Waarheid

JACQUES DE VILJEE

willem samuel.png

Laatmiddag, halfdonker kroegatmosfeer. Lui enjins buite. Binne bier wat gis. Hoop wat kwyn. Taai tafels sit leeg teen die vensters. ’n Blok helder lig skyn deur die kroeg se oop voordeur, laat jou oë branderig opklam. Die musiek speel te hard; dit klop diepseer teen jou slape. Teen die muur hang ʼn geraamde foto van William Burroughs. Oumensoë wat deur die hel gedwaal het. Jy los ’n tweerand op die kroegtoonbank, tel jou bier op en stap na die helder buite, waar jy jou oë op skrefies moet oophou. Twee mans sit gebukkend by ’n tafel; die een rook ’n sigaret. Dit lyk asof hulle al lank sit. Lou bierasems hang onrustig tussen hulle vuilgevingerde glase. Die musiek speel sagter hier buite op die straat. ’n Stem begin praat.

Wian Letoit. Die slu fokker. Daar is ink wat oor sy bors lê. Kneusplekke teen sy oë. Hy kyk ver, een of ander niksheid in. Strepe rook sweef bo sy geel vingers, wat angstig-ritmies oor die tafel tik. Ons het destyds saam Lynch en Jodorowsky by Alhambra Theatre in Beitstraat gaan kyk. Op Miriam Makeba en KOOS! in The Black Sun gedans. Hy’t altyd Hunter S. Thompson en Jan Rabie voorgedra, begeesterd en dronk, as ons by sy en Cara se woonstel gaan kuier het, vir ons Grateful Dead en Butthole Surfers plate opgesit. Hy’t af en toe as ’n joernalis met ’n skuilnaam in Burundi en Soedan gaan werk; werk nou vir ʼn klein prokureursfirma in Pretoria; spesialiseer in aanlynkopiereg. Bly op sy eie in ’n afgeleefde woonstel in Melville. Drink baie en praat min.

     Ons sit op The Double Barrel se stoep; hy hou vir my sy pakkie sigarette. My glas bier is leeg. Van binne die kroeg begin “Academy Fight Song” van Mission of Burma speel. Ek het lanklaas sigarette gerook. Dit hou my wakker en gee my hoofpyn. Nie dat my dieet van whiskey en pynpille my deesdae veel beter doen nie.

     Ek vat ʼn sigaret.

     "Jy weet hoekom ons hier is, Wian.” Hy kyk op. “Wat weet jy van Ons Vriend die Rockstar se verdwyning?“

     "Nog fokol.” Hy kyk weg.

     "Kom nou Wian.“

     "Swys. Ek sal’lie vir jou lieg nie. Dis my kliënt. Ek móét dat hy opgespoor word.”

     "Dis juis waarvoor ek bang is. Ek -“

     "Jy wil nie vir my sê -”

     "Ek sê niks nie, Wian.” Sy gesig trek diep beledig. “Ek’s net bang wieookal agter hierdie ding sit … misbruik jou posisie. Trek voordeel daaruit.“ Waarheid is oor sy hart getatoeëer.

     Hy rig sy blik, onbeïndruk, op my. “Daar was hierdie opgewende moffie wat ’n verklaring by die polisie in die Kaap gaan aflê het.”

     “Ja?” Hy’t nog altyd sy kaarte styf teen sy bors gehou. Behalwe as hy dronk is. Dan waai hulle soos herfsblare in ’n rukwind rond.

     “Reken hy’t op Ons Vriend die Punkgod afgekom met twee koeëls in sy bors.” Dralend, emosieloos.

     “My Here, ja? Waar?”

     “Stellenbosch. Op die toeristespoor. Buite die diamantwinkel, tussen ryp akkerblare en flitsende kameras.”

     “En? Wat dink jy?”

     Nee wat. “Dis ’n kakstorie. Ek het gaan uitvis by die polisie. Nog een met ’n dwelmprobleem. Het weke laas geslaap. Moet stories opmaak terwyl hy tussen sy koue nagmerries wakkersit.”

     “So dis ’n doodloopstraat.”

     “Nie noodwendig nie.” Speel met ’n dooie sigaret tussen sy vingers.

     “Wat bedoel jy?”

     “Ek het so gevoel hulle ken mekaar. Daar’s te veel specifics. Iewers ’n kodewoord tussen al die gebrabbel.”

     “Wat het hy gesê?”

     “Hy’t iets genoem oor ’n gedig wat hy op hom gedra het, Ons Vriend die Punknaai, ten tyde van sy opgedroomde moorddood. ’n Vink Minnaar gedig.”

     “En het jy al met Ons Vriend die Digter gepraat?”

     “Wanneer het ons vriende die helfte van ons ouderdom geraak, Swys?” Steek die dooie sigaret aan, trek ’n paar keer in deur oë op skrewe. “Hulle raak net jonger. En ons…”  

     “Wian.” Dit klink soos “Disorder” wat van binne af speel. Joy Division. Gebreekte plate en wynvlekke oor stinkgetrapte matte. Houtvloere en koue toiletsitplekke. Gesprekke oor punkmusiek as opstand en Marxisme.

     “Hy’t gesê dit klink soos iets waaraan hy op die oomblik werk. Benoud geklink en gesê hy moet sy Google Drive password verander.”

     “Paranoïa. Wat’s nuut? So waaroor gaan dit? Die gedig?”

     “Die toekoms, blykbaar. Hy het die toekoms in ’n solopsisme gesien. Franties neergeskryf.”

     “Hmf.” Al weer lus vir woorde gebruik sonder om iets te sê.

     “Wat van jou Amsterdam-kontak? Jy’s mos die een met die intelligence credentials.”

     “Sy weet van niks. Eerste keer wat sy iets oor Ons Vriend die Jeugkultuurikoon hoor vandat hulle toer begin het.”

     Hy knik, kyk op. Buckle staan teen ons tafel, staar na Wian; hý sprei sy arms oop en glimlag pateties-spottend. "Buckle my vriend. Enigiemand wat ʼn foto van sy oupa teen sy kroegmuur ophang is my vriend.” Hy knipoog na my kant toe. “Twee dubbels met ysies asseblief man.”  

     "Wian.” Eentonig en ferm. “Jy weet jou tab loop al oor die vyfduisend rand nè? Ek kan nie deur my hol vir jou aanhou drank uittap nie.”

     "Buckle. Buckle.” Hy paai. “Jy weet as ek die dag geld het kom ek met honderdrandnote hiernatoe. Tweehonderdrandnote, man, jy kan heeldag geld tel en met Madiba gesels. En ek hou nie ʼn tab van jou fooitjies nie nè.“ Lig sy wenkbroue.

     Buckle rol sy oë, draai kroeg se kant toe. "Seker dan yolo, soos die jongmense sê.”

     “God, Buckle,” snou Wian hom agterna, “hulle sê dit al vir jare nie meer nie.” Hy draai na my toe, ’n seer uitdrukking in sy oë.

     You only kill once, flits deur my kop.

     “En Julia, sy is mos nou in Amsterdam?”

     “Ja. Sy luister hoe die Afrikaners in Europa dink. Praat.”

     “Sy moet eintlik met -”

     “Sy sê sy voel hoe die walle onder haar voete dobber. Sukkel om te slaap.”

     “Sy was nog altyd fyn gesnaar. Sy’s jou kind.”

     Die sigaretboksie raak leër, inmekaargevou. “Het jy daai video gesien van die hond wat in Vondelpark se fonteindam verdrink?”

     “Ek het ja. Nie geweet hoe om te reageer nie.”

     “Dis hoe my eerste hond dood is. Boesman. Toe ek ses was. Kon nie na die tennisbal toe ophou swem nie.”

     “Hierso, menere,” sit Buckle ons drankies klinkend voor ons neer. “For dayz, nè?” Hy glimlag selfingenome.

     “Fokkit Buckle ek gee op met jou.” Buckle ignoreer hom, haal die asbakkie van ons tafel af en stap terug binnetoe, verby ’n boemelaar in ’n pienk en turkoois sweetpaktop wat langs die deur staan en rook, lang bier in die hand.  

     “So dink jy hierdie … moffie … is ’n stalker … ’n lover?”

     “Nee. Ons Vriend die Geraasmaker is te lief vir sy sonskyn meisies soos hy hulle noem.”

     “Mens weet nooit.” Mens weet nooit.

     “Dink jy dit kan die polisie … Binnelandse Sake?”

     “Ek het al ’n spoor gaan soek.” Hy haal nog ’n sigaret uit. “Dis nie die polisie nie. Hy’s nie ’n bedreiging nie. Nog nie. En sy papiere is reg. Ek weet.”

     “Maar wie sal ’n punkdigter wil doodmaak?”

     “Nie dood nie, Swys. Jirre. Jy dink soos ’n fokken tabloid. Hy’s nog net vermis. Ek dog jy weet hoe ’n kakstorie ruik.”

     Ek ignoreer sy blawwe na my kant toe. Dit klink of hy begin dronk raak. “Die regering?”

     “Nee, fok. Hulle het heeltemal te veel ander kak op hulle skinkbord.”

     “Soos om ’n oorlog te vermy…”

     “Onder andere.”

     “’n Minnares? Groupie? Misplaasde Afrikanerfanatisme.”

     “Ek dink jy raak warmer.”

     “Extremiste?”

     “Hmmm. Ek twyfel. Ek weet wat hy dink maar hy’t nog nooit iets daaroor gesê of gesing nie. Behalwe as sy metafore oor liefde meer layered is as wat ons dink.”

     “Dit kan ook net ’n publicity stunt wees.”

     Die lighter sukkel om ’n vonk te maak. Dan: “In ’n koeëlreën oor honde. Tussen die haweloses van Berlyn.” Die rook hang voor sy gesig, voor dit stadig wegdamp. “Dis hoe hy gesê het hy homself sien doodgaan. ’n Premonisie op ’n acid trip of iets.”

     “Ons Vriend die Swanesanger. Mens weet nooit.” Ek vat ʼn trek van die sigaret wat ek uit die pakkie gegrawe het. Daar loop ’n meisie met gevlegde swart hare en ’n blink vel langs ons op die sypaadjie verby.

     "Ek droom weer. Ek het nog nie vir jou vertel nie?”

     "Jy het nie.“

     “Slange verstrengel in bome gisteraand. Teken van ʼn oorgansfase blykbaar. Konfrontasie met struikelblokke.”

     “Die slang is ʼn simbool van ʼn ongetemde deel van jouself, ʼn onontginde slagaar. Giftand.” Standerd 7 het my verder gebring as wat my pa of my onderwysers verwag het.

     “Ek loop rond tussen tieners wat sport oefen, ek wou nog altyd tennis gespeel het. Ek is nie die enigste een nie. Daa’s ʼn lang ry buite die tennishokke. Ek is verveeld, ek wil dagga rook. ʼn Paar moeilikheidmakers drentel agter my aan. Ek gooi hulle van my spoor af deur die kunssentrum binne te glip. Ek was die vorige aand ook hier, ʼn doolhof op dwelms. Ek volg tamboerynmusiek: in die eerste kamer is weirdos wat in kostuums dans. Ek volg die gangetjies na die aantrekkamers (die vermaak daar was nog altyd hoogstaande, ek word elke oggend met ʼn ereksie wakker, sê hy met ʼn skelm glimlag agter sy hand), ʼn doolhof op sig self. Dit loop uit in danssale, kontemporêre dansklasse.

Ek skuur verby meisies in turkoois satyn.” Hy blaas sy rook lank uit. “Dit het iets met seks te doen. Ek dink ek het vir Jeani te lanklaas gesien.”

     “Wian daai meisie gaan nog jou ondergang beteken jy weet dit.”

     “Ek is verslaaf, Swys. En sy verstaan.” Hy trek weer diep in.

     “Moe’nettie vergeet wat ’n meisie is nie.”

     “’n Engel in drag; Swys; fok jou sentimentele wysheid,” lag hy vir my agter ʼn mondvol rook. “Laurika Rauch is lankal dood. Maar daai meisie gee blowjobs wat jou jou idees oor God en die Hemel sal laat heroorweeg. En hulle sê die jeug is besig om agteruit te gaan. Ga!”

     Ek lag hees en tik my as in die asembakkie tussen ons.

     “Nou die dag vir Cara in Melville gesien. By 27 Boxes saam met haar ad agency doos vir ’n eksman. Fok ek haat daai hipsterkont. Moes maar myself onsigbaar gehou het. Mense is mos uitputtend. En die’s wat nie is nie wil ek óf naai óf opfok.”

     Ek lag weer saggies. Hy sit en skeur die sigaretbokise in klein repies uitmekaar. Dit raak laat, ek voel moeg. Die Hoëveldse koue trek deur my vel, tot styf teen my gebeentes. Ek bibber.

     “So jy gaan nie vir my enigiets gee nie.”

     “Ek het vir jou gesê wat ek weet, Swys. En ek het vir jou gesê dis fokol.”

     “Dan’s dit reg so, vriend. En ons kom kyk die rugby Saterdag hier. Of by Golden Curtain.”

     Ons sit ʼn ruk lank in stilte. Iewers in die buurt blaas iemand op ’n vuvuzela.

     “Ek het nou die dag gedink.” Hy kyk weer ’n oomblik boontoe. “Het jy nog daai ou polisie-uniform van jou?”

     “Nou die aand na ’n partytjie toe gedra ja.”

     “Mh?”

     “Tranny-partytjie in Hillbrow.”

     “Special case?”

     “Hulle’t geweet ek’s daar vir ondervraging.”

     “Jou mense van die straat, die skaduwees wat praat. En jy moet onderskei tussen liefde en haat.”

     “Ja.” Ek sug. “Hulle gee my wat ek soek, en ek kan nog gee wat hulle soek.”

     Hy blaas kopskuddend uit. Vat nog ’n trek. “En hoe’s besigheid verder?”

     “Jy weet. Moordenaars loop kaalvoet rond. Pretoria brand. Die nuus word geskryf in gesensorde hutse. Daar’s diamante in die vullis. Ek weet nie meer waar om vir wat te soek nie, koop maar soetgoed in spaza shops. Junkies kry lafenis in ouetehuise en meisies in groen skooluniforms is drug mules. Dykes is informante en bouers hulle spioene. Jy weet hoe dit gaan.”

     “Ja, Jesus.” Kyk weer ver. “The more things change…”

     “Geyk bly geyk. En onder draai die duiwel rond.”

     “Swys, vriend. Jy’t noggie genoeg gesien nie? Jy’t noggie diep genoeg in hierdie sielswartgat in neergedaal nie. Hierdie mynskag na die hel toe.”

     “Die Here weet ek het, Wian. Maar die waarheid wag vir niemand nie. ʼn Man moet oorleef.”

     Hy haal die laaste sigaret uit die boksie, nou flenters. “Fokken oorlewing nè?”

     “Fokken oorlewing.”

Die verhoog se lig word uitgedoof. Die akteurs staan op om hulle drankies backstage te gaan klaardrink. Jongmensstemme begin oormekaar praat. ʼn Kontemporêre liedjie begin in die agtergrond speel. Mense staan onbevredig op van ongemaklike teaterstoele en stap buitentoe, waar hulle koue sigarette in die aandlug aansteek en mompel oor die antiklimaks waardeur hulle nou net moes sit. Jy sluk jou laaste spoegsel bier af, kyk vir oulaas na die mensegesigte, halfonsigbaar agter skadustrepe van ou teaterligte, en loop dan die donker nag in, op ’n dwaalspoor na Nêrens.

  • Illustrasie deur Willem Samuel
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Waarheid gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand