Walter Meyer sou vanjaar 60 word

Water Meyer, circa 2000. Foto deur Catharina Scheepers via heidierdman.net
Om 'n kunstenaar, pa, man, vriend, vreemdeling te onthou
My brother Walter painted the sky. And the light. He was obsessed with rendering the mood of the landscape as accurately as possible. He never stopped in his quest to capture the light, to portray it as it truly was. What he saw, he painted. Only that.
Walter often marvelled at the incredible colours and multiple variations of the sky, trying to explain his fascination, and then, at a loss for words, he’d run a calloused, paint-stained hand across the back of his head. In silence, he’d take a drag on a Benson & Hedges cigarette.
He was highly regarded by those familiar with the “impossible-to-describe skies” he somehow managed to bring to life with his palette.
Só word Carl Walter Meyer verewig in die voorwoord van sy broer Frans se biografie Impossible skies: life with my brother, the artist, Walter Meyer, wat in April 2023 vrygestel is.
Die kunstenaar en Oos-Kapenaar wat na die dorre vlaktes van Namibië en die Noord-Kaap gehunker het, sou vanjaar op 31 Januarie 60 geword het.
Walter is in 1965 in Aliwal-Noord gebore. Sy kunsvernuf is op ’n jong ouderdom besef. Hy is as geniaal beskou en het sy BA in skone kunste aan die Universiteit van Pretoria verwerf en verder studeer by die Kunstakademie Düsseldorf. Sy tragiese dood in 2017 op die ouderdom van 52 en die daaropvolgende hofsaak ná sy tweede vrou Sophia vir sy moord gearresteer is, het Suid-Afrika geskok. Tog word sy nalatenskap nie bloot deur smart en tragedie gekenmerk nie.
Walter se erkenning, herkenning én die betekenis wat aan sy lewe geheg moet word (selfs geëer hoort te word, in die nie-christelike sin van die woord) is volgens my tweevoudig.
Eerstens: Alhoewel die afgelope eeu gekenmerk is deur ’n waardering vir kuns, met ’n begrip van prestige wat daaraan geheg word à la die Franse sosioloog Pierre Bourdieu se teorie van kulturele kapitaal, het Walter hulpbehoewend gesterf. Nes Gauguin, Vermeer en Van Gogh van ouds. En dít van iemand wie se werk deesdae tot R180 000 op die veilingsblad van Strauss & Co haal. ’n Plegtige dwaling wat deur Suid-Afrikaanse kunsliefhebbers begaan is …
Tweedens: Ek het ongelukkig nie die voorreg gehad om vir Walter te ontmoet nie, maar het wel saam met sy twee oudste kinders, wie se ma sy eerste vrou Catharina Scheepers is, skoolgegaan. In ’n skool wie se slagspreuk: “Wees u self” lui, maar terselfdetyd daarin geslaag het om die teenoorgestelde op mens af te dwing, was Gert en Sonja Meyer uitsonderings.
Dié sibbe was interessante, alternatiewe, kreatiewe mense.
Die diep-denkende Gert, wat depressiewe neigings gehad het, is veral swaar getref deur sy pa se alkoholisme en dood. Hy het in September 2022 vir Catharina vertel hy gaan die aand deurbring by een van sy en Walter se gunsteling-visvangplekke op die oewer van die Oranjerivier. Hy het nooit huis toe gekom nie en daar word vermoed dat hy verdrink het.
Die saggeaarde en ewe kunssinnige Sonja, wat skone kunste by Michaelis studeer het, bring steeds hulde aan haar pa deur gereeld sy kunswerke op ’n Facebook-blad Walter Meyer paintings, wat deur haar ma gestig is, te deel. Dankie, Sonja.
“I think the best experiences I’ve had were with my children. Having children and living with them brought me the best joys. I’ve never experienced such strong love as the love for my children and my wife. It’s just wonderful sharing life with your children and seeing everything through their eyes. It seems the world is new again. That experience is still going on, and it’s the best,” word Walter in Impossible skies aangehaal.
Alhoewel Walter vir sy landskaptonele bekend is, skets die Walter Meyer paintings-blad ’n beeld van ’n man wie se kunssinnige aanleg boonop lê by olieskilderye van naakte vrouens wat kamera-eg lyk, ou mans wie se plooie byna tasbaar is, strelende stillewes van vrugte en erdeware, potloodsketse en balpuntpen-illustrasies.
Kalahari town, 2008
Bushveld landscape, 2008
’n Kunswerk van Walter verskyn ook op die albumomslag van James Phillips & The Lurchers se Sunny skies, wat in 1994 vrygestel is. James, wat tot sy misnoeë roem verwerf het as sy alter-ego Bernoldus Niemand, se musiek het satiriese kritiek op die destydse NP-regering gelewer. Waar James se kunstenaarskap anti-politiek was, was Walter a-polities.
Lloyd Ross, die stigter van die anti-establishment- Suid-Afrikaanse platemaatskappy Shifty Records, se kortfilm Walter Meyer – short documentary (1995) bied ook insig in die kunstenaar se lewe en werk.
Lloyd het Walter gedokumenteer in die omgewing waarin hy die meeste op sy gemak gevoel het: oop landskappe, ver verwyder van die gewoel van stadslewe. Walter het tydens die maak van die dokumentêr in Bethulie in die Vrystaat gebly. Om ’n landskap vas te vang nes dit is, was vir hom van ontsettende waarde, vertel die lang, skraal man met ’n skewe glimlag in dié kortfilm. Breërandhoed op die kop, flannel-hemp halfpad toegeknoop, sigaret en verfkwas in die hand, ry Walter die Vrystaat-vlaktes plat in ’n VW-kombi.
“Om ’n landskap vas te vang nes dit is, was vir hom van ontsettende waarde, vertel die lang, skraal man met ’n skewe glimlag in dié kortfilm. Breërandhoed op die kop, flannel-hemp halfpad toegeknoop, sigaret en verfkwas in die hand, ry Walter die Vrystaat-vlaktes plat in ’n VW-kombi.”
Lloyd se film sluit gesprekke met die oorlede joernalis Ivor Powell, die kunstenaar Kendall Geers en Catharina in. Deur dié wat die naaste aan hom was, word daar ’n outonome oorblyfsel geskep van Walter Die Mensch.
Walter wat plattelanders as vrygewig beskou.
Walter die tuinier wat spog met sy ruie kakiebosse.
Walter die pa.
Walter wat in tweestryd was oor die waarde van sy werk.
Walter wat gedroom het oor die moontlikheid van ’n beter toekoms.
In die dokumentêr voer Walter self aan dat hy nie ’n liefhebber van kontemporêre, konsepsuele kuns is nie. “Dalk verstaan ek dit net nie,” lag hy skamerig.
Kalahari landscape, 1997
Farm building & windmill, 1995
From the East, 2001. Limited edition print beskikbaar as Olifantshoek, late afternoon
Dana Snyman dra ’n hoofstuk in sy 2019-boek Soekmekaar aan Walter op. Hierin vertel Dana van sy besoek aan Upington tydens Sophia se hofsaak, en sluit ook gesprekke in wat hy met Suzette Kriel – “die vrou wat Walter byna moederlik versorg het ná Sophia hom drie maande voor die moord uit hul huis gejaag het” – oor Walter gevoer het. “Ek’t die lewe weer vir Walter spesiaal probeer maak,” skryf Dana oor Suzette se herinneringe. “Hy wou regkom. Hy het so hard probeer.”
Dana het ook telefonies met Monica Huisamen, Walter se suster wat in Kanada bly, gepraat. Sy onthou hoe hy, etlike weke voor sy dood, vir haar mondfluitjie oor die telefoon gespeel het.
“I loved Walter’s art, his voice, the way he described what he was seeing. The way he placed his vision on the canvas,” onthou sy hegte vriendin Peta Scop vir Walter. “Once, when I first knew him, he was painting in the garden. When I walked past I saw a huge truck travelling on a long road. Later the same day, he’d painted over it with a desert landscape. It was before he could afford to buy the canvasses he needed.”
Sunday Times-joernalis Claire Keeton het in haar huldeblyk aan Walter Requiem for a free spirit, artist Walter Meyer, wat ’n paar maande ná sy dood verskyn het, met diegene wat vir Walter geken het, gepraat om ’n volledige beeld van hom te skets.
Waar Walter eens ’n lewenslustige, skeppende man was, word hy ook as ’n verslete en depressiewe alkoholis beskryf deur sy naastes. Keeton haal vir Jackie Castella, die eienaar van die gastehuis oorkant Walter se huis in Upington, aan: Sy het hom sjarmant gevind wanneer hy nugter was, maar sou die polisie bel as Sophia en Walter se fuiwery en bakleiery onverdraagsaam geraak het.
Castella beskryf dit as “verskriklik” om sy ondergang te moes beskou, skryf Keeton. “Die huis was propvol meubels toe Catharina weg is, maar teen die tyd wat hy gedwing is om uit te trek, was daar geen laken vir die matras nie, geen kussingslope vir sy kop nie,” onthou sy.
Keeton het ook vir Steve Botha, voormalige agent en vriend van Walter, geraadpleeg. Botha herroep hoe Walter in ’n drankbedwelmde-stomheid in Sophia se skoot uitgepass het terwyl sy sy hare vir ure aaneen streel. In dieselfde berig haal Keeton vir Catharina aan: “Hy was ongemaklik in die wêreld, dis hoekom hy begin drink het.”
Buiten vriende, versorgers en familie, het Walter ook ’n blywende indruk op vreemdelinge gelaat.
Die kunstenaar Henk Serfontein het in Januarie 2018 ’n artikel vir Netwerk24 neergepen oor sy toevallige ontmoeting met Walter (op ’n roltrap in Kaapstad se bougie Tuinesentrum, nogal). In Walter Meyer: die sagte man by die roltrap beskryf Serfontein hom as ’n “lang aantreklike man, ongeskeer en met ’n pap sonhoedjie op die kop. Hy was skugter maar tog ’n warm en vrygewige gespreksgenoot. Daar was lang stiltes tussen sy gedagtes en soms eerder ’n eerlike onsekerheid as ’n finale antwoord.”
Bowendien het Walter ’n langdurige indruk op ’n ander onbekende gelaat …
Tydens my navorsing het ek vir ’n vriendin van my, Annica Marincowitz (’n destydse regular op Yeoville se Rockeystraat-scene), gevra of sy vir Walter geken het. Sy het my laat weet dat haar vriendin Luana Nasser “een keer vir Walter in ’n kroeg raakgeloop het. Ek hoor gou of ek reg onthou het.” Annica het toe nou nie reg onthou nie, maar Luana het wel toevallig vir Walter in 2007 ontmoet.
Luana onthou:
Die merkwaardigheid van hierdie ontmoeting was dat ons nie geweet het wie dit was met wie ons praat nie. In 2007 het ek en my partner Brian ge-roadtrip na Namibië. Ons eerste pitstop was dié van Askham, noord van Upington.
Ons is vroegoggend op om te betaal en in die pad te val, maar ongelukkig was niemand by ontvangs nie. Ons het maar noodgedwonge oor die perseel gewandel. Dit was koud en die grond was bedek met ’n mantel van sneeu.
Ons het twee mans raakgeloop wat rondom ’n yl vuurtjie gestaan en wag het vir water om te kook vir hulle koffie. Ons is koffie aangebied. Ons het aanvaar en het vir minstens drie uur om hierdie klein vuur gestaan en koffie drink en gesels.
Hy het homself as Walter voorgestel. Ongelukkig kan ek nie sy vriend se naam onthou nie, maar dié het nie veel van ’n bydrae tot die gesprek gelewer nie. Hulle was saam in ’n rehab-groep, maar dit was nie waaroor ons gesprek gehandel het nie.
Sodra ons hom vertel het dat ons ’n twee week lange roadtrip na Namibië aanpak, het Walter – op sy stil en onopgesmukte manier – indiepte oor die woestyn, die skoonheid, die strakheid, kleur en lig van Namibië en die Noord-Kaap begin praat.
Hy het ook vrylik oor sy benoudheid gepraat, aangesien sy gesin verhuis, of reeds na Kaapstad verhuis het. Hy wou nie die Noord-Kaap verlaat nie. Ek dink hy het genoem dat hy ’n plaas in die omtrek gehad het.
Teen hierdie punt, aangesien ons rofweg-drie-uur van klets beide moeiteloos en opreg was, was daar geen twyfel in my kop dat die Noord-Kaap en Namibië hierdie man se siel voed nie. Sy ongelukkigheid oor Kaap toe moet trek was tasbaar.
Hy het uit die hart gepraat.
Kunstenaar, pa, man, vriend, vreemdeling: Nes sy skeppings, het Walter Meyer blywende indrukke geskep en agtergelaat; ’n na-doodse nalatenskap wat diep in die persoonlike en openbare geheue ingeëts is.
Viva, Walter Meyer.
“Kunstenaar, pa, man, vriend, vreemdeling: Nes sy skeppings, het Walter Meyer blywende indrukke geskep en agtergelaat; ’n na-doodse nalatenskap wat diep in die persoonlike en openbare geheue ingeëts is.”
Calvinia, 2013
Namib, with Euphorbia, 2003
Farm yard, 1993
Camps Bay drive, 2007
Trucking stop, 1993

Mila is redakteur van BooksLIVE.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Walter Meyer sou vanjaar 60 word gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.