'n Nag van vlietende tempels

Uit Kina, ’n film deur Nashilongweshipwe Mushaandja, met Justina Andreas en Bupe Chiwala op die skerm. Foto’s: Lindsey Appolis
Live Art at Masambe was 'n pelgrimstog, skryf Dianne Albertze
Maak nie saak hoe baie die lewe sy rug op ons draai nie. Maak nie saak hoe baie mense mekaar vernietig nie. Maak nie saak hoe baie ons die aarde besoedel nie.
Die grond onthou.
Daai is die tema van vanjaar se Live Art at Masambe wat jaarliks by die Baxterteater opgevoer en uitgestal word. Weer eens onder die bekwame hande van Carin Bester, wat ’n platform bied vir ’n bedrewe groep opvoerkunstenaars, insluitend Kopano Mashike, Laphakade Myataza, Lutho Magubu, Kwakhanya Mboniswa, Page Dina, Siphesihle Nkantini, Palesa Motheo, Nashilongweshipwe Mushaandja, Justina Andreas en Bupe Chiwala.
Die sterk tematiese program ondersoek grondeise, verplasing, ontheemding en transformasie. Eie aan opvoerkuns, is die items ryk aan simboliek en metafore. ’n Aand van inkyk en saamwees.
Hier volg ’n paar indruksketse van Live Art at Masambe – the soil remembers.
SANKOFA
Konsep en optrede deur Laphakade Myataza, Kwakhanya Mboniswa en Lutho Magubu
In die Akan-taal van Ghana beteken sankofa om terug te gaan en iets te gaan haal. Iets weer op te eis. Omdraai en vat wat joune is.
Maar nie alles in hierdie lewe kan soos koshuisklere met initials gemerk word nie. Als wat ons aanraak, word weer wat dit was: stof. In hierdie geval weer klanke wat kom en gaan. Onkruid weggesmyt. Of ’n leë sandput.
Ons word gelei na die Baxterteatersentrum se voorste tuin. Drie performers en ’n krat vol instrumente (bow, uhadi, lamellophone en ’n thumb instrument). Basiese ligte en klank. Natuurlik gehou. Organies. Die spelers leef in die ruimte. Nes die waterlelies eenkant of die groot boom waaronder hulle optree.
Een ná die ander soek die drie performers in die krat rond, met ’n onskuldige nuuskierigheid. Elke instrument se klank word amper herontdek, ’n taal sonder woorde. Soms word dit ook meer as net ornamente vir optree. Dit word partykeer ’n speelding. Dalk ’n wapen. Dis juis die unieke aard van opvoerkuns: om van die alledaagse simbole te maak, om die konkrete in abstrakte te omskep. Hier is ’n ryk allegaartjie daarvan om te beleef as kyker. Boonop is dit ’n durational piece, so jy moet jou maar gemaklik maak. In hierdie sankofa time loop is tyd slegs ’n konstruksie. Nie dat dit ooit langdradig voel nie. Die progressie van ongeskondenheid en kindwees na die veeleisende tol van volwassenheid gebeur vloeiend, met emosionele oorgang en roerende musiek begelei.
Om al die pad terug te stap na wie ons was, is nie ’n maklike taak nie. Dan nog te moet terugvat. Dis sielswerk. En niks wat goed is vir ons, is ooit net maklik nie. Daarom kan die musiek ook nie net sag op die oor wees nie. Die performers span dus ook meer onkonvensionele klanke soos dié van ’n spittende graaf in. Met elke kap in sand tref dit jou as gehoorlid in die maag.
Jy vra jou af: Moet ons soms eers die geraamtes van die verlede opgrawe? Of moet ons eerder ou koeie in die sloot laat lê?
Sankofa
The line is dead
Konsep en optrede deur Siphesihle Nkantini
Voor die Baxter se hoofingang is ’n hoop donker grond. ’n Stoel in die middel met kabels wat al om die pote gevleg is. Die drade lei na landlynfone uitgesprei al om die stukkie grond. ’n Figuur betree die ruimte. ’n Trunkie onderaan en ’n kerksuit bo-aan. ’n Ketting om die kraag. Geel klei op die dele van sy lyf wat uitsteek. Hy tel een van die fone op en ’n kakofonie van knetterende klanke kraak uit die speakers. Stemme sonder name. Mense wat stry oor ras en grond. Dit bereik uiteindelik ’n crescendo wanneer ’n stem verkondig: “We have no identity without land.”
Dan besluit die stilspeler om maar weer te probeer skakel, wat lei tot ’n wagperiode wat eindeloos voel. Iets waarmee ons almal kan vereenselwig, of dit nou is as jy die polisiediens, ambulans, Eskom of selfoonnetwerk skakel. Die power dienslewering van ons land is ’n opvoerkunsitem op sy eie. Hier het ons met grond te doen. En die gewag vir verandering en reparasie wat nog nie gebeur het nie.
Dis juis die kern van hierdie stuk: die ondersoek van wag, maar nie as ’n alleentaak nie – eerder ’n kollektiewe kruis, want The line is dead herinner ons daaraan dat niks in die lewe alleen gedra hoef te word nie. Veral die seer van moet opgee en wanneer kabels uit kragproppe gepluk word, totdat ons uiteindelik besluit om ons landlynfoon in vlak grafte te begrawe.
Dit beteken egter nie daar moet tou opgegooi word nie. Gatvol kan mens raak, ja, maar aanhou is iets wat ons slegs saam kan doen.
“Die power dienslewering van ons land is ’n opvoerkunsitem op sy eie. Hier het ons met grond te doen. En die gewag vir verandering en reparasie wat nog nie gebeur het nie.”
The line is dead
Naturalised
Konsep en optrede deur Page Dina
Terug tuin toe en ons kry ’n plantpot met twee lang bene wat daaruit strek. 10 pare tone wat nes blare op ’n boom se kop rond ritsel. Iemand is in wording, dalk besig om ’n plant te word?
Al om die pot is sakke grond, ’n emmer water, skoppie en verskeie handskoene. Nog ’n klankbaan, met ’n stem wat praat:
Spreading or allowing the spreading of any listed invasive species is strongly prohibited.
Die plantmens rank uit die pot en beduie dat die gehoor hulle moet help om met modder besmeer, grond bedek en geplant te word.
The transfer or release of an alisted fresh water species from one catchment-system in which it occurs to another catchment-system in which it does not occur is strongly prohibited.
Maak egter nie saak hoe hard gehoorlede probeer nie, die plantmens kry nie ’n vastigheid nie. Asof hulle nie behoort nie. Hulle word pal bedreig, verjaag en ontwortel, nes die vele Swart uitlanders wat skuiling in Suid-Afrika kom soek. In die einste land wat voor kolonialisme sonder grense en ’n huisvesting vir alle persone van Afrika was.
Naturalised is ’n aanklag teen die groeiende xenofobie van ons land. Die verstoting van mense. Die tekort aan medemenslikheid wat toenemend soos onkruid kop uitsteek.
Naturalised
Before the city, I was home
Konsep en optrede deur Kopano Mashike
’n Vrou met kaal borste en ’n emmer water in haar arms kom uit die Masambe-ingang uitgestap. Sy het eensame nagte in haar oë. Skouers gebukkend oor die houe van die verlede. ’n Mond toegeknoop nes die mooiste roos in winter. Die vrou sit dan die emmer op haar kop. Sy kyk hoe lank sy dit kan balanseer, dit kan dra, soos sy al soveel keer vantevore alles op haar eie moes dra.
Die emmer sak grond toe. Sy ook. ’n Blou en wit waslap word in die emmer water gedoop en uitgedraai. Die jammerlap van vele huisgesinne. Sy is egter net een. En die vrou is op ’n missie om die vloerplanke skoon te kry. Tog nie van een hoek na die volgende soos ons in die “regte lewe” maak nie. Opvoerkuns is baie keer die teenoorgestelde van wat ons elke dag sou doen. Dis ’n gebarste spieël. ’n Onderstebo weerkaatsing.
Die water begin spat op ons as gehoor soos die gewassery al vinniger en vol angs raak. Jolyn Phillips se ‘Ballade van wasdag’ weerklink in my kop.
so was
was
wás ons ons
Sy skrop onophoudelik. Haar hare en borste heen en weer; gordyne wat waai uit die kosyne. Tot sy besef dat die vlek op die vloer slegs in haar verbeelding was.
Die vrou was dalk slegs in my verbeelding.
Before the city, I was home
KINA
Film deur Nashilongweshipwe Mushaandja, featuring Justina Andreas en Bupe Chiwala (Andreas en Chiwala is albei deel van Owela Collective)
In Kikongo beteken kina “om te dans” en verwys na ’n rite of passage wat deur vroue gedans word wanneer hulle deur ’n oorgang in hulle lewe gaan. Dis nou in Namibië. Die duinevlakte vol magiese tradisies en trotse kultuur. Al het die kortfilm ’n lied van sy eie wat speel, hoor ek tog met my geestesoor vir ‘Desert air’ van Abdullah Ibrahim:
Trans-dance fire is my one
Green the setting sun
Spiral mist that kissed my night goodbye
Die film flits voor jou oë verby. ’n Swart skerm wat dansende lywe soos verskietende vonke laat blits. Knetterende skouers en heupe. Soms lyk die twee dansers nie meer net menslik nie, maar ook soos geeste, spoke, halfdier-halfgodfigure.
Met min tot geen progressie is die film net wat dit is. ’n Vuur van vroue wat brand. Nie soos die wêreld ons wil hê, aan die uitbrand nie, maar self die vuur. Lokke van vlam en koppe agteroor gegooi van plesier se tipe vuur.
Een wat jou met die kyk daarvan nie koud sal laat nie.
Kina
KE BATLA THOTOBOLO TSA HESO
Visuele kuns deur Palesa Motheo
In die voorportaal hang ’n handjievol prente. 25x25-grootte kunswerke gemaak uit verskeie materiale: terracottaklei, hout, hessian en canvas. Dis ingeleef, vol roes, ook vol lewe.
Die kunstenaar beskryf dit as ’n fokus op haar ouma as die matriargale argetipe van haar familie. Sy beskou haar werk as ’n lewende bewaarplek van Basotho-mites, stam- praise poetry en oorgelewerde tradisies. Die installation besin oor mondelinge storievertelling as ’n vorm van argivering, waar geskiedenis deur middel van stem, geheue en ritueel oorgedra word eerder as deur vaste teks.
Met beeldhou en materiële fragmente, ondersoek Motheo deur die werk wat behoue bly wanneer herinneringe begin vervaag, en hoe stories voortleef deur dié wat dit oorvertel.
Ke Batla Thotobolo Tsa Heso
Buite die teater is dit dofswart, asof daar ’n geskeurde sykous oor die lug getrek is. Kykers en kunstenaars deurmekaar gevleg. Die vertonings is klaar, maar ons stories hou nooit op nie. Een van die mede-gehoorlede kom na my toe. ’n Early Lena Dunham met ’n bob en vintage outfit. Sy lees vir my ’n stukkie uit ’n gedig voor. Of dalk was dit vir ons? Als voel nog soos ’n verbeeldingsvlug.
Laat ek julle met haar woorde los, uit ‘Small kindnesses’ deur Danusha Laméris:
We have so little of each other, now. So far
from tribe and fire. Only these brief moments of exchange.
What if they are the true dwelling of the holy, these
fleeting temples
Die Live Art-span, van links: Oratile Manamela, Lutho Magubu, Carin Bester (kurator), Kwakhanya Mboniswa, Kopano Mashike, Laphakade Myataza, Page Dina en Siphesihle Nkantini
Du Toit is 'n jong bekroonde skrywer, teatermaker en performer wat spesialiseer in die ontginning van queer narratiewe of net om Afrikanerskap op te fok.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van 'n Nag van vlietende tempels gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




