Hoe ons ontrafel het, ná drie Drake album covers

Hoe ons ontrafel het, ná drie Drake album covers
ryan pedro klyntji.jpg

'n Gedigte-drop deur Ryan Pedro

Ryan Pedro is tans besig met sy MA in Afrikaans en Nederlands waar hy postuur – die wyse waarop skrywers hulself posisioneer in hulle betrokke literêre gemeenskappe – in die Afrikaanse letterkunde ondersoek. Hy skryf aan sy bundel waar hy veral kyk na bruin maskuliniteit as ’n samekoms van verskeie geskiedenisse, ruimtes en artefakte.

wens jy was hier

wens jy was hier


1 . If you’re reading this, it’s too late

“moet asseblief nooit oor my oor ons oor dit skryf nie?”

1 (2).jpg

2 . Nothing was the same

ek kan deesdae net aan jou dink op plekke mooier as hier.
iewers waar die waitress vandag dalk ’n klein bietjie na jou trek:
dieselfde bakbeentjies, groen oë en moesie in die nek
(en ek wonder oor haar linkerskouer: of dit ook klipkoppierig
die wegsteekplek van ’n meerkatgatkuiltjie is.
sal ek haar vra of dit gewoon is vir die son om hierin
te gaan sak en nooit weer gesig te wys nie?)
op sulke plekke, op sulke dae sit ek op ’n sypaadjie,
kop in die wolke oor hoe ons mekaar na al die jare weer
in die o.k. sal raakloop, tussen die soetgoed, jy,
met ’n chocolate in jou hand wat sê:
“ek hou van die baard, maar ek weet nie so mooi
van die ketting om jou nek nie;
dis nie jy nie.”

2 (1).jpg

3 . Take Care

in jou badkamer lê die laatmiddag heuningkruikbruin
omgestamp. jou dowwe snikke kleef taai aan die mure wanneer
jy sê jy kan steeds hulle hande op jou lyf voel. hoe dit oorfoonknoop
om jou polse, jou nek; hulle bysteekwoorde steeds ’n gezoem in jou oorskulp -
a catchy song wat jy net wil vergeet: “kies jy die hotnot bo jou eie mense?”
jy lyk skielik vir my witter as gewoonlik, fetaal ineengekrimp op die stortvloer.
hoe het jou lyf so vinnig sy kleur verloor? is dit omdat ek, nadat ek jou in die bed
gesit het, daar weg is met die son grommend op my hakke,
goudgeel soos die hond wat hulle gesê het speel net?

3 (3).jpg
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Hoe ons ontrafel het, ná drie Drake album covers gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand