Wie de fok is Hedwig Barry?

Wie de fok is Hedwig Barry?

Foto: Kevin Sawyer

Bibi Slippers oor wat 1969 opgelewer het

In 1969 het Elvis Presley sy comeback-album opgeneem, Prins Charles het sy titel ontvang, die eerste Boeing 747-passasiersvlug het plaasgevind, en die mensdom het op die maan geland.  Yoko Ono en John Lennon is daardie jaar getroud, die Beatles het hulle laaste publieke optrede gegee, en die Tulbagh-aardbewing het Suid-Afrika geruk. Die heel eerste boodskap is via ARPANET (die internet se oupa) gestuur en die Billboard-nommer-1-treffer was ‘Sugar Sugar’ deur The Archies.

Noemenswaardige geboortes in 1969:

Michael Schumacher
Dave Grohl
Jennifer Aniston
Hansie Cronjé
Javier Bardem
Mariah Carey
Paul Rudd
Renée Zellweger
Wes Anderson
Brian Lara
Cate Blanchett
Peter Dinklage
Steffi Graf
Elizabeth Gilbert
Ernie Els
Jennifer Lopez
Edward Norton
Jack Black
Bong Joon-ho
Catherine Zeta-Jones
Zach Galifianakis
Sean Combs
Matthew McConaughey
Jay-Z

en Hedwig Barry

“Who the fuck are you?” vra ’n kunsgalery-eienaar by ’n onlangse uitstalling vir Hedwig Barry. “You were nowhere, and suddenly you’re everywhere.” En ja: haar kunswerke – skilderye, tekeninge en massiewe skrootmetaalbeeldhouwerke – verkoop goed in galerye en by art fairs, haar werk word in die buiteland uitgestal, sy maak opdragwerke vir groot korporatiewe versamelings en word as een van Afrika se rising contemporaries beskou. Dit alles nadat sy in 2019, die jaar toe sy 50 geword het, met ’n meestersgraad in beeldende kuns begin het by Wits. (Sy het die graad in 2020 cum laude ontvang.) So, wie de fok is Hedwig Barry?

*

All people are paradoxical. No one is easily reducible, so I like characters who have contradictory impulses or shades of ambiguity. Its fun, and its fun because its hard.
Edward Norton (gebore 1969)

*

Hedwig Barry het ’n blou speelpakkie aan en ’n rooi strepieshempie. In haar studio in ’n industriële ruimte in Albertskroon swaai sy soms haar bene terwyl sy op ’n stoel sit en praat, soos ’n oversized kleuter met ’n massiewe intellek en woordeskat. Haar haarstyl laat my dink aan Donna Tartt (nie verniet die skrywer van The Little Friend nie) — en sy sê sy het haar hare onlangs afgeknip, en dat haar korter hare haar weer soos ’n kind laat voel. “Toe ek klein was, het ek daarvan gehou om myself te verloor in prentjies teken in die sand, om te speel met klippe en blaartjies. Ek was heeltemal onbewus van myself. En dis hoe ek ook nou voel as ek werk maak.” Hedwig hou van grappies, van blomme, van speel en van speletjies. Sy hou van musiek en van tuine en van lees. Sy lees bell hooks, en Audre Lorde. Sy vind vreugde in haar kinders. Sy is ’n Barry, geneties hardkoppig. Haar gunsteling vloekwoord is “fuck”. Sy sê graag “what the fuck”, “fuck it” en “for fuck’s sake”. Sy hou van maak, en deesdae is maak wat sy voltyds doen. Maar dit was ’n lang pad om te kom waar sy nou is. “Daar’s verskriklik baie redes hoekom ek dit nie behoort te doen nie, hoekom ek nie op hierdie stadium van my lewe, in hierdie konteks, ’n loopbaan as voltydse kunstenaar moet maak nie. On the other hand, actually, my whole life has led to this moment...” 

*

Artists can have greater access to reality; they can see patterns and details and connections that other people, distracted by the blur of life, might miss. 
Jay-Z  (gebore 1969)

*

“1969. Ek kan vir jou sê waarom ek van die nommers hou. Ek hou van die 1-9-6-9. Ek hou van patroon. Dis ’n pattern recognition-ding. Ek soek vir patrone, so ek hou van die sinergie van daai nommers bymekaar. 1969 was ’n glamorous jaar. Sex, drugs, rock ’n roll. The summer of ’69. Maar om in apartheid-Suid-Afrika groot te word, was definitief nie sex, drugs and rock ’n roll nie. So, I can’t really claim my birth year as fabulous.” 

Haar naam is ’n erfstuk van haar ouma, ’n onderwyser. Ander dinge wat sy van ouma Hedwig gekry het, is haar passie vir geregtigheid en haar status as ’n lifelong learner. 

Haar naam beteken godin van oorlog:

from Old High German Hadwig, Hadewig, Haduwig. It is a Germanic name consisting of the two elements hadu “battle, combat” and wig “fight, duel”.

Sy claim dit. “Ek ís strydvaardig. Ek kyk nie weg nie. Ek probeer kyk al is dit moeilik. Ek het van kleins af ’n baie ontwikkelde sin gehad vir wat reg en verkeerd is. As ek gevoel het iets is onregverdig, was dit vir my moeilik om te laat gaan.” Maar sy is wys oor strydvaardigheid; sy kan aanhaal uit The Art of War: “Die grootste oorwinning is om nooit oorlog hoef te maak nie.”

*

Your personal history is a part of what happens with your hands and your head as you play music.
Dave Grohl (gebore 1969)

*

Hedwig is in die Vrystaat gebore, die middelste van vyf kinders wat binne sewe jaar van mekaar gebore is. Om een van soveel kinders te wees, het by haar ’n sin vir deel-wees van ’n kollektief gegee, eerder as ’n sin vir die individuele self. Haar ouers was beide in die geneeskunde betrokke, haar pa was ’n dokter en haar ma ’n verpleegster, en sy reken dit het bygedra tot haar respek vir menslikheid. Sy het in Riviera grootgeword, “aan die verkeerde kant van Pretoria,” en alhoewel haar moedertaal Afrikaans is, was sy in ’n Engelse laerskool. Sy wou kunsskool toe in die hoërskool, maar was uiteindelik in Meisies Hoër, waar sy nooit regtig ingepas het nie en, as gevolg van die skuif van Engels na Afrikaans in die klas, waar sy nooit weer met Wiskunde ge-cope het nie. “Ek sê altyd, I exceeded my expectations for myself at the age of 16, when I discovered that I wanted to think for myself.”

Sy is ná hoërskool Tukkies toe om kuns te gaan studeer.  “Ek het nie verskriklike verwagtinge oor myself gehad nie. Ek het nie eers vir my kunsgraad rerig verwagtinge gehad nie. Vir my was universiteit ’n ontwaking in ’n ander opsig. Ek was vir ’n jaar ’n uitruilstudent in Australië, en ek dink my politieke bewuswording is instrumenteel daar ontwikkel. Dit was ’n radikale breuk vir my van my verlede, want ek het subjektiwiteit vir die eerste keer in lewende lywe ervaar, deur te sien dat apartheid bloot een manier is, en nie die enigste manier nie. Dit het vir my alles verander.”

In die jare toe Hedwig op universiteit was, is politieke denke nie aangemoedig nie. Sy het ’n moeilike tyd by Tukkies gehad, en polities betrokke begin raak op die kampus. Sy was ’n lid van die Studente vir ’n Demokratiese Samelewing-organisasie, wat haar teoretiese raamwerk in ’n groter mate help vorm het as haar formele studies. “Ek het regtig gesukkel met hoe om daai te integreer — my kunsgraad, ‘ons skilder nou landskappe’, met die state of emergency, laat-tagtiger konteks.”

Hedwig sê sy is by Tukkies weg sonder dat sy geweet het hoe om te skilder. “Ek het my graad verlaat sonder enige selfvertoue.” Ná universiteit het sy by The Artists’ Press gaan werk, waar sy plakkate en uitnodigingsposkaarte ontwerp het vir uitstallings. “Ek het daar geleer om op ’n Mac te werk.” Sy het ook in animasie begin belangstel, en dis hierdie belangstelling wat uiteindelik gelei het tot haar werk by die destydse SAUK, en ’n lang loopbaan in die TV- en filmbedryf. Sy het haar eie produksiemaatskappy begin, en musiekvideos, TV-programme, dokumentêre en insetsels gemaak. In hierdie tyd het sy ook drie kinders gehad, en ’n vierde kind verloor. 

“Nadat my vierde kind oorlede is, het my hele wêreld collapse. Ek was fisies siek, my huwelik het tot niet gegaan, ek het opgehou televisie-produksiewerk doen, en ek was vir ’n lang tyd verlore.”

*

“You’re hitting rock bottom,” she said. “You know, Jennifer, you have to hit bottom before you can make a change, and it’s finally happening.”
Jennifer Lopez (gebore 1969)

*

“Maar toe kom my dogter Maya, wat toe in matriek was by die Nasionale Skool vir die Kunste, eendag by die huis en sê die skool is op soek na ’n kunsjuffrou. ‘Asseblief, Ma, gaan doen dit net, al is dit net vir ’n jaar.’ Ons het altyd geteken in die huis, hulle het my altyd sien verf, maar dit was nooit ’n beroep nie, dit was nooit iets wat ek gedoen het om ’n inkomste te verdien nie.”

Sy het vir twee jaar by die Nasionale Skool vir die Kunste klasgegee. “Aanvanklik was dit ’n plek om te wees elke dag. Toe was dit ’n plek van bewuswording van hoe ek is. Daar is nêrens om weg te kruip voor ’n klas vol tieners nie. Ek het in die proses ’n ongelooflike liefde ontwikkel vir die kinders, en vir die klaskamer as ’n plek van kreatiwiteit.”  Sy het saam met haar leerders geleer om te sê: “Kom ons wees braaf.” Sy het ’n plakkaat bo die klas se asblik opgesit wat sê: “Judgement lives here.” En so het die bevrydende ervaring van klasgee haar teruggebring na haar eie maaksels.

Haar ervaring by die skool het gelei tot verdere studies — ’n nagraadse onderwysdiploma op 49. En aangesien sy reeds aan die gang was, het sy by Wits aansoek gedoen vir ’n meestersgraad in kuns.

*

Creativity is sacred, and it is not sacred. What we make matters enormously, and it doesn’t matter at all. We toil alone, and we are accompanied by spirits. We are terrified, and we are brave. Art is a crushing chore and a wonderful privilege. Only when we are at our most playful can divinity finally get serious with us. 
Elizabeth Gilbert (gebore 1969)

*

“Who the fuck are you?” vra ’n kunsgalery-eienaar by ’n onlangse uitstalling vir Hedwig Barry.

En Hedwig antwoord nie hardop nie, maar vir haarself sê sy: “Net omdat jy nog nie van my gehoor het nie, beteken nie ek is nie al vir ’n lang tyd hier nie, stilletjies besig om my werk te doen.”

Net omdat jy nog nie van my gehoor het nie, beteken nie ek is nie al vir ’n lang tyd hier nie...
— Hedwig Barry

Sy het van kleins af geteken, maar was nooit die kind wat perfekte lewensgetroue sketse kon maak nie. (Sy het eers tydens haar meestersproses haar natuurlike morsigheid en uitbundigheid deel gemaak van die aanbieding en oplossings in haar werk.)

Toe sy in 2019 met haar meestersgraad begin het, was sy aan die einde van haar draad. “Al my ander opsies was op. TV is a hungry beast. Ek het my amper doodgewerk. Ek kon nie terug TV toe nie. So, ek het myself toestemming gegee om hier te wees. Ek kon staatmaak op jare se dissipline om werk te lewer, wat ek as my eie baas geleer het. Ek het opgedaag. Ek het gewerk. Ek het aangehou werk. Ek het nie meer vrees gehad nie. Ek het vrees eenkant gesit, en ek kon dit doen omdat ek die kinders in die klas gevra het om dit te doen.”

“Ek het begin werk met die idee van dankbaarheid, en natuurlik wat hande vashou met dankbaarheid, is liefde en verlies. Ek het ook begin werk met daai idee van my werk gaan never-perfect wees, so kom ons sê ‘fuck that shit.’” En sy het werk begin maak wat mense laat regop sit. Haar crumples, groot skrootbeeldhouwerke wat lyk soos bolle papier wat ’n gefrustreerde skrywer eenkant gesmyt het, is gebore uit die idee van herstel, van liefde en dankbaarheid betoon aan objekte wat ons wil weggooi. “Dis die begin van iets nuuts. Om waarde te sien, al is daar fout. En wat is ‘fout’?”

*

“Really try to follow what it is that you want to do and what your heart is telling you to do.”
Jennifer Aniston (gebore 1969)

*

“Ek dink wat my baie gehelp het, is dat ek ’n vryskutwerker was vir so lank. So ek kan in ’n groot mate met onsekerheid saamleef. So toe Covid strike, toe dog ek, okay world, welcome to my reality. This is what my life looks like all the time. The uncertainty, not knowing what’s going to happen next, not knowing where money is going to come from. That’s my day to day reality. En wat leer mens daaruit? Greater agility. Resilience. Nie dat ek glo ons moet heeltyd blêrriewell resilient wees nie. Ek sê maar net. Ten spyte van, het ek ’n kreatiewe lewe geleef. Dis een van die bevrydendste goed, om te doen wat jy regtig graag wil doen. Dis ’n cliché, maar dis amazing om daarby te kan uitkom.”

*

“If the sun were made of hamsters, the earth would be incinerated.”
Michael Schumacher (gebore 1969)

*

“Who the fuck are you?” vra ’n kunsgalery-eienaar by ’n onlangse uitstalling vir Hedwig Barry.

“Ek was nog altyd iemand wat, as jy vir my sê ‘moenie’, dan gaan ek. So, hoe meer resistance daar is, of hoe meer daar is van ‘who the fuck do you think you are?’, it’s like, okay, let’s go. Let’s see. Who the fuck am I? Ek dink ek sal so ’n exhibition maak, eendag. Who the fuck am I? Wie de fok is ek, of enige van ons, for that matter?”  

“Wie de fok is jy?” 

Die vraag affronteer haar nie. Dit word haar uitnodiging om ons aan te hou wys. En joune. Want wie de fok is enige van ons, for that matter?

*

Wouldn’t it be nice if the internet blew up?
Cate Blanchett (gebore 1969)


Regstelling: ’n Vorige weergawe van dié storie het gemeld dat Hedwig Barry se ouma ’n lid was van die Black Sash. Sy was egter nie.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Wie de fok is Hedwig Barry? gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand