Hierdie fotogedigteboek vra bestaansvrae
Jaco van der Merwe en Wikus de Wet se paaie het oor die jare verskeie kere gekruis weens eenderse belangstellings en werksaamhede. Hulle het sowat 'n jaar gelede besluit om te begin saamwerk aan WAT BINNE IS, 'n fotogedigteboek. Sekere van Jaco se prosa-gedigte en Wikus se foto's is verlede jaar opgeneem in Nuwe Stemme 6 – 'n aanwyser van ontluikende en belowende nuwe digters in Afrikaans.
Wikus, 'n fotojoernalis en kunstenaar, se werk ondersoek identiteitskwessies, insluitend wat dit is om 'n Afrikaanse mens in Suid-Afrika te wees. Wikus was een van drie fotograwe wat in 2014 vir sewe maande deur Suid-Afrika gereis het om 'n land, twintig jaar na die instelling van demokrasie, te ondersoek en af te neem. Tydens die projek het Wikus spesifiek op die verhouding tussen land en die mense wat daarop bly, gefokus. Beide hy en Jaco het 'n intense liefde/haat-verhouding met hulle Afrikaanse identiteit en herkoms.
"Ek self verken al 'n ruk lank die verhouding tussen woorde en visuele elemente," vertel Jaco wat bekend is as voorman van die electro-rap-groep Bittereinder. Hy noem dat dit 'n ongemaklike proses was om hierdie vrae aan homself en aan mekaar af te vra. Hy noem wel in 'n promosievideo vir hierdie boek dat hy opgewonde is oor die lewe – 'n noemenswaardige karaktertrek vir iemand wat sulke heftige vraagstukke in die oë staar.
Klyntji deel drie van die foto-gedigte.
Oë van God
Die Oë van God soek deur die hele wêreld. Wegkruipertjie en rugdraaiertjie bly die twee nasionale sporte wat beste regkom sonder enige kwotasisteem. Almal leer om harder terug te byt, en veral die wat besluit of gesien het, wil eeue later nog steeds nie praat nie. In die hoof se kantoor brul die tekkie se sool. Niemand bly vrywillig agter om te help skoonmaak nie, en so kruip stukkies geheime deur die voorstede se krake see toe. In die skemer word die liturgie van buurt tot buurt geblaf, en seuntjies word groot seuns voor jy jou oë kan uitvee. Dis moer ongemaklik in die lughawe se departures terminal, veral omdat al die meisies hier so mooi is. Jy kug, maar niemand kyk op nie. Die oë van die wêreld soek orals vir God.
Spoke
Dis Mosselbaai in die winter. Die slide is gebreek. Die vakansie flats staan leeg. Dit kon die mooiste ding in die heelal gewees het. Die spoke gly en baljaar en skreeu in my ore. Ek lag saam soos iemand wat nie die grap gevang het nie maar nie stupid wil lyk nie, so ‘n not-quite-committed-giggel. Op skool was daar ‘n dude wat elke pouse die grappies wat ons vertel het twee keer laat werk het – ons almal lag lekker die eerste keer vir die punchline, en dan so 3 minute later lag ons almal weer vir daai nar wat nou eers die grap vang en skielik uit die bloute op-crack met “oh wait, now I get it...”. Na 35 jaar hier bo op die slide tussen die spoke is ek nog steeds nie seker of ek wag vir die eerste punchline of daai tweede oomblik nie, maar ek smile maar heeltyd sodat God of iemand wat my dalk sien nie dink ek vang dit nie.
Wenstreep
Ek gooi my plastiekies by die karvenster uit. Ek het ‘n kar. Jy het ‘n post-apocalyptic plastiekversamelendeskaatsplanktrollie. Saam is ons op die teer, teer land. Dis iets soos ‘n wedren, maar niemand weet waar die wenstreep is nie. Gaan net so vinnig as wat jy kan, die hele tyd die hele tyd ek dink aan jou, jy weet ek doen, baby ek like jou soos jy is, my hart klop konflik as jy naby is. In die siklus van terugslanery word die gerugte dat die wenstreep gesteel is al hoe harder in my ore. Ons jaag en jaag maar almal verloor.
- WAT BINNE IS se drukwerk word tans befonds deur crowdfunding. 'n Getekende boek kos R250. Boekontwerp deur Hanno van Zyl.