Naamloos van Namakwaland

Naamloos van Namakwaland
Illustrasie: Manuela Ladu

Illustrasie: Manuela Ladu

Skryfwerk van Du Toit Albertze                      

 

Deel 1
Twee poems

 

Die grond

 die grond hoort nie aan my nie
maar ek is gebore
uit gekraakde duine het ek uit
gerank
Nie wingerd soos die windgatte
heilige druiwe trosse
of groen blaar wat duiwe aan draai nie
Maar 'n kaktus
en nou, op 22
is daar geen koppies om agter
weg
te
kruip nie
kokerboom kul met kunsmatige skadu
gousblom gee my oor
“hier’s die huigelaar!
wat sê sy huid is die sand
wat sê sy huis is die veld”

 In Stellenbosch sit hy
ene kaktus in 'n plastic kus en kyk
na die grond wat nie aan hom hoort nie
maar aan wie hy behoort.

 

2/12/17

Pride

aan allie tannies da’ diep innie Namakwaland
wa die kokerbome die mense ophys
ennie mense die blomme se koppe afkap
da wa’ julle my moffiewees wou wegwaai
met julle bidgroepies
hande ommie braai

 hierrie vuur brand vi julle

want moffies moker al op hul mooiste
met kliphakke
en leeuvel-tiertertjies
lank voor Christus sy patriargale pote kom pons het op ons planeet

ons is profete
soos Johnathan wat sy kleed laat val het
en voor dawid gekniel het
vir jou min ek meer as weelde en vroue en kongingkryk
en hul kraak inmekaar
mense vergeet sommige verse inni bybel
lees sommer net levitikus en romeine raak
jy kani sekere goed uit-edit of crop of forward nie
glo my
ons weet
want moffies moker al op hul mooiste
met kliphakke
en leeuvel-tiertertjies
lank voor Christus sy patriargale pote kom pons het op ons planeet

ons is soldate
soosie manne oppie grens wat genaai het tussen landmyne en agter sandduine
maar net sekeres was aangehou in hospitale
geskok
pille gevoer
manwees afgeslag
want mense weet tot vandag toe nie die verskil tussen
'n vrou wat 'n vrou wil wees enni man wat 'n man wil hê nie

 moffies moker al op hul mooiste
met kliphakke
en leeuvel-tiertertjies
lank voor Christus sy patriargale pote kom pons het op ons planeet

ek ween
want ma wil hê ek moet 'n nageslag verweef
en miljoene vroue word gekorrigeer
opgevoed
gedwing
om mans lief te hê
soos nuwejaar in Strand
of laasjaar in Paarl
dood gestenig
deur familie
–   en hulle noem ons die barbare
–   al gons hulle van primitiwiteit

maar wat hulle nie weet nie
is dat ons al lankal hierso is
met Griekse orgies en Spartan tente vol daddies en twinks 

liewe tannies van Namakwaland
waar die kokerbome die mense ophys
ennie mense die blomme afkap
as ek die brandwonde op my arms moes tel
dan sal dit steeds nie die skade kon bewys
maar
julle kon dalk hande vat om 'n vuur
maar julle sal nooit ons vuur blus
wat woester brand as Knysna

 manne laat wegkyk sodat hul oë nie brand  

 ons was al lankal hier
so, pasop
die moffies is oppad
een veldbrand
op
'n
slag

 

Deel 2
Een monoloog

Uittreksel uit: Klipkoningin- 'n Boere sci-fi

 

Koos Kombuis se ‘Op die plaas’ koortjie lei die toneel in.
'n Dowwe kollig.
Middel vyftigs.
Dra onvanpaste gym klere met 'n sad opgewondenheid.

 

PASTOOR HG:

My oorlee’ pa het die berge bemin
Of sal ons sê koppies
Klippe en gekraakde voetspore volg ek agter sy skadu aan
Fynbos en vaalklip
Omsingel ons die veld in
Pa se oë kruip oor sy skouers
En kyk op
En dan af
Hy kan sien dat my liggaam van min swoeg ken
Maar my vellies wil klim
'n Akkedis skarrel van een bos na 'n ander
Ek volg Pa se spore
Sy kuite klop soos hy die krom klippe opklim
Sy hande soos arendpote
'n Aasvoël vlieg verby
Ek klim
Al krap die takke
Al skuur die rotse
Die oggendson loer oor die rante
En skakeer dit
Van groen na geel
“Jy moet byhou!”
Beheel Pa
En ek proes of hoes
Soos ek gly met vellies en gryp aan bosse
En kliphande
Skuur-skuur
Die sonstrale stoot my op
Ek glimlag
En pa neem sitplek langs 'n donker gleuf tussen twee rotse
Dassies dawer daaruit soos miere uit die sand
Ek wil skree
My mondhoeke trek skeef
Maar ek sluk
“Kom! Kom!”
Klim sy stem oor die klippe
Ek kruis my bene langs hom
Sweet gly in paatjies oor sy wang tot diep in sy nek
Sy snor wikkel soos wind deur bosse
Sy borskas swel
Hy steek 'n pyp aan
Ek hoes
Sy oë bekruip my
En sy armspier bult soos hy die pyp lig
En laat sak
Ek sluk
En steier die donker gleuf in
Die rotse weerskant brand my vingerpunte
My vellies trap oor dassie mis
Ek sluk
Steek 'n vuurhoutjie aan
En sien skrifte van stokmannetjies
Ek meen vroutjies
En halfmane
En honde
Ghoef! Ghoef!
Blaas iets soos 'n bees
Klippe stort
Pa skree
Wrang
Drie kleure pers deur die grot
Groen
Geel
Rooi
En die aarde draai drie keer om sy eie as
Want toe ek die lig aandurf
Ween pa
Opgekrimmel
Soos 'n hopie sand
En ma vlieg op deur die venster
Getooi in trourok en glimlag
Dansend deur die wind
Terwyl verwronge geluide weergalm deur die koppies
Kraaie klip toe keer
En ek met knieë kruipend bid vir god weet wat
Kollig verander na rooi

'n Vals snaar word drie keer gehoor.


Du Toit Albertze se eenmxnstuk DIE MEERMIN KOMPLEKS, 'n debuut, wys daagliks by KKNK-Uitkampteater 2018.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Naamloos van Namakwaland gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand