Koos Kombuis oor sy zef-modernistiese tekenkuns

Koos Kombuis oor sy zef-modernistiese tekenkuns
0b405b7e-0bd1-4d83-82bc-e667298ba8e8.jpg

Ikoniese musikant en skrywer oor sy ander kunsvorm

André le Roux du Toit, bekend as Koos Kombuis, beskryf homself as die Vader van die “Zef-Modernisme”. Hy meen dat sy kunswerke opnuut ’n beeld skep van hoe teenkultuur lyk ten tyde van verandering; wanneer ons onsself afvra wat dit beteken om ’n Suid-Afrikaner te wees. Hy is in 1954 in Duiwelspiek, Kaapstad gebore en het in die gewelwit Stellenbosch grootgeword. Later vorm hy deel van die Voëlvry-musiektoer en is aan die stuur van die herlewing van Ons Klyntji (in 2020 aanvaar hy ook die posisie van ere-redakteur by Klyntji.com). Hy woon en werk in Somerset-Wes. Hy word geken as ’n baanbrekende musikant, skrywer en meer onlangs ook toenemend as visuele kunstenaar. Ons het met hom oor sy kuns gesels.

Vertel ons meer oor die betekenis van Zef-Modernisme? Kunstige doublespeak of te not. 

96834858_274280953614193_3085300196532121186_n.jpg

Die idee vir ’n styl met die naam “Zef-Modernisme” het in my kop ontplof na aanleiding van ’n resensie wat Joan Hambidge geskryf het oor my Engelse novella Sushi with Hitler. Joan Hambidge is baie slimmer as wat sy lyk, hoor! Sy het my skryfstyl geplaas in die kategorie van wat sy genoem het “metamodernisme”. Ek het ’n bietjie gaan oplees oor “metamodernisme” en was verras om te ontdek dat dit eintlik ’n invloedryke nuwe denkrigting is. Hulle noem dit ook “Post-Post-Modernisme”. Basies is dit ’n poging om balans te vind tussen die idealisme van die Modernisme en die sinisme van die Post-Modernisme, om die pendulum as’t ware halfpad terug te swaai. Dit het my aan die dink gesit. Waarom nie die pendulum nog verder laat swaai nie? Wat van die “Pre-Post-Modernisme”? Dis hoe ek eindelik by die konsep van die “Zef-Modernisme” uitgekom het. Nie heeltemal die plein “Zef” wat deur Valiant Swart gepopulariseer is en later deur Die Antwoord wêreldberoemd gemaak is nie, maar Metamodernisme met ’n “common touch”. As jy die Post-Post-Modernmisme vermeng met die Post-Modernisme en jy gaan haal ook ’n element uit die era vóór die Modernisme – iets van ’n colloquial idioom – bevind jy jou reg in die middel van wat ek noem “Zef-Modernisme”: splinternuwe dog ietwat kommin kuns vir vandag se denkende, intelligente, rigtinglose mense.

[S]plinternuwe dog ietwat kommin kuns vir vandag se denkende, intelligente, rigtinglose mense.
— Koos Kombuis

Wanneer het jy die eerste keer begin kuns maak?

Kuns was eintlik my heel eerste stokperdjie. Dit het begin in my kleuterjare. My eerste medium was ’n rooi balpuntpen, want dit was al wat ek gehad het. Tot nou toe het ek myself op sosiale media beskryf as ’n “amateur-cartoonist”. Noudat ek uitstal saam met gevestigde kunstenaars, moet ek dalk begin besef: kuns het deel van my loopbaan geword. Ek moet daaraan werk. Ek het nog baie om te leer.

Is jy eerstens ’n musikant, skrywer of visuele kunstenaar? Of is dit ’n heilige drie-eenheid tipe vibe?

Soos almal weet, is ek as musikant geweldig beperk. Ek was bloot gelukkig om die idee van Afrikaanse popmusiek te populariseer op ’n stadium toe dit nog net ’n weird gedagte was. Op ’n manier het ek my cue gekry by ouens soos Anton Goosen, David Kramer en Bernoldus Niemand. Met ’n paar kragwoordjies by en ’n element van protes was dit, besef ek nou, inderdaad die begin van wat ek nou verstaan as “Zef-Modernisme”. Dit het oorgespoel na my skryfwerk en nou ook my kuns. Anders as in die verlede kan ek dit nou alles as een kontinuum begin sien. Mens moet dalk nie soveel onderskeid probeer tref tussen genres nie. Ek was nie mal oor Die Antwoord toe ek hulle die eerste keer gehoor het nie, maar ek moet erken – ek was toe al beïndruk met hulle moeitelose vermenging van die idiome van musiek, visuele stimulasie en crazy lirieke. Eintlik is alle kuns deel van dieselfde kreatiewe proses!   

Wie is van jou gunsteling beeldende kunstenaars? Hoekom?

Hulle sê elke generasie rebelleer teen hulle vaders en maak vriende met hulle oupa’s. Ek is gefassineer deur die era van die Impressionisme. Hulle het al die “-isme’s” begin van wat later gemorfeer het na die Post-Impressionisme, die Ekspressionisme, die Pointillisme en die hele lot tot by Dada. Dis omdat hulle lig ontdek het. Nie net dit nie, hulle moes nuwe funksies vir die skilderkuns ontwerp omdat die ontdekking van die kamera die super-realistiese nabootsing van die werklikheid onnodig gemaak het. Vir die eerste keer het visuele kuns subjektief geword; nie slegs die weergee van detail nie, maar die “vehicle for emotions and insight”. Sonder hulle sou kuns dalk met die draai van die twintigste eeu doodgeloop het, en sou ons glad nie nou gesit het met die heerlike diversiteit van style wat ons vandag het nie. Sou abstrakte kuns moontlik gewees as Mondrian nie verveeld geraak het met landskappe nie? Sou Pierneef moontlik gewees het sonder Picasso?

Wat dink jy sou Pierneef van jou kunswerke te sê gehad het?

Kom ons wees nou maar eerlik. Ek dink hy sou gevoel het oor my kunswerke soos Tchaikovsky sou voel oor country-musiek.

Hoe besluit jy wat om te teken?

’n Prentjie begin op dieselfde manier as wat ’n liedjie of ’n roman begin. ’n Liedjie begin vir my met een reël of ’n stel rymwoorde. ’n Roman begin dikwels met een sin of ’n eenvoudige idee. ’n Skildery of skets begin met een streep op ’n wit oppervlakte. Jy weet nooit waarheen jy op pad is nie. Ek vind dit onmoontlik om te werk met ’n sinopsis.

Wat was van jou gunstelingwerke om te teken? Hoekom?

Ek het ’n liefde ontwikkel vir cartoon-agtige prentjies, soms met sosiale kommentaar.

In wie se kunsversamelings word jou werk bevat wat jy besonders leuk vind?

In die begin het ek maar rondgekrabbel en my goedjies op Facebook en Instagram verkoop. Dit het gegroei tot ’n relatief suksesvolle aanlynkunsbesigheid. Toe Karen Zoid begin met haar virtuele groepuitstallings op Facebook aan die begin van die grendeltyd, het ek gevra of ek kan deelneem. Dit was ’n geweldige leerkurwe om skielik sy aan sy uit te stal met werklik established kunstenaars. Dit was my eerste kennismaking met ’n industrie waarvan ek voorheen niks geweet het nie. My volgende leerkurwe was toe ’n bekende galery in Kaapstad, Kingsbridge Art, aangebied het om my werk gratis te raam in ruil vir promosie. My wisselwerking met hulle was baie leersaam. Op die ou end is ek deur Dot-the-Eye genader om deel te wees van hulle uitgesoekte groep kunstenaars. Nou bevind ek myself in die geselskap van ’n oorbluffend-diverse en indrukwekkende groep kunstenaars soos Diana Victor, Dylan Graham, Bastiaan van Stenis, en Liezel Prins, om nie van Jan Blohm te vergeet nie. Dis vir my ’n geweldige eer en ek is nie seker of ek werklik soveel erkenning verdien nie.

Wat het jy vir kunssnobs te sê wat jou werk sal afmaak?

Hulle is waarskynlik reg.  

Het jy al in ander mediums kuns gemaak? Olieverf, beeldhouwerk? Is dit iets wat jy sal doen?

Ek verkies eenvoudige lyntekeninge en kryt, hoewel ek soms speel met akrielverf. Die een medium wat ek glad nie kon baasraak nie, was waterverf. Toe ek kuns as vak geneem het op skool, het die onderwyser een keer verby my tafel gestap waar ek besig was om ’n bos blomme weer te gee, maar dit was ’n absolute gemors van waterverf. Ek sal nooit sy kommentaar vergeet nie. Hy het gesê: “André, dit is nie ’n stillewe nie, maar ’n stil dood.”

Hoe gemaak as mens jou wil commission om iets spesifiek te teken?

Ek verkwansel geïllustreerde handgeskrewe lirieke op sosiale media, asook sogenaamde “celebrity cartoons”. Ek doen nie meer portretstudies van private individue nie, hoewel ek my hand een of twee keer daaraan geslaan het. Cartoons en lynsketse, en kleur, is my ding. Cartoons behels dikwels ’n element van “comic exaggeration”, wat nie toelaatbaar sou wees in portretstudies nie. As ek laasgenoemde kon doen – en ek weet dis ’n kunsvorm op sigself – sou ek baie geld kon maak met ’n stalletjie op die groentemarkplein. Dis ongelukkig nie vir my beskore nie. Ek is zef, maar nie só zef nie… Iemand wat ’n handgeskrewe liriek, celebrity cartoon of sommer enigiets weirds soek, kan aan my skryf en ’n kwotasie kry by koosakombuis@gmail.com. Ek koerier dit na jou voordeur toe!

111096454_642723953009813_4483948114713002756_n.jpg
116280310_762460371168547_5811035703085084928_n.jpg
110250497_3087944344592385_2418102533070307839_n.jpg
824afd5a-83eb-458d-8d52-ab14c4d773a6.jpg
05267f63-b809-43b4-bebf-3520494071cb-1.jpg
e33d08da-d4a9-43b9-975e-9b3d834155e2-1.jpg
2a72c3c6-4d1f-4f27-8c17-2af4f0ba2053.jpg
5b0d2e3e-ff84-4725-8d9e-4821533ab9c3-1.jpg
f4905ef2-3eba-48d5-9740-07da4039b530-1.jpg
116b21a7-30ed-4fe8-923c-f57257fc4da7-1.jpg

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Koos Kombuis oor sy zef-modernistiese tekenkuns gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand