Die meme account oor die Afrikaanse teaterbedryf
“Almal weet dat die politiek binne die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf baie hittig kan word – dus het ons dit goedgedink om ’n meme-blad te stig waarop ons daagliks die spanning bietjie kan verlig. Ons nooi kultuurliefhebbers uit om saam met ons te kom lag,” vertel die span agter Losmynoedelsuit.
Volgens hulle het alles begin met Schalk Bezuidenhout wat sy hare blond gekleur het. “Daar was grappe daaroor, meestal in verband met 2 minute noodles, en hy het vir mense gevra om meer oorspronklik te wees. Ons eerste meme was een van hom en Bibi Slippers en die naam “losmynoedelsuit” was ’n plekhouer. Die blad het baie vinnig gegroei, almal het oor die “noedels” gegons en dit was toe te laat om iets anders te oorweeg!”
Die span bestaan uit twee entoesiastiese aanhangers van Afrikaanse teater en vermaak, wat verkies om vir nou anoniem te bly.