Imran Hamdulay se The heart is a muscle by die Berlinale Filmfees

Imran Hamdulay se The heart is a muscle by die Berlinale Filmfees

'n Onderhoud deur Kanya Viljoen oor manlikheid en transgenerasietrauma

Dit is min dat ’n mens in die middel van Berlyn sit in ’n uitverkoopte filmteater van 800 mense om die première van ’n Suid-Afrikaanse film te kyk. Maar dit is presies waar ek my onlangs bevind het – omring deur sneeu en samesyn en die senuwees van ’n handjievol Suid-Afrikaanse filmmakers wat vir die eerste keer hulle film The heart is a muscle op die silwerdoek sien. 

Die film is die skrywer en regisseur Imran Hamdulay se tweede vollengte film wat internasionaal debuteer en pryse losslaan. Sy eerste film was die misdaad-riller Sons of the sea, wat by Cinequest, VSA première het. Sy tweede film het by die Panorama Seksie van die Berlinale Filmfees gespeel en is daar as die Panorama Independent Award-wenner aangewys. 

Die film volg die hoofkarakter Ryan, vertolk deur Keenan Arrison, wat by ’n familiebraai sy seun verloor. Al sy vriende en familie begin histeries na Ryan se seun Jude soek. Die soektog lei later vir Ryan na ’n bende-belaaide area en kort voor lank staan Ryan voor ’n man André, wat self ’n vyfjarige seun het, en beskuldig hom daarvan dat hy sy seun gesteel het. Dié oomblik word die beginpunt waarom alles verder in die film draai. Ryan ontdek amper per ongeluk dele van sy eie geskiedenis, homself en sy idee van pa-, man- en seunwees, en op die ou einde moet hy hom afvra wat dit beteken om ’n man in die Kaapse Vlaktes te wees.

Imran se poëtiese styl is binne die eerste frame van die film duidelik en aangrypend. Die harde hande van ’n man wat ’n winkeltrollie by ’n gang afstoot en ’n klein seuntjie wat sonder einde babbel. Ons sien nie hulle gesigte nie en tog word ons verlief en verlore binne hulle verhouding. Die film bevat iets wat beide sensitief en gehard, alledaags en ongewoon, teer en eg is. Imran is een van die “stiller” skrywers en regisseurs in ons land, maar dit is juis die stil en sagte hand wat sy aanslag so sterk maak. Dis duidelik dat sy akteurs hom vertrou het, dat hulle vry genoeg gevoel het om saam te speel en voorstelle te maak en dat sy span hom ten volle ondersteun het. Binne ’n hooggespanne en dikwels under resourced omgewing, is dit nie altyd ’n gegewe nie. 

Die film is tans besig met ’n internasionale filmfeestoer, maar sal wel in Augustus 2025 in Suid-Afrika te sien wees. 

Ek het met Imran oor die proses van The heart is a muscle gesels, sowel as wat hom as ’n filmmaker oor die algemeen inspireer. 


KANYA: Kom ons begin met ’n bietjie meer oor jou. Wat was die eerste beeld of gevoel wat jou liefde vir film laat vlamvat het? 

IMRAN: Jim Jarmusch se Stranger than paradise. Meer as dit, is musiek ook ’n belangrike deel van my kreatiewe proses. Die gees van The heart is a muscle is baie geïnspireer deur J Cole se She’s mine pt 2. I was compulsively listening to this song throughout the entire process. It was my north star in many ways.

KANYA: Het dit op enige manier ingespeel op die titel? Was dit moeilik om ’n titel te vind? 

IMRAN: Dwarsdeur die hele filmproses het ek geen idee gehad wat die titel van die film gaan wees nie. Dit was nie totdat ons in post-production die film “gevind” het, dat die titel na my toe gekom het nie. Ek was onmiddelik drawn na die juxtaposition van vulnerability en strength en hoe daai twee goed wat konstant binne ons lewens leef, exist. Dit was ook ’n goeie opsomming vir die hoofkarakter Ryan, wat soveel trauma in sy liggaam het. Sy innerlike wese is ook hierdie seeming dichotomies, maar al hierdie elemente – wat in sekere opsigte teenstrydig is – maak uiteindelik deel uit van wie hy is. Ek wou hê die titel moes iets oor hierdie kompleksiteit vasvang en ek dink dit het. 

KANYA: Gepraat van kontraste en teenstrydighede, kan jy ’n bietjie meer gesels oor die konsep van spieëlbeelde binne die film? Terwyl ek dit gekyk het, het ek bly dink hoe baie ruimtes en karakters as ’n spieël vir mekaar dien. Ryan teenoor André, elkeen met hul twee seuns, die twee buurte, twee verskillende ervarings van teenwoordig en afwesig wees.

IMRAN: Thank you for picking that up! Dit het alles op ’n manier binne die skryfproses en binne die karakter van Ryan begin. Ryan was ’n karakter wat konstant op soek was na iets, na iemand, na sy pa, sy seun, homself? En dis regtig wat my gelei het om met hierdie spieëlbeelde te werk, want op baie maniere is Ryan André en André is Ryan. They are part of themselves which house complex facets of their personalities, their shared histories and how dualities exist in each of them. Ek wou ook hê mense moet die dual nature van die Cape Flats aanvoel. Om hierdie karakters as spieëls van mekaar te gebruik was vir my ’n manier om te wys hoe hulle mekaar nodig het, hoe hulle mekaar op ’n manier voltooi en hoeveel antwoorde hulle in mekaar vind.

Ek wou ook hê mense moet die dual nature van die Cape Flats aanvoel. Om hierdie karakters as spieëls van mekaar te gebruik was vir my ’n manier om te wys hoe hulle mekaar nodig het, hoe hulle mekaar op ’n manier voltooi en hoeveel antwoorde hulle in mekaar vind.
— Imran Hamdulay

KANYA: Dit klink asof jy baie binne die teks self gevind het. Kan jy ’n bietjie deel oor jou skryfproses? Weet jy van die begin af wat jou narratiewe boog is, of ontdek jy dit soos jy skryf? Skryf jy vanuit beelde en vind die dialoog daarin? Of hoor jy die karakters se stemme en neem dit daarvandaan?

IMRAN: Toe ek jonger was, was ek obsessed met process. Ek het soveel navorsing daaroor gedoen en onderhoude gelees oor hoe die regisseurs wat ek bewonder, geskryf en gewerk het. Maar deesdae kan ek nie regtig ’n spesifieke proses vir myself vasstel nie. Dit het organies geword; elke film wat ek skryf, skryf ek op ’n ander manier met ’n ander proses. Ek het The heart is a muscle in twee maande geskryf, hoofsaaklik omdat ek ’n film so gou moontlik wou maak en die befondsing se enigste voorwaarde was dat ek binne ses maande moes skiet. So die urgency om te skryf het my op baie maniere vorentoe gedryf, sonder dat ek heeltemal daarvoor beplan het. Ek het nog nooit in my lewe so geskryf nie, maar het dit eintlik baie geniet. Dit was ’n relief om die preciousness uit die process te haal. Instink. Dis al wat ek gehad het, so ek het net besluit dat my sensibilities my back sou hê. Nadat ek die storie uitgefigure het en dit met mense wat ek vertrou, gedeel het, het die mooiste ding gebeur – alles het baie duidelik geword en dis asof ek Ryan se stem kon hoor. Al wat ek moes doen, was om te luister. Hy sou vir my sê watse storie hy wou vertel. Ek weet dit klink dalk simpel, maar ek was so geseënd dat dit so gebeur het. Tot vandag toe is daar temas en insigte wat mense oor die storie het wat ek nie eers doelbewus ingeskryf het nie, en dan dink ek wow, I had no idea what I was doing! 

KANYA: Dis ongelooflik dat dit net so ontvou het. Was die proses in die geheel so organies? Of was daar tog oomblikke wat moeilik was? 

IMRAN: Die skryfproses was regtig fluid en ek glo regtig dat elke proses binne films maak ’n kans is om te rewrite, om dit nog beter te maak. So tydens die editing van die film het ek vir myself gesê dat dit ’n kans is om ’n nuwe film te ontdek. Na die laaste dag van verfilming het ek nog nooit weer na my script gekyk nie. Maar toe ons vir die eerste keer deur die footage kyk, het ek ’n film gesien waarvan ek glad nie gehou het nie. It didn’t feel like the film I imagined. Dit was regtig moeilik om dit te reconcile. Ek het soveel mense in die steek gelaat. Maar ek het ’n ongelooflike editing-span gehad – Paul Speirs en Amy Knight van The Post Studio. We kept pushing en het net bly sê dat ons onsself accountable moet hou vir die storie. Stadig maar seker het iets begin “reg” voel. Maar dit was moeilik. Ons was vir agt maande in die editing studio. Die res van post-produksie het nog drie tot vier maande geneem. Dit was ’n proses van diep introspeksie en ek is dankbaar dat ek daaruit gekom het met ’n film wat met gehore resoneer.

KANYA: Dit moes iets besonders wees om die Panorama Jury-prys te wen met die film, juis omdat dit bevestig hoe baie die film resoneer. Was jy bekommerd dat die film nie met ’n internasionale gehoor sal praat nie? Dat iets binne die vertaling sal platval? 

IMRAN: Ek was bang, maar toe ons die film kon debuteer in Berlyn en bo-op dit die prys kon wen, was ek heeltemal weggeslaan. I could never ever have imagined this would happen! So die reaksie van internasionale gehoorlede was nog niks behalwe positief nie. Ek kry nou nog DM’s van Berlinale-gehoorlede wat die film se lof besing, spesifiek rondom die kwessies van masculinity. En dit was nog altyd my intensie – om ’n film te maak wat oor masculinity en inter-generational trauma praat, wat kompleks is. Om daaroor te praat in die framework van healing, net soos ons daaroor praat in die framework van toxicity. So, ek’s bly dis wat mense daarvan wegneem. 

KANYA: Ek dink dis die interessante dinamiek van films maak uit die Globale Suide, want daar is ’n verwagting oor die tipe tematiek en karakters wat ons aanpak en uitbeeld. Ek’s soms skepties oor die fees-gaze op films wat uit die Globale Suide kom. Hoe voel jy daaroor? 

IMRAN: Ek stem. Films uit die Globale Suide word define deur befondsing. Dis die befondsing wat besluit watse films gemaak word en hoe hulle verkoop en consumed gaan word. Meerderheid van die funding kom direk uit Europa uit en daarom is ons gebonde aan hulle mandate en wat hulle wil sien. Dis ’n real problem. Ons moet hierdie model begin bevraagteken en meer as dit moet ons maniere kry hoe fondse binne die Globale Suide se hande kan lê. Ek het nie noodwendig die antwoorde nie, maar ek bly hopeful dat ons dit nog sal verander in die jare wat voorlê. 

Films uit die Globale Suide word define deur befondsing. Dis die befondsing wat besluit watse films gemaak word en hoe hulle verkoop en consumed gaan word. Meerderheid van die funding kom direk uit Europa uit en daarom is ons gebonde aan hulle mandate en wat hulle wil sien. Dis ’n real problem.
— Imran Hamdulay

KANYA: Gepraat van jare wat voorlê, dalk is ’n goeie manier om die onderhoud af te sluit om jou te vra wat jy graag sal wil hê iemand in die toekoms oor jou wêreld moet verstaan as hulle jou films kyk?

IMRAN: Dat ten spyte van ons tekortkominge, ons persist met ’n unwavering faith in kindness and spirit.

Imran (regs) op die stel van The heart is a muscle

Agter die skerms

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Imran Hamdulay se The heart is a muscle by die Berlinale Filmfees gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand