Oorlog in Kaapstad en ander stories

Oorlog in Kaapstad en ander stories
#thisiswar

#thisiswar

Jacques de Viljee se debuutbundel

Die lig skyn daar buite is Jacques de Viljee, skrywer van Kaapstad, se debuutbundel. ’n hele paar van sy kortverhale is al vantevore op Klyntji gepubliseer en het ook al in New Contrast en op LitNet en BooksLIVE verskyn. Die bundel, in kompakte sakpas-grootte amper as of mens dit erens heen moet smokkel, word onafhanklik gepubliseer.

Die ontwerp en illustrasiewerk is deur Hanno van Zyl gedoen, wat onder meer die uitleg- en produksiewerk van June 16, 'n herdenkingsboek oor die seminale fotograaf Peter Magubane se werk, Twenty Journey, ’n fotoboek oor drie diverse jong fotograwe se reis deur ’n twintigjaaroue demokratiese Suid-Afrika, en WAT BINNE IS, ’n bundel van gedigte van Jaco van der Merwe en foto’s deur Wikus de Wet, gedoen het.

Die bundel bestaan uit vier kortverhale met gepaardgaande illustrasies. In “#malegaze” strompel Nicolaas Mijburg een aand halfbesope Die Vallende Ster binne. Van agter die kroegtoonbank herken Vink Minnaar dadelik sy skoolheld en -liefde, die debatkampioen wat nou ’n prokureur is. Vanaand is sy kans, besef Vink terwyl hy Nicolaas se oog probeer vang, ná soveel jare van droom en wonder.

In “#thisiswar” sien Ryno Winterbach op Twitter dat ’n landswye burgeroorlog pas aangekondig is. Ryno, ’n argitek in Kaapstad, moet kant kies, maar met sy meisie oorsee en sy boesemvriend gewond in die hospitaal teen die berg, is hy besig om van sy kop af te gaan. In die skaduwee brand Suid-Afrika.

NG Kerk Tyrrhena Patera

NG Kerk Tyrrhena Patera

Vir die oorlewing van sy pa se galery moet Innes Edelhart in “NG Kerk Tyrrhena Patera” vir Jean Kleinhaus, die wunderkind van die kunswêreld, by ’n uitstalling in Breëstraat opspoor om een van die kunswerke vir die galery te kontrakteer. Hy vind die kunstenaar uiteindelik, maar ná twee cokelyne en te veel witwyn spiraal die aand uit tot ’n warrelwind van karakters en gesprekke waaraan hy net-net nie kan vatplek kry nie.

In “Liewe Wessel” skryf Amelie Verwey, ’n uitgesproke jong kunstenaar van Kaapstad, ’n indringende inskrywingsbrief vir Wessel, ’n deelnemer op Soort Soek Soort. Sy boor tot in sy diepste self, terwyl sy haarself ook aan hom oopmaak. Amelie is egter onbewus dat Wessel haar brief waarskynlik nooit sal kry nie.

Die karakters in Die lig skyn daar buite soek soos die titel suggereer na waarheid en betekenis wat iewers daar buite blink, maar hulle verdwaal telkens in die donker. Hulle is immers foutryke mense; nie rekenaarkode nie. Die bundel laat die leser met ’n vreemdsoortige gevoel, distopie is net om die draai.

Dit voel soos ek Kaapstad onthou. Hierdie shit is weird en ek like dit so. Hierdie is hopelik die eerste van baie weirder shit. Afrikaans kort weird.
— Hunter Kennedy
Liewe Wessel

Liewe Wessel

Jacques de Viljee se kortverhale is rou. Eg. Meesleurend. Skerpsinnig. Diepsinnig. ’n Hemingway vir die hashtag generasie.
— Mila de Villiers, Sunday Times Books
 

Voorwoord deur Jaco van der Merwe

#malegaze

#malegaze

Hierdie vier kortverhale vorm ’n digterlike (maar tog toeganklike) interteks. Fragmente uit dystopian dagboeke gesels met filosofiese liefdesbriewe deur middel van skerms, afgeluisterde gesprekke en onbeantwoorde wellus. Hier word ’n persoonlike en geestelike subjektiwiteit verken wat uiteindelik smaak soos die lewe se beste “happy-sadness”, veral in 2018 waar die masjiene ons nou beter ken as wat ons onsself ken.

Die kruisings van fantasie en vrees in die stories voel met tye soos ’n droomlandskap, ’n Lynchian Kafkaesque “morning-after” waarin jy nie mooi seker is hoe en wanneer die belangrikste dele begin of klaargemaak het nie. Wie het nou weer met wie gevry gistraand, en hoekom proe die binnekant van jou mond soos ’n asbesmeerde oorlogsveld?

Melankolie drup in die hoeke van elke storie-spasie soos ’n Tarkovsky raam, en selfs al word die donker psige van Suid-Afrika in die helderste oomblikke blootgestel in sy/haar woedendste-rasendste-ongemaklikste-onregverdigste viserale vorm, flikker daar deurgaans brokkies hoop in die ooghoeke van elke storie. En dalk die belangrikste element van alles is die konstante teenwoordigheid van ’n subteks wat ruimte skep waarbinne ons hardop kan lag vir die absurde speletjies waarin ons verstrik word.

Ten spyte van dit alles vermoed De Viljee dat die lig nog iewers daar buite skyn, en ek glo hom.

Hashtag daai shit.


Eksemplare kan bestel word by info@postnothing.co.za en is beskikbaar by The Book Lounge en Clarke's Bookshop in Kaapstad, sowel as Love Books in Johannesburg.

DieLigSkynDaarBuite_Cover_FinalArt (3).jpg
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Oorlog in Kaapstad en ander stories gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand