Kunswerke oor Antjie Krog, Joan Hambidge en ander vrouedigters
Henk Serfontein se uitstalling by Tuin van Digters 2018
Henk Serfontein is feeskunstenaar tydens Tuin van Digters 2018, wat jaarliks by die Breytenbach Sentrum in Wellington aangebied word. HANDSKRIF is sy tiende solo-tentoonstelling. Dit volg op sy uitstalling WINTERSLAAP, waarin hy portrette van die slapende digter Wilma Stockenström geskep het. Laasgenoemde is met 'n Woordtrofee bekroon as beste visuele kunsaanbieding by die US Woordfees 2017 en ook met 'n kykNET Fiësta as beste visuele kunsuitstalling op 'n kunstefees gedurende 2017.
In die uitstalling HANDSKRIF word visuele en konseptuele gesprekke met Antjie Krog, Lina Spies, Diana Ferrus, Melanie Grobler, Joan Hambidge, Wilma Stockenström en Jeanne Goosen gevoer. HANDSKRIF bestaan uit 'n reeks houtskool en gemengde
mediatekeninge van die sewe digters. Benewens 'n portret van elk is daar ook 'n uitbeelding van elkeen se handpalm met 'n versreël daarop, behalwe vir Antjie Krog, wat gevoel het dat sy slegs deur haar hand verteenwoordig wil word. "Sy het so twee weke voor ons fotosessie haar vinger raakgesny. Dit is 'n baie sterk beeld," vertel Serfontein.
Die versreëls is deur die digters self gekies en vertel iets persoonlik van elke digter, wat wissel van bespiegelings oor die aard van digkuns, die feilbaarheid van die woord en tot diepe bepeinsing. Die uitstalling se katalogus lig Caravaggio se The Fortune Teller uit as een van die eerste verwysings na die palm van 'n hand in Westerse kunsgeskiedenis. In die skildery maak die ingenome skilder oogkontak met 'n sigeuner wat sy palm lees. Sy masseer liefderyk sy handpalm met haar regterhand terwyl haar linker voorvinger op die palm van sy hand rus. Met nadere ondersoek besef die kyker dat sy eintlik besig is om sy ring te steel. Miskien is dit Caravaggio se kommentaar dat palmlees 'n pseudo-wetenskap is.
Serfontein vind steeds die veronderstelling dat daar verskuilde inligting in die palm van die hand lê, interessant. Net soos die digter verskuilde wêrelde deur woorde kan blootlê, kan 'n studie van 'n hand en die handskrif van 'n persoon verskuilde poëtiese inligting aan die kyker openbaar.
Die uitstalling HANDSKRIF word op 14 September om 18:00 deur die digter en kunsjoernalis Johan Myburgh, by die Breytenbach Galery geopen. Die uitstalling sal te sien wees tot en met 30 Oktober en val saam met die jaarlikse Tuin van Digters op 14 en 15 September.