Hannelie Coetzee se queer-eko-kunswerke
Johan Myburg oor hoekom dié kunstenaar aandag trek
Hannelie Coetzee is een van daardie kunstenaars wie se bekendheid en erkenning die aantal solo-uitstallings wat sy agter die rug het, ver oorskry. Vreemd is dit nie, as ’n mens in gedagte hou dat haar kuns nie juis “galery-kuns” is nie. Hoewel sy haar loopbaan as fotograaf begin het, is dit deesdae grootformaat werk, installasiewerk en omgewingspesifieke werk – plaaslik en in die buiteland – wat haar besig hou. Daarby het Hannelie, gedryf deur ’n wakker belangstelling in navorsing, in die verlede dikwels kragte saamgesnoer met leidende navorsers in die velde van die natuurwetenskappe, stedelike en omgewingskunde, asook akademici met kultuur as navorsingspilpunt.
Dink maar aan Eland en Benko (#FireGrazer), ’n kunswerk wat die samehang van genoemde dissiplines so lieflik verwoord – binne ’n esteties verrassende omgewing en skaal – waaraan sy op die eiendom van die Nirox-beeldhoupark in die Wieg van die Mensdom in samewerking met ’n klein weermag werkers in 2015 gestalte gegee het. Hoewel die werk 5 ha in omvang is, is die broosheid van die twee silhoeëtfigure – dié van ’n jong kind wat uitreik na ’n eland wat die prooi van ’n veldbrand geword het – meteen opvallend.
Die maniere waarop kuns deel kan word van en kan deelneem aan gemeenskaps- en omgewingskwessies is ’n aspek wat Hannelie na aan die hart lê. Geen wonder nie dat sy in 2022 haar transdissiplinêre meestersgraad in natuurwetenskappe aan Wits verwerf het – waar sy ook ’n erenavorsingsgenoot is. As titel vir haar verhandeling, het sy gekies Eco-art for a transformative climate culture.
In die buiteland het sy eweneens groot aandag getrek. Min of meer dieselfde tyd as Eland en Benko is haar werk vertoon in Wanås Konst in Swede, ’n park waar natuur en kuns ontmoet, sowat 100 km noordoos van Malmö.
Vir dié projek het sy omgewing-spesifiek te werk gegaan, bedoelende dat ’n bepaalde omgewing die aard van die werk medebepaal – iets van ’n woord-wederwoord-verhouding kom tot stand en kuns en omgewing tree as’t ware in ’n voortdurend dialektiese verhouding.
Einde verlede jaar het Hannelie haar solo-uitstalling-stilte verbreek met ’n uitstalling in Morton Fine Art in Washington, haar eerste uitstalling in die VSA. Met dié uitstalling, In Mid-Loping Gait, het sy in 19 onlangse tekeninge hiënas, wildebeeste, sebras, vlakvarke, pikkewyne en kameelperde “gevries in flitse van queer intimiteit”.
In dié tekeninge in rooibostee en ink is dit haar direkte dophou van dié diere wat sy verweef met navorsing oor queer-ekologie, en die uitstalling ondersoek maniere om mens te wees deur middel van die lewe van diere. Waarop dit neerkom, is dat Hannelie dierelewe as ’n “nasie” sien wat op dieselfde vlak as die mens is.
Teken in dié formaat is iets wat Hannelie as kind laas gedoen het, en duidelik is die tekeninge veel meer gemik op waarneming en proses, meer oor nadink as oor ’n blote representasie. Die werk het derhalwe ’n stuwende, elektriese geladenheid.
Dit was grootliks Biological exuberance, die boek van die Kanadese bioloog en linguis Bruce Bagemihl, wat Hannelie op die spoor gesit het om dié aspek van dieregedrag te betrag – aangevul deur besoeke aan die Krugerwildtuin en die Bosveld.
Wat blyk is ’n sensitiwiteit en ’n oop oog vir moontlikhede, alternatiewe en les bes ander maniere van gedrag – soos die diere duidelik wys. Soos intieme oomblikke tussen kameelperde wat mekaar met die nekke aai, of vlakvarke wat speels met mekaar omgaan. Volgens die Washington Post slaag sy daarin om hierdie intimiteit in ’n paar inkkolle en -lyne weer te gee, en meer nog, sy weerlê die beweerde “onnatuurlikheid” van queer gedrag by mense deur die alledaagse queer gedrag in die natuur.
Soos baie van ons, het sy, ingeperk deur die Covid-19-pandemie, uitstappies begin onderneem om wilde diere eerstehands te besigtig en het sy wildebeeste, bobbejane en hiënas deur die motorvenster dopgehou en geteken. Uitstappies na die Bosveld het gevolg en meer buitelug-tekeninge toegelaat. Hannelie verwys na ’n soort dansbeweging in hierdie tekeninge – vandaar die titel van die uitstalling.
Die diereportrette neem sosio-politieke dimensies aan, wat vrae laat ontstaan oor natuurlikheid teenoor onnatuurlikheid, terwyl dit verwys na kommer oor klimaatsverandering, verlies aan habitat en vryheid. In Mid-Loping Gait gebruik sy queer-eko-kuns as ’n uitdagende instrument om ’n meer diverse klimaatkultuur vir die toekoms teweeg te bring. Deur op ’n relasionele wyse te werk, het sy geraamtes en beeldhouwerke gebruik as modelle vir tekeninge en tekeninge as bloudrukke vir beeldhouwerke. Die gebruik van weggegooide, hergebruikte materiaal is ’n kenmerk van baie van haar openbare projekte. Hannelie se praktyk laat ’n ligte voetspoor terwyl sy ’n beduidende merk laat, en word bepaal deur plek, materiaal, navorsing, sowel as haar agtergrond in fotografie en die wetenskappe.
In hierdie “anti-dieretuin van bevryde diere” dui sy aan dat die natuur nog altyd sigbaar was, al was dit “stil” queer.
In ’n bespreking op artnet.com het hierdie gesaghebbende webwerf verwys na dié werk wat die sosio-politieke status quo bevraagteken as “visueel poëties”.
Deur gebare en intuïtiewe inkstrepe is Coetzee in staat om die beweging en interaksies van verskillende spesies wilde diere uniek vas te vang. Van wildebeeste tot vlakvarke, kameelperde tot hiënas, elke komposisie gebruik ’n ekonomie van middele om sy onderwerp elegant uit te beeld, maar dra steeds die nuanses van die diere se interaksies, gedrag en teenwoordigheid oor. Baie van die papier wat sy gebruik [om op te teken] is gered of andersins volhoubaar verkry, met die wisselvalligheid van papiervoorraad – die deurlaatbaarheid daarvan vir ink, afmetings en tekstuur – wat ’n sentrale rol in die werk speel. So gebruik sy byvoorbeeld ’n mynlegger as basis om op te teken, vol aantekeninge en bindsteke. Coetzee se diere word dus in ’n komplekse dialoog met die papier geplaas, en stel vrae oor habitat, die tweespalt tussen natuurlik en onnatuurlik, en breër kwessies rondom klimaatsverandering (eie vertaling).
In ’n onderhoud met Washington CityPaper het Hannelie só gereageer: “Hierdie werk bring my nie net baie nader aan die natuurlike wêreld nie, maar skep ook ’n geleentheid vir my om ’n ander lens te bring om homofobie te beveg” (eie vertaling).
Om haar huidige momentum te beskryf het sy die Afrikaanse woord samesyn gebruik, wat dui op ’n soort samehorigheid waar aspekte van die lewe bymekaarkom en verweef word, soos die gemeenskap van ekologie en queer-studies, of die huwelik van wind en rooibos op sketspapier.
“Dit is hoekom dit so ’n fees is,” het Hannelie in die onderhoud gesê.