Henk Serfontein se tekeninge van Wilma Stockenström

Henk Serfontein se tekeninge van Wilma Stockenström
wilma stockenstrom 1.png

Henk Serfontein is sopas by die 2018 Fiëstas bekroon vir beste visuele kunsaanbieding by 'n kunstefees in 2017, vir sy uitstalling genaamd WINTERSLAAP. Hy het onder andere teen Athi-Patra Ruga meegeding met sy A young retrospective. Die uitstalling het ook in 2017 'n Woordveertjie ontvang by die US Woordfees in dieselfde kategorie. Dit bestaan uit 'n reeks tekeninge van die slapende digter Wilma Stockenström. Serfontein gebruik as inspirasie die digter se gedig "Winterslaap" gepubliseer in haar 1976 digbundel Van vergetelgeid en van glans.


Winterslaap

Winterslaap is my naam, en waterblink

lê die dae op 'n streep in die son:

so mooi my verworwe rus, ek dink

'n glimlag het die aarde aangeraak.

 

Egalig haal die nagte asem

in leë kamers en leër strate;

herinnering vervaag in 'n wasem

van selfsug, spreiend oor die ruite.

 

Kokon is my naam. In ewewig

tussen toe en dan kan ek besin,

kan ek voortbeplan in die lig

van 'n suiwer stilte wat ek stil aai.

 

Ek draai my om en strek die hand

uit in ruime eensaamheid en tas

net effe rusteloos na die wand

van ys en wol, vagdig om my.


In die reeks tekeninge uitgevoer in houtskool en gemengde media op papier, kry die kyker toegang tot die mees intieme ruimte van die digter, haar slaapkamer. Die werke is kontemplatiewe studies waarin weerbaarheid, verganklikheid, die onderbewuste en die skakel tussen slaap en die naderende dood ondersoek word. Die uitstalling dien as 'n visuele gesprek tussen skilder en digter.

Wilma Stockenström (1933-) was die wenner van die Hertzogprys vir Van vergetelheid en van glans. Haar roman Die Kremetartekspidisie was deur die Nobelpryswenner J.M Coetzee in Engels vertaal. Johann de Lange skryf dat hoewel sy van die begin af gedigte geskryf het wat intens gemoeid is met die geskiedenis en die voorgeskiedenis van hierdie kontinent met sy politiek, mites en folklore, was haar fokus tegelykertyd altyd die menslike kondisie. Loftus Marais skryf oor haar mees onlangse bundel Hierdie Mens (2013) dat daar 'n oorkoepelende gevoel van eenvoud, ingetoëndheid en stilte in haar latere gedigte voorkom en dat hierdie ingesteldheid moontlik verband hou met die herhaalde beskouings van die dood in die bundel.

Henk Serfontein (1971-) is 'n bekroonde skilder veral bekend om sy evokatiewe foto-realistiese studies van marginale Suid-Afrikaanse nagtonele. Hy ondersoek dikwels in sy werk die psigologiese lading van fisiese ruimte. Hy was die wenner van die New Signatures-kompetisie en twee van sy solo uitstallings was internasionaal aangebied in onderskeidelik Parys en Barcelona. Hy het meer onlangs die produksiehuis SKALPEL films gestig saam met Jaco Bouwer en Stian Bam. SKALPEL films vervaardig dokumentêre films oor Afrikaanse visuele kunstenaars en het op die 2016 Silwerskermfees gedebutteer met die film Portret: Lien Botha. Serfontein is die navorser en gesprekvoerder van die projek. Sy werke is opgeneem in die versamelings van die Pretoria Kunsmuseum, SASOL, GENCOR, ABSA, Rand Merchant Bank, Webber Wentzel, Nando's UK en verskeie privaat versamelings.

Henk Serfontein sal in Augustus die feeskunstenaar wees tydens die 2018 Digtersfees by die Breytenbach Sentrum in Wellington en werk ook aan in solo-uitstalling in Antwerp, België in dieselfde maand.

Wilma Stockenstrom 2.png

Hiermee van die kunstenaar se ander werk:

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Henk Serfontein se tekeninge van Wilma Stockenström gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand