Mag nog vele hoopvolle queers Johann de Lange se werk met oorgawe lees

'n Huldeblyk deur Zian Viviers
Vrydag 28 Maart kry ek ’n boodskap van my vriendin: “Z, Johann de Lange is dood 😥😥😥😥😥😥”.
Hy was 65. In sy lewe het hy heelparty gedigte, kortverhale en vertalings agtergelaat wat hopelik nog vir jare vorentoe die jonger generasies van queer skrywers sal inspireer. Ek was nooit gelukkig genoeg om hom te ontmoet nie. Daar was een keer wat die geleentheid hom amper opgedoen het: Hy sou by ’n queer-gesprek aansluit by Woordfees of iets van die aard, maar moes kort voor die geleentheid kanselleer om persoonlike redes. Al het ek nooit die kans gehad om met hom te gesels nie, het hy my en my skryfwerk beslis beïnvloed.
As ’n mens kyk na die biografiese gegewens van De Lange se lewe is daar heelwat aspekte wat ’n queer individu herkenbaar kan vind. Sy jeugjare was ongelukkig. Hy moes dikwels rondtrek en het moeilike familieverhoudings gehad. Hy begin dig in standerd 4 en kon later weens persoonlike probleme nie sy BA-studies voltooi nie. Sy erg vervelige werk as bankklerk het hom depressief gemaak; die depressie was wel die dryfkrag vir sy kreatiewe skryfwerk. Eindelik het hy sy weg terug na die letterkunde gevind, ’n kreatiewe skryfkunde-kursus aangebied en later ook by boekhandelaars gewerk. De Lange het onder andere ook ’n belangrike rol gespeel in die Avbob-digkompetisie.
Fotograaf: Leon de Lange. Via LitNet
Vandat ek Afrikaanse poësie op universiteit begin studeer het, het ek natuurlik so gou moontlik begin om digters uit te soek wat skryf oor gay-tematiek. De Lange is een van die mees prominente figure in Afrikaans wat oor hierdie temas geskryf het. Tydens sy universiteitsjare in 1979 publiseer sy letterkundekring hulle lyfblad vlieg. Die derde uitgawe daarvan word verbied, aangesien een van De Lange (asook een van Koos Prinsloo) se werke te “uitdagend” was. Reeds toe was De Lange een van die baanbrekers wat taboe onderwerpe aandurf. Ek dink veral ook aan bundels soos Nagsweet (1991) en Vleiswond (1993). Toe ek hierdie bundels in die universiteitsbiblioteek gevind het, het ek my eerste ontmoeting met eksplisiete homoseksuele tonele in Afrikaanse poësie gehad. Dit is bundels wat uitgereik is in ’n tyd waarin sodomie steeds onwettig was in ons land, terwyl ek dit vrylik kon lees in ’n tyd waar ons nou regte en vryheid het.
De Lange se dapperheid om oop en eerlik oor hierdie temas te skryf het vir my gewys dat my stem ook geldig is, dat ek self ook onomwonde oor homoseksuele seks en verhoudings mag skryf sonder om bang te wees vir wat my familie of die groter publiek daarvan sal dink. Alhoewel ek sedertdien heelwat ander Afrikaanse queer digters ontdek het, sal De Lange se werk altyd ’n sagte plek in my hart hê.
Een van die eerste homoërotiese gedigte wat ek in Afrikaans gelees het, is ‘Tongnaai II’ (op bladsy 91 in Nagsweet):
Op jou maag, met een been hoog opgetrek,
kan ek sien tot waar jou blonde beenhare
strek, verdonker en verdig, en die dik rif
van jou horing tussen harde boude in verdwyn.
Judasoog wat vir ’n tongnaai oper plooi,
geurige kreukel met ’n vag bruin krulle,
ring wat ritmies knel as die eerste fel spasmas
die skoot diep uit my swaar balle boontoe bring
en stoot tot by die rooi geswolle knop wat klop
en taai wit wiele oor jou rug uitrol.
Jou lyf maak my jags vir growwe taal –
hol en horing, pielkop, fok en tos –
want in my mond is sulke soepel woorde
dik en vlesig en vrank soos jy.
De Lange het die vermoë gehad om die skoonheid van manlike lyflikheid vas te vang met aanloklike liggaamsdele en kleurvolle beskrywings van die homoseksuele seksdade. Vir diegene wat vir ’n groot deel van hulle lewens gemaak glo is dat gay-seks onnatuurlik en sieklik is of weggesteek moet word, is gedigte soos hierdie een ’n tipe bevestiging en bevryding dat gay-begeerte nie verkeerd is nie. De Lange se poësie bevat rou sensualiteit en hy gaan onverskrokke om met taal. Sy woorde is ’n teenmiddel vir die homofobe se fluisteringe wat soms in queer mense se koppe maal. Hy wys ons mag voel, mag wees, mag hieroor skryf.
“Sy woorde is ’n teenmiddel vir die homofobe se fluisteringe wat soms in queer mense se koppe maal. Hy wys ons mag voel, mag wees, mag hieroor skryf.”
Ook die openingsreëls uit ‘Coke & sodomie’ (op bladsy 31 uit Wat sag is vergaan) bly my by:
Ons is die post-vigs generasie.
Ons naai nie met kondome nie,
ons suip en glo aan bigamie
en leef vir coke en sodomie.
Hierdie gedig wys die groei wat die gay gemeenskap al deurgemaak het en hoe queer mense dikwels die pyn uitdoof van die MIV/Vigs-epidemie deur drank en dwelms te gebruik. Ook dat hulle leefstyl nie deur ’n virus stopgesit sal word nie. In die hede is daar wel heelwat vordering gemaak met anti-retrovirale medikasie en PrEP wat queer-seks heelwat veiliger maak en ’n positiewe diagnose is nie meer ’n doodsvonnis nie.
Alhoewel dit die gay-tematiek in sy werk is wat my vroeër jare aangelok het om sy gedigte met oorgawe te lees, is daar ander temas waarby ek ook aanklank vind. Buiten die baanbrekerswerk wat De Lange vir queer-poësie en kortverhaalkuns geskep het, is verlies as tema in sy werk ook opvallend. De Lange het dikwels oor die dood geskryf en besin. Poësie oor verlies kan vir lesers ’n wegwyser wees in donker tye. Ek dink byvoorbeeld aan ’n kort gedig soos ‘Laatnagskietgebed’ (op bladsy 89 in Die meeste sterre is lankal dood):
Mag die einde my onverhoeds bevry,
nie ’n lang af- & inwag van die dood
met ’n lyf wat moedig & bloedig stry.
Laat my stil die stroom ingly soos ’n boot.
In die laaste gedig ‘Aandlied’ (144) in Judasoog: ’n keur uit die gedigte van Johann de Lange (2010) word verlies roerend omskryf:
Eendag, al weerstrewiger vlees & been
ruisende bloed & rats sinaps,
tong wat teëstribbel & troos,gaan die haglike samehang
van selle & die eensame een-
maligheid van DNS ophou saambestaan,& wat my ineengeweef
gehou het, & my salwend in my brein
laat woon het, na alle uithoekevan hierdie aarde vervreemd
raak, & hierdie hand met pen
sy greep op taal verloor& los raak van alle woord & sin.
Wie sal in die nag my uit-
asem hoor? Wie sal onthou?Dis amper middernag, byna 1 April.
Wanneer daag die dag
waar ek áls verloor wat ek bemin.Hoe ontheg ’n hart hom van ’n heelal
wat aanhou sê: Begin, begin, begin!
Al gaan die lewe voort, laat De Lange ’n leemte agter en hy het heelwat lewens aangeraak, van mense wat hy nie geken het nie, soos ek, maar ook sy vriende. Joan Hambidge, jarelange digtersvriend van De Lange, beskryf sy digkuns as ryk en geskakeerd. In Volksblad op 27 Julie 2010 noem Hambidge sy verse “’n digkuns van paradoks, van onvervulling, en juis hierom is daar ’n intense belewing van die oomblik en die skoonheid in verval”. Hambidge beweer dat De Lange soms verkeerdelik as gay-digter bestempel word. Van die sterkste gedigte in Afrikaans oor die gay-tema is deur De Lange geskryf, veral in een van die grootste erotiese deurbrake in Afrikaans, Nagsweet, maar sy sê: “De Lange het ’n Januskant. Hy is sowel cruiser en gay-digter as besinger van die skoonheid”.
Johann en Joan, DEKAT , 1990. Foto via Woorde wat weeg
In Lot se vrou (2012) publiseer Hambidge ’n gedig, ‘Die algebra van pyn’ (22), vir De Lange:
Sou jy ooit kon dink toe ons op ’n plaaspad stap
hoe die lewe genadeloos álle illusies sou afskil?
Ons ken beide die verslawing van hierdie bedryf,
verkeerdelik al as ’n stil, eensame proses beskryf.
Op daardie plaaspad, diep in die geheue geberg,
’n koue kelder met gemerkte bottels vol sand,
wys jy toe na ’n sekelmaan as ’n nael gebreek.
Vele afleggings, eindes, selfs moord oor ons lewenspad.
“Fata,” het jy uitgeroep. “Blote toeval dalk?”
Lewe soos dood toe vir jou ’n snel-grys-fantoom.
Op hierdie nag, ver van daardie plaas met ’n emmer
roesend in ’n gedig en ’n uil wat hoe-hoe roep,
vra ek vannag, enkel uit genade, dat ek, eerder as jy,
eerste uit hierdie lewe, ’n ónsierlike gedig, sal stap.
Dis tragies dat De Lange uit hierdie lewe gestap het. Die digterlike vriendskap tussen De Lange en Hambidge is wel duidelik. Die digters het saam ’n pad gestap, herinneringe geskep en sodoende die eensaamheid van skrywerskap verminder deur hulle literêre kameraadskap. In Hambidge se huldeblyk op Netwerk24 (29 Maart 2025) vir haar “literêre vriend” wonder sy hoe ’n mens ’n bestekopname maak wat in 1982 begin deur ’n digter wat ons besiel het. Sy voeg by:
Mag hy sag oorreis sonder pyn. Want hy sal vir altyd bly woon in ’n stanza (kamer) van die digkuns. En die meeste sterre is nie dood nie. Digterlike sterre bly voortleef... En niemand kon dig oor die hunkering se grein soos Johann de Lange nie. JdL. Johnnypanic. Johannes.
Ek simpatiseer veral met Joan wat haar vriend verloor het, en met ander wat die voorreg gehad het om ’n hegte band met De Lange te hê. Ek is dankbaar vir die woorde wat hy by ons los in die vorm van poësie en kortverhale. Ek hoop daar is vele hoopvolle queer digters wat steeds sy werk met oorgawe sal lees. Dankie dat jy ’n stem was vir queer Afrikaners en dit aanhou sal bly wees. Gaan sag heen, ons effens bevlekte held.
RIV Johann.
Foto via Netwerk24
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Mag nog vele hoopvolle queers Johann de Lange se werk met oorgawe lees gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.