Ná 'n besoek aan die Joburg Contemporary Art Foundation
Jy voel belangrik, maar die dood is oraloor
’n Private toer van ’n kunsuitstalling is normaalweg ’n ondervinding wat voorbehou word vir ’n handvol belangrike mense. Die meeste ander mense moet gewoonlik die ruimte deel met al die ander plebs in die galery, wat normaalweg net selfie-behoeftes het en te lank voor die kunswerke staan sonder om wel daarna te kyk. Die Joburg Contemporary Art Foundation (JCAF) bied ’n unieke ervaring omdat jy stoksielalleen daar kan wees as jy wil, en jy het oorgenoeg tyd om stilletjies na die kuns te kyk en om die kurator se idees in te neem. Daar is wel die opsies om ’n ingeligte gids te hê om jou deur die temas van die uitstalling te neem, of ’n iPad app met inligting oor die kurator se temas, en die kurator self, Clive Kellner, is meestal beskikbaar as ’n mens vrae het.
Die huidige uitstalling heet Liminal Identities in the Global South met werke deur vrouekunstenaars Jane Alexander, Lina Bo Bardi, Lygia Clark, Kamala Ibrahim Ishaq, Kapwani Kiwanga, Ana Mendieta, Lygia Pape, Berni Searle, en Sumayya Vally/Counterspace.
Die gebou is ontwerp rondom die ou tremstasie (wat al jare lank in Forest Town leeg staan) en die argitekte het beslis ’n inspirasie van ’n plek gebou. Die ou struktuur bestaan uit skoon Moderne lyne met ’n kombinasie van glas en staal, waar die boumateriale beklemtoon word deur die toepassing van die modernistiese tradisie.
Dit is nie net ’n kunsuitstalling nie, alles is deel van die ondervinding. By toetrede van die uitstalling verruil die besoeker die helder daglig vir die somber, donker binnekant van ’n Europese katedraal, gedemp en by wyle oorweldigend. Ek wonder dadelik toe ek inloop of daar onderlangs white noise in die uitstallingkamer speel, tussendeur die gedreun van klassieke musiek en stemme, omdat dit binne so anders voel as buite.
Ek het ’n behoefte om na die tegniese elemente van kunsuitstallings ondersoek in te stel, en hierdie installasie by JCAF is so goed dat as ’n mens nie daarvoor soek nie, is dié tegniese elemente byna onsigbaar – soos ’n spook wat alles saambind. Die uitvoering is asemrowend, en die beligting perfek.
Die uitstalling, die tweede een van ’n reeks wat handel oor soortegelyke temas by die JCAF, bevat uitsluitlik werke van vrouekunstenaars van die Global South. Dit sluit in onder meer kunswerke van lande in Suid-Amerika en Afrika. My eerste indruk van die uitstalling is dat daar swaar klem gelê word op vrouekuns van spesifiek die wêreldwye decolonisation moment, en dat daar kritiek uitgeoefen word op sekere historiese verskynsels deur die die gekose kunswerke en deur ander verfynde, kuratiewe besluite. Die prominente fokus op spesifieke vrouekunstaars in beide die JCAF-uitstallings staan in kontras met hoe vroue in die geskiedenis nie by die naam erken is vir hulle kuns nie. In hierdie uitstalling staan die vrou en die rol wat sy beklee egter sentraal.
Die uitstalling is soortgelyk aan die struktuur van ’n klassieke komposisie saamgestel, waarvan die eerste vertrek die prelude is, die tweede vertrek movement I, die derde vertrek movement II en die vierde vertrek movement III. Van die temas behels die kannibalisme van kultuur, die pandemie, liminaliteit, die koloniale verlede, die dood en die idee van die afterlife of die hemel/hel.
Die eerste vertrek bevat reproduksies van ou, oorspronklike werke. Daar is eeuelange gesprekke en debatte oor die outensiteit van kuns in colonised spaces. Is die tradisionele objek die egte ding of is dit ’n vervalsing of ’n reproduction? Daar is ’n sterk kontras tussen die erkende, beroemde Westerse kunstenaars wat in opposisie staan teenoor die meerderheid van naamlose, ongekende en onbekende historiese kunstenaars van die Global South – die term wat gebruik word om voorheen benadeelde lande te beskryf, waarvan die meeste van hierdie lande vorige kolonies was. Hierdie eerste vertrek herinner my daaraan.
Die uitstalling is tematies heel kompleks en daar is verskeie interpretasiemoontlikhede. Jy word gekonfronteer met die eerste tema van die uitstalling in die prelude, naamlik “Anthropophagia” of die kannibalisme van kultuur, ’n verskynsel waarin die postkoloniale lande Westerse kuns by hulle eie kultuur inkorporeer/approprieer en dit hervorm om iets nuuts te maak. Die gebruik van christelike temas is ’n goeie voorbeeld van die tipe hibriditeit wat voorkom in die geval van ’n clash of cultures wat meegebring word deur anthropophagia, en die uitstalling is deurtrek met verwysings na heilige idees. Die eerste werke, die reproductions, is almal histories, nie een is in die huidige eeu geskep nie. Dit begin met die verlede, die fondasie van die uitstalling. Dit is ’n ondersoek na menslikheid en die lewe, ’n bevraagtekening van ons bestaan en ons broosheid as menslike diertjies.
Dit is presies hoe ’n mens deur die uitstalling gelei word. Die verlede, die hede, die toekoms. Skepties oor die bestaande, ons kontemporêre oomblik, en waar ons uiteindelik gaan opeindig. ’n Bewustheid van die pandemie is ook konstant teenwoordig in die ruimte vol gemaskerde elemente. Letterlike maskers kom voor in die kunswerke, maar daar is ook figuratiewe maskers wat deur die loop van die uitstalling sigbaar word.
Movement I bevat drabare kuns of “wearables” wat van toepassing is op die pandemie. Daar is rubberkafoefeljassies wat lyk soos ongemaklike gimp suits deur Lygia Clark, en rubberhandskoene en verskeie maskers oor drie ander kunstenaars se werke heen versprei. Dié skeppings is vol gate, zips, gras, boeie en ander snaakse, sensuele goed. Die punt van die kunswerke is interaksie. Gedurende ’n periode waartydens social distancing die norm is, kan mense nie aan mekaar raak op dieselfde manier as in die verlede nie, en dit maak dat die kunswerke artefakte van die gebeurtenisse word.
Die werk van Lygia Pape handel insgelyks oor die tema van social distancing. In haar werk maak sy staat op die gebruik van verskeie materiale. Een so ’n werk sluit in ’n enorme wit laken waar mense hulle koppe deur gate kan druk wat hulle ver uitmekaar hou, maar tegelykertyd saambind. Jane Alexander se grillerige Harbingers trek ’n mens nader aan die volgende beweging in dié “musiekstuk”, of die volgende vertrek in die uitstalling.
Doodsmaskers en die idee van voorbodes is in al die werke teenwoordig. Die sinspeling op die tema van die dood en ons bestaan, is deurdringend. Die dood is letterlik geheg aan die pandemie, maar dit dui ook op die afsterwing van die tydperk vóórdat die virus versprei het. Hiermee saam gaan ’n onsekerheid oor die toekoms, en die hoop vir ’n beter bestaan. Ons is gelyktydig in die verlede, die hede, en die toekoms. Ons verkeer op die limen, op die drumpel tussen wêrelde.
In movement II is daar memento mori-tipe verwysings wat herinneringe aan die kortstondigheid van die lewe is, ’n herinnering aan die onafwendbare afsterwing van die mens (’n tema wat gereeld deur die Hollandse Goue Eeuse-kunstenaars aangehang is). Die gebroke beloftes-blomme van Kapwani Kiwanga wat stadig verlep en doodgaan, die werke van Ana Mendieta wat naderhand verdwyn en begrawe word, of die uitbeelding van ’n tafel vol vroue wat soos die Ecce Homo se Last Supper lyk, is elkeen herinneringe van die vlietende oomblik. Daar is ’n kritiese blik op die land en die lyf/lyk. Die impak van die koloniale oorskiet van die vorige eeu op huidige generasies en traumatised bodies word ook ondersoek.
Die uitstalling voel soos ’n kombinasie van elemente wat ons liminale status beklemtoon. Die gebruik van musikale bewegings en requiems voel amper oorbodig, want die temas is klaar vanselfsprekend in my opinie, en daar is al klaar baie lae in die betekenis van die reis deur dié eksistensiële onderneming. Maar in movement III word die uitstalling goed afgerond met die uitbeelding van die tema van die afterlife of die hemel/hel. Soortgelyk aan die manier waarop jy Sumayya Vally se spieël benader, voel dit soos ’n ligtonnel waarin mens letterlik verdwyn, want die spieël kyk nie direk na jou nie, en as ’n mens op ’n spesifieke plek staan, verdwyn jou visie heeltemal. As jy reg voor die spieël gaan staan, sien jy weer jou lyf, maar die lig is so gestel dat jou gesig verdwyn en jou kop omhels is met ’n stralekrans. Dit laat my weer dink aan die invoer van Westerse geloof in Afrika in, ’n direkte gevolg van die koloniale invloed.
Die goue vloeistof in die werk van Berni Searle dien as kommentaar op die Europese verhouding met alles wat geneem is uit Afrika gedurende die Scramble for Africa, en die berowing van Afrikalande se natuurlike hulpbronne, kulture, en mense se waardigheid. Searle werk met die tema van absence teenoor presence. Dit sluit netjies aan by movement II se werke wat soortgelyke betekenis dra.
Daar is ’n tipe kollektiewe geheue van die mens wat in aanraking kom met die temas van elke kunstenaar se werk en die oorhoofse temas van die algehele uitstalling. Ek sou voorstel dat kunsliefhebbers dié uitstalling bywoon. Die werk van verskeie kunstenaars word in hierdie reeks uitgestal, kunstenaars van wie ’n mens moeilik in persoon die werk van kan sien. Die hele ondervinding is gratis sodra jy ’n afspraak op die website maak, en ek beveel dit aan as ’n kunsuitstalling en ’n gebeurtenis van soorte. Jy sal dalk nooit weer so ’n ervaring meemaak waarin jy so belangrik sal voel nie.
Die uitstalling duur voort tot 29 Januarie 2022, en ’n gratis 3D-toer is ook aanlyn beskikbaar.