Zelda Bezuidenhout en Antoinette Louw is nie oor die muur nie

Foto’s van Zelda (links) en Antoinette (regs) via Jonathan Ball Uitgewers en Sarafina Magazine
Oor Retta Blom en om nie weg te skroom van die middeljare nie
Menopouse op die grootskerm, met groot name in die rolverdeling, in Afrikaans – dis nie ’n fliek wat jy agter elke bos uitkrap nie. Maar dan is Die dekonstruksie van Retta Blom (2025) ook nie sommer enige fliek nie. (Die film het in Maart vanjaar die toekenning ontvang as beste internasionale vollengte speelfilm by die Belgiese Internasionale Filmfees in Antwerpen.)
En, soos met menige goeie flieks, het dit alles by ’n boek begin.
Zelda Bezuidenhout se gelyknamige boek wat in 2019 deur Kwela uitgegee is, se beskrywing lees soos volg:
Lauretta Blom is al jare lank dolgelukkig in die rol van ma en eggenoot in haar pynlik netjiese wit-en-beige droomhuis. Maar een Donderdagoggend laat die skynbaar onbenullige optrede van haar man haar gedagtes oortyd werk. Gou voel dit asof al die sekerhede in haar lewe wankel. Retta begin dinge doen wat sy nooit voorheen sou oorweeg het nie. ’n Road trip Kaap toe lei tot onverwagse ontdekkings – nie net oor haarself nie, maar ook oor Tobias, die man met wie sy 26 jaar getroud is.
Die dekonstruksie van Retta Blom is Zelda se eerste roman vir volwassenes. “Ek het dekades gelede saam met ’n Retta-jaanse vrou gewerk,” vertel sy my oor waar die idee vir die boek vandaan gekom het. “Jy weet, een van daardie mense wat nooit ’n haar uit plek het nie. Sy was vriendelik en boonop slim. Haar man was ’n aantreklike ou en ’n ware heer. Haar dogtertjie skattig en skrander.”
Sy vertel verder: “Een oggend kom sy met rooigehuilde oë by die werk aan. Toe ons vra of iets skort, sê sy haar man het sy tas ‘vreemd’ in sy motor se kattebak gelaai. Ons het almal geweet hy moes dikwels reis vir sy werk, maar hul huwelik het opwindend en modern geklink – ’n bietjie soos perpetual dating. Daardie spesifieke oggend het haar man egter sy tas nie in die middel van die kattebak ingegooi soos gewoonlik nie, maar dit berekend heel agter, heel links in die hoek van die kattebak ingestoot. Soos iemand wat plek hou vir ’n ander persoon se tas. Daardie oop ruimte om die tas het vir ’n oplettende persoon soos ons kollega ’n hele storie vertel.”
Nét daar het Zelda aan die idee vir die Retta-boek gedink. Aan hoe oop ruimtes en die dinge wat nié gesê word nie, dikwels die ware verhaal vertel.
Om ’n paar jaar later te hoor haar boek word ’n film, was natuurlik groot vreugde. “Ek bedoel, hoeveel Afrikaanse boeke word verwerk vir film? Ek het boonop die nuus op die oggend van my 60ste verjaardag gekry,” onthou sy. “Dit was asof die heelal my wou troos deur te sê: ‘Toemaar, Zelda, jy is nog nie heeltemal oor die muur nie. Hier kom ’n lekker nuwe avontuur.’”
En dis juis daardie “oor die muur”-gevoel wat so goed in die boek en film uitgelig word.
In die rolverdeling is die bekroonde aktrise Antoinette Louw as Retta Blom, wat verlede jaar vir ’n internasionale toekenning vir beste aktrise in die Septimius-toekennings vir onafhanklike film en televisie benoem is. Francois Coertze vertolk die rol van Tobias, Retta se man. David van der Westhuizen, Carmen Maarman, Natalia da Rocha en André Odendaal is ook in die film te sien. Henriëtta Gryffenberg het die draaiboek geskryf, Pieter Grobbelaar is die regisseur en Jonathan Kovel die kinematograaf.
“Dit was asof die heelal my wou troos deur te sê: ‘Toemaar, Zelda, jy is nog nie heeltemal oor die muur nie. Hier kom ’n lekker nuwe avontuur.’”
“Ek kan my nie ’n beter Retta voorstel as Antoinette nie,” sê Zelda vir my. “Ek kon onmiddellik agterkom dat sy die boek waarskynlik meer as een keer gelees het en ’n studie van Retta se karakter gemaak het. Antoinette het presies geweet waar Retta se onsekerhede lê en het dit reggekry om kykers se harte te laat vermurwe vir hierdie pyn-in-die-gat, perfeksionistiese vrou met al haar ritueeltjies en vooropgestelde idees.”
Zelda sê Retta se reis van selftevredenheid na onsekerheid, ontnugtering, woede en uiteindelik bemagtiging is baie getrou aan die oorspronklike storie. “Maar ’n hele klomp van die karakters in die boek het nie die fliek gehaal nie. Die filmmedium vertel die storie visueel, sonder die weelde van die 90 000 woorde wat ek in die boek gebruik het. Daar was eenvoudig nie tyd vir ’n hele paar van die newekarakters nie. Die einde van die fliek is ook heeltemal anders as in die boek.”
Ek het die film se première by verlede jaar se kykNET Silwerskermfees gesien. Antoinette moes as Retta haar klere op die grootskerm laat waai – sonder sagte beligting en romantiese musiek – doodgewoon en amper vaal. My oë was daarna dikgehuil; my dunk van Antoinette – wat namens my en elke middeljarige vrou getriomfeer het – hoër. Ek loof haar waagmoed. Sy sê dat sy dit vir elke vrou van ons ouderdom gedoen het. Dat sy bang was voor die tyd en daarna dalk nóg meer oor die kritiek wat kan volg.
Antoinette se reis as Retta het onverwags begin toe sy genooi is om te gaan oudisie. Sy meen daar is nie ’n manier dat sy enigsins sonder ’n uitnodiging vir die oudisie sou gegaan het nie – juis omdat daar intieme tonele in is. “Eerstens, omdat ek te bang was vir wat die mense gaan sê en tweedens, omdat ek so krities oor my lyf is,” bieg sy aan my. Sy sê sy was angsbevange oor die naaktonele – vir die weerloosheid daarvan – fisies én emosioneel. “Maar ons het ’n intimiteitskoördineerder gehad wat reeds dae voor die toneel saam met ons gewerk het. Vrese en bekommernisse is bespreek. En dit was die belangrikste. Om veilig te voel ten spyte van my eie vrese. Vrese wat heeltemal normaal is.”
Sy herken dat haar vrese ook baie ander vroue se vrese is. “Ek het net op ’n plek in my lewe gekom waar ek moeg is om nie ouer vrouens se lieflikheid en merkwaardigheid op die skerm te sien nie. Moeg vir my eie stryd met my lyf, omdat sy nie lyk soos wat ‘mooi’ en ‘begeerlike’ vrouens voorgestel word nie. Genoeg is genoeg. Om deel te wees van hierdie film het vir my as’t ware ’n stem gegee om hierdie aaklige norm van ‘perfeksie’ aan te spreek en te begin afbreek. Nie net oor my ouer lyf nie, maar dat uitbeeldings van ouer vrouens gereeld hulle van hulle waarde ontneem.”
Sy lag as sy vertel sy het nie eers geweet sy is in peri-menopouse toe sy vir die rol van Retta voorberei het nie. “Ek het nie besef daar bestaan so iets nie. Maar ek het sekere simptome gehad en ek het my eie navorsing gedoen. Toe kom ek agter ek is in peri-menopouse. Dit het al die simptome verduidelik. En ek het beter verstaan wat fisies en emosioneel met my gebeur. Dit het gehelp met Retta. Ek verstaan waardeur sy gaan. Want peri-menopouse en menopouse gaan ook saam met verlies. Die verlies van jeug. Ek gaan ’n nuwe fase binne.”
“Om deel te wees van hierdie film het vir my as’t ware ’n stem gegee om hierdie aaklige norm van ‘perfeksie’ aan te spreek en te begin afbreek. Nie net oor my ouer lyf nie, maar dat uitbeeldings van ouer vrouens gereeld hulle van hulle waarde ontneem.”
Zelda moes natuurlik ook ’n soort-van-verlies ervaar toe haar boek in ’n film verwerk is, hoewel sy erken dat sy vermoed dis vir haar makliker as vir die meeste van haar skrywersvriende om oor te gee, omdat sy so lank in die reklamewese gewerk het. “In ’n advertensie-agentskap karring almal aan jou skryfwerk: van die skeppende direkteur tot die kliënt se sekretaresse,” vertel sy. “Enigiemand mag eintlik ’n eier lê, en glo my, dis wat hulle doen. As ’n mens heilig is oor jou werk, sal jy dit nie ver bring as kopieskrywer nie.”
Sy meen dat die meeste vroue wat die fliek gesien het, regtig met Retta identifiseer. “Hulle hou van die feit dat die film nie wegskroom van temas wat tradisioneel ongemaklik of taboe is nie. Of dit nou ontharing by ’n skoonheidsalon is, of futlose seks met iemand wat jou – of jou liggaam – nie regtig verstaan nie.”
Dis juis daardie nie-wegskroom wat my ook beïndruk het.
Antoinette se eie reis met menopouse het haar boonop laat besef mense sien haar as vrou ook anders, en dat daar ’n stigma rondom menopouse is. “Ek was (en is nog steeds) geskok en verstom daaroor. Al wat ek geweet het, is van warm gloede en vrouens is ‘moeilik’. Dis ’n chroniese kondisie wat ’n vrou se lewe hel kan maak en daar is hulp. Mediese hulp. Maar ons is geleer dis net deel van ouer word. Just suck it up. En moenie kla nie. Die enigste manier hoe ons dit kan afbreek, is om die stilte rondom dit te breek,” gaan sy voort. “En dit begin by my en jou. Shame dies on exposure.”
Die hele proses het ook haar uitkyk oor menopouse verander. “In Sjinees is daar ’n mooi naam daarvoor. Jy gaan jou tweede lente binne. Hoe mooi is dit? Maar wat my kwaad en hartseer maak, is dat vrouens – wanneer ons nie meer vrugbaar is nie – eenkant toe geskuif word,” vertel Antoinette verder. “Ons verdwyn. En dis juis in hierdie fase van ons lewens wat ons soveel meer het om by te dra tot die samelewing.”
Zelda voeg by: “Vroue moet besef die grootste geskenk wat hulle hulself kan gee, is om uit te vind wie hulle werklik is, en daardie mens met oorgawe te omhels, sodat sy kan gedy. As vroue is ons mos geneig om ons lewens te skik om ons geliefdes gelukkig te hou en onsself dikwels in die proses te verloor.”
Sedert Retta is Antoinette in volle swang met ’n dokkie oor menopouse. “Die doel is om die mites van menopouse af te breek en die stilte te verbreek. ’n Ongelooflike span vrouens werk daaraan.”
Hou vanjaar se Silwerskermfeesprogram dop …
Marlene Dumas, The Origin of Painting (The Double Room) (2018). Via marlenedumas.nl
Marlene Dumas, Broken white (2006). Via Contemporary African Art
Marlene Dumas, Teeth (2018). Via BBC.com
Marlene Dumas, Evil is Banal (1984). Via BBC.com
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Zelda Bezuidenhout en Antoinette Louw is nie oor die muur nie gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.



