Klyntji Klub was een vir die boeke

Klyntji Klub was een vir die boeke

Foto’s: Emma Snyman

Op 130 jaar: Ons vier en bevraagteken

Ons Klyntji het amptelik 130 kersies op die koek uitgeblaas, en dit was net moontlik as gevolg van ’n diep kollektiewe in- en uitasem; ’n spanpoging wat oor generasies en gedaantes strek sodat ons vroeër die maand op Stellenbosch kon saamkom om uit Ons Klyntji jaargang 130 te lees, koek te eet, bier te drink en te dans tot laat in die nag. Ons Klyntji is immers die eerste en oudste Afrikaanse tydskrif – ’n verjaarsdagpartytjie is net gepas.

Die oorspronklike tydskrif is in 1896 gestig met die doel om ’n Afrikaanse literêre kultuur te help vestig. Dit het 10 jaar lank oorleef, totdat publikasie tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog doodgeloop het. In die 1940’s–50’s is ’n poging aangewend om Ons Klyntji te laat herleef, maar min inligting is beskikbaar oor dié periode in die tydskrif se geskiedenis. Dit sou eers weer in die 1990’s, onder leiding van Koos Kombuis, as ’n proteszine herlewe. Toast Coetzer en Erns Grundling het in die 2000’s die leisels oorgeneem en die zine hervorm tot die formaat waarin dit vandag verskyn: ’n A5- swart en wit boekie, klein genoeg om in jou broeksak te pas. Dit word jaarliks uitgegee, onder ’n redaksie gelei deur Toast, Erns, Joe Botha en ’n handvol bydraende redakteurs, en enige iemand kan bydraes voorlê – gedigte, foto’s, sketse, essays, e-posse, stripkuns en nog meer word gepubliseer in alle tale. Luister hier na ritmiese interpretasies van self-voorlesings van skrywers wie se werk in die Ons Klyntji-zine verskyn het, en blaai hier deur die Ons Klyntji-argief. Ons Klyntji is vandag ’n baken van Alternatiewe Afrikaans, en die jaarlikse zine launches by boekwinkels soos The Book Lounge in Kaapstad en Love Books in Jozi word elke jaar ’n samekomsplek vir die weird en wonderful.

In 2014 het die Ons Klyntji-boom ’n nuwe tak bygegroei: Klyntji.com is deur Francois Lion-Cachet – die agter-kleinseun van Jan Lion Cachet, ’n stigterslid van die oorspronklike Ons Klyntji (en die een wat die naam voorgestel het) – as ’n webjoernaal op die been gebring. Klyntji.com word deur ’n aparte redaksie as die zine gedryf – ’n passieprojek van ’n klein redaksiespan, bestaande uit Francois (uitgewer), Elodi Troskie (redakteur), Andréa Müller (bydraende redakteur) en Elzanne Coetzee (teksredakteur). Die projek ontvang befondsing van die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis, die LW Hiemstra Trust en skenkings deur lesers (dankie, julle <3). Dis ook in die verlede deur kykNET en NASPERS se Sinergiefonds ondersteun. As onafhanklike webjoernaal wat fokus op diverse en progressiewe kuns en kultuur, bou Klyntji.com vir meer as 10 jaar aan hoe moderne Afrikaanswees lyk en klink. Dít sluit ’n woordspeletjie WATSE en ’n akademiese been Klyn Akademie (met befondsing van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) in. Vandag word beide die gedrukte Ons Klyntji-zine en Klyntji.com deur Klyntji, ’n geregistreerde NPO en PBO, uitgegee.

In 2023 is die Klyntji Party+kie in Johannesburg gehou. Dit was die eerste paartie gereël onder die vaandel van Klyntji – ’n geleentheid wat die lesers van beide die zine en die webjoernaal bymekaargebring het vir live poësie, musiek, samesyn en wyn. Die daaropvolgende jaar is Klyntji.com se tiende verjaarsdag met die Klyntji Piekniek by Kirstenbosch in Kaapstad gevier. In 2025 is Klyntji Party+kie 2.0 tydens Mogale Festival in Pretoria gehou. Ná afloop van die tweede Party+kie is groot drome gedroom oor wat die vieringe van Ons Klyntji jaargang 130 sou inhou. Klyntji Klub, wat as deel van Woordfees se 2026-program aangebied is, sou nie moontlik gewees het sonder ’n hele klomp mense nie.

Dankie aan die bydraers wat uit die zine voorgelees het. Baie dankie aan Jaco van der Merwe wat die lekker line-up saamgestel het; aan Die Hotel Henry, Jason B, Gktimo, Chefstibo, Dierbaar, Altra-Mal, DJ Yellow en Plaat Japie wat ons laat sing en dans het. Shukran aan Hendrik Nieuwoudt vir die heerlike koek waaraan ons gesmul het. Enkosi kakhulu aan Aandklas en die Toyota Stellenbosch Woordfees wat vir ons die ruimte gegun het om hierdie geleentheid te laat realiseer. Shot aan Jason by Aandklas vir die klank se mix. Baie dankie veral aan Bibi Slippers se moeite om die Woordfees se skrywersfees saam te stel en om Ons Klyntji jaargang 130 saam met die feeszine HI-FI te launch. Aan Paula Kruger sê ons baie-baie-dankie vir die ontwerpe van die zine-omslag, die advertensieposter vir Klyntji Klub en die wonderlike tote bags en hoodies. Dankie aan Emma Snyman vir die mooi foto’s. En aan elke een wat gekom het om saam met ons te vier: MWAH! 💋

Die grootste dankie aan ons klyn kultus van skrywers, lesers, kunstenaars en musikante, elke persoon wat Klyntji ondersteun deur bydraes vir Ons Klyntji te stuur, die zine te koop en wat Klyntji.com se artikels lees en deel.

Kry jou zine, tote bag en hoodie by die volgende launch op 17 November by Love Books in Johannesburg of op 8 Desember by The Book Lounge in Kaapstad. Hou ons socials dop vir meer besonderhede.

Jaco van der Merwe

Die Hotel Henry

Chefstibo & Gktimo

Jason B

Dierbaar

ALTRA-MAL

DJ Yellow

Plaat Japie

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Klyntji Klub was een vir die boeke gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand