Karel Nel se kuns oor ruimtewese

Foto’s van die kunstenaar en sy kuns via Art First
Van digby en doer ver
Daar is ’n idee wat spruit uit die Tao Te Ching wat my verstaan van Karel Nel se kuns aanwakker. Dit is die idee van die “Groot Prent” – ’n beeld sonder vorm wat alles in beslag neem, en tog nêrens heeltemal vasgevang kan word nie. As jy opkyk na die sterre en voel hoe jy krimp teenoor die oneindigheid, vang jy volgens die Tao Te Ching ’n blik van die Groot Prent: die ruimte as die bron van jou eie bestaan.
Karel Nel se oeuvre is blikke op die onvasvangbare, dog alomteenwoordige. In die tyd van globale omwenteling, trek Nel se kuns my aan, omdat dit nie ontvlug aan ons werklikheid nie, maar dit eerder transendeer – dit kyk dieper na binne en plaas ons swaarkry en strewes in ’n baie groter, humbling perspektief.
Nel se voorkeurmedium is grootskaalse tekeninge waarin pastel en pigment ryk en stadig opgebou word. Nel gebruik dikwels biologiese en mineraalstowwe wat konseptueel ryk is vir sy skilderye. Sy werk word gekenmerk deur die strewe na – soos Esmé Berman skryf – “die gloeiende oomblik wanneer ons bewus is van die onderlinge verbondenheid van alles”.
Sy kuns is vir my, soos vir ander, magies.
Stepping up to the speed of light (2015). Pastel, metallic dust and dry pigment on bonded fibre fabric, 1800 x 1800 mm.
'n Geestesoog
Nel bly in Mudief, Rivonia, ’n voorstad van Johannesburg (gebore Pietermaritzburg). Sy tuiste – ’n modernistiese struktuur wat die kunstenaar self tot landmerk omskep het – staan bekend as die Mudhif. Hier het Karel en sy suster die eiendom van hulle ouers oorgeneem en uitgebou na ’n inwonende ateljee en museum, gebou rondom ’n groot, donker swembad. Die struktuur se dak bestaan uit booggewelwe (vaults), gedra deur dik modderkleurige mure, groot skuifdeure na die binnehof en ’n groot Zanzabari-voordeur. Daar is ook ’n interessante MA-studie deur Inge-Lore Hyson oor hoe Nel se eiesoortige tuin aansluit by sy estetiese aanvoeling.
Dit is hier waar Nel as kind reeds begin versamel en katalogiseer het. Die Mudhif huisves tans sy versameling van Afrikaanse en Oseaniese kuns – artefakte wat hy oor dekades lank op reise na afgeleë gemeenskappe versamel het. Dit het ’n soort museum geword vir diegene met ’n belangstelling in die veld. “Daar is ’n onlosmaaklike skakel tussen my kunsmaak en my versameling,” sê Nel .
Reeds in 1994 skryf die digter Stephen Watson:
Of necessity, [Nel’s] art has had to follow the trajectory of an inner journey, trawling amidst the rich multiplicity of the world’s cultural traditions, their rites and symbols, searching for that imagery which might connect our conscious lives with the deepest spiritual potential within ourselves.
Nel se innerlike trajek speel dan ook af in sy ateljee. In sy reeks Silent thresholds het hy die kunstenaarstudio verken as filosofiese ruimte. Sy ateljee, soos die kosmos self, dien as ’n onuitputbare bron van inspirasie vir verbeeldingsvlugte wat dan in pigment en tekstuur vasgevang word.
Wakening (2012). Pastel, metallic dust and dry pigment on bonded fibre fabric, 181 x 181 cm.
Eidetic space (2012). Pastel, metallic dust and dry pigment on bonded fibre fabric, 181 x 181 cm.
At the threshold (2013). Pastel, metallic dust and dry pigment on bonded fibre fabric, 181 x 181 cm.
A moment apart (2013). Pastel, metallic dust and dry pigment on bonded fibre fabric, 181 x 181 cm.
The bachelors (2013). Pastel, metallic dust and dry pigment on bonded fibre fabric, 181 x 181 cm.
The shape of darkness (2013). Pastel, metallic dust and dry pigment on bonded fibre fabric, 181 x 181 cm.
Sy baan
Nel se akademies-filosofiese vorming was van die begin af breed. Hy studeer aan Wits-Universiteit van 1974 tot 1977 in beeldende kunste, met vakke in kunsgeskiedenis, antropologie en musiek. In 1981 word Nel die Olivetti-toekenning gegee en gebruik die prysgeld om te reis na Italië, Griekeland en Engeland. Ná sy graad het hy beeldhouwerk studeer aan St Martin’s School of Art in Londen. Hy was daar van 1988 tot 1989, saam met ’n groep nagraadse studente van regoor die wêreld, met toegang tot die groot versamelings in die British Museum en geleentheid om na Parys te trek om Constantin Brâncuși se werke en die Afrikase kunsmuseums daar te besoek. Picasso en Brancusi was twee kunstenaars wat Nel veral geboei het, ook weens hulle belangstelling in Egiptiese kuns. Sy voorganger Alexis Preller ook.
Hy wen die Afrox Sculpture Award in 1989, wat dit vir hom moontlik maak om verder by die Kalifornië-Universiteit, Berkeley te studeer met ’n Fulbright-plasing. Tot 2017 was hy ’n assosiaatprofessor aan Wits; in 2018 word hy senior adviserende kurator by die Norval-stigting in Kaapstad, waar hy groot uitstallings van invloedryke Suid-Afrikaanse en internasionale kunstenaars aanbied. Sy loopbaan is ryk en bekroon.
Nel se werk is deel van prominente versamelings wêreldwyd, waaronder die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, die Smithsonian Institute National Museum of African Art, die Metropolitan Museum of Art en die British Museum. In 2024 wys ’n steekproefuitstalling van sy werk by die Wits Art Museum, waarna ’n katalogusboek met dieselfde titel – Close and far (2024, Palimpsest) – ook gepubliseer word.
Initiate ascent (2015). Pastel, metallic dust and dry pigment on bonded fibre fabric, 1800 x 1800 mm.
Studio as observatory (2015). Pastel, metallic dust and dry pigment on bonded fibre fabric, 1800 x 1800 mm.
Stacked images (2015). Pastel, metallic dust and dry pigment on bonded fibre fabric, 1800 x 1800 mm.
'n Anomalie op die kaart
Nel se posisie in die Suid-Afrikaanse kunslandskap is nie eenvoudig nie. Tydens die apartheidsera – toe kuns as kulturele wapen aangewend is om die samelewing te transformeer – het hy eerder op wêreldkuns en heilige kuns gefokus. “Ek het nogal ’n bietjie kritiek gekry, omdat ek nie ’n politieke standpunt ingeneem het nie,” vertel hy openhartig. “Ek word heel dikwels uitgesluit van boeke oor die belangrikheid van Afrikase kuns. Ek pas nie in die kategorie nie.”
Tog is sy werk nie sonder politieke resonansie nie. Werke vanuit sy vroeë Table- en House-reekse (rondom 1995–1996) is deels geïnspireer deur Nelson Mandela se uitspraak dat ’n tafel om aan te eet en ’n dak oor jou kop fundamentele menslike behoeftes is. ’n Ander werk, deel van die Grondwethof se kunsversameling Cipher, neem die oorsprong van rassisme en die gevolge daarvan onder die loep. Dit bewys dat Nel se wêreldbeskouing wel plek maak vir die aardse en die ondraaglike – net dat hy kies om dit deur ’n kosmologiese lens te vertel.
Stepped stellar messages (2015). Pastel, metallic dust, specularite and dry pigment on bonded fibre fabric, 850 x 2950 mm.
Sector: two square degrees (2007). Charcoal, pastel, specularite and sprayed pigment on bonded fibre fabric, 193 x 193 cm.
Stepped stellar messages (2015). Pastel, metallic dust, specularite and dry pigment on bonded fibre fabric, 850 x 2950 mm.
“Dit bewys dat Nel se wêreldbeskouing wel plek maak vir die aardse en die ondraaglike – net dat hy kies om dit deur ’n kosmologiese lens te vertel.”
Die ruimte as samewerkingsveld
Sedert 2004 is Nel die inwonende kunstenaar van die Cosmic Evolution Survey-projek (Cosmos) – een van die mees ambisieuse internasionale wetenskaplike projekte om ’n tweegraadveld van die heelal te karteer. Eerder as van die kantlyn af observeer, werk hy saam met van die wêreld se voorste sterrekundiges, fisici en dataontleders.
Die Cosmos-span het die Hubble- en Subaru-teleskope, laasgenoemde op ’n 1 300 voet hoë vulkaan in Hawaii, en ander toerusting gebruik om ’n ongeveer drie duimafdrukke by drie duimafdrukke area net onder die sterrebeeld Leo te verken. Nel absorbeer die idees en data wat uit radio-, X-straal-, infrarooi- en optiese teleskope voortkom, en vertaal dit in sy kuns.
Nick Scoville, ’n sterrekundige verbonde aan Cosmos, stel dit treffend:
Often in our profession, one becomes fixated on the details of narrow corridors, losing sight of the interconnectedness and poetry of the whole. Karel’s images distil these connections metaphorically, much like the physicist uses equations to unify phenomena in diverse environments and over vast ranges of scale.
Nel wat werk aan The collapse of time (2008). Sprayed pigment on bonded fibre fabric, 240 x 360cm (3 part screen).
Nel wat werk aan Stellar noise (2008). Salt and lacquered wooden pegs, 100 x 100 cm.
In the presence of the speed of light: centre for astrophysics, Paris (2011). Pastel and sprayed pigment on bonded fibre fabric, 175 x 175 cm.
Keeping out the light: centre for astrophysics, Paris (2011). Pastel and sprayed pigment on bonded fibre fabric, 175 x 175 cm.
Fraction: Cosmos deep survey (2011). Pastel and sprayed pigment on bonded fibre fabric, 175 x 175 cm.
The end of the line: centre for astrophysics, Paris (2011). Pastel and sprayed pigment on bonded fibre fabric, 175 x 175 cm.
Duisternis, nie as leegte nie
In 2008 skryf Nel The brilliance of darkness. Die titel alleen is veelseggend. Duisternis is hier nie die afwesigheid van lig nie, maar ’n strukturele krag: donkermaterie, donkerenergie; dit wat die heelal vorm sonder om sigbaar te wees.
Nel stel dit soos volg:
Many of us live in high density areas where light pollution is a reality; our children are no longer able to see the stars from these vast urban tracts, losing any sense of connectedness to the universe through this same starry matrix which enabled our species to locate, travel and populate remote regions of the world. Astronomers around the world have to go to great lengths and travel large distances to view the firmament from isolated points on the planet that are free from light pollution […]. As the light fades, one’s eyes incrementally adjust to the powderblack darkness and the pinpoints of light emerge like a developing photograph, till the darkness is radiant with millions of visible stars. [...] It is within these very specific conditions that we see once more, for the “first time”, the complexities of the firmament from which we extrapolate the very existence of our galaxy in relation to the countless and nameless others within the unfolding mystery that is the universe. It is only within the all-encompassing darkness that we are able to see light, acutely observe, record and attempt to comprehend the singularity of the briefest instant at the very beginning of our universe and an ever-expanding consciousness.
Wat gesien word, is nooit die geheel nie. Wat nie gesien word nie, dra ewe veel gewig.
Composing darkness (2008). 540 million year old black carboniferous dust and salt, 80 x 80 cm.
Hidden beauty (2008). 540 million year old black carboniferous dust, 100 x 100 cm.
Van blaar tot kosmos
Nel se reise het hom dikwels na afgeleë landskappe geneem in Afrika en Oseanië. Die inheemse kunsvorme wat hy versamel en bestudeer, is draers van ’n wêreldbeskouing: kunsobjekte wat beskryf kan word as met die helm gebore – gevorm uit ’n diep verbintenis met omgewing.
Presence: leaf shrine, North Island, Seychelles (2014). 167 x 167 cm.
Vir sy reeks In the presence of leaves het Nel wêreldwyd gereis om van die grootste blare in die skepping te versamel, onder meer die beroemde Coco de Mer-palms op die Seychelle. Nel het oor ’n tydperk van vier jaar dikwels teruggekeer na Noord-eiland, ’n toe nog onbewoonde eiland in die Seychelles. Hy het die groot palmwoude deurkruis en voëls, vrugte en 100 jaar oue skilpaaie bestudeer.
Ná ingewikkelde onderhandelings met die Seychellese Ministerie van Omgewing het hy drie uitgestrekte Coco de Mer-palmblare teruggeneem na sy ateljee om die grondslag te word van nuwe groot tekeninge – en een ingeboude werk wat teruggestuur is na Noord-eiland vir installasie in die biblioteek.
Hierdie blare, soos ander objekte in sy kuns, word in atmosferiese, argitektoniese ruimtes geplaas. Nel se meditatiewe benadering tot hoe ons as mens omgaan met die natuurwêreld en mensgemaakte objekte, nooi ons om by raaiselagtigheid te vertoef van die vreemdheid van ons aardse bestaan. In ’n tyd van oorinligting en vinnige verklarings, bied sy werk ’n ander opsie: om stadig te kyk, om aandag te gee aan dit wat nie onmiddellik verstaan kan word nie en om die kosmos nie net daarbuite te soek nie, maar ook hierbinne.
“Nel se meditatiewe benadering tot hoe ons as mens omgaan met die natuurwêreld en mensgemaakte objekte, nooi ons om by raaiselagtigheid te vertoef van die vreemdheid van ons aardse bestaan.”
Cook’s death and the way of the gods: Kealakekua Bay, Hawaii (2011). Pastel and sprayed pigment on bonded fibre fabric, 172 x 172 cm.
Dish (2015). Pastel, metallic dust and dry pigment on bonded fibre fabric, 1800 x 1800 mm.
Enfolded space (2015). Pastel, metallic dust and dry pigment on bonded fibre fabric, 1800 x 1800 mm.
Orbicular presences (2015). Pastel, metallic dust and dry pigment on bonded fibre fabric, 1800 x 1800 mm.
Nel in sy studio
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Karel Nel se kuns oor ruimtewese gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.



