Taal, kultuur en identiteit as politiese daad

Taal, kultuur en identiteit as politiese daad

Kanya Viljoen se skryfwerk handel oor haar posisie as jong Afrikaanse vrou

Kanya Viljoen 2.jpg

Kanya Viljoen is a recent graduate from the University of Cape Town, specialising in Theatre and Performance. As a young theatre-maker Kanya is still exploring and questioning the ideas and notions around performance in South Africa, this includes the performance of language, culture and identity. Kanya considers these ‘performances’ inherently political and often struggles to identify herself within these larger constructs. It is within these liminal spaces that the act of writing has often become a way of negotiating the position a young, Afrikaans woman inhabits in contemporary South Africa.

 

Wat die Hart van Vol is, Loop die Mond van Oor

Die elektroniese hek skuif stadig oop, kraak en protesteer onder die gewig van die son. Die dogter stap stadig oor die grens van daaglikse slaghuis en intellektuele oorlogsveld. Die huis. Op die trappe lê ʼn verflenterde koerant, Die Afrikaner is in sy moer in. Dalk is dit ʼn persoonlike ding. Tog is daar vir my ʼn baie sterk gevoel van wat beeste moet voel in die drukgang na die slagpale, ʼn totnietgaan. Die datum lees 4 April 2001, die woorde geuiter deur die man met rooi veldskoene en ʼn oosterse geliefde. Dit moet ʼn tikfout wees, dink die dogter, die jaar 2001 en lê op sy rug en word bloot onthou as ʼn skaduwee van kinderdae en roomys en naïwiteit.

Die huis lyk op die oogopslag na die stereotipe van die Suid-Afrikaanse reënboogdroom, ʼn baksteen huis met Trellidor diefwering om wag te hou teen die wolf, of aap, of watokal as semi-fiksionele monster oorvertel wil word. Buite die huis groei bougainvilleas, monde oop gebreek om uit te skree ‘bly buite’ of ‘kom in’, die boodskap afhangende van ʼn stel faktore wat deur die huisbewoners determineer word. Die dogter is nie seker watse boodskap van haar op toepassing is nie. Sy gaan staan met haar voorkop teen die geelhoutdeur, hand om die handvatsel gevou. Binne die huis kan sy haar oupa se staanhorlosie hoor, die hande wat ritmies die dae van die gesin uittel en tog klink dit vir die eerste keer na die daad van aftel, so asof die hande weet dat dit op ʼn dag tot stilstand sal kom, ʼn gebrek aan tyd sal ervaar, of moet dit bewoord word as aanvaar?

En wat sê die universiteit? Vra haar ma toe sy haar voet oor die grens neerplaas. Niks, ek weet nie, hul laat weet niks, kom die antwoord versigtig uit. O, nou ja ek wil nie daaroor praat nie. Al wat ek nie kan verstaan nie, is waarom die wat wíl studeer, nou ook onder die stakings moet ly nie? Ja ek ook nie. Is wat die dogter as antwoord offer, tog wat werklik gesê wil word is dat die gesprek ʼn komplekse een is, dat die frustrasie wat deur medestudente gevoel word tienteeneen drie keer die van die dogter self is, dat ʼn stilstand dalk die enigste oplossing is. Dit word nie gesê nie, want die dogter weet waarheen so ʼn gesprek loop. Hoe gaan dit met my broer, word as alternatiewe gesprekspunt aangebied. Sy rekenaar is van hom afgeneem, omdat hy Saterdag in die park gaan rook het, kom die antwoord terug. Ai Ma, ek is seker dit is net ʼn fase. Hy kom uit sy kamer geloop, ʼn Paul Roos hoed agterste voor gedraai, kaal bolyf met ʼn oefenbroek aan. Hy groet nie.

Om sewe uur gaan sit die gesin rondom die yslike televisieskerm vir die daaglikse nuus. This is a warning to sensitive viewers that the following footage might be upsetting to watch. Onthou jy hoe jy gehuil het toe hul die leeu-skietery op Carte Balnche gewys het, snou die dogter se suster haar toe. Op die skerm word ʼn groep studente op ʼn park uitgebeeld, hul loop, of staan, doodeenvoudig rond, ʼn stil protes teen ʼn sisteem wat een vir een lewens insluk en opgooi. Na ʼn paar sekondes tel die Suid-Afrikaanse polisie hul vuurwapens op, ek herken die gewere, my oupa het ʼn kluis in sy huis op Hermanus, en begin ʼn orkes van rubber ritmes. As hoogtepunt word student oor sypad gesleep. Hul moet in die klas wees, is haar ma se observasie. Die dogter kan die kommentaar nie sluk nie. Sy draai verwoed om en skree op haar ma, stembande wat skril uit haar maag uit spat.

Die dogter se pa was vir twee jaar op diensplig toe hy haar ouderdom was. Hy praat tot vandag nie daaroor nie. Haar oom het uit diensplig gedros, die dogter wonder tot vandag toe of dit as ʼn daad van weerstand teen ʼn sisteem was waarmee hy nie saamgestem het nie, of as ʼn aksie van weg vlug na ʼn land van heuning en bier. Sy sal nie vra nie, ʼn mens praat nie oor sulke dinge nie. Alle praat in hierdie treurige, bitter, bont, begrafnisland is politiek – of dit nou fluisterpraat, kakpraat, wind- of spoeg- of saampraat is, lees die dogter se pa vir haar voor uit Die Burger, die datum wat voorop die koerant gedruk is lees 6 April 2011. Dieselfde man eggo dieselfde dronkwoord gesegde. Dit moet ʼn tikfout wees. Die woorde drentel stilweg in haar kop, klop stadig aan trane. ʼn Generasie later en ʼn gesprek val plat, die dogter se ouers kan dit nie verstaan nie, al sou hulle wou. Dit lê doodeenvoudig buite hul bereik van begrip, buite 1976, buite apartheid en apatie.

In die badkamer staan die dogter voor die vuilbesmette spieël. Haar vel herinner aan kleeflint, vasgeplak aan vlees en verstand. Van ver word Johan Stemmet gehoor, ʼn deuntjie wat aandui dat Absa nog R500 aan ʼn bevoordeelde man van om en by vyftigjarige ouderdom sal afstaan. Dankie vir die hulp, dat julle my toegesluit het en vol pille gestop het. Die Gideon Bybel en die koekieseep in die straf saal was fokken goeie terapie, kom Goosen se woorde op. Haar oë  dra generasies bloed wat deur geskiedenis spoel, maar Keuzenkamp herinner dat dit altyd ʼn land van oorvloed en dank sal bly, een sonder horison. Díe liggaam lê buite dit wat as natuurlik bestempel kan word, besef die dogter op eens. Goeienaand, daar kom tye in die geskiedenis van nasies wat ʼn keuse gemaak moet word tussen onaangename alternatiewe. Die keuse tussen oorlog en ʼn oneerbare vreesagtige vrede, is so ʼn voorbeeld. Die besluit om ʼn noodtoestand af te kondig, soos wat ek vandag gedoen het, verteenwoordig ook so ʼn keuse, Botha se stem dawer oor die vloed van badwater wat uit noodsaaklikheid in die bad getap word. Sy ontklee. Kaal besef die dogter dat ʼn geboortedatum soos die van 1994, ʼn doodstraf saamdra, want die liggaam was gedoop in kulturele teks en identiteitlose vlees. Ek praat nie meer so baie met God nie, en dit is nie omdat ek kwaad is nie, lui die jong Afrikaner se mantra, maar dit is ʼn leuen, want die dogter se vriende is kwaad vir God, hoofsaaklik omdat Hy hul versaak het. Ons moet pasop om die land se diversiteit te misken, om, met die beste bedoelings, ’n vals eenheid te wil afdwing. Die land se rykdom lê in die erkenning van diversiteit binne oorkoepelende gedeelde waardes¸ lees die dogter self in die bad, weereens praat die man wat koeie laat sweet. Toe die dogter die koerant toevou word daar weereens ʼn tikfout in die datum aangetref, dit lees 19 Maart 2008.    

Toe die dogter uit die bad klim, haarself afdroog, vind sy haarself weereens voor die vol-vingers-gesmeerde spieël. Haar mond voel droog en vuil. Sy kan dit proe, die mengelmoes van koeksisters, sweet, leuens, melktert, godsdiens in geskenkpapier toegedraai, beskuit, stemme stom geskreeu teen hul ouers en bloed, ʼn reuk van yster. Aanvanklik wou sy net haar tande borsel en dus was tandepasta aangewend om tong blink te skrop. Maar dit het nie gewerk nie, die bitter smaak bly dans. Na twintig minute van tandeborsel het haar spoeg nogsteeds na bok-koppe teen die sitkamer muur en Koos de la Rey en F.W. de Klerk geproe. As kind was die logika rondom die mond ʼn doodeenvoudige konsep, as ‘vuil’ woorde gebruik is, word jou mond met seep uitgewas. Dus, was die Dove seep wat in elke vrou se badkamer wegkruip, gegryp en stadig aan die tandeborsel gesmeer. Die dogter het sistematies van links na regs gedans, tandvleis stadig oopgebreek, gesoek na antwoorde wat iewers in haar keel vassit. Toe sy vir die tweede keer seep aan tandeborsel wend besef sy dat die withaartjies van die borsel die kleur van rooigrond is, grond wat generasie op generasie aangemoedig het. Maar die mond moet skoon, ons moet suiwer leef, konstant gee en nooit vra nie, onsself skoon was, skoner as sneeu. Die seep het naderhand ook smaak en effek verloor. Die Handy Andy word onder die spieël gebêre – vir die wis en die onwis. Stadig word die dik, wit vloeistof oor die klein borselhaartjies gedoop en aan die mond aangewend en teen tand en tandvleis geskrop, soos Petro in haar ouma se huis op haar knieë neergesak het om die kombuis se linoleum vloer blink te smeer. Maar die ingebedde smaak van Koos du Plessis, Afriforum, Kurt Darren, Dowwe Dolla, Heidi, Antjie Krog, Die Stem gesing deur Steve Hofmeyer vir ʼn groep dronk mans, Adam Small, Trompie, Jack Parow, Breyten Breytenbach, Orania, Psalm 23, Van Wyk Louw, jong studente wat uit naïwiteit skree Afrikaans sal bly,  Casper de Vries, Eugéne Marais, Liewe Heksie, Ingrid Jonker, Riaan Cruywagen, Brak en Jan, Jan van Riebeeck, Tolla van der Merwe, Die Antwoord, DJ Opperman se kinderverse, Eugène Terre’Blanche, Reza de Wet, Haasdas se Nuuskas, Net Blankes, in die naam van die Vader, Rhodes, wil nie haar mond verlaat nie.

Na twee uur en 27 minute van tandeborsel het die dogter besef dat haar lippe en keel opgeswel het, asof daar onverklaarbaar ʼn swangerskap ontwikkel het. Dalk is dit hoe dit voel om polities verswelg te word deur ʼn sisteem wat die dogter tot nou toe nie kon verstaan nie, dink sy by haarself. Die dogter het bloed en spoeg en kiem soos stroop uit haar mond laat loop tot in die opwasbak, ʼn moeras van rooi teenoor die kliniese porselein. I expel myself. I spit myself out. I abject myself within the same motion through which ‘I’ claim to establish myself. Waar het sy die woorde gehoor? In ʼn baarmoeder waar woord en rede nie bestaan nie? Sy kan nie onthou nie. Haar tong lê dood in haar mond, rou en oop soos ʼn roof oopgekrap deur ʼn nuuskierige kind. ʼn Moedertong, verkrag.

Vir weke daarna kon die dogter nie ʼn woord uiter nie. Die kastrasie van tong het haar werklik stil gemaak, teks uitgewis. Borrie was op die oop tandvleis gesmeer, boereraat deur die dogter se ouma verskaf.

Jy weet van beter, was die moeder se opinie. Jy moet in die klas gewees het.

Haar pa was weereens stil, het net elke aand twee Panados op haar bedkassie kom neersit. Dit en die Gideon Bybel en ʼn glas water.

Haar broers het nie verstaan nie. Dalk was hul te jonk, bloot nog toegedraai in die snoesigheid van die baksteen huis in die middel van die reënboogland.

Haar suster het haar nie in die oë gekyk nie. En die gebeurtenis was nie bespreek nie. ʼn Mens praat nie oor sulke goed nie.

 

’n Op Voed Ing

Opvoeding is die realiteit
van weet
dat toe skoene,
’n langbroek
en ’n serp
gedra moet word

parlement toe

stap
kinders
te jonk om te verstaan
te jonk om stil te bly
te jonk om politiese speletjies te speel
te jonk om te besef
dat bloed 'n koeël
weg van
vel
lê.

 

Universiteit van Kaapstad, 2016

Om ’n politiese vergadering by te woon
is om in ’n kerk te sit
stemme wat saam draal
sit in stoele
luister
die liedere neem terug
na ’n era van swaarkry
Christus gekruisig

Om ’n politiese vergadering by te woon
is klippe wat kop toe gemik word
koeëls wat vlieg
want die swart liggaam se gees is aan die brand
stil gebede word onder ’n asem opgesê
‘vergewe hul God,
want die wit kapitalistiese monster
kies om nie te weet
wat hy doen nie’

Om ’n politiese vergadering by te woon
is om met hande in jou skoot
gevou te sit
tong te byt
en te weet

dat ’n wit vel in goud gedoop is
te weet dat my oë,
swart gebrande rowe in wit papier,
sielkundig en psigologies
voordeel aanneem
spasie op neem
ween?
weer ’n keer
luister

Om ’n politiese vergadering by te woon
is om ingesluk te word
terug na die baarmoeder
vol swart bloed
en slym
en walg.

 
Kanya Viljoen.jpg

Vr(ou)x

My naakte siel wil sonder skrome/ in alle eenvoud tot jou gaan – N.P van Wyk Louw

Klanke krap teen die koue
Wanneer ek, vrou alleen, teen jou deur kom staan
(kosyn kraak)
want van kleins af word jy geleer om
keer op keer klein keel stem
kindertjie resonansie in jou ore te sk(r)ee(r)
sodat jy my beter kan verstaan
my kan hoor

Het jy gehoor dat my vroulike vlees
vol gate is, gemik om deur
jou geruk te word en
tog wil ek, smag ek, vir jou hande
hulp, hou(vas) op my heupe
holtes gegrawe om jou in my te plant
water wat wil,
wil,
wil
voed

Borste geskep om kussings te word vir jou karoskop
Krulle, engel kroontjies,
klam hande wat oor vel kan

voel
vat
wat
jy
wil

Wend ’n stukkie pleister oor my mond
toegeplak om jou kans te gee om te kraam
oor my kombuisvloer
vee dit met die vatlappie
op
pop
poep
hol

Hoekom is dit dat dít wat menslik uit my vloei
maandeliks my herinner
dat vrug in my vorm vat
vye wat vir jou wag om te ontsteek

Waarom is dit dat díe identiteit altyd in verhouding met jou vesel moet val?

Vreemd, dink ek
Dat dít wat uit vlees en
bloed (elke ag-en-twintig-dae,
bloeiende skepsel wat saggies en
suutjies saam met jou sake bespreek

weet waar my grotte gegrawe lê
waar stem in my grense eggo)
nogsteeds voor jou deur kom staan
kaal(voet)
in die reën
met ’n besem
gereed om my kleindogtertjie
stem vir jou te bied

Om vir jóú te sing.