Elodi Troskie se Stellenbosse vryskutpoësie

Elodi Troskie se Stellenbosse vryskutpoësie
Illustrasie:  Carla de Beer

Illustrasie: Carla de Beer

as Hagrid ’n millennial was en ander gedigte

Elodi Troskie (21) is ’n skrywer van Stellenbosch wat gereeld oor Dorpstraat en Bohemia skryf. Van haar gedigte is in 2016 in Nuwe Stemme 6 opgeneem. Sy werk op die oomblik aan haar eerste versameling gedigte, terwyl sy geduldig wag vir 7de Laan om haar ’n werk as draaiboekskrywer aan te bied. Elodi woon tans in Bali saam met ’n Spaanse kunstenaar, Marokkaanse fotograaf en hul ses katte. Elodi het ook onlangs in ’n blog-inskrywing vir SLiPnet, “Mom, I’m a freelancer”, geskryf oor haar angstigheid om te gradueer met ’n BA-graad, werk te soek en om ’n lewe te maak uit die kunste – ’n lewe wat dit werd is om geleef te word. Hier is van haar gedigte.

Illustrasie:  Carla de Beer

Illustrasie: Carla de Beer

as Hagrid ’n millennial was

na André van der Hoven

as Hagrid ’n millennial was sou sy hare ’n statement wees
hy sou sy sambreel in die lug opstuur en drone shots van sy berghut
post met die caption “taking a social media break”
Hagrid going off the #grid na hy uit Hogwarts geskors is vir dagga
in besit op die skoolgrond as Hagrid ’n millennial was sou hy vegan wees
en Florence + the Machine luister

na sy aanvanklike social media break sou hy ’n nuwe Instagram account begin
vir sy bospoësie en links na blog posts oor die euwels van single use plastic
hy sou daisies in sy baard vleg en second hand corduroy hemde by die hospice koop
in Long Street sou hy craft beer drink saam met die mede-vegans
wat hy by ’n climate change convention in Gardens ontmoet het hy sou rage
oor die pryse van real estate en die power of The Man agter die
stygende inflasie van Woolworths sparkling water en gin specials wanneer
roadside shrooms nie meer die gewenste effek het nie almal wil net

fokken vergeet dat as Hagrid ’n millennial was
sy freelance income nie luukshede soos Truth en antidepressante sou cover nie

miskien sou Hagrid sy Twitter account delete en sy self-deprecating jokes
vir die plante in sy greenhouse vertel of miskien sou hy sy oortollige creative energy
channel in ’n t-shirt line met die catchphrase "plants are friends"
naweke sou hy volunteer by die SPCA en rollies rook want sigarette is te duur
en om dit self te rol is soveel meer in the moment, you know

sou Hagrid in God kon glo?

as Hagrid ’n millennial was sou hy sy foon in Mystics laat val
die skerm sou gekraak wees soos Jesus s’n


Illustrasie:  Carla de Beer

Illustrasie: Carla de Beer

Strofes by ’n skildery van twee boomklimmers

vry na Charlotte Cardin se weergawe van Post Malone se “Go flex”

wasig agter ’n boom staan ek op flaminkbene en wieg soos ’n ballerina
parental guidance advised waar jou tande in my nek sink of myne in joune:
die plot summary van ’n trashy vampire teen novel because men are trash
maar vanaand is ek ’n dreinrot en ek eet gourmet uit ’n asblik in Bellville

die boom was eerste hier en die hele voorstad groei rondom sy dik stam
jy ook jy wat eers ’n tak aan die boom was voor jy afgebreek het en op
die grond kom lewe het as ’n bosbewaarder-Adonis wat jou lyf deur die week
soos ’n etiket om ’n wynbottel draai en naweke met ’n gieter
rondloop om huisplante soos ek te soek wat jy kan water met gin

jou hare blink lank soos ’n vuurvlieg die vuurvlieg sing en gooi disco-ligte
saam met die een silwer kommapunt bo in my oor jou hande speel
trom op my rug op die maat van die strepe op my trui as jy mooi
luister kan jy ’n hele orkes onder hierdie boom hoor die boom wat regdeur
die dak kraak en verder op en op deur die klankgrens skeur ek is die klankgrens

die boomwortels braille onder ons voete en onder jou vingers
spin die nuwe tattoo van my eenoorkat


Illustrasie:  Carla de Beer

Illustrasie: Carla de Beer

as Gustav Mahler op Tinder was

gedagtes by Jacob Banks se “Slow Up”

op die vooraand van my laaste voorgraadse eksamen komponeer ek
my gebed op die ritme van Simfonie Nommer 2 in C-mineur
elke haar op my liggaam juig – nee,
treur… O glaube, mein Herz, o glaube

ek kyk gepynig na my biblioteekbuurman watter gek, dink ek
soos ’n eerstejaar in Nu'Bar luister hy Chainsmokers
kan hy nie sien hoe C-mineur my martel nie ruik hy nie
die rook van die brand in my oorfone nie sien hy nie
die swart roet van die tematiek van Danie Marais as buitestander in
Duitsland wat deur my notas vlam of Wilma
wat soos ’n voorbladmodel op die volgende bladsy smeul

ek kry my buurman so jammer hy kyk dromerig
na die printer langs die tafel dit was ’n printer vroeër vanaand nou
is dit ’n katedraal my gebed is ’n alternatiewe wêreld waarin
Gustav Mahler op Tinder is my oë slaan ek op
na die ligte in die dak en tydens ’n oomblik van stilte smeek ek
saam met Jacob Banks om stadiger asem te haal
om nie vinniger te groei as die hare op ons arms nie

Gustav Mahler swipe right die droë gras van my vlegsel
was soos ’n kers en steek my langvraag aan die brand


Illustrasie:  Carla de Beer

Illustrasie: Carla de Beer

’n prins in De Akker, Stellenbosch

"I think I'm in love with you."
"You mean as friends?"
– Juno (2007)

as jy my sou vra om vir jou ’n skaap te teken
sal ek jou ’n kaart van Stellenbosch gee en ’n groot rooi kring
om die hoek by De Akker trek want De Akker is ’n skaapkraal
en ons is skape wat aan mekaar se dronk lag kou soos gras

onder die tafel rock paper scissors jou hand om my been
as jy ’n jakkals is wil ek jou makmaak
tot ons mekaar nodig het as jy ’n leeu is
sal ek myself in die leeukuil gooi as jy Simson is wil ek stil sit en
kyk hoe jou hare groei kyk hoe jou hare onder jou hoed uit krul

dessine-moi une vie pour nous
la vie que vous avez demandée est dans votre verre de vin


Illustrasie:  Carla de Beer

Illustrasie: Carla de Beer

my laaste Maandag in Stellenbosch met apologie aan Fokofpolisiekar

ek onthou ons het hardop gebid
en ek onthou ons het in ons skoolklere gevry
– Komma

ek het vanoggend vyfuur opgestaan om ’n laaste keer deur die dorp te
stap voor Maandag te hard begin raas nee ek jok
ek het nooit gaan slaap nie ek was heelnag wakker
om my kamer op te pak soos ’n profeet
het ek in Piet Retief begin en deur Dorpstraat en deur die Laan
links verby die groot kerk verby die tuine af in Victoria

die rooi trappe by die biblioteek was Santiago
die tafel in die hoek op De Stomme Jonge se stoep die Finisterre
ek het my skoene uitgetrek en my eie grot geskryf ek het weggekruip
ek rook nie ek rook nie ek asem net rook in
my longe breek soos brood en ek voel heilig ek voel

veilig hier Stellenbosch in jou pas die hele Melkweg die Suiderkruis
bly op die vensterbank in my koshuiskamer as ek ooit terugkom
sal ek kom om te bly sal ek hardop
bid by die einde van die aarde my spore terugstap na oral waar
ek in die nag met koshuisouens gevry het of alleen gestap het
en gewonder het of dit moeilik sou wees om in die rivier te
spring en my arms slap te hou soos koshuisvla miskien
is daar nog ’n Rooiplein wat na die rivierbodem gesink het
miskien sal bougainvilleas teen my handpalms dans

Gehou van Elodi Troskie se Stellenbosse vryskutpoësie? Ondersteun Klyntji vir meer sulke stories.

* R

Become a Patron!