Koos Kombuis oor Ons Klyntji
ERNS GRUNDLING
Dit was eers sy Klyntji gewees
Danksy Koos Kombuis is Ons Klyntji nie net ’n staple tydskrifte in ’n staatsargief se donker hoekie nie. Hy het in 1996 weer nuwe lewe in die oudste Afrikaanse tydskrif in die heelal geblaas. Nou, in Ons Klyntji se 120ste jaargang (give or take a paar dekades van min tot geen aksie), kyk Koos ’n bietjie agtertoe en vorentoe en besin hy oor dié kanniedood publikasie.
Wat is jou eerste herinnering van Ons Klyntji? Het jy as kind op Stellenbosch dalk een van die ou eksemplare onder oë gehad?
Ek het myself leer lees as kleuter vanaf brekfis cereal bokse, Die Burger, en al die ou Afrikaanse boeke wat ek kon bykom op die onderste rak van ons boekrak in die gang. Dit was ’n vergeelde boekeversameling wat aan ons geskenk is deur my oupa, Dr. P.C. Schoonees. Ek was van die begin af gefassineer deur die verhaal van die eerste Afrikaanse Taalbewegings. Ouens soos Oom Lokomotief was my hero’s. Dis dalk hier waar die neiging van latere Afrikaanse sangers om hulself snaakse name te gee – soos ek ook – begin het.
Wat het jou destyds in 1996 laat besluit om die Ons Klyntji te begin?
Dit was ’n droom wat ek gehad het. Nie ’n droom soos ’n ideaal nie, maar ’n letterlike droom. In die nag. Ek het gedroom ek en my vriende laat die tydskrif Ons Klyntji herleef, letterlik, as ’n klein tydskriffie met dieselfde naam. Groot was my verbasing toe ek die volgende oggend research doen en besef die tydskrif was inderdaad presies honderd jaar tevore geloods. Die eerste nuwe Ons Klyntji het kort daarna verskyn, in die somer van 1996/97, op A6-grootte bladsye. Ek dink daar het net omtrent 10 van die eerste oplaag verkoop, en die meeste is gratis weggegee aan vriende.
Wat was vir jou die lekkerste van jou tyd as redakteur van Ons Klyntji?
Al die Selotape wat die heeltyd aan my hande vasgesit het soos ek knip en plak aan layout en voorblad-ontwerpe.
Wat was vir jou die aakligste van jou tyd as redakteur van Ons Klyntji?
Al die Selotape wat die heeltyd aan my hande vasgesit het soos ek knip en plak aan layout en voorblad-ontwerpe.
Waarom het besluit om rondom die jaar 2000 afstand te doen van die redakteurstoel?
Die Selotape het te erg geraak. En daar was meer belangstellendes en intekenare as wat ek kon hanteer. Ek wou dit graag oorgee aan nuwe, jonger, meer energieke redakteurs, en het besluit om Erns Grundling en Toast Coetzer se hulp in te roep. Ek ken Erns vandat hy in matriek was op Uitenhage, en ek het gedink iemand soos Toast, met sy aweregse, ietwat waansinnige inslag, sou reg kon laat geskied. Ek het hulle ingeroep vir ’n meeting, die konsep aan hulle verduidelik, en ook vir hulle al die kontant gegee wat ek tot op daardie stadium gemaak het met verkope sodat hulle dit kon terugploeg in die besigheid. Dit was amper ’n duisend rand, wat nogal baie geld was in 2000!
Het jy nog jou heel eerste uitgawe van Ons Klyntji uit 1996?
Ek het dit nie, maar ek het al iewers afbeeldings daarvan gesien hier en daar op die internet, so iemand iewers het ten minste een eksemplaar. As ek reg onthou, was Anneli van Rooyen die voorbladnooi.
Hoe op aarde het jy Ons Klyntji gedoen in die tyd voor e-mail?
Baie Selotape en gom en goed.
Kan jy onthou wie 3 van die heel eerste bydraers tot die Ons Klyntji in 1996 was?
Ek het geen idee nie. Dis baie moontlik dat ek vir die eerste uitgawe alles self geskryf het en verskillende skuilname gebruik het. Ander ouens het later bygekom. Skrywers soos Kleinboer het gereeld prosatekste gestuur. ’n Interessante spin-off van die jare toe Erns en Toast oorgeneem het, was dat enkele jong digters, soos Danie Marais, wat later baie meer bekend sou raak, hul vroegste werk hier begin publiseer het. Hoewel Ons Klyntji heeltemal ondergronds was, en slegs gelees tussen Oppikoppi se stof en leë drankbottels en kitare, het dit tog ’n voedingsaar vir die establishment geword.
Is daar ’n spesifieke Ons Klyntji bydrae uit jou tyd as redakteur wat jou bybly?
Een van die eerste Ons Klyntji’s het ’n vergrote afbeelding geplaas van Vloog Theron se business card, wat hy persoonlik aan my gegee het as bydrae. Daar was so baie inligting op daardie kaartjie dat dit gelees het soos ’n kort roman. ’n Roman met ’n wetenskapfiksie-inslag, actually, want Vloog het homself nogal in metafisiese terme beskryf, amper soos ’n wese uit die buitenste ruimte.
Wat dink jy deesdae van die Ons Klyntji, twintig jaar later?
Daar is tans twee weergawes van die tydskrif (die fisiese gedrukte tydskrif asook die aanlyn-publikasie Klyntji.com) waarvan die inhoud soms oorvleuel, soos hierdie onderhoud, en soms nie. Elkeen van hierdie weergawes het ’n belangrike funksie. Die publikasie staan dus wydsbeen, met sy voete stewig geplant in die verlede en die hede. Ek sou graag wou sien dat beide voortleef.
Wat dink jy van little magazines se relevansie vandag in die algemeen? Hoe verskil dit van die jare tagtig?
Ja, daar was natuurlik reeds in die tagtigs ‘n swetterjoel sogenaamde “little magazines”, ook in Afrikaans. Hierdie era verdien dalk ’n studie op sigself, want dit was die voorloper van die latere “alternatiewe” rock-era. Mens kan die “little magazine”-era en Voëlvry vergelyk met die Beat Poets en Woodstock in die V.S.A. Die grootste rede vir die ontstaan van “little magazines” was ’n opstand teen sensuur. Vandag staan ons weer met die swaard van sensuur oor ons koppe. En met die internet wat skielik nie meer so vry is soos wat ons gedink het dit is nie, kan “little magazines”, nie slegs aanlyn nie, maar actual magazines, gedruk op papier, dalk ’n comeback maak. Ek hoop nie die regering gaan voort met hulle planne om alle webruimtes en Facebook-profiele te reguleer nie, maar selfs al doen hulle dit nie, is die Zuckerbergs en Google reeds besig om oor ons skouers te loer. Heelwat van die hedendaagse beheer en sensuur vind plaas in die naam van beginsels wat op die oog af edel en polities korrek is, maar enige vorm van beheer is ’n bedreiging van basiese vryhede, Dis baie onrusbarend.
Hoe dink jy gaan die Ons Klyntji lyk oor 20 jaar van nou?
Ek het vergesigte van reuse-glanstydskrif met die titel OK. Iets soos FHM. Daar sal kaal mans en vroue op die voorblad wees en onderhoude met hip-hop sterre met koeksister-resepte in die middelblaaie. Dit sal meer intekenare hê as Die Huisgenoot.
- Oorspronklik verskyn in Ons Klyntji 120, bl 137-141