Coenie de Villiers en Deon Meyer se Karoonagte

Foto: Maryna Cotton en Sarel van Staden

Die lang pad na Roem

’n Vriendskap tussen twee bekroonde kreatiewe mense wat saam aan ’n projek werk, kan net tot groot dinge lei. Veral as jy praat van Coenie de Villiers en Deon Meyer. Die vriendskap tussen dié twee mans – een bekend vir sy vlytige klaviervingers, lirieke en fluweelstem; die ander vir sy vernuf met woorde as misdaadskrywer en ook as filmmaker – strek oor meer as vier dekades. En die Karoo is die hart van hulle vriendskap en projekte.

Die afgelope paar jaar het hulle gehore gaande gehad met multimediavertonings – eers Karoo Suite en toe Karoo Suite 2: Karoonagte. In eersgenoemde het hulle foto’s wat Deon deur die jare in die Karoo geneem het, gebruik. In laasgenoemde, foto’s deur die National Aeronautics and Space Administration (NASA) en nagfotografie deur die National Geographic-fotograwe, Maryna Cotton en haar man en vennoot Sarel van Staden, wat ook in die Karoo woon.

Karoo Suite 2: Karoonagte verwys na Deon se gelyknamige boek en Coenie se bekende lied. Dis Deon se nagverhale wat hy self op die verhoog vertel. Die musikant wat hulle bystaan, is die kitaarmaestro Mauritz Lotz. Dié multimediavertoning sluit ook animasie deur die bekende kunstenaar Diek Grobler in.

Vanjaar is hulle terug met hulle eerste musiekblyspel Roem: ’n musiekverhaal as skrywer (Deon), komponis (Coenie) en vervaardigers. Dit het Anrich Herbst, Eldon van der Merwe, Daneel van der Walt en Nelandi Boshoff in die rolverdeling. Nicole Holm is die regisseur en Mauritz Lotz en Blake Hellaby die musikante. Vir die Kaapse speelvak by die afgelope Suidoosterfees het Ryan Truter vir Mauritz ingestaan.

Die storie handel oor ’n afgetrede musikant wat sy pa se motorhawe op die platteland gaan oorneem. Hy het sy kitaar neergesit en sy sangstem is stil. Die aantreklikheid van die stadsliggies het verdof.

Dan spoor sy dogter hom op. Hy het nie geweet van haar bestaan nie en so saam met haar leer ken, is daar ook die herontdekking van sy talent. Haar kop staan na roem toe en hy probeer haar afraai, omdat hy sy vlerke geskroei het.

Die stuk maak einde Maart sy debuut by die 28ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en word vir verskeie Kannas genomineer. Eldon van der Merwe, hierdie jaar ook vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir jong stem, word in Mei bekroon met die Kanna vir beste manlike speler in ’n ondersteunende rol vir sy spel. Nelandi Boshoff word genomineer vir ’n Kanna (beste opkomende kunstenaar of nuweling) vir haar spel. Stefan Benadé en Nicole Holm word genomineer vir beste tegniese bydrae en stelontwerp.

Presies hoe mal die twee ou vriende oor die Karoo is, skemer ook in Roem deur: Die motorhawe waar ’n groot deel van die musiekblyspel afspeel, is op Loxton gesetel. 

Coenie het met die Karoo grootgeword. Sy familie in die Bo-Karoo en hy en sy vrou Ria het ’n huis op Oudtshoorn. Dis hulle toevlugsoord as die lewe in die stad te veel word.

Deon het weer as kind saam met sy familie op pad Kaap toe vir seevakansies deur die Karoo gery. Hy sê hy kan nie eintlik verwoord wat die Karoo aan sy siel doen nie. “Dis eintlik meer ’n emosie,” vertel hy aan my. Die landskap se grootsheid, die egtheid en gestrooptheid praat met sy siel. Deon en sy vrou Marianne het vir jare ’n huisie op Loxton gehad, maar intussen verkoop. 

Ons sit en gesels een wintersoggend in ’n koffiewinkel in Pinelands. Dis ver draaie wat hulle gesels en hulle gedagtes loop.

Hulle vertel hulle het albei in die vroeë tagtigs by Kovsies in Bloemfontein gewerk. Deon was betrokke by die Skakelburo van die UV en Coenie was ’n dosent in die kommunikasiekunde-departement. Albei het toe al hulle talente begin slyp – Deon aanvanklik met sy gedigte wat hy soms vir Coenie voorgelees het; Coenie as musikant wat gou ’n volksliefling geword het. Coenie lag as hy sê dat Deon vandag ontken dat hy toe reeds ’n knap digter was, “maar ek was uitgeknikker deur sy poësie. Hy het sy verse skroomvallig gedeel as ons toebroodjies oor middagete op kampus geniet het.” 

Die lewe gaan sy gang en die jare jaag verby. Albei van hulle vind tussen die gejaag vrede in die Karoo. Aan die einde van 2016 moet Coenie baie vinnig ’n projek aan die KKNK-paneel voorlê vir die 2017-fees.

Hy bel vir Deon om te hoor of hulle nie saam iets oor die Karoo – hulle gedeelde liefde – kan doen nie. Die idee is rof en onafgewerk en Coenie onthou: “Ek het voorgestel ek speel klavier, Deon lees van sy werke en agter ons flits daar foto’s wat hy in die Karoo geneem het. Dit was ’n logiese keuse, want die Karoo was maar altyd die middelpunt van ons gesprekke.”

Deon is besig met ’n nuwe Bennie Griessel-misdaadroman en sy tyd is beperk. Hy wil nie so vinnig byt nie. Hulle besluit dat Coenie ’n raamwerk sal skep en Deon dan kan besluit. Maar as hy nie instem nie, is daar geen kwade gevoelens nie; hulle vriendskap kom eerste.

Dis feestyd en Coenie skep tussen Kersetes en Nuwejaarsvieringe ’n stuk musiek wat vir Deon “verskriklik mooi” was. Maar mooi musiek is nie genoeg vir ’n vertoning nie, veral nie as dit geen genre het nie. Daar is geen voorbeeld om na te volg of by te leer nie.

Coenie is egter oortuig dat as Deon se woorde bykom, dit betowerend sal wees, juis omdat Deon die menslike psige só goed verstaan. Deon skryf stories oor die mense wat sy hart in die Karoo geraak het. Coenie weet hulle stories sal weer ander se harte in die gehore raak.

Maar toe kom die twyfel: Deon dink Coenie se musiek is magies, maar sy stories dalk net te eenvoudig. Gelukkig is hy toe nog onder die wanindruk dat Coenie sy stories gaan voorlees. Min wetende dat die tweede stoel op die verhoog vir hom is! Vir iemand wat maande in afsondering aan sy romans werk, was die idee om voor mense op te tree vreesaanjaend, erken hy.

Hulle was senuweeagtig daardie eerste oggend op Oudtshoorn, want hulle het geen idee gehad hoe mense sou reageer nie. Maar iets vreemds gebeur toe in die Burgersentrum, onthou hulle. 

Daar is amper ’n tasbare elektrisiteit wat deur die gehoor vloei. Hulle verstaan steeds nie hoekom dit met elke vertoning so goed werk nie, maar vra nie te veel vrae nie en toer plaaslik en kweek ’n nuwe liefde vir die Karoo by dié wat dit nie ken nie en verskerp dié wat reeds verknog is, se gevoelens.

Die idee vir ’n opvolg ontstaan en hulle besluit om op die mooi Karoonagte te fokus. Deon het nie foto’s nie. Hoe nou gemaak? Dis weer Coenie wat as’t ware tot hulle redding kom. 

Hy sien ’n National Geographic met foto’s van die SKA-teleskoop in die Noord-Kaap wat onder die Melkweg pronk. Heel toevallig werk hy weke later onwetend saam met die fotograaf wat daardie foto’s geneem het.

Oor ’n middagete-breek vind hy uit Maryna en Sarel is fotograwe vir National Geographic en werk regoor die wêreld. Hy vertel van sy en Deon se behoefte, en siedaar, Maryna en Sarel gaan vir drie maande op verskeie reise en kom met die magiese Karoonag-foto’s terug – hopeloos te moeilik om jou gunstelinge te kies, vertel Coenie en Deon. 

Foto’s uit Karoo Suite 2: Karoonagte: Maryna Cotton en Sarel van Staden

Met dié groot gedeelte van die aanbieding in hulle sak, beland hulle by Matie Hoffman, skrywer en sterrekundige verbonde aan die Universiteit Vrystaat se fisika-departement – maar beter bekend as bydraer vir RSG se Sterre en planete. Hy kry toegang tot foto’s en klanke van die planete en meteore by NASA in Amerika. Coenie gebruik van dié klanke in sy musiek.

En hoe kan mens nou anders as om te sê: ’n Ster is gebore! 

Die vertonings is só gewild dat Coenie en Deon besluit om ’n koffietafelboek daaroor te laat druk. Eers verskyn Karoo en daarna Karoo Suite 2: Ons Karoo, wat binne maande uitverkoop. Dit het Deon en Coenie se woorde, en foto’s deur Deon, Sarel en Maryna in. Die winste van die boeke is teruggeploeg om belowende leerders van die Karoo te ondersteun – van die begunstigde leerders het reeds gegradueer. Dis gedoen in samewerking met die Atterbury Trust.

Die boek se drukke is alles uitverkoop en die vriende het nou die spreekwoordelike boek toegemaak wat die Karoo Suites betref. Die samewerking vir die verhoog het egter voortgeduur met Roem en Coenie sê hulle moes nuwe vaardighede aanleer en uithaal, maar dit was heerlik.

Dit bring ons dan by Roem

Coenie noem dat die konsep van die Karoo Suite-produksies baie goed gewerk het, “maar ’n mens kan ’n perd net ry totdat hy moeg word. Ons geniet dit vreeslik om saam te werk en het gedink, wel, miskien moet ons ’n musiekblyspel aandurf. Die storie en karakter is Deon se kuns – alles is uit sy pen en verbeelding gebore.”

Deon vertel met hierdie eerste volwaardige musiekblyspel neem dit hom terug na sy kinderdae, sy herinneringe aan musiekblyspele. “Ek het op Klerksdorp grootgeword, waar musiekblyspele net as rolprente ervaar kon word. Gelukkig was daar so baie uitstekende werk om op die silwerdoek na te kyk, wat almal ’n blywende indruk gemaak het – My fair lady, The sound of music, Paint your wagon, West side story, Oliver, Funny girl

“Ek het eers baie jare later die finansiële vermoë gehad om in die West End en op Broadway na musiekblyspele te gaan kyk. Produksies soos The full monty, We will rock you, Flashdance, Beauty and the beast, Sweeney Todd en MJ.”

Roem-foto’s: Clifford Roberts

Om jou eerste musiekblyspel te skryf, bring natuurlik sy eie uitdagings, of hoe? “’n Musiekblyspel is in die eerste plek ’n storie wat vertel moet word. Ek het darem al deur die jare ervaring daaroor opgebou – die skep van karakters, konflik, spanning, komiese verligting en dramatiese struktuur,” vertel Deon. 

“Dit was dié kunsvorm se uniekheid wat die groot – en dikwels moeilike – uitdaging was: om karakterisering en intrige deur die lied te skep en dit in die tempo en voortstu van die storie te integreer. Om te besluit watter styl van musiek en liriek by elke karakter se stem sal pas. Gelukkig het ek in Coenie ’n geniale vennoot wat my lirieke kon omtower in wonderbaarlike liedjies. Ek het die proses intens geniet, dié swoeg buite my gemaksone,” vertel hy.

Deon erken dit was “betowerend en magies en baie, baie lekker” om daardie eerste maal in die gehoor te sit en hulle handewerk volsirkel te ervaar. Coenie sê hy was “flou van spanning, opwinding en antisipasie! En verheug dat gehore dit so geniet...”

Coenie het sedert die debuut in laat Maart elke optrede bygewoon en hy meen dit kry ’n eie lewe. “Die akteurs is ingespeel en voel tuis met die teks en musiek – dis baie goed om ’n produksie só te sien groei.”

En dan is daar die Kannas. Hulle sê dit voel fantasties. “Ons is bitter trots op ons kollegas.”

Coenie sê hy dink die beste verwagting vir die toekoms van Roem is om te hoop dat baie mense dit sien en dat elkeen van hulle dit terdeë geniet. Roem speel by die Aardklop-kunstefees op Potch van 24–29 September, asook by die Woordfees van 28 September–6 Oktober in Stellenbosch later vanjaar.

En natuurlik moet ek vra waaraan dié duo volgende werk. Coenie lag en erken: “Op die oomblik herstel ons nog so effe van die aanloop en eerste speelvakke van Roem. Wie weet, miskien weer iewers in die toekoms?”

Coenie de Villiers (Foto’s verskaf)

Deon Meyer

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Coenie de Villiers en Deon Meyer se Karoonagte gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand