Die leser is geen koning nie; die digter geen jester

Die leser is geen koning nie; die digter geen jester

Fourie Botha se Kolam: 'n resensie-essay

Fourie Botha se Kolam (2025) is ’n bielie van ’n bundel. Ek sukkel om die gedigte klein te kry, maar teen die derde lees begin ek verbande raaksien. Met die aanvanklike lees, dink ek: Wat is die punt? Maar iets bly krap. Ek laat lê die bundel vir omtrent drie weke op my bedkassie. Dit spook by my as ek in die aande opstaan vir ’n slukkie water; dis die eerste ding wat ek sien wanneer ek in die oggende my oë oopmaak.

Dis nie die tipe boek wat mens lees as jy ’n maklike leeservaring wil hê nie. Dis nie dat die gedigte sinneloos of onverstaanbaar is nie. Met die hulp van ’n woordeboek en Google, maak elkeen van die gedigte mettertyd vir my doodgewoon sin. Dis die sardoniese en oënskynlik afsydige trant van heelwat van die gedigte wat soos ’n wond begin sweer. Voel die digter dan niks oor die temas waarmee hy hom besig hou nie? Daar is tog ’n balans tussen sentimentaliteit en afgestomptheid om te handhaaf, dan nie? Maar ek kyk vas in beuselagtighede, net soos die toeriste in die ‘San Michele’-gedig (meer daaroor later). Die leser is geen koning nie; die digter geen jester.

Terwyl elke afdeling in die bundel handel oor ’n oorhoofse tema, is die temas nie beperk tot spesifieke afdelings nie. So word daar in die eerste afdeling ‘I Hoekig’ meestal gefokus op oorsese reise, argitektuur en kuns. Die tweede afdeling ‘I I Bloeityd’ bevat meer gedigte oor die homo-erotiese. In ‘I I I Correspondences’, die derde afdeling, kry die leser te make met die familiedinamiek – waar die kontras tussen die pa se “haat” (43) en die ma se liefde vooropstaan. Die dood en verlies as tema tree ook meer prominent in hierdie afdeling na vore. Afdeling vier ‘I V Eenoogpappie’ handel grotendeels oor voorbode en voorspellings, met die suggestie van ontluikende gevaar wat altyd maar deurskyn. In ‘V Eiland/tuin’, die vyfde afdeling, kom meermale verwysings na diere, plante en die tuin as bekende ruimte voor. Ook hier word die leser attent gemaak op die dodelike aard van die natuur – en in die breë, die lewe. 

Botha noem in ’n onderhoud dat hy ’n formalistiese leser is. Hierby kan seker ook gevoeg word dat hy self ’n formalistiese digter (met ’n kink) is – met ’n skerp ingesteldheid op die struktuur en verstegniese versorging van sy werk én ’n bietjie wiggle room. Die ironie ontgaan my nie. 

Daar is natuurlik lesers wat tot ’n mindere of ’n meerdere mate sal aanklank vind hierby. Wat vir my uitstaan, is die sterk beeldende taal wat in talle gedigte voorkom. Sien byvoorbeeld: “’n [T]ong / om ’n woord in ’n vreemde taal” (47) – ’n raak beskrywing van hoe lomp ’n mens se hande voel wanneer jy vir die eerste keer pottebakkerswielwerk doen. Ook in die kort gedig ‘Son of its parts’ (36) sien ’n mens die beeld duidelik in jou geestesoog:

Op sand het ’n seun se hak
’n mosseldop vermorsel,
maar skulp bly skulp, en intakt:
buitelyne van ’n hart. 

Botha kry dit reg om met enkele versreëls ’n duidelike beeld/oomblik by die leser tuis te bring. As iemand wat ’n goedgeskrewe epiese gedig graag verslind, wil ek sê dat ek meer daarvan sou wou hê, maar dalk is hierdie one-liners juis so sappig, omdat die spreker ons wil edge. Te veel van ’n goeie ding, was nog nooit goed nie.

In Kolam is daar verskeie elemente om op te fokus, waarvan die interessantste vir my die oomblikke van ironiese spanning is. In hierdie opsig kan gekyk word na die spanning tussen die bundeltitel en die bundel self. Ook die spanning tussen struktuur en “niestruktuur” (vergun my die neologisme – there’s method to the madness); natuur en kultuur; heiligheid en oppervlakkigheid; en lewe teenoor dood val my op.

Eers iets oor die bundeltitel. ’n Kolam is ’n komplekse, geometriese vloerkunspatroon wat elke oggend en/of aand voor die ingange van geboue en huise in Suid-Indië aangebring word – as aanroeping van die gode en verdrywing van bose geeste. Interessant dat rysmeel tradisioneel gebruik is om die patrone mee te maak – deesdae word ’n wit poeier van fyn klip of helderkleurige kryt gebruik – omdat dit deur die loop van die dag kos voorsien aan miere en ander insekte. 

Die spanning tussen wat ’n kolam verteenwoordig – tydelikheid – teenoor die permanensie van die gedrukte woord, is iets wat my prikkel. ’n Kolam word een/twee maal ’n dag van nuuts af geskep, wat vaagweg herinner aan die skryf en herskryf van ’n gedig. Hierdie idee van kortstondigheid kan ook geassosieer word met die perdeblommotief op die omslagontwerp – een windvlaag en die perdeblomsaadjies is daarmee heen. Daarteenoor, as ’n bundel gedigte gedruk en gepubliseer is, is dit onverganklik – tensy alle kopieë van die bundel vernietig word, natuurlik. Waar die kolam dien as verwelkoming van die vervlietendheid van die lewe, is die gedig in teenstelling ’n alewige gewerskaf om verewiging. 

Hierdeur word die skryf van gedigte ’n daad van doelbewuste dissonansie. In die woorde van Botha: “Jy hou jou besig met die onsêbare. Maar ons bly talige wesens wat bly konstrueer.” Die digter se reaksie hierop: om spanning te skep en onderhou. Daar word na hierdie spanning verwys in die programgedig ‘I /Beenwerk/’ (7): “[O]m die rame af te takel / die hoeke / beenwerke van ’n tent [...] brandstapeltjies te pak”. Dus: om die struktuur af te breek van iets waarvoor mens juis ’n vaste struktuur nodig het. Ook in ‘II /Windswaels/’ (8) vra die spreker “hoeveel rame/ [...] stellasies” versit moet word, voordat jy sal sien dat die “kimstreep” (lees: grense; voorskriftelikheid) nie die windswaels geval nie. Anders gestel: Hoe gebruik mens struktuur om daaraan te ontsnap? Hoe sê jy die onsêbare?

Die spanning tussen wat ’n kolam verteenwoordig – tydelikheid – teenoor die permanensie van die gedrukte woord, is iets wat my prikkel. [...] Waar die kolam dien as verwelkoming van die vervlietendheid van die lewe, is die gedig in teenstelling ’n alewige gewerskaf om verewiging.
— Elzanne Coetzee

Verder is die kolam ’n suksesvolle metafoor vir die bundel, omdat dit uit verskeie kleiner deeltjies bestaan wat die geheel vorm. So ook kan elke gedig op sigself gelees en waardeer word, maar die ware magic kom na vore as mens na die geheelbeeld kyk – sodat jy nie die “komplekse, interafhanklike, ineengevlegte patroon” (soos Karen de Wet skryf) misloop nie. Elke gedig pas in die volgende soos die bou van ’n stellasie. Met die herhaling van sekere woorde, verwysings en beelde deur die loop van die bundel, word die versameling gedigte ’n eenheid wat verdere betekenismoontlikhede ontsluit. In die gedig ‘Oscar Wilde se graf’ (15) word byvoorbeeld na die “engeldeksel” op Wilde se graf verwys – die reuse- modernistiese monument van ’n gevleuelde figuur deur Jacob Epstein ontwerp. Die beeld van “die een wat eintlik engel was”, word herhaal in die gedig ‘Villanelle’ (29) oor Epstein se beeldhouwerk, Jacob and the angel, wat in die Tate-museum te siene is. 

Bepaalde enkelreëls wat herhaal, sluit in: “[B]ly vir goed dood” (15), wat geëggo word in: “‘Om my góéd dood te hou’” (49). Ook so met die reël: “[P]ortaal na monochroom kwasars” (19; 56). Daar word na beeste se “pense” verwys in beide ‘I /Beenwerk/’ en ‘Sloping’ (22), terwyl die “horings van beeste” opgehaal word in ‘Die maan sal bly blom’ (42–3). En ‘Study in grey, Michel McMillan, 1963’ (19) se “witte, gryse, swarte” herhaal in ‘Donkernag’ (53): “witte/gryse/swarte”. Om enkele voorbeelde te noem. Dis reëls wat in die geheel beskou ’n ineengeskakelde patroon in die bundelaanbod vorm, nes die staalpype en planke van steierwerk. (Om die geek in my te bevredig, sou ek eintlik hierdie bundel in ’n KI-toepassing wou invoer om te kyk wat herhaal wanneer.)

’n Gedig wat hierdie idee van ineengeskakelde steierwerk, sowel as die spanning in struktuur mooi uitbeeld, is ‘Eenoogpappie’ (64). Hierdie gedig is ’n pantoem met ’n bietjie spice aan die einde. Die tradisionele pantoem bestaan uit kwatryne waarvan die reëls in wisselende volgorde herhaal word om ineen te pas en saam ’n geheel te vorm. Elke reël word twee keer herhaal om ’n sirkulêre ritme te bewerkstellig en normaalweg word die gedig afgesluit met ’n herhaling van die eerste reël – full circle. Hierdie formaat lyk gewoonlik so: 

Strofe 1: A B C D
Strofe 2: B E D F
Strofe 3: E G F H
Strofe 4: G C H A

Vergelyk bostaande struktuur met ‘Eenoogpappie’:

sikloop kom van ver (A)
loop sloop oor die kop (B)
bang vir die man (C)
bang vir sy plan (D)

loop sloop oor die kop (B)
sing vir die baba (E)
bang vir sy plan (D)
sing vir die man (F)

sing vir die baba (E)
loer na die toeoog (G)
sing vir die man (F)
loer met ’n plan (H)

lépel die toeoog (I)
’n oogkas geen oog (J)
baba sien ver (K)
met dié derde oog (L)

In hierdie gedig is die laaste vier reëls (I J K L) nuutskeppings, wat afwyk van die tradisionele pantoemvorm. Wat my opgewonde maak hieroor, is dat dit die perfekte illustrasie is van die skep van niestruktuur binne struktuur. Die digter kom nog steeds die reëls 99% na, maar die 1% laat ruimte vir speling. Dis nie ’n vryevers (dus: ongestruktureerd) nie, maar dis ook nie streng volgens die tradisie geskryf nie. Iets wat eie is aan die leeservaring van die bundel as ’n geheel, beide struktureel en inhoudelik: Aan die een kant tref ons die herhaling van sekere reëls regdeur die bundel aan (’n tipe struktuur of patroon word geskep en onderhou). Aan die ander kant is die gedigte oor die algemeen maklik om te volg, maar telkemale speel die laaste (paar) reëls, die 1%, met die leeu se bal.

Wat die natuur/kultuur-spanning in die bundel betref, dien die gedig ‘San Michele’ (18) as ’n goeie voorbeeld. Ook hier ter sprake is die diskrepansie tussen wat as heilig beskou kan word, teenoor die oppervlakkigheid van die aanskouer. Neil Cochrane noem dit die “ironiese ontmaskering van oppervlakkighede”. 

San Michele

A man is a fool who travels now in France and Italy till this
tribe of wretches is swept home again
– Lord Byron

Werk sag met hulle: diegene
met die seer voete en aksente,
die wandelende commendatio’s,
hul desibels stoomtreine oor die keie.
Wees sag met hulle: die kekkelaars,
moangatte (die hítte, die kós!),
die oorgewig blondes met die perms
en slegte skoene – almal
op antidepressante. Werk sag. Ons
het die kanaal oorgesteek juis
om die strate van la dolce vita
te bewandel. Kyk hoe knaag
die vaporetto’s se vasmeerrieme
die granietpilare in (daar’s te veel
van ons – die gondels
het tou opgegooi). Wees sag;
vanaand moet ons weer terug.
Die sipresse by die huis wink, suis:
“Kyk, kyk hoe skeef het julle
die stene hier gelaat.”

San Michele is die Venesiese eiland van die dooies. Die mees prominente besienswaardighede op San Michele is die Venesië-begraafplaas, wat dateer uit die 1800’s, en die historiese Renaissance-styl kerk. Mens sou kon sê: heilige grond. Die satiriese, byna speelse samevatting van die “moangatte” se skete en pyne wat per vaporetto (’n publieke waterbus, of ferry) die eiland besoek, teenoor die slot wat diep sny, skep amper ’n ongemaklikheid by die leser. Mens wil giggel vir die eerste 17 reëls – amper ’n sadistiese lekkerkry – maar dan voel jy die gewig van hierdie woorde in die laaste drie reëls: “Die sipresse wink, suis: / ‘Kyk, kyk hoe skeef het [hulle] / die stene hier gelaat.’” Mens kan nie ontken dat ’n kultuur van onverskilligheid, selfbeheptheid, oppervlakkigheid en onkunde dikwels ontwrigtend is nie; partykeer selfs verwoestend. Wat heilig moes wees, word oorskadu deur die “kekkelaars / [...] / op antidepressante”.

Behalwe vir die spanning geskep deur sowel die afwyking van die vaste versvorm as deur die natuur/kultuur- en heiligheid/oppervlakkigheid-dichotomy, is een bindende tema wat deurgaans in die bundel voorkom, die suggestie van die dood – in die besonder die teenstelling van die lewe teenoor die dood. Kolam lees soos die kort waarnemings van oomblikke deur ’n spreker wat hom nie kan loswikkel van die dood nie. As die kolam uit rysmeelpatrone bestaan wat saam die geheelbeeld vorm, is die patrone in dié geval die inhoud van hierdie bundel, met die altyd teenwoordige bewussyn van die dood en die eindigheid van dinge wat dien as fyn draad wat die verse tot eenheid bind. 

In party gedigte word die bewussyn van die dood op die spits gedryf deur die slotreël. Hier is ‘Wildtuin’ (61) oor die afsterwe van die ma ’n sprekende voorbeeld:

My ma toor weer, drink haar bossiestee.
Sy groet die kremetart by Letaba,
druk wang en sternum teen sy stam.
Later begrawe sy miskien
’n los tand in mopanieblare.

Gerugte van ’n handvol jong leeus
duskant Sabi-Sabi geval haar nie;
dat olifante glo hul dooies
met takke toepak, skeel haar min.

Op dié tog behoef sy om te sien:
aasvoëls, en haar favourite favourites, die hiënas.
My ma is nie meer myne nie.

Op die oog af handel hierdie gedig oor ’n besoek aan die wildtuin saam met die spreker se ma. In elke strofe skemer die verwysing na die dood deur. Die ma “begrawe [...] / ’n los tand” in die eerste strofe. In die tweede strofe lees ons van olifante wat “hul dooies / met takke toepak”. In die laaste strofe word verwys na diere wat hoofsaaklik aas op karkasse: die ma se “favourite favourites”. Waar die leser gelei word om te dink dat die besoek aan die wildtuin (saam met die – lewende – ma) in die hede afspeel, kom die trefskoot in die slotreël: “My ma is nie meer myne nie.” Een oomblik is die ma nog hiér, besig om die wildtuin te verken; die volgende is sy weg. ’n Skreiende kontras.

Kolam lees soos die kort waarnemings van oomblikke deur ’n spreker wat hom nie kan loswikkel van die dood nie.
— Elzanne Coetzee

Dieselfde waarneming kan gemaak word oor die gedig ‘Baas’ (68), waar die verknogtheid aan ’n geliefde troeteldier in skerp teenstrydigheid staan teenoor die slotreël: “[O]or jou huil ek my môre dood”:

viervoetsiener van die suburbs
beplooide hoofman Bul-Wat-Sit
waslap gehang aan ’n spyker
bal-fetisjis roesou boeddhis
pruttende bruin ferweeltrekker
appelkoosjêm-swiss roll behaard
poeper met die fleur-de-lis-frons
kwylbeklamlendige – gee poot! –
oor jou huil ek my môre dood

Soms is die dood ’n “stil hotel”, ’n “leë stad” (20). Ander kere ’n “[d]o not resuscitate”-kennisgewing (49), of ’n “giftiger soort ding [...] / ’n dier wat na Bittergal op acid lyk” (60). Nietemin is die dood altyd parallel aan die lewe. Altyd aanwesig.

Daar is wel ’n balans om te handhaaf. Nie net tussen sentimentaliteit en afgestomptheid nie, maar ook tussen spanning en niespanning, struktuur en niestruktuur. Dis gee-en-neem. Soos met die oprig van ’n tent, is die struktuur én die spanning in struktuur ewe belangrik om die ding te maak staan. Of Botha daarin slaag, is vir elke leser om self te besluit. Daar is eintlik nog baie te sê oor hierdie verdigte verse, maar die punt is as jy hou van puzzles bou en jou brein floreer op pattern recognition – of as ironie jou aanspoor, soos vir Botha – is Kolam net die boek vir jou.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die leser is geen koning nie; die digter geen jester gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand