AfrikaBurn: 'n inisiasieproses à la Sewe dae by die Silbersteins

AfrikaBurn: 'n inisiasieproses à la Sewe dae by die Silbersteins

Foto’s: Kyle Kingsley

Celeste Theron se trip

“Weet jy hoe om ’n wiel om te ruil?” vra Klarablaar my toe ons in die kar inklim op pad na AfrikaBurn op ons Thelma and Louise mission. “Nee,” antwoord ek, terwyl ek iewers langs die pad ’n plek soek waar ons gou kan stop vir koffie in Kaapstad. Ek kyk verlangend na die groot rokerige stad by die see. “Pasop!” skree sy, maar die man langs my ruit se arms is reeds om my keel. Ek baklei terug en probeer sy hande afweer wat my wurg met die ketting om my nek. Die verkeerslig flits rooi. Bekommerde gesigte kyk verbouereerd na die toneel en haal hulle skouers op. Die ketting plons in my skoot. Klarablaar trap die petrol. Met ’n oopgeplukte rok koop ons inkopies vir die lang pad wat voorlê na die ietwat ongenaakbare landskap waar AfrikaBurn geleë is in die Tankwa Karoo.

Om by AfrikaBurn ingelei te word, voel ’n bietjie soos die inisiasieproses wat die jong, onskuldige Henry van Eeden moet deurmaak in die roman Sewe dae by die Silbersteins – geskryf deur Etienne Leroux. Deur die verloop van sewe dae ontmoet die protagonis elke aand groepe mense by partytjies – die rykes, die kunstenaars, die boere en die intellektueles – wat die verskillende lae van die samelewing verteenwoordig en aan hom verskeie aspekte van die moderne mens se problematiek openbaar. Deur die inisiasieproses moet Henry sy onskuld verloor, bewus word van die verstrengeldheid van die goeie en die bose, van die gesigloosheid van ’n God en die eensaamheid van die moderne mens, voordat hy waardig genoeg is om sy bruid te ontmoet. Dit voel dus gepas dat ek op Walpurgisnacht, die 1ste Mei, by Klarablaar se voordeur opdaag: bekend as die heksesabat in Silbersteins.

Met ’n oorbelaaide Jimny draai ons deur die Cederberge-pas met sy neongeel aksente, swartgebrande klip en warm bergwinde. Ons seil deur die rooi stof van Touwsrivier. Botterboom. Renosterbos. Melkbos. Gebreekte klip en vygies vlieg verby die venster. Ons het op die impuls van die oomblik op dié mission besluit en nie aangesluit by een van die groot kampe nie. Nes Henry, daag ek en Klarablaar op as twee windverwaaide outsiders wat geen bydrae het tot die AfrikaBurn-gemeenskap-etos nie. Met ’n oop hart, oop gemoed, ’n verlange na die durf van chaos en ’n oorgawe aan die lewenskragtige anargie wat die beweging simboliseer, slaan ons tente op in die skemer vir twee dae se verblyf.

Ons seil deur die rooi stof van Touwsrivier. Botterboom. Renosterbos. Melkbos. Gebreekte klip en vygies vlieg verby die venster.
— Celeste Theron

Wat is AfrikaBurn?

AfrikaBurn is ’n eksperiment, eerder as ’n fees, wat moontlik gemaak word deur ’n gemeenskaplike poging om ’n nuwe wêreld te verbeel waarin mens saam kan speel, skep en droom. Elke jaar is daar ’n tema; hierdie jaar is dit Creation. Die etos van hierdie gemeenskaplike poging berus op 11 beginsels: radikale selfstandigheid in die woestyn, deelname, betrokkenheid by die welstand van die gemeenskap, dekommodifikasie, vrygewigheid, laat geen spoor nie, selfuitdrukking, radikale insluiting, elkeen-leer-een, onmiddellikheid en burgerlike verantwoordelikheid. In hulle oorlewingsgids staan daar: “Jy bou die kamp, die kunswerke en die gemuteerde voertuie. Jy is kunstenaar en gehoor. Daar is geen ‘hulle’ nie – daar is net ‘ons’. En ons is almal saam in die ding. AfrikaBurn is ’n Suid-Afrikaanse streeksweergawe van Burning Man en jy woon dit nie by nie – jy skep dit.” 

Die kunswerke en kostuums

Tankwa Town is uitgelê in die vorm van ’n perdehoef met twee horings en ’n lang stert. Die kunswerke is grotendeels in die middel van die perdehoef opgestel, wat as die binnekring bekend staan. Die paaie om hierdie perdehoef is genommer om te funksioneer soos ’n horlosie waarrondom die temakampe opgestel is. Elke temakamp is ’n portaal wat geheel en al sy eie vibe het. Deur die verloop van die fees word die enorme beeldhouwerke wat deur feesgangers geskep is, verbrand, wat my herinner aan ’n strofe uit Silbersteins: “Daar is verskeie beelde van God. Maar hoe lyk die oorspronklike? Ons weet nie. Daar is ’n oorspronklike agter ons beelde, maar dis ontoeganklik. Ons het die goddelike essensie leer ken deur ons beelde.” 

Daar is verskeie beelde van God. Maar hoe lyk die oorspronklike? Ons weet nie. Daar is ’n oorspronklike agter ons beelde, maar dis ontoeganklik. Ons het die goddelike essensie leer ken deur ons beelde.
— Etienne Leroux in Sewe dae by die Silbersteins

’n Beeld van ’n slang wat sy stert insluk, Ouroboros, vang my aandag. Dit is geskep deur Daya Heller wat verantwoordelik is vir ’n paar van die beeldhouwerke. Dan is daar die SpaceArk met ’n ronde hangmat waarin jy kan lê. Die sfeer, Scratch, deur Nathan Victor Honey lyk of dit uit die ruimte geval het en gaan ontplof. ’n Man wat besig is om te sterf aan kanker, word ingevlieg om deel te neem aan die Tree of life wat aan die brand gesteek word, wat hy gehelp konsepsualiseer het saam met Laurence Brown. Prometheus, ’n helder vlinder, beweeg met sy verligte vlerke oor die fees waaronder mense rave.

Dit is verbysterend om sulke kolosale en kosbare beelde te sien verbrand wat lei tot die disintegrasie van die preciousness van jou psige en die waarde wat mens heg aan mensgemaakte skeppings. Uit hierdie verbryselde elemente verrys iets wat verby die absurde steek. Dit bied vir ’n oomblik ’n nuwe integrale dimensie vir mens in die gemeensaamheid van ander mense. Jy besef alles wat jy skep, is vlietend. Laat my toe om nog meer pretentieus te wees en te noem dat die siklus my herinner aan Jung se individuasieproses waardeur die mens die verskillende aspekte van sy psige moet harmoniseer om ’n “ware self” te ontwikkel. Die konstruksie van ’n kostuum vir elke aand se partytjie vorm deel van hierdie speletjie waar mens verskeie karaktertrekke van jouself kan beklemtoon en vir ’n aand daardeur meegevoer mag word.

my interpretasie van die gegewens oor twee dae

Terwyl ek ’n vintage Elzbieta Rosenwerth-rok oor my kop trek wat ek by ’n pandjieswinkel opgetel het, gooi Klarablaar vir ons groot bekers wyn in die skemer met ons aankoms op die Vrydagaand. Die kop van ’n bidsprinkaan dien as my hooftooisel. Ons loer eerste in by die Mucho Gusto-tent van Australië waar verskeie performance art pieces opgevoer word. Cocktails word geskink en gedrink. Volgende op die spel is die Bangers and Mash-tent wat disco speel en 24 uur lank vir almal kos bedien. Ek klim op die verhoog en dans op MIA. Ons maak ’n draai by ’n interactive drawing station waar iemand jou sketse in poetry omskep en dan musiek daarvan maak. 

’n Tent van Italië en Indië is volgende op ons reis. “Dis ’n harem,” fluister Klarablaar toe ek my skoene uittrek voor die Love-tent en myself op een van die persiese matte neervly. “Okay, baai,” sê Klarablaar toe ’n couple nader skuif en my nuuskierig betrag op die mat. Ek gesels die hele aand met Setsego en haar boyfriend van Iran wat my probeer oortuig om saam met hulle kinders groot te maak in die berge. Haar uitrusting herinner my aan Grace Jones. “Would you like to be cuddled?” vra Setsego en kom lê in my arms op die mat. Dis nogal lekker om gekoester te word. Ons deel stories oor moederskap. Haar boyfriend gaan haal vir ons ’n kombers. “You look like Rachel Weisz,” sê die man wat my innooi by die Motherfucking Queens-tent. Dis alles baie gucci: spieëlkaste, satynbanke en fyngeweefde matte. ’n Vrou kom kniel voor my op ’n bank en voer ’n eiesoortige dans oor my uit voordat sy my op die kop soen en verdwyn.

Die volgende oggend braai ek vir ons spek en eiers in die son. Klarablaar lees vir ons voor uit Totius: 

En as die wind
jou rust’loos roer
Dan hoor ek hierdie spraak:
Al lyk ek nou
So dubeel dood –
Ek sal weer herontwaak!

In die luiheid van die sonligmiddag gaan sit ons op ’n bank wat swierig versier is met blomme en swaai in die wind waar ons heeldag gesels met die verbygangers en mense se gesprekke afluister. Ons luister na: “Kunstenaars in hulle stryd teen die norme, joernaliste in hulle stryd teen die waarheid, rykes in hulle stryd teen rykdom, boere in hulle stryd teen teling, idealiste in hulle stryd teen kleur en intellektuele in hulle stryd teen vrye denke”, om Leroux weer aan te haal. “People come here to do what they fantasise of achieving in real life,” hoor ek iemand vir sy vriend sê. Buite het dit intussen donker begin word en ons besluit om by die Spirit-trein aan te sluit, wat begin rumoerig raak met ’n groot partytjie waar drie DJ’s besig is om te perform, terwyl daar vuur van iewers spuug. Wisselend van kleur en geur verskyn die een dansende gedaante ná die ander skouspelagtig in die helderwordende skemer voor die trein – bere, leeus, verleidsters en katte – op die maat van kattekwaad. “Kom ons gaan kyk kuns,” beveel Klarablaar, en trek my na die Tempel van Verlies. “Jy moet alleen ingaan, ek sal hier vir jou wag.” Ek sou eers later hoor die Tempel se werklike naam is LuminEssence.

Ek dwaal deur die spiraaltrappe van die Tempel. Dis drie verdiepings hoog. Skielik is dit donker. Bo in die Tempel waai die wind geniepsig deur die hemelruim. Die dak waardeur die sterre tuimel is noukeurig gehekel. Die deure is ’n hart wat twee gesigte vorm. Ek skryf my verlies neer met ’n pen op die Tempel se dak en verdwaal vir ’n oomblik in my smart, terwyl ek die ander mense se inskrywings lees oor wat hulle verloor het. Daar is klokke wat weergalm en kerse in hoekies saam met foto’s versteek. Is dit werklik al wat ek verloor het, vra ek my af terwyl ek drie keer om die dak stap. Klarablaar is deur die wind opgeraap toe ek uit die Tempel stap. Geen teken van my beste vriendin nie. Ek sluit by ’n vuur aan. ’n Man bied vir my ’n beker water aan, terwyl hy met sy vingers iets in die sand skryf. Ek jaag die een vuur na die ander in die wind en kyk hoe flenters hout versplinter van die een fantastiese installasie na die ander wat tot niet gaan.

“Can I offer you a beer?” vra ’n man met die naam Darren met ’n waentjie waarop daar staan: We will dance again. Darren se vriendekring neem my aan om die vuur. Dit voel of my brein asemhaal. Ek voel fantasties. Ons gesels land en sand terwyl mense hulle klere begin afstroop en in ’n sirkel dans om die vonke. “Have you ever danced around a fire?” vra Darren. Ek begin my klere uittrek. “Hold my cloak and wait here for me, please.” Met sidderende oorgawe hardloop ek naak deur die stof saam met die nuuskierige menigte en skree verse van verlange na die nag. ’n Man gryp my hand: “You should never dance alone around a fire.” Ons voltooi die siklus. Darren is weg. Asook my klere. 

Ek begin tranerig word. “Don’t worry, it happens all the time, we’ll find your friends,” sê ’n ouerige couple en help my soek na my klere met ’n koplig. Wragtig, daar vind ek vir Darren en my nuutgevonde vriende wat my jas om my skouers gooi en vir my ’n stywe druk gee terwyl iemand vir my ’n bier oopmaak. Iemand plaas groot engelvlerke op my rug met liggies en kondig aan dat ek getransformeer het na ’n nuwe dimensie in die AfrikaBurn-realm. Ek is verheug en wapper my nuwe vlerke vir my vriende. Langs my staan ’n man in ’n lang jas en oopgeknoopte hemp wat elke nou en dan skaam-skaam vir my loer; fors van gestalte, sy torso versier met kersfeesliggies onder sy jas, met ’n oorbel wat blink onder sy digte bos hare – ’n toonbeeld van selfgenoegsaamheid. 

“Can I introduce you to my friend, Joshua?” tik iemand my op die skouer. Ja, amen, jy mag maar. Ek dans saam met Joshua onder die sterre. Hy vleg sy vingers deur my hare en trek my deur die sandduine waar hy my soen. Met ons hande inmekaar geweef gaan dans ons ’n draai deur elke tent. Hy neem my gesig in sy hande. Iemand tik my weer op die skouer. “Did you guys just meet?” Ek knik en kyk ingenome na Joshua wat my hare uit my gesig vee. Die vreemdeling met die vraag druk ’n polaroid in my hand. Ons besoek die Tempel van Verlies saam en gaan sit op die sand waar Joshua my leer hoe om die singing bowl te speel, sonder dat ons enige iets van ons verlede deel. Die ervaring vereis dat ek myself toespits op die onmiddellikheid van die oomblik om die teenwoordigheid daarvan te ontvang. Dit herinner my aan ’n Hermann Hesse-aanhaling uit Siddhartha wat lui: “It tasted of woman and man, of sun and forest, of animal and flower, of every fruit, of every pleasure. It was intoxicating.”

Dit herinner my aan ’n Hermann Hesse-aanhaling uit Siddhartha wat lui: ‘It tasted of woman and man, of sun and forest, of animal and flower, of every fruit, of every pleasure. It was intoxicating.’
— Celeste Theron

Ek verloor vir Joshua toe ek per ongeluk deur ’n gleuf klim in ’n driehoekige struktuur. Die klein driehoekige struktuur is ’n sauna. “Close the door!” klink ’n stem. Die figuur by die vuurherd sit in ’n hurkende posisie, sy ontblote penis aan die gloeiende kole blootgestel, terwyl hy die vuur stook met ’n stok en ’n meditasie begin lei. Ek loer deur ’n toegewasemde venster in die muur, maar Joshua is weg. “Remove your clothes,” fluister die stem. Buite is dit koud en droog. Ek pak my klere in ’n hopie en loer na die agt naak figure wat rosig gloei in die glans van die vlammende kole. Langs my sit Adam en die couple wat my die vorige aand probeer oortuig het om saam met hulle kinders die lewe in te bring. ’n Druppeltjie sweet verskyn op my voorkop. Ek hou my beret stewig op my kop. Teen sonopkoms glip ek weg na my tent en tel die verskietende sterre.

Ek en Klarablaar word wakker gemaak met tuisgemaakte beskuit wat ons buurman vir ons aandra. Jacobus is ’n boerseun met goeie maniere en ’n lekker playlist. Ons sluit by sy tent aan en roer Amarula in ons koffie voordat ons begin oppak. Hy gee vir ons elkeen ’n skets. “Julle is my tipe mense,” groet Jacobus ons terwyl daar nommers geruil word. ’n Rooi renosterstert-skerpioen skarrel deur my tent. Die kar luier toe Klarablaar dit aanskakel. “Die kar slaan aan die brand, spring uit!” gil sy skielik. “Dis net my vape,” stel ek haar gerus. Dis ’n gesukkel op die lang pad terug huis toe. Vervuld maar gedaan sit ons in die nagloed van AfrikaBurn in die verkeer en deel gedagtes oor ons ervaring by die fees. Ek dink ’n mens is so gewoond daaraan om altyd iets iewers te verloor by ’n party dat dit byna onwerklik voel om soveel te ontvang. Ongelukkig het ons nie gebly vir die silent burn van die Tempel wat plaasgevind het op die Sondagaand nie.

Ons ry terug met die R46 deur Michellspas, tussen Wellington en Ceres aan die voetheuwels van die Hexrivier. Dis ’n eienaardige plek wat blykbaar sy naam verkry het van die legende van ’n mooi meisie met die naam Eliza Meiring wat as ’n bekoorlike heks onder die mense van die gemeenskap bekend gestaan het, omdat haar minnaar vir haar ’n disa in die mees onbegaanbare kranse van die Matroosberg gaan soek het en hom doodgeval het. Ek kyk na die veld wat verbyflits. Die bewegende landskap het ’n hipnotiese effek. Ek wonder oor die liefde en verlies, oor die Tempel waarin ek verdwaal het en besef wat ek van die ervaring geleer het. In Kraaifontein brand ons clutch uit en ons uber terug na Kaapstad in stilte. Toe ek Facebook oopmaak, is daar ’n friend request van Joshua.

Volgende jaar sal ek deelneem met deurdagte deernis, want om onvoorwaardelik te gee is soveel lekkerder as om iets te ontvang. Dankie vir die ervaring, Klarablaar. Yes, ander Burners sal my seker roast omdat ek niks bygedra het tot die sosialistiese stelsel wat hierdie fees moontlik maak nie. Maar mag ek maar vry wees en vry in die Karoo, al is dit net vir ’n oomblik? Ek het wel intussen geleer hoe om ’n wiel om te ruil.

Foto’s verskaf deur skrywer

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van AfrikaBurn: 'n inisiasieproses à la Sewe dae by die Silbersteins gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand