Die binnelandskap van Antjie Krog se moedertaal

Celeste Theron besin oor Binnerym van bloed
Miskien weet nie die ma of die dogter waartoe hulle verhouding in staat is nie... dalk is die suksesvolste verhouding self ’n non-verhouding, om uit mekaar se grepe te breek... Ek onthou die woorde: Moeder, ek is nie, ek is nie behalwe in jou aarde nie. Toe jy skreeu en jou vel bewe vat my beendere vuur – jy keer nie na my terug nie, van jou herstel ek nie. (bl.37)
Ek was in Affies, nes Antjie Krog, toe ek die eerste keer bekendgestel is aan haar digkuns deur my Afrikaanse onderwyser, Juffrou Visser. Die gedig ‘Ma’. Hoe tragies, het ek toe al gedink, dat Krog in die gedig se laaste reëls om verskoning vra dat sy nie alles is waarvoor haar ma, die skrywer Dot Serfontein, gehoop het nie – en tog in dié gedig ’n huldeblyk aan Serfontein skryf en haar prys as haar “breekwater teen die lewe”. (Nota: Ek gebruik deurlopend in dié artikel “Krog” en “Serfontein” om na die skrywers te verwys, en “Antjie” en “Dot” om na hulle karakters in die teks te verwys.)
Nou het Krog die moed bymekaargeskraap om oor haar verhouding met haar ma in soveel woorde te worstel in die openbaar. Dis alombekend dat Krog en Serfontein nie om dieselfde vuur gesit het wat hulle politiese uitkyk aanbetref nie. Verskeie joernaliste het al lustig daai vuur probeer stook. Dot se karakter in Binnerym van bloed (2025, Penguin Random House) vertel byvoorbeeld:
En hier kom ek vanoggend op ’n Sunday Times-uitknipsel af toe jy dessentyds die Alon Paton-prys gekry het en onthou skielik daardie Engelse joernalis wat my kom vra het hoekom ek en Pa die funksie bygewoon het as jy eintlik ’n volksverraaier is. Ek het haar blond-gedaaide haartjies en blinkertjie-broekpak so gekyk: “Duidelik verstaan jy van die Afrikaner niks!” Maar sy hou aan en aan, beslis aan’t vis vir ’n sensasionele storie. So, ek sê vir haar: “Juffrou, sy is ’n dierbare kind vir my. Ons politiek het niks met mekaar te doen nie. Skryf iets wat ons laat bots, en ek bid jou dood!” (bl.207)
Die ironie ontglip my nie toe ek inderhaas na my ma toe jaag met Krog se nuwe boek op my kar se voorsitplek nie. Ek het jare gelede by my ouers oorgeslaap – maar my vriendin Sunel het my oortuig om my klere op te bondel en my ma te bel nadat ek eenvoudig nie die sleutel in die slot van my voordeur kon druk nie. Sedert verlede jaar se traumatiese inbraak, verbeel ek myself gereeld ek hoor iemand deur die huis loop. Kilnerpark-sekuriteit loop drie keer ’n week deur my erf met ’n flits en dit raak nou embarrassing om hulle so aanhoudend te bel. Ek voel veiliger op die pad. Maar nou moet ek teenoor my ma erken: Ek het Ma nodig, meer as voorheen.
“Hierdie outobiografiese roman is eintlik ’n boek wat nie moes gewees het nie, maar omdat soveel wat voortspruit uit my ma my nie wou los nie, moes ek ’n manier vind om ons gesprekke voort te sit om ’n afsluitende helderheid te probeer kry,” skryf Krog (bl.237–8) aan die einde van Binnerym van bloed. Op ’n stadium in die teks bespreek die Antjie-karakter en haar suster Helena hulle ma se outobiografie:
“Daarin lyk dit ek het die gedig ‘Ma’ geskryf toe ek omtrent nog in die doeke was.”
Helena lag. “Ek was by toe sy ’n joernalis uittrap oor sy vra of Ma trots is op die gedig. Ma sê: ‘My liewe mens, die gedig is een groot donnerse belediging!’” (bl.231)
“My liewe mens, die gedig is een groot donnerse belediging!”
In die teks erken Antjie bloots watse prominente rol haar ma in haar lewe gespeel het. “’n Mens se ma is waarskynlik die een wat jy die meeste kere verlaat, maar sy doen nooit,” skryf sy, en merk op dat die literatuur ma-dogter-verhoudings verbasend min ondersoek (bl.36–7).
Identiteit en transformasie
Transformasie is die kern waaruit Krog haar politieke diskoers al sedert 1994 probeer deurgrond. Sy glo in ’n onbepaalde self en dat menswees ’n proses van selfkonstruksie behels. Die spilpunt waarom transformasie draai is tog gebonde aan versoening – met al die kontroversie wat Krog se oeuvre al veroorsaak het, was dit opregte vonke van vernuwing wat gestreef het na ’n medemenslikheid. Sy was gewillig om haarself as die offerande aan te bied, ter wille van ons almal, om daai ongemaklike debatte te voer wat niemand anders bereid was om aan te raak nie.
In Binnerym van bloed sit Krog haar naarstiglike selfondersoek voort deur met integriteit die spore van haar ma na te volg en te fokus op haar eie familie: “Die huis waarin ons almal eens ’n gesin was” (bl.5). In ’n briewegesprek met haar ma skryf Antjie uit Antwerpen in 2013: “Hoofsaak is egter dat ek nie meer kans sien om die antjie krog wat ek (of is dit jy?) op die been gebring het verder in stand te hou nie. Ek is moeg, en veral moeg van háár” (bl.40–1). Dit moet uitputtend wees om so publiek te leef met ’n private ingesteldheid. Die boek delf in die postkoloniale trauma van die Afrikanerpsige deur intieme gesprekke met haar ma en bestaan uit hospitaalverslae, briewe, sketse, papierpoppe en allerhande ander strooi wat as bewyse dien van ’n geleefde lewe.
Dis interessant om te sien hoe Dot steeds vir Antjie ondersteun deur elke faset van haar lewe, al het sy haarself polities van haar dogter gedistansieer. Die grootste deel van die transformasie-trilogie suggereer dat Krog poog om ’n ander soort identiteit te verbeel en na te streef, ’n identiteit wat sy nog nie besit nie, maar een wat haar dalk uiteindelik sal toelaat om te hoort in Suid-Afrika en Afrika. In die hoofstukke oor Moshoeshoe, in Begging to be Black (2009), voer Krog aan dat Swart mense in Suid-Afrika se lewens oor koherensie beskik het voor die koms van die koloniste en Wit sendelinge. Krog glo dat koherensie in Suid-Afrika teruggewen kan word deur groter begrip van interkonneksie en die omhelsing van ’n Afrika-wêreldbeeld teenoor ’n Westerse wêreldbeeld. In Binnerym van bloed vind Krog hierdie interkonneksie met haar ma, die persoon waarvan mens nooit werklik kan wegbreek nie.
Toe Begging to be Black deur Krog verskyn het, is dit beskou as die derde boek in ’n trilogie – beginnende met Country of my skull (1998) wat die gruwels van apartheid opgeteken het. Die ooreenkomste tussen Country of my skull, A change of tongue (2003) en Begging to be Black is opvallend. Die drie tekste kan as ’n outobiografie van postkoloniale wording bestudeer word. In Binnerym van bloed ondersoek Krog vir die eerste keer die posttraumatiese simptome wat kolonialisme op die Afrikaner agtergelaat het, and it’s a lot:
Want ek hoop dat, as ons kan erken dat posttraumatiese stres op vreeslike maniere by óns uitgebars het ná die oorlog, ons miskien simpatieker sal staan teenoor al die traumatiese stres wat in die land aan die uitbreek is sedert 1994. (bl.77–8)
In hierdie sin beskou ek Binnerym van bloed as ’n laaste skakel met die transformasie-trilogie, want hier het sy haar binneaarse-ervarings oopgekloof. ’n Nuwe identiteit kom na vore, een waar die onregte wat teen Afrikaners gepleeg is tydens die Anglo-Boereoorlog, erkenning kry – en waar Krog met deernis en opregtheid haarself in haar ma se skoene probeer plaas om ’n groter Afrika-wêreldbeeld te skep.
“Krog glo dat koherensie in Suid-Afrika teruggewen kan word deur groter begrip van interkonneksie en die omhelsing van ’n Afrika-wêreldbeeld teenoor ’n Westerse wêreldbeeld. In Binnerym van bloed vind Krog hierdie interkonneksie met haar ma, die persoon waarvan mens nooit werklik kan wegbreek nie.”
Alhoewel Antjie en haar ma ’n hegte band deel, wat duidelik na vore kom in hulle briewewisseling en gesprekke, was dit kompleks: “Ek en my ma se politiek het nog nooit saamgeloop nie” (bl.43). Vir polities bewuste skrywers moes hulle meningsverskil oor politiek mekaar behoorlik befoeter het. Nie een van die twee vroue is op die bek geval nie, wat hulle verhouding verder kompliseer: “My liewe kind, ek lees lankal nie meer wat jy skryf (vir my onverstaanbaar) en veral wat jy oor my skryf nie (grillingswaardig)” (bl.62).
Krog se doelbewuste wegbeweging van Afrikaans om in te skakel by ’n groter Afrika-wêreldbeeld was destyds deur sommige Afrikaners beskou as volksverraad. Toe Country of my skull byvoorbeeld in Engels gepubliseer is, is dit beskou as Krog se manier om haarself openlik te distansieer van Afrikaans en Afrikaners. Sommige mense het haar beskou as ’n verraaier, maar dit was deel van ’n wroegende proses van transformasie.
Max du Preez (in die 2009-Rapport-artikel Identiteit-selfmoord is beslis nie nodig nie) het Krog al self van “identiteitsmoord” beskuldig weens haar “handwringery” in Begging to be Black. Hierdie proses in die transformasie-trilogie word gesimboliseer deur Krog se verhouding met haar ma, volgens Louise Viljoen: “Begging to be Black demonstrates the letting go of the coherency embodied in the beloved and the intractable mother is an arduous and difficult process.” Vir iemand wat so lief is vir hulle moedertaal, moeder en moederland kon hierdie transformasie-trilogie iemand soos Krog se siel uitteer. Dus kan ek verstaan dat Krog moeg is daarvan om aan die wêreld te verduidelik waar sy staan binne hierdie Afrika-wêreldbeeld waarin sy haar probeer verbeel.
Iets binne my gee mee. Onverklaarbaar. ’n Tumult is in my bors. My hele binneste bars oop, fondasies knars kwaadaardig soos bourommel en laat my huilend in dor geluide, die weeklaag van ’n beroofde so swaar dat dit voel asof ek nie eens my kop kan lig nie. Ná wat soos ure voel, stap ek terug – slepend aan die drag van wit vel en skor Afrikanertong. (bl.135)
Is dit moontlik dat Krog haar Afrikanertong weer laat klap in haar moedertaal? Persoonlik stem ek saam dat transformasie poreus is, dat mens se binnewêreld bestaan uit teenstrydighede en dat hierdie teësinnige gedagtes binne onsself dikwels uitkom in die botsings met mens se ma. Binnerym van bloed is nie soseer polities gedrewe nie, but the personal is political, so mens kan steeds nie help om te wonder waarom die Anglo-Boereoorlog nou in die transformasie plaasvind nie.
Dis tog haar ma by wie sy haar liefde vir Afrikaans ontwikkel het:
Selfs nou hier waar ons in die sitkamer sit, verstom ek my oor haar taalgebruik. Ek ken niemand wat so akkuraat met Afrikaans kan omgaan nie. […] Ons was ’n geletterde gesin met boeke wat elke maand gekom het. My pa self was iemand wat altyd die onbetreklike raakgesien het – wat altyd moeiliker is om te formuleer. So ek het grootgeword in ’n huis waarin mense met taal geworstel het om die ongewone gesê te kry. (bl.67–8)
Liggaamlike benadering
Krog se liggaamlike taalgebruik beskryf met integriteit hoe haar ma afgetakel word deur ouderdom, maar steeds haar karakter behou. Ek kners op my tande terwyl ek haar ma se hospitaalverslae lees en haar humor sien deurskemer in elke sin. “Tannie Tienie het vandag by my kom kuier. Sy halfdoof en ek halfblind, so ons het ’n heerlike tyd gehad” (bl.38). Met die gekskeerdery wat gepaard gaan om ouderdom meer verdraagsaam te maak, is daar ook verlies en smart. Saam met haar ma se liggaamlike aftakeling en haar fors vir die lewe, is daar ook dele waar haar geheue meegee en die verval van taal en identiteit opvallend raak: “Hulle sê mos, die verskil tussen oud en stokoud is ’n val” (bl.10).
In een van die briewe van haar ma, gee Dot toe: “Ag, ek dink so baie aan jou en hoe dit ons liggame is wat ons moontlik maak” (bl.23).
En later:
Ek is nou by die gevaarlikste van alle ouderdomme. Jy het lus om jou lewe oor te gee in die hande van die jongeres, die meer bekwames, diegene wat die elektroniese dinge verstaan, dié wat intussen meer selfvertroue as jy gekry het, wat met ratse internasionale breine werk, wat met idealisme doen en geniet en kinders op nuwe maniere grootmaak. (bl.160)
Die verweerde reste van witheid
Gedurende hulle gesprekke konfronteer Antjie haar ma oor die traumasimptome wat Afrikaners beleef het na die Anglo-Boereoorlog. Haar ma is teensinnig om daaroor te praat weens haar trots en haar veragting in smartvrate: “My ma kyk op en besef, miskien te laat, waarheen die gesprek op pad is” (bl.126). Dit kom by tye voor asof dit so goed is soos om bloed uit ’n klip te tap: “Jissie, Ma, ek soek al vir jare na verhale van tekens van traumatiese stres onder Afrikaners. Waar is dit heen? Hoe lyk dit? Hoe het dit gemanifesteer?” (bl.76). Dis waar, Krog probeer met meer empatie uit die perspektief van die Afrikaner die wêreld beskou, sodat ons kan verstaan in watse gemors ons tans sit.
Haar ma se huiwering om as ’n martelaar uitgebeeld te word dui op die tydsgees waarbinne sy grootgeword het. “Was daar familielede wat, as jy nou terugdink, wat traumasimptome gehad het? Ek weet so iets is nog nie begryp daardie tyd nie” (bl.57). Die gesprekke met haar ma verskaf aan Krog die geleentheid om haar idees oor die impak van kolonialisme op die Wit Afrikanerpsige te formuleer, sonder dat dit geforseerd voorkom. Al word ’n bevredigende eenheid uiteindelik tussen die gesprekke bewerkstellig, is hulle dikwels frustrerend, sonder duidelike oplossings of merkbare wedersydse insig, soos wanneer sy vir haar ma sê: “Ai nee jirre, Ma, hier het jy dit skielik, alles waarna ek soek vir my artikel.” Waarop haar ma antwoord: “Maar dis in my boeke!” en Antjie voortgaan om haar ma uit te daag. “Nee, dit is nie! Ek het spesifiek gekyk. Dis nie oor trauma nie” (bl.77).
Dot vertel:
Ek het afgekom op testimonies oor verkragtings en seksuele aanranding wat gedurende die Boereoorlog plaasgevind het. Dit is maar net vier-en-twintig voorvalle, maar ek was verstom om te sien twee daarvan kom uit Kroonstad-distrik. Ons het altyd gehoor dit was ’n vreeslike oorlog, maar verkragtings was daar nie. (bl.56)
In die teks probeer Antjie haar ma se herinneringe uitpluis, maar word gereeld deur ’n weerstandige muur gekonfronteer. “Natuurlik plooi ’n mens dit agterna so! Ons het geweet, maar ter wille van die slagoffers uitgevee” (bl.57). Haar ma hou vol dat die Afrikaner nooit in sak en as gaan sit het nie. Dit was eenvoudig nie moontlik om slagofferskap te eis nie; daarvoor was tyd en energie nie te verspil nie:
Luister, niks wat ons gedoen het was ooit goed genoeg vir die Engelse nie. So die waarskuwings waarvan jy praat was ook maar net deel van hierdie onuitputlike bron van minagting oor ons sogenaamde stompsinnige onbevoegdheid en totale afwesigheid van liberale moraliteit. (bl.126–7)
Krog bied vir haar ma ’n stemtoon om die trauma van die Afrikanerpsige te artikuleer waaroor daar vandag nie meer gepraat word nie, en dis verstommend, want die transformasie-trilogie het opsetlik daarvan wegbeweeg.
Dit is nou moeilik om te beskryf, maar jy het gevoel dat jy gesien word as ’n eendimensionele wese rondgestuur deur waarsêery, asof jy geen wortels het nie, geen kultuur aan jou diepte of kompleksiteit kon verskaf nie. As jy iets buitengewoons gedoen het, was dit bloot geluk en sou jy binnekort ontbloot word as ’n kansvatter en dief. (bl.125–6)
Miskien is daar ’n tyd en plek vir alles binne hierdie ewigdurende soeke na identiteit en transformasie. Dalk is dit tyd om weer die kampdagboeke te besoek, vir antwoorde, om die raaisels rondom identiteitspolitiek te bespreek.
Ek was onlangs vir die eerste keer by Innibos en het die Afrikaner se behoefte om die laer te trek met hulle ossewaens weer aanskou: Hou die vyand buite. Dit is die boodskap wat steeds by van ons land se Afrikaanse kunstefeeste verkondig word. In hierdie verweerde reste van witheid in ons jaloers-bewaakte identiteit het Krog ’n pad na medemenslikheid probeer uitkerf waar daar ’n Afrika-wêreldbeeld teenwoordig is in ons soeke na ons self: want die Afrikaner-traumasimptome is steeds teenwoordig in ons kuns en literatuur. Daar is steeds hierdie behoefte om te behoort, en dit bly eksklusief. Die Afrikaner voel steeds in bedwang.
Miskien sal ons ouers en ons oumas en oupas redeneer die angs is real; ons kan nie die bedreiging ontken nie. ’n Tannie op die feesbus waarop ek ry na Innibos se Boeke-Crawl kyk my met deernis aan terwyl sy sê: “Is dit nie wonderlik dat Afrikaans altyd ’n manier vind om te oorleef deur saam te trek wanneer dit die moeilikste gaan nie?” Ek weet nie wat om daarop te antwoord nie en glimlag net, want Innibos verteenwoordig nie my identiteit as ’n Afrikaner nie. Dis te Wit en Afrikaans vir my.
Ek dink aan die gesprek tussen Antjie en Dot oor die Anglo-Boereoorlog: “As ons ’n behoefte aan iets gehad het, het ons dit self geskep: eie besighede, eie geskiedenis en mense in poste aangestel om ons belange te dien en so ons armes op te hef” (bl.126). Hierdie ingesteldheid word steeds ingehamer. Hierdie land het sy geloof in die staat verloor om demokrasie toe te pas. Ek is nie ’n politikus nie en bogenoemde is bloot my eie benadering tot Binnerym van bloed.
***
Met ’n paar kledingstukke in my hand, daag ek by my ouers op. My ma sluit die deur oop en druk een van my pa se sterk kalmeerpille in my mond. Ek gaan sit salig op hulle sitkamerbank terwyl my ma vir ons koffie en tee skink in die kombuis, en probeer stadig tot verhaal kom oor my angs wat ek nie kan plaas nie. My woorde trek langsaam saam met die tee wat ek aanhoudend roer.
“Glo Ma in energie?” vra ek versigtig.
“Nee, maar jou tannie Gretchen het,” antwoord sy terwyl sy haar bes doen om nie verdag te lyk nie.
“Spoke?” probeer ek weer.
“Nee, ek glo nie in spoke nie, maar jou ouma het.”
“Vibes?”
“Ek dink ek verstaan wat jy probeer sê,” gee my pa uiteindelik toe.
“Daar is hierdie yskoue energie in my huis wat my nie langer daar soek nie. Ek gaan my huis op die mark sit.”
“Jy is aangeval in jou huis, dis nie ’n energie nie, dis posttraumatiese stres,” sê my ma verstandig.
Ek trek my kamerjas styf om my terwyl sy my deur die gang lei na die gastekamer.
“Sien, hier is niks nie,” sê my ma terwyl sy die verwarmer vir my aansit.
Dalk lê versoening met jou land en met jou moedertaal daarin om vrede te maak met jou ma. Nes sy is. Dalk is dit oukei om te erken ons het ook iewers seergekry, en dat daai wonde weer manifesteer op tye wat ons dit die heel minste verwag. Krog se hewige gesprekke met haar ma dui op ’n pad na versoening, al het hulle ook van mekaar verskil.
“Dalk lê versoening met jou land en met jou moedertaal daarin om vrede te maak met jou ma. Nes sy is. Dalk is dit oukei om te erken ons het ook iewers seergekry, en dat daai wonde weer manifesteer op tye wat ons dit die heel minste verwag. Krog se hewige gesprekke met haar ma dui op ’n pad na versoening, al het hulle ook van mekaar verskil.”
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die binnelandskap van Antjie Krog se moedertaal gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.