable about forgotten histories, waa’in die prey moet lee hoe om te rupture omdat daar nie ’n clear-cut way is om te vergaan nie. Wat dan transpire isse psychological, magical, depraved descent into remorse enni esoteriese. 

Nico Scheepers, die writer en regisseur van Hen, het in die paneelgesprek ná die screening gesê die film opens up baie ways of interpretation. Religious, Jungiaans, polities, sosiologies, gendered. En afhangend on where you’re at, kan jy seker verskillende ontledings vanni film doen. Die mee gruwelike aspekte vanni film is hair-splitting en shell-cracking en voel menacing inni way wat hulle aan jou questions pose. Dis dai deep unknown wat ook deel is vanni film. Jy vra waa die colour is, jy vra of die hex majick real is, jy vra wat wôd van beide Dawid en Hanna, en jy kry min antwoode vanni film af. Jy kry net ’n feeling, ’n entry into die meditation van die vrae waamee die film ôs confront. 

Een way wat ek dink die film gelees kan wôd, is deu die lens van (post-) colonial reimagination en messianic narrative. Inni eerste plek maak ek die connection tussen die ou wêreld en hoe dit relate tot our engagement with colonial legacies. Die film vra vi ôs oo die way wat belief ons lewens structure. Is ôs geroep om mense te red en transform? Of is ons maa net vasgevang inne cycle van chaos and equillibrium?

Ek wil nie hier nou oorgang in academic thinking nie. Hen offer dai room, though. Ôs world is scary, but how we become in this world is angswekkend. Paul Kammies

Die film vra vi ôs oo die way wat belief ons lewens structure. Is ôs geroep om mense te red en transform? Of is ons maa net vasgevang inne cycle van chaos and equillibrium? [...] Ôs world is scary, but how we become in this world is angswekkend.
— Paul Kammies oor 'Hen'

***

Jissus. Ek het nog nooit iets soos Hen gesien – nee, belééf – nie, in Afrikaans óf Engels óf in enige ander taal. Dalk is ek net nie ’n riller-boffin nie. Maar WOW, Hen is iets van ’n ander aard. ’n Voël van ’n hele ander nes, as ons met die hoender-tema wil werk. Dis ’n slow-burner, ’n shell-cracking ervaring (soos Paul tereg sê, en ja – nog hoender-woordspeling), waaruit jy nie onveranderd kan stap nie. Trigger warning vir die slagting van diere en ’n spesifieke grusame toneel waaroor ek nie gaan uitbrei nie – kom ons sê net dat vegans en vegetariërs en diegene met sensitiewe mae die film by tye dalk moeiliker sal vind om te kyk. Jy sal nie weer na eiers en hoenders kan kyk sonder om aan Hen te dink nie. Maar die visceral ervaring wat die film inhou, is absoluut die ongemak en nat palms werd.

Dis ongelooflike werk dié – van die draaiboek tot die regie, tot die gebruik van stilte én klank en die swart en wit beeld. Van der Westhuizen is fantasties in sy rol as Lukas; Bam en Uys se vertolkings is uit die heel boonste rakke. Hen getuig van wêreldklas-film en van wat moontlik is as die beste talente saamgesnoer word om ’n visie (letterlik) op te tower; ’n absolute moet-kyk, veral in die teater waar die klank en die opgeblaasde beeld jou behoorlik in hierdie fucked-up droomwêreld kan insuig. Ek gaan dit beslis weer kyk wanneer dit in teaters wys, en ek sleep almal wat ek kan, saam.Andréa Müller

Kyk die amptelike lokprent.


 
 

Hier | kortfilm deur gevestigde filmmakers

Kyk dit Saterdag 20 September om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Die kortfilm Hier se eerste toneel is ’n romantiese piekniek met David Viviers en Anja Taljaard as John en Rebecca. Hulle kleredrag, taalgebruik en aksente laat jou aan vorige dekades dink, maar dis nie juis spesifiek nie. Is dit Jane Austen-tyd? Eerste Wêreldoorlog? Ag, wie gee om oor die details as jy kyk hoe ’n paartjie in ’n prentjiemooi veld sit en oor peuselhappies met mekaar flirt!

Dan begin die storie met sy draaie. Skielik is dit nie meer ’n romanse nie, maar dalk ’n spioenasieriller … of ’n oorlogdrama … of ’n aksiefliek? Hier se gesweef deur style en tale is indrukwekkend omdat dit nie verwarrend of pretensieus voel nie. Dit hou jou wel op jou tone en hou jou geboei, want dit voel of jy een draai kan mis en dan heeltemal verdwaal. Tog is dit nie só ingewikkeld dat dit voel of die storie jou brein gaan breek nie.

Wanneer die kortfilm se genre-rondomtalie uiteindelik bietjie stabiliseer voel dit soos ’n Christopher Nolan- of James Cameron-fliek. Daar is menslike drama, goeie konflik met ’n bietjie aksie en wetenskapsfiksie bo-oor gestrooi. En dis alles op ’n Silwerskerm-budget gedoen, wat beteken jy sien grootliks veld en verlate geboue eerder as ander planete en Terminators, maar skrywer-regisseur Robert dos Santos word nie ingeperk hierdeur nie. Die dialoog en omstandighede dui op ’n epiese stryd agter die skerms, maar die kortfilm sorg dat die fokus op die mense en hulle alledaagse, herkenbare emosies bly.

Ek dink een swakpunt van die fliek is dat dit sy influences té veel op die mou dra. Na die einde toe voel die fliek al hoe meer soos ’n kombinasie van ’n paar Nolan-flieks, en dan plato dit daar. Veral die musiek in die klimakstoneel klink nogal soos ’n Hans Zimmer-klankbaan wat die regte epiese gevoel oordra, maar dalk net ’n skraps té bekend klink.

Ten spyte van die geïmpliseerde grootsheid van die storie, lê die ruggraat in die intieme verhoudings tussen die hoofkarakters. Die aanvanklike romantiese atmosfeer word op sy kop gedraai en wanneer ’n misterieuse soldaat (Milton Schorr) later opdaag en ’n bietjie van die backstory openbaar, bring hy nóg nuwe fasette, emosies en diepte aan al die karakters. Ek vermoed dit was ’n lekker toneelspeel-ervaring waar elke akteur ’n spul verskillende gevoelens kon uitbeeld (plus ’n geveg- en ’n jaagtoneel) en kon spog met hulle vaardighede.

Die fliek eindig op ’n dubbelsinnige noot: Meteens ’n bevredigende einde vir die kort storie, maar ook ’n skimp dat dit alles dalk net die inleiding tot ’n groter verhaal is. ’n Opvolg waarvoor ek gereed sit! — Floris Groenewald

Kyk die amptelike lokprent.


jou mase taal | Dokumentêre reeks

Kyk die vierdelige reeks vanaf 12 September op Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Jou MASE taal is ’n dokkie-reeks wat Bruin en Swart Afrikaanssprekendes se verhouding met dié taal ondersoek. Die vier episodes van die reeks spreek elk ’n bepaalde tema rakende hierdie komplekse verhouding aan, naamlik identiteit (episode een, wat as voorsmakie by die fees vertoon is), politiek, die werksplek en opvoeding. In die eeufeesjaar van Afrikaans as amptelike taal is dit besonder gepas dat hierdie reeks vanjaar verskyn – veral gegewe dat dit ’n waardige spreekbuis bied vir ’n groep sprekers wat gereeld as politieke speelbal deur (Wit) kampvegters vir Die Taal gebruik word.

Alhoewel die reeks noukeurig omgaan met die ongemaklikhede van Afrikaans se verlede én toekoms, bied dit geensins ’n geskiedenisles of preek aan kykers nie (daarvoor is daar reeds ander televisiereekse). Dit skyn eerder ’n lig op alledaagse sprekers se persoonlike ervarings met en menings van dié taal, en hoe dit hulle individuele en kulturele identiteite vorm. Die deelnemers kom uit verskeie uithoeke van Suid-Afrika en só bied die reeks ’n pluralistiese beeld van sogenaamde “Bruin” of “Swart Afrikaans” (Afrikaans is Afrikaans, maak nie saak hoe dit klink of die spreker daarvan lyk nie, is maar een van die gedagtes wat ek vanuit die reeks omarm – sê dit harder!). Dis ’n genuanseerde beeld wat die verskille en ooreenkomste in ervarings en menings – en van die verskeie vorme en klanke van Afrikaans – besonder effektief illustreer en die ongegrondheid van stereotipes en vooroordele ontbloot. Jou MASE taal behoort verpligte kykstof vir álle Afrikaanssprekendes – selfs alle Suid-Afrikaners – te wees. Ek kan nie wag om episodes twee tot vier te kyk nie. Andréa Müller

Afrikaans is Afrikaans, maak nie saak hoe dit klink of die spreker daarvan lyk nie, is maar een van die gedagtes wat ek vanuit die reeks omarm – sê dit harder!
— Andréa Müller oor 'Jou MASE taal'

***

Op die tweede dag van die fees, die oggend ná die vertoning van die eerste episode van Jou MASE taal, het ek vir Romantha Botha, een van die inhoudregisseurs van die reeks, in die “Laat, maar lucky”-ry (’n spesiale ry by die fees vir diegene wat hoop om ’n oop sitplek by ’n vertoning te score) raakgeloop, waar ons vinnig gesels het oor die reeks, haar produksiemaatskappy, Watchman Productions, en haar eerste Silwerskermfees-ervaring.

ANDRÉA: Hoe is jou ervaring van die fees sover? 

ROMANTHA: Vanjaar se Silwerskerm is my debuutfilm, my debuut- dokumentêre film. Funny enough was ek nog nooit by Silwerskermfees nie. Dit is rêrigwaar ’n melting pot van brilliant creatives, so eerstens is dit ’n voorreg om hier te wees, en tweedens is ek trots om deel te wees van so ’n perfectly well curated project. Ek is baie trots op die projek [Jou MASE taal], nie net omdat dit my idee was nie, maar omdat elkeen, van onse director tot onse line manager, was rêrig invested om stemme te kry van die uithoeke van Suid-Afrika. Soos julle [in die paneelbespreking ná die vertoning] gehoor het, was daar ’n breuk [in produksie] en ons moes rêrig onse sente rek, soos my ouma sou sê. Ons moes onse sente rek to make the most of what we have. En ek hoop dat mense wat dit kyk, hulleself daarin sal sien, dit aan sal stuur vir hulle ma’s en vir hulle kinders. Dit is rêrig ’n legacy piece en ek dink daar’s baie taboe subjects, daar’s baie ongemaklike conversations wat ons eenvoudig nie meer vanaf weg kan sku nie. En juis omdat onse land genesing nodig. Ons het genesing nodig, maar dit sal net kom wanneer ons besef dat daar stemme is wat gehoor moet word. En dít is wat die projek probeer doen: om die stemme wat nie noodwendig die platforms het op televisie of op panele nie, om by hulle te hoor hoe hulle voel oor Afrikaans. En hulle lewe die taal en hulle is óók die gemeenskap wat die taal aan die lewe gaan hou. So ons kan hulle nie vergeet in die gesprek oor Suid-Afrika, kultuur, ras, onse vooruitgang nie. Dit is vir my baie belangrik.

ANDRÉA: Ek dink julle het dit besonder goed reggekry om daardie platform te bied en daardie boodskap oor te dra. Vertel my asseblief meer oor jou produksiemaatskappy, Watchman Productions.

ROMANTHA: Watchman Productions het ek ná my eerste dokumentêr met Idea Candy begin. Ek het net ondervinding as ’n joernalis gehad, so ek het nie rêrig geweet hoe die bedryf werk nie. Ná advies het ek WP begin. Watchman is my oumagrootjie se van, en home affairs het actually haar van verkeerd gekry, want dit is Wagman, maar toe maak hulle dit ’n Engelse van, Watchman. En dis net homage aan my ouma wat my al my basic foundational core principles in die lewe geleer het. Om betyds te wees, om respek te hê vir elkeen wat jy sien, om almal dieselle te behandel, et cetera. So wanneer dit kom by my kreatiewe proses, werk ek uit daai waardesisteem uit wat sy my geleer het, which is to create something that makes you proud of who you are and where you come from. Watchman Productions is nog nuut, isse baba nog, maar ons – as ek sê “ons”, is dit net ek – ons doen digitale content, ons doen conceptualising. Ek probeer op alle platforms mense bereik met my content, so nie net dokumentêre projekte nie.

ANDRÉA: Het jy al kans gehad om enige iets anders by die fees te kyk?

ROMANTHA: Nee, hierdie is my eerste vertoning. Ek gaan nou GHAM! kyk. Dis my eerste film wat ek kon kyk. Ek wou Carissa kyk gister, wat almal raving reviews gegee het, maar ek sien uit om al hierdie films op kykNET te sien en mettertyd op Showmax. Ek dink vanjaar se aanbieding is excellent, rêrigwaar. Hulle out-do hulleself elke jaar.

Kyk die amptelike lokprent.


 
 

khaki fever | speelfilm

Kyk dit vanaf 5 September op Showmax.

Khaki Fever was op ammal se lippe tydens’ie fees. Van Pastoor Rooies Strauss to die mense inni mediakamer by die fees. Die film het ammal lat vra: “How far will they go?” en nadat ekki film gekyk’et, vra ek myself offi film vê genoeg gegan het. 

Die narrative is as volg: In Khaki Fever try Daniel (Christopher Jaftha) en sy group van game rangers om te “pangalang” metti most tourists during die season. Die prize is the title “King of Khaki”, sowel assi accumulated tips, wat Daniel hoop om te kry sodat hy sy ma se mediese bills kan pay. Die real challenge? Outsmarting Anel (Trix Vivier), the konserwatiewe lodge-bestuude wat dreig ommi personeel on-the-spot af te dank as hulle enige lunacy anvang – ’is jagseisoen, baby! Dis heeltemal camp. 

Personally hou ek nie van camp nie. Ek dink dit contribute tot ’n numbing vanne community wat rerig sukkel om sin te maak van sy eie irony en hypocrisy, en it makes thinking monotonous. Met ’n film soes Khaki Fever vind ek myself bored, unfortunately.

’n Mee interesting question vi my is wat ôs eintlik doen met ’n subversive genre soos camp; wat gie die genre vi ôs access tot wat annes nie hetti? As much as camp ’n genre is wat die kind of “high-art” burdens ignore, is die social responsibility van camp mee as net shock en crassness. Camp isse completely political en subversive vorm assit gebruik wôd om die insignificant, different en oppervlakkige inni oog te sit. Something needs to be done with that. But Khaki Fever lack ’n true locus vanne social ethics. Die film offer nie wholesome gesprekke nie – die film se notions oo masculinity, bisexuality, virginity en repression lead tot ’n dead end inni film en voel unhelpful. Brett Michael Innes is ’n much more intelligent writer en director as wat hierri film present.

Anja Taljaard, Liam Bosman en Sean Brebnor bring ’n sensibility inni film in, en dit is ook met hierdie karakters waar die teks rerig Innes se warmth wys. As jagters laat hulle die gehore lag, but as karakters is hulle completely complex and bring hulle deep meaning tot die film se energy. Hulle embody wat dit mean om op die anne kant vanni dialogue te wees, maa hulle characters is glad nie outsiders nie; hulle is confident en quirky. Taljaard, Bosman en Brebnor enliven die film met hulle honest en embodied understanding vanni karakaters wat hulle vertolk – jy kan met hulle identify; jy kan sien hulle verstaan die length en breadth van hulle karakters se feelings en journeys. 

Overall is die film fun. Right, ek mag dalk sê dat ek bored was, but die film is fun, en dit is wel iets wat baie mense probably stimulating sal vind. My biggest hope is dat die film somehow wholesome conversation oor seks kan create. There is a deepness in the film which I was missing. Not that it’s not there, but more over dat wat wel daar is soes silwer aglets oppe vellie voel: ’Is net nice, but die shoe need real support, otherwise staan die vellie sterk in stof without die silver decoration. Emotional depth is not a decoration, maak nie saak watte vorm of genre ’n wêk is’ie.Paul Kammies

Kyk die amptelike lokprent.


 
 

Kinnetafel | kortfilm deur opkomende filmmakers

Kyk dit Saterdag 6 September om 20:55 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Daa is iets ietwat endearing omtrent Kinnetafel; dit dring daarop an om vi ôs te wys dat wannee tension hoog is, perspektief iets is wat buite frame is. Ek dink egter dat Kinnetafel ’n film is wat dalk die vorm vanni kortfilm in ag moes niem, hoe connections tussen verskillende artistic modes geskep kan wôd. Die storie ly daaraan dat dit nie altyd sy eie bedoelings verstaan nie en dit lei totte film wat as meer mean-spirited en abrasive as nodig lees. Die film gebruik dramedy-konvensies sonder om in ag te niem dat dramedy nie is soos dit is as gevolg van drama en komedie wat vermeng wôd nie, maa as gevolg van hoe karakters interactions het in ways wat eienaardig mag wees, maa die warmste harte het – dit gaan daaroo om deu verwarring te breek en jouself tussen hartseer en vreugde te bevind.

Die kortfilm is centred around Lucian Geland (Braeden Buys), ’n recently published skrywer enni “odd-one-out”, en hoe hy en sy family probeer om dit deu ’n Christmas lunch te maak. Lucian se boek is onne ’n skuilnaam gepubliseer, aangesien’ie inhoud vanni skryfwêk klomp familiedrama uitsaai en niemand anners behalwe sy suster Marion (Lauren Joseph) is daarvan bewus’ie. Is ook hul eerste reunion ná die dood van hul pa – ja, ’is ’n bietjie tense hie binne – en vi die grootste deel probeer hulle tradition en good-cheer handhaaf. ’n Effort wat Lucian se ma, teer gespeel deu Melanie du Bois, gebruik om haa kalmte te behou. Dis ’n bietjie moeilik: Marion speel ’n passief-aggressiewe spel en probeer om haa broer te guilt-trip sodat hy accountability vi sy actions niem. Hul gaste, gespeel deu Veronique Jephtas, Euodia Samson, Royston Stoffels, is vasgevang inni middel van alles en probeer om fires uit te sit, maa Marion se anger is palpable en ooweldig die gathering. Dit lead tot ’n konfetti van emosie, woede, deflection en konfrontasie – van alle dinge past, present en future. 

Die film (wat ook die naam is vanni boek wat Lucian skryf) kry sy titel vanni tafel waa die kinders veronnestel is om te sit tydens family gatherings. Dissi plek waa’ie kinders protected en vewyde is vanni burdens van “volwasse” gesprekke. Sodra hulle ouer is, wôd toegang gegee tot die “grootmense-tafel”, sowel as die familiegeheime en estrangements wat daar genavigeer word. 

Lucian is ook ôs film se veteller, tewyl hy ôs vertel hoe hy by die skryf vanni boek gekom het, sy private POV wat hy oortuig voel om te deel. Dis baie clear dat hy niks anders as goeie bedoelings het nie, maa hy wôd misverstaan deu beide sy ma en suster – met hom wat gesien wôd as iemand wat skaamte en verleentheid in hul lewens bring. Om alles te veloo, om kwesbaar gemaak te wôd, plaas hom inni position waa hy die verdediging wil inneem. Eider dit nou is om hom van sy omgewing te distansieer of om te vergeld, is alles om homself te protect. Daa is ’n clashing van emosies wat forced wôd om by hierri tafel te versoen te word. Omdat die etenstafel heilig is, is hierdie clashing van emosies herstellend. En hierri film probeer ôs daaheen niem, maa val inni slaggate van goedkoop-lag enne gebrek an emosionele richness.

Ek issi sieker offi film wou bewys dat wanneer kinders grootwôd, hulle vrede moet maak met autonomy, nuwe maniere om die wêreld te verwerk en te verstaan moet vind, spesifiek op hul eie terms nie. Ek is ooki seker offi film te veel staatgemaak het op die comedic aspekte vanni teks as die gehoor se manier om met die kortfilm te identifiseer nie (wat gelei het tot goedkoop-komedie en onregverdige toestande vi al die karakters). Maa dit voel condensed en ongefokus, eerder as wat hierri karakters meer kans gegee is om te bloom sodat daa lae in hul stories kon wees. Die redes vi hul reaksies grens an stereotipies en clichéd, wat worrysome is as in ag geneem wôd die potensiaal vi richness wat hierri film het. Dit maak sin datti film dink anni vewêking van hatseer en familial anxiety, wat ’n realiteit vi baie is, en dat ôs moet begin dink oor wat dit beteken om intertwined te wees met anne mense se stories. Paul Kammies

Kyk die amptelike lokprent.


 
 

min of meer | kortfilm deur opkomende filmmakers

Kyk dit Saterdag 16 September om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Min of meer vertel die verhaal van Jana (Liezel de Kock), ’n vrou wat glo sy is ’n meermin (vandaar die woordspeling in die titel – bonuspunte vir hierdie kyker). Jana dra permanent ’n meerminstert. Om rond te beweeg op droë land stoot sy haarself op haar maag op ’n skaatsplank rond, of haar man, Jakob (Tiaan Slabbert), stoot haar in ’n kruiwa. Sy is die gelukkigste in die water (Jakob spuit gereeld Jana se vin met ’n spuitbottel gemerk “vinwater” om haar kunsmatige vin koel te hou, en om die konstante jeuk van die materiaal teen haar mensbene te verlig). Hulle sitkamermure is blou geverf en met regte skulpe versier – die dolfyntjie-standbeeld-, jellie-kers-tipe kitsch. 

Jana is nie die enigste weird-but-wonderful karakter wat ons in Min of meer ontmoet nie. Daar is die straatmusikant, Koos Alvis (Craig Urbani), die sensasionele Thea die Meerman (Zak Hendrikz – wat dié rol fantasties vertolk! [neem jy besprekings vir partytjies, Zak?]) en die slymerige, uitbuitende talentagent (Neels Clasen; “Moenie in sy slegte boeke kom nie,” waarsku Koos vir Jana). Die oorhoofse estetika en gevoel is nostalgies en quirky, en herinner aan Napoleon Dynamite (’n kompliment). 

Daar skuil egter meer onder die kitschy meermin-glitterlae van Jana se droomwêreld, en dit spoel alles tot die oppervlak (om die watermetafoor te gebruik) by Jana se eerste gig as meermin by ’n kinderpartytjie. Kom ons sê net daar wag ’n groot geheim (of eerder, verrassing) onder Jana se vin, wat ’n mens laat wonder wat die prys van ontkenning, die rouproses en skuldgevoelens is … 

Die hele rolverdeling vertolk hulle rolle op oortuigende wyse, maar dis veral De Kock in die hoofrol van Jana wat die verhaal met oorgawe verkoop. Brava!

Die kortfilm is aktrise Cindy Swanepoel (Binnelanders, Magda Louw, Koek – sy maak ook ’n kamee-verskyning in hierdie kortfilm) se debuut as regisseur, en hierdie kyker hoop van harte sy neem gou weer haar plek in die regisseurstoel in. Min of meer is ’n lieflike fliek – snaaks én hartroerend, sonder om slap-stick óf oorsentimenteel te wees. Ek wens dit was ’n vollengte film! Andréa Müller

Kyk die amptelike lokprent.


 
 

My F*k, Marelize! | Speelfilm

In teaters vanaf 28 Augustus (Namibië) en 29 Augustus (Suid-Afrika).

Mense beskuldig Hollywood graag van kreatiewe bankrotskap wanneer The Lion King oorgemaak word, of die hoeveelste Marvel-superheldfliek uitkom, of as daar flieks van storielose speelgoed gemaak word (ja, ek dink spesifiek aan Barbie of The Lego Movie). Maar hoe voel ons as ’n Afrikaanse fliek verskyn wat gegrond is op ’n viral video van ’n tienermeisie wat met haar fiets in ’n rugbypaal vasry?

My f*k, Marelize!, gegrond op ware gebeure, is ’n two-hander tussen die ma en dogter van dié video. Matriekleerling en ongeluksvoël Marelize (Zandelle Meyer) probeer haar toekomsplanne aanmekaarslaan. Sy wil uiteindelik leer fietsry sodat sy in Nederland kan gaan au pair in die volgende jaar. Haar hardkoppige ma Heidi (Je-ani Swiegelaar) het kanker, maar hou dit ’n geheim vir haar dogters en probeer met ’n brave face deur dié moeilike tyd kom.

Die storie speel af in Namibië en die film gebruik daai buurstaat-identiteit goed. Die karakters maak gereed om deel te neem aan die WIKA – die Windhoek Karnaval – en hulle verteenwoordig op allerhande klein maniertjies ’n ander kultuur se identiteit en gebruike. Die storie, oor familiekonflik en persoonlike groei, word mooi vertel, en die toneelspel van Swiegelaar en Meyer is die stewige ruggraat waarop alles anders staatmaak. (Kykers wat met ’n kwaai ma grootgeword het, sal hulle definitief met baie gegewens van Marelize en Heidi se verhouding en interaksies vereenselwig!)

Die musiek het my soms bietjie te veel aan Little Miss Sunshine laat dink, maar die res van die fliek staan sterk genoeg op sy eie voete. Daar is trekke van flieks wat ons al voorheen gesien het oor families wat by mekaar staan deur siekte, en jong mense wat volwasse word, maar hier is ’n mooi, geloofwaardige fliek oor familie. En nie te tranerig of oorsentimenteel raak, soos dikwels met stories van hierdie aard kan gebeur nie. Ten spyte van die vloekwoord op die plakkaat, is My f*k, Marelize! toeganklik en nie naastenby so taboe of punk rock soos wat jy dalk sou verwag nie. — Floris Groenewald

Kyk die amptelike lokprent.

Daar is trekke van flieks wat ons al voorheen gesien het oor families wat by mekaar staan deur siekte, en jong mense wat volwasse word, maar hier is ’n mooi, geloofwaardige fliek oor familie. En nie te tranerig of oorsentimenteel raak, soos dikwels met stories van hierdie aard kan gebeur nie.
— Floris Groenewald oor 'My f*k, Marelize!'


 
 

The Last Ranger | Onafhanklike kortfilm

Onafhanklike films word nie op kykNET uitgesaai nie, maar hou die film se Instagram-blad dop vir die volgende filmfees waar The Last Ranger vertoon sal word.

Sedert The Last Ranger in 2024 verskyn het, het dié onafhanklike kortfilm al ’n reeks internasionale toekennings ingepalm en is selfs vir ’n Oscar benoem. En dis nie moeilik om te sien hoekom nie. 

Die film, geskryf deur David Lee, Will Hawkes en Darwin Shaw met regie deur Cindy Lee, speel af in die Amakhala-wildreservaat in die Oos-Kaap tydens die pandemie. Weens opgedroogde toerisme bly veldwagters se salarisse in die slag en word die renosters selfs méér weerloos gelaat teen stropers, terwyl die gemeenskap deur verhoogde werkloosheid geruk word.

Die verhaal sentreer rondom Khuselwa, of Khusi (uitstekend vertolk deur Avumile Qongqo), die laaste veldwagter in die reservaat, en die jong Litha – ’n ongelooflike performance deur Liyabona Mroqoza

Litha is op pad na ’n nabygeleë vakansieoord in die hoop om van haar pa se handgekerfde houtdierbeeldjies aan toeriste te verkoop, toe Khusi by haar verbyry en haar herinner dat daar nie enige toeriste is nie. Litha wys Khusi haar gunstelinghoutbeeldjie – die renoster – en die veldwagter bied aan om haar dié dier in lewende lywe te gaan wys. Later, ná Khusi vertel dat sy nie kinders het nie, maar dat hierdie diere haar familie is, gee Litha haar die einste renosterbeeldjie present: ’n eenvoudige maar gelade gebaar. Khusi ken die renosters by die naam en hulle ken haar ook. ’n Verstaan tussen mens- en dierlewe; ’n herinnering aan diere se instinktiewe vermoë om te weet wié om te vertrou en wie nie. 

The Last Ranger is ’n film oor die gruwels van renosterstropery, maar dit grawe dieper en kompliseer die onderskeid tussen reg en verkeerd, hero and villain, deur af te vra hoe menslike swaarkry bydra tot dié krisis. In hierdie opsig eggo die film aspekte van Eben Venter se Decima (2023), ’n roman wat eweneens die komplekse omstandighede rondom renosterstroping oopvlek – nie om dit te regverdig nie, maar om te wys hoe armoede, ongelykheid en ’n kapitalistiese markstelsel wat selfs op lewe ’n prys kan sit, hierdie siklus van geweld voed.

Hoewel die film deels op ware gebeure steun, doen dit meer as om feite te dramatiseer. The Last Ranger laat jou nie toe om weg te kyk nie, nie van die mooi of die brutaliteit of die realiteit wat dié twee uiterstes met doringdraad aan mekaar verbind nie. — Elodi Troskie

Kyk die amptelike lokprent.


feesfoto's om die fomo verder aan te vuur

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Klyntji kuier weer in Kampsbaai vir Silwerskermfees gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand