'n Tweede kans vir die tydskrif INSIG
Die tydskrif verskyn weer as 'n eenmalige pop-up
’n Eenmalige “anderse reünie-uitgawe” – dit is hoe die nuwe INSIG, die gewese leefstyl- en meningsblad, beskryf word. Die nuus dat dit weer op die winkelrakke beskikbaar sal wees het onlangs met heelwat fanfare gebreek. Die tydskrif se April/Mei 2019-verskynsel is ’n unieke kombinasie van die beste argief-inhoud en nuwe artikels wat met mekaar in gesprek tree.
Ingesluit in hierdie toe-en-nou-gesprek is Karin Brynard, Ronelda S. Kamfer-Trantraal, Dominique Botha, Rian Malan, Jackie Nagtegaal, Saartjie Botha, Eben Venter, Ricardo Arendse, Ivor Price, Anneliese Burgess, Ingrid Winterbach, Gielie Hoffmann, Johannes de Villiers, Kabous Meiring, Marlene van Niekerk, Schalk Schoombie, Martie Retief-Meiring, Toast Coetzer, Koos Kombuis en meer.
Daar is ook ’n fiksiebylaag van 32 bladsye, wat P.G. du Plessis, Loftus Marais, Zander Strachan, Chase Rhys, Danie Marais, Chris Barnard, Valda Jansen, Bibi Slippers, Sophia van Kapp, Kirby van der Merwe en M.S. Burger insluit.
Die publikasie is in 2005 bekroon as die beste tydskrif in die land, daarna het dit in 2007 vir die laaste keer op die rakke verskyn. Volgens die verklaring bied dit wyse woorde vir verwarrende tye.
“In sy 80e jaar skryf Breyten Breytenbach eksklusief oor sy laaste dag in Pollsmoor, Hannelie Booyens deel haar gevoelens oor haar diagnose met motorneuronsiekte, en Erns Grundling het sy weg deur Japan ge-konitsjiwa op die spoor van ’n paar manne om mee Wêreldbekerrugby te gesels – onder andere ’n All Black van formaat,” lui die verklaring.
Daar word vertel dat daar op verskillende variante van Afrikaans in hierdie INSIG gefokus word, met die publikasie se kenmerklike moderne en flinke uitleg.
Die redakteur van INSIG 2019 is Elmari Rautenbach, kunshoof Charl Edwards, teksredakteur Aletta Pretorius-Thiart en assistant-redakteur Erns Grundling. Die uitgewers is Media24 Leefstyltydskrifte.
Elmari Rautenbach se redakteursbrief
Stel jou voor: Dis 1985, ’n paar maande voor die Live Aid-konsert, Londen.
Die organiseerder, Bob Geldof (hy van The Boomtown Rats en later sir Bob), wil hê die rockgroep Queen moet deelneem aan dié epiese 16 uur lange musiekfees, wat tegelykertyd in die Wembley-stadion in Londen en die destydse John F. Kennedy-stadion in Philadelphia, Amerika, plaasvind om geld in te samel vir die bekamping van hongersnood in Ethiopië.
Maar die groep is onseker. Anders as wat in die rolprent Bohemian Rhapsody geïmpliseer word, is hulle uitgeput ná ’n toer deur Australië en Nieu-Seeland. Die louerige ontvangs van ’n soloalbum deur Freddie Mercury laat hulle wonder of hulle nog bestaansreg het tussen al die opkomende jong sterre.
Dan laat weet Bob: “The entire stage was built for you, practically ... Darling, the world.” En Freddie sê ja.
Later sou hy – tipies Freddie – sê dis juis trots wat hom laat instem het, nie liefdadigheid nie. “Armoede sal daar altyd wees. Al wat ons kan doen om te help, is om iets wonderliks te lewer. En ek het trots gevoel dat ek gevra is.”
Tot almal se verbasing skryf die groep hulle in vir ’n vroegaand-tydgleuf, 18:41. Hulle is ook heel inskiklik dat Freddie se Steinway-klavier gebruik word deur die kunstenaars wat vóór hulle optree. Maar die belangrikste: Hulle neem hulle opdrag ernstig op en repeteer drie dae lank dag en nag.
En dan breek 13 Julie aan, en die eindresultaat is die materiaal waarom stories, of rolprente, gebou word: ’n gehoor van 72 000 is die ganse 21 minute van Queen se optrede op hulle voete, 1,4 miljard mense kyk regstreeks na die satelliet-TV-uitsendings – ’n halwe dekade voor die wêreldwye web sou bestaan, en ’n uitgelate, natgeswete viertal hardloop uiteindelik triomfantlik vorentoe om te buig met die wete: Hulle is ’n tweede kans gegun en het veel, véél meer daarvan gemaak as wat ooit verwag is.
INSIG se tweede kans het verlede jaar gekom: die uitnodiging van ons uitgewer, Minette Ferreira, om ’n “pop-up”-tydskrif te skep – iets wat, in die woorde van ons jong kunshoof, Charl Edwards, tegelykertyd tydig én tydloos is.
Die “tydloos” was maklik.
INSIG se rykdom aan stories en artikels uit die verlede het hulle onmiddellik aangemeld – te veel om alles ingesluit te word: Van Zyl Slabbert se faks van Londen se lughawe gestuur, met ’n pen op ’n nagvlug oor Afrika geskryf, sy nooit vertelde, persoonlike weergawe van die aanloop tot die ikoniese 1987-Dakar-beraad (as Caxton-voorsitter wen hy, ironies, daardie jaar die prys as Joernalis van die Jaar); Kirby van der Merwe, wat Winnie Madikizela-Mandela ompraat om die dogter van haar Afrikaanse weldoener tydens haar jare in huisarres op Brandfort weer op dié dorp te ontmoet; Dine van Zyl se stuk oor Jonas Savimbi wat vir haar in die Angolese bos Beethoven speel; Karin Brynard, wat op ’n reënerige aand met Fred van der Vyver se pa gesels en ’n stúkkende man ontmoet; Erns Grundling, wat die Volksbrandwag se oorlewingskamp vir die jeug in Limpopo bywoon en ’n paar gawe ooms en tannies ontmoet wat hom yskoud laat ...
Moeiliker was dit om die eintlike artikels in die hande te kry. Nie alles is bewaar nie. Dit was nog vroeë jare. Digitale argiewe was nog ’n nuutjie; foto’s is dikwels op film geskiet. (Ek onthou nog hoe ek in my vroeë INSIG-jare spertydaande huis toe is met my sleutelbord en muis onder die arm en my groen iMac-skerm in die hand, drade net waar jy kyk.) En dit is hier waar Annelize Visser die eerste was in wat ons “aflosspan” sou word.
Sy begin soek en snuffel (en word in die proses amper by die Nasionale Biblioteek in Kaapstad uitgegooi omdat die ongenaakbare bibtannie haar betrap waar sy skelm artikels met haar selfoon afneem – jy mog niks uitneem nie, en hoe anders sou ons kopie kon laat oortik?). Annelize help ook met die eerste beplanning en uitdink van ’n struktuur; word saam opgewonde oor hoeveel van die ou stories ’n vonk vind in ’n nuwe onderwerp – die stukkende pa tóé en vandag se stukkende mans; Brett Kebble destyds en staatskaping en Steinhoff vandag.
Ons kom agter hoe relevant baie van die vorige skrywes was; watter brûe na die nuwes gebou word oor ras heen, oor kleurgrense, generasies, selfs landsgrense.
Toe Annelize ander werk kry, word die stokkie aangegee aan Erns Grundling. Aletta Pretorius-Thiart kom by as kopieredakteur, toe Charl om die uitleg te doen (en heel aan die einde ook Joan van Zyl as proefleser). En namate ons saans of oor naweke in ons grafstil, tydelike kantoor werk en beplan, begin ’n nuwe dinamiek knetter, ’n nuwe gesprek. Een wat uiteindelik beskryf kan word – soos Breyten in sy wonderbaarlike verhaal oor sy laaste dag in Pollsmoor ná sewe jaar in die tronk – as “die veelkantigheid van beriggewing” (lees sy storie op bl. 66).
Daar is iets omtrent ’n tweede kans. Om iets nuuts te doen. Of dalk net weer, maar met die wysheid van tyd, béter. Dit gryp die verbeelding aan. Dit laat mense goed voel.
Dis soos Elton John, wat vir Freddie en die manne ná hulle Live Aid-optrede buite hulle kleedkamer inwag, sy arms oopgooi en met ’n groot glimlag uitroep: “You bastards ... You stole the show!”
INSIG sal vanaf 24 April beskikbaar wees by groot supermarkte of boekwinkels, kontak andersins vir Johan Terblanche (johan.terblanche@media24.com, 021 406 4962) vir tuis-aflewering. Dit kos R160.