Die kuns van Lien Botha laat jou ander wêrelde sien

Die kuns van Lien Botha laat jou ander wêrelde sien

Lien Botha voor In Afterland (Durer) (2024), uitgestal by KKNK, 2025. Alle foto’s verskaf

Maar sy is allesbehalwe 'n kunsvlugteling 

Midde-in die pandemie-chaos beland Lien Botha se tweede boek Vin (2021, Queillerie) op my lessenaar. Ek het geweet ná haar debuutroman Wonderboom, wat gekortlys is vir die UJ-debuut- en WA Hofmeyrprys, en bekroon is met die Eugène Marais- én Jan Rabie/Rapportprys, gaan hierdie een ook nie teleurstel nie.

Vin volg die wel en wee van kunstenaar-kurator Vin Verster en haar geleidelike greepverloor op haar skeppende en skikkende omgang met kuns, aldus die reklameteks op die buiteblad. Sy verloor haar sielerus in haar geboorteland en word ’n kunsvlugteling. Jy kan haar melankolie in jou murg voel. 

Die boek is toe nie, soos verwag, blote lekker leesstof nie. Dit het my voete onder my uitgeslaan. Benewens die taal, is daar 400 kunswerke en foto’s om die leser se verkenningsreis uit te brei. Elke hoofstuk word van ’n webskakel vergesel, sodat die leser kan sien wat Vin in haar omswerwinge beleef. 

Dié foto’s was tóé, in 2021 toe Vin verskyn het, vir lesers ’n verdere ontvlugting in ’n tyd wat ons nie kon reis nie, en die term “vry reis” iets was wat ek nie gedink het weer sal moontlik wees nie. 

Die pandemie-vrees het my lamgelê. Ek het nadat ek die boek klaargelees het, lank aan die Amerikaanse danser, choreograaf en outeur Twyla Tharp se woorde gedink: “Art is the only way to run away without leaving home.” Haar boek The creative habit: learn it and use it for life het tydens ’n ander soort inperking in my lewe oor my pad gekom.

Die foto van die kunswerk Watermark flood deur die Australiese kunstenaar en digter Richard Kelly Tipping wat Vin vanuit haar venster op die eiland Sylt sien, word die beeld van die gedagtes in my kop. Die letters is half begrawe in die grond. Tipping bring hulde aan die eiland se talle verspoelings en toegesliktheid ná storms. Vir my bring dit hulde aan die vloedwaters wat my wou verswelg tydens inperking en verlies aan werk en geliefdes. Edgar Degas het juis gesê: “Art is not what you see, but what you make others see.”

In Afterland (Van Doesburg), 2024

Om bykans vyf jaar later fisies en vry voor Lien se nuutste werke In Afterland by Eclectica Contemporary in Kaapstad se Kerkstraat te kon staan het my opnuut laat besef dat vry reis eintlik meer in jou kop as in die werklikheid bestaan.

Die beskrywing van die uitstalling deur Karen Press lui as volg:

Wat gebeur in In Afterland? ’n Sirkusperd en sy ruiter tree bo die geraamtes van bome op, gewieg deur hul trapesiumtou. ’n Versameling wolke sweef in die gebleikte lug van ’n ander weerstelsel; sy vrag reën van die droë aarde deur ’n stywe reghoek weerhou. God se diere drom vreedsaam om Adam in die oop veld saam, met hul oë wat die landskap diskreet ondersoek. ’n Kunstenaar ontmoet van haar voorvaders, bring hulle om te sien waar sy woon. Die bome, die buierige lug, die veld is heeltemal bekend. Die perd en ruiter, die wolke, die mitiese wesens wat in ’n Bybelse toneel versamel is, is al voorheen, elders, teëgekom. Wat maak hulle hier saam en leef tog so apart in ons kennis van hulle?

In dié woorde word Lien se omvattende talent goed opgesom.

Ek lees verder oor dit wat die kyker in die werke behoort te sien:

Waarop fokus die kyker se blik in elk van Botha se komposisies? Die grond is wat ons dadelik herken, in die letterlike sin: aarde, terrein, gebied – ’n landskap so bekend aan Suid-Afrikaners dat ons dit op ons vel kan voel, selfs al verlaat ons voete nooit ons motors om daaroor te loop nie. Miskien gly ons oë oor die beskeie bome en laagliggende bosse, oor hul gedempte en oënskynlik eenvormige teksture en kleure; elke segment van hierdie grond lyk asof dit ’n konsekwente, konstante kwaliteit het, om ’n statiese ekosisteem buite tyd voor te stel. Afrika buite die geskiedenis. Of, op die terrein wat ’n reisende renoster teëkom, Afrika as ’n anonieme stedelike oomblik sonder ’n gevoel van plek, slegs ’n pad wat elders lei. Die tekens van menslike bewoning lyk toevallig.

Die werke het haar amper drie jaar geneem om te voltooi.

Benewens die twee meter hoë Valmier-beeld wat op dibond (aluminium) gedruk is, is die res van die digitale, fotografiese konstruksies op Hahnemühle-papier. Sommige spreek harder tot my psige; ander is bloot mooi.

In Afterland (Giotto), 2023

Dis lank nadat ek daar voor Giotto (my gunsteling uit haar In Afterland-uitstalling) gestaan het, dat ek met haar kan gesels. Giotto is ’n werk met ’n geboë priester met wit duiwe en ’n amper deursigtige non wat in skakerings van groen, bruin en goud toekyk, wat teen ’n vaal Karoo-landskap in neutrale kleure pryk. Die werk bring hulde aan Giotto, die Middeleeuse kunstenaar en argitek wat Italiaanse skilderkuns onherroeplik verander het. “Hy is een van my mees beminde kunstenaars en ontleen uit Sint Franciskus preek vir die voëls (1297–1299),” vertel Lien. “In Afterland (Giotto) is terloops die eerste werk waarvan al die edisies uitverkoop het en waarvan ’n afdruk opgeneem is in die versameling van die menseregte-bemiddelaar Pascal Turlan.”

Lien woon op Bettysbaai, net om die draai van Hangklip aan die Valsbaaikus. Lien is vele dinge benewens kunstenaar, fotograaf en kurator. Sy het aanvanklik tale studeer, maar toe as persfotograaf gewerk voor sy kuns studeer het. In 2014 verwerf sy ook haar meestersgraad in kreatiewe skryfwerk.

Sy is getroud met Raymond Smith, ’n argitektuur- en erfenispraktisyn; dogter van oorlede Pik Botha, die minister van buitelandse sake van 1977 tot 1991 én suster van die oorlede musikant Piet Botha. 

Haar en Raymond se lewe na aan die natuur kom tot uiting in haar werk. Sy kyk graag sterre om balans te bring teen die “stommerike van ons tyd”. Sy en Raymond stap graag en sy verduidelik dat hy aan die Japannese gebruik glo dat berge bevriend moet word, teenoor Europeërs wat berge wil verower. Lien voeg by: “In hierdie tyd van ‘toomuchery’ is stap ’n lewensboei. Dit stroop geraas weg en bring helderheid.”

In hierdie tyd van ‘toomuchery’ is stap ’n lewensboei. Dit stroop geraas weg en bring helderheid.
— Lien Botha

Hulle bly weg van die nuus en opruiende radio. Dis eerder die diverse Radio Garden wat deur die huis tiekiedraai. Dit bring die uithoeke van die wêreld tot in hulle voorkamer. Dié twee is burgers van die wêreld, maar goed geanker hier in Afrika – al voel mens dikwels hier of die geleentheid vir alternatiewe diskoers opgedroog het. 

Sy het dit so mooi omskryf in Vin (bladsy onbekend):

Máár mens sal ook nie noodwendig in ’n ander land tuis voel nie, en ek dink in elk geval jy word ook beskou as ’n buitestaander in ’n “oënskynlik idilliese” land soos Italië of Frankryk. So … om weer oor te begin op ’n ander plek? Dan liewer hier, deur dik en dun, waar mens die klanke ken.

Ons kom terug na haar kunstegniek – die digitale konstruksies wat my nou weer só in In Afterland bekoor het.

“Die aanvanklike werkstitel vir die reeks was ‘(de)konstruksies vir Alkebulan’ – na bewering die oudste benaming vir die Afrika-kontinent,” verduidelik Lien. “Hierdie keuse verwys doelbewus na ’n tydperk en betekenisveld wat die koloniale kartering van Afrika voorafgaan. Reeds in 1994 het sommige van my eerste werke bestaan uit fotokonstruksies (Africana Collectanea) – ’n medium wat tot op hede relatief onderbelig bly binne die Suid-Afrikaanse fotografiese diskoers.”

Sy vertel verder: “Bykans drie dekades later keer ek doelbewus terug na hierdie metode van visuele ondersoek; ’n retoer wat deels voortspruit uit die ingrypende wyse waarop die landskap sedertdien vervorm en herbedink is. Elke aspek van bestaan in die kontemporêre wêreld verkeer tans onder kritiese waarneming – oop vir ontleding, terugskouing en herbesinning. Die drade wat my huidige praktyk onderlê, verbind die ekologiese krisisse waarmee ons gekonfronteer word, die voortdurende geweld van oorlog en konflik, sowel as die gelaagde en soms teenstrydige sosio-politiese en -ekonomiese realiteite van ons tyd.”

Sy haal die woorde van Lowenthal aan: “Hoe leef ’n mens – en hoe volhard jy in daardie lewe – wanneer die verlede ’n vreemde land geword het?”

In Afterland (Constable), 2024

Die uitstalling is agter die rug, nadat dit op publieke aanvraag verleng is; ander projekte hou haar nou besig. Vir Lien is dit lekker om terug te kyk na die sukses: “Die werk is gunstig ontvang met goeie verkope, waarvoor ek dankbaar is. Bestaande – sowel as nuwe – versamelaars het na vore getree en In Afterland is onder meer gekies vir Les Rencontres de la Photographie Marrakech se Crossings in November.”

Die terugvoer was deur die bank positief, vertel Lien. Mede-kunstenaar Laurette de Jager omskryf haar ervaring daarvan as volg:

Op hierdie wyse treur In Afterland nie passief nie; dit spreek namens die verlorenes, en laat herinnering opkom, rus vind en transformeer. Om hierdie werke te aanskou, is om te staan in die teenwoordigheid van ’n lewende ekologie van herinnering, waar intermedialiteit nie bloot ’n argief is nie, maar ’n deurlopende daad van sorg, van onthou, van herlewing.

Lien erken dat sy nie moeilik afskeid neem van verkoopte werk nie. “Die opgaarder woon in my kop, nie in my leefruimte nie.”

Maar sommige werke lê haar nader aan die hart as ander, hoewel sy sê dat sy elkeen se uitpluis terdeë geniet het: die soektog na pasmaats, lang reise op roetes waar jy vir ’n dag lank geen ander reisigers teëkom nie. “Maar as dit móét, dan seker die verlate plaashuis langs die Aberdeenpad met Constable se wolke wat oor die landskap waak.”

Lien in Blesberg, Bettysbaai, 2007

Lien in Sylt, Duitsland, 2010

Lien by Olive Schreiner se graf op Buffelskop, 2015

En só gepraat van herinnering wat opkom …

In 2001 vertel sy as 40-jarige in ’n onderhoud aan Rooi Rose dat sy glo ’n eiesoortige kenmerk wat vandag se vroue uitsonder, is “haar vermoë om ’n loopbaan saam met ’n persoonlike lewe in stand te hou”, en dat vroue behoort fotografies “met die respek en empatie wat hulle toekom, uitgebeeld te word”. 

Ek wonder hoe sy nou, 24 jaar later in ’n sosiale media-mal wêreld en te midde van #MeToo-veldtogte, oor dié stellings voel? Hoe sy haar rol in 2025 in die wêreld en in Suid-Afrika ervaar?

Sy dink nie lank nie, voor sy antwoord: “Gestroop van illusies, is werk steeds die dryfveer waarvoor ek diep dankbaar is, maar nou sluip ek deur hierdie ‘nuwe Middeleeue’ met ’n nugtere blik. Just be kind. Ek herhaal dit daagliks as verset teen alles wat verkeerd is op hierdie aarde.”

Sy erken dat skoonheid vir haar opgesluit lê in barmhartigheid, kuns, letterkunde en musiek. “Maar grotendeels die natuurkaart wat ek sedert kindsbeen volg.”

Lien vertel oor haar werksproses dat daar met die jare ’n visuele en tematiese woordeskat gegroei het – ’n soort interne argief – wat telkens dien as aanloop tot die volgende reeks.

“Fisiese reis deur onbekende landskappe is belangrik om stagnasie af te weer, sodat die ‘verhaallyn’ op loop kan gaan: ‘A line is a dot that went for a walk,’ soos Paul Klee gesê het. Wat telkens in my werksproses opduik, is ’n neiging om uit vorige werk te put – soms net ’n fragment – as vertrekpunt vir wat volg. Wanneer ek vandag terugkyk op hierdie trajek, sien ek hoe die landskap herhaaldelik figureer as ’n konstante fluistering in die agtergrond. En saam daarmee: ’n patroon van menslike teenwoordigheid; soms subtiel, soms uitgesproke. Wat dié twee wêrelde saamweef, is ’n onsigbare draad – deurlopend, byna onafwendbaar.”

Wanneer ek vandag terugkyk op hierdie trajek, sien ek hoe die landskap herhaaldelik figureer as ’n konstante fluistering in die agtergrond. En saam daarmee: ’n patroon van menslike teenwoordigheid; soms subtiel, soms uitgesproke. Wat dié twee wêrelde saamweef, is ’n onsigbare draad – deurlopend, byna onafwendbaar.
— Lien Botha

Sy glo dat die rol van die kunstenaar, fotograaf, kurator, woordsmid in ’n onderstebo wêreld van kardinale belang is: “Stel jou voor die afwesigheid van hierdie skeppende wesens se manifestasies; die geloof en hoop daaraan verbonde … die gedagte is afgryslik. Dit is helaas Van Wyk Louw se ylblou lint – verlore fladdering – in die strawwe wêreldwinde.”

Lien verklap dat sy nie, soos Vin in haar boek, soos ’n kunsvlugteling voel nie; dat die geraas in haar bors vir eers tjoepstil is. En dat die mooiste woorde wat sy al ooit gehoor het, is: “Maar die grootste hiervan is die liefde.” 

Tyd vir te lank mymer en stilstaan is daar nie. Sy werk aan ’n bundel kortverhale; ’n reis na Marrakesj (vir die Rencontres) in November; en sy en Raymond loods eersdaags twee kunshuise, Veldhuis en Blesberg, in Bettysbaai – gebaseer op die LekkeSlaap-prinsiep, met die verskil dat besoekers roterende Suid-Afrikaanse kuns teen die mure kan koop.

Lien werksaam in haar studio, 2024

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Die kuns van Lien Botha laat jou ander wêrelde sien gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand