Pierneef se stasiepanele, herverbeel
Gazelle en Llewellyn van Eeden se hersiende landskappe
Andrea Vinassa skryf in die stuk Is Pierneef ’n verleentheid? vir Vrye Weekblad se 28 Junie – 4 Julie 1991-uitgawe (sien bl.13) oor daardie jaar se Grahamstadse kunstefees waar sommige van Pierneef se skilderye die hooftentoonstelling was. In die artikel word die kunstenaar Wayne Barker aangehaal oor Pierneef se werk: “Pierneef se landskappe lyk heel ‘onskuldig’ — maar ’n landskap is nie bloot ’n landskap nie; kuns is nie bloot kuns nie. Sy werk is die volmaakte voorbeeld van die gebruik van kuns as politieke wapen en die sameswering van die kunstenaar met die politici ten einde ’n politieke doel te bereik. Dit was doeltreffend ook. Pierneef het sy rol as volkskunstenaar baie ernstig opgeneem: ‘Jy moet saam met jou mense op die wa ry,’ het hy gesê.” Barker is bekend vir sy satiriese nabootsing van Pierneef se werk. Hy kritiseer die “hoekige landskappe [wat] die meeste Wit Suid-Afrikaners se kulturele opvoeding deurdrenk,” aldus Vinassa.
Pierneef is in 1929 deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë aangestel om 32 muurpanele te ontwerp wat by die nuwe Johannesburgse stasie geïnstalleer sou word. Dié stasiepanele behoort aan Transnet, maar word vandag by die Rupert Museum in Stellenbosch vertoon en bewaar.
Vinassa skryf dat die stasiepanele die piek van ongevoeligheid verteenwoordig in die grondkwessie. “Pierneef se skilderye simboliseer die Afrikaner se hebsug wat grond betref. En die styl waarin hy geskilder het, verheerlik die mite van die Afrikaner as die Gekose Volk. […] Akademiese instellings, museums en galerye het Pierneef die status van die ‘simbool van Suid-Afrikaanse kuns’ en ‘profeet’ opgelê. Hy kan seker as ’n profeet beskou word: sy werk was ’n visuele voorteken van Afrikaner-grondbesit en ekonomiese oorheersing,” sluit Vinassa af. Hoe iets só mooi só lelik kan wees; maar die storie gaan aan.
Poskaarte van die paradys
Pierneef, I’ll see you, and raise you. Dit was Gazelle (Xander Ferreira) se idee om die stasiepanele te herskep. In 2020 ná ’n reis deur Suid-Afrika, beland hy op die laaste dag van sy reis in verwondering voor dié einste werke van Pierneef by die Rupert Museum. Die meesterstukke inspireer hom, en hy aanvaar dat wat hy voel, is ’n taak om ’n nuwerwetse visuele voorstelling van die nege provinsies te skep. Met homself daarin ingesluit.
Hy nader vir Llewellyn van Eeden, afkomstig van Mtubatuba in Zoeloeland, ’n ontwerper in Londen, VK, wat die illustrasies teken met Xander se kunsdireksie. Dit ontaard in ’n tweejaarlange samewerking. Die projek heet Postcards from Paradise, en ’n lied en musiekvideo van dieselfde naam word vrygestel. Dit beeld Gazelle as troebadoer wat reis deur Suid-Afrika, uit.
Die scenografie van die provinsies put uit die land se ryk diversiteit en komplekse verlede. Magiese realisme en mitologiese en historiese verwysings word met fauna en flora verweef. In die katalogus word dit beskryf as ’n oefening om die geskiedenis te dekonstrueer en dit weer saam te stel. Deur kitsch propaganda, wat vergelyk word met Hergé se Tintin, word Pierneef se wêreld omver-gegooi. Ons sien ’n opnuut-vervaardigde land van vermengde kulture en mense wat enige totalitêre eienaarskap van die grond en wat daarop voorkom, bevraagteken.