'n Bewussynstroom aangaande uMgungundlovu

Die Dingaanstat-sendingstasie se kerk, ingewy in 1969 en vernietig in 1989. Fotograaf onbekend, 1974. Bron: Sinode van die NG Kerk van KwaZulu-Natal Argief in Pietermaritzburg

Een van die mees mitologies gelaaide plekke in Suid-Afrika

Kwamatiwane (vertaal uit Zoeloe deur Peter Becker as “the place where bad people are killed”), uMgungundlovu, Zoeloeland, Oktober 2021.

Ek kyk uit oor uMgungundlovu. Dingaan se kraal se Zoeloenaam beteken, volgens Adriaan Koopman, “bymekaarkomplek van die olifante”. uMgungundlovu het voorheen verwys na ’n enorme sirkelvormige “stat” (ek sou eerder dit ’n militêre installasie wou noem) wat verspreid lê oor die Singoyama-heuwel in Zoeloeland. Net onder die bo-punt van Singoyama vind die besoeker vandag ’n replika van Dingaan KaSenzangakhona se isigodlo, of harem – omtrent 30 hutte, gebou in die tagtigerjare vir die televisiereeks Shaka Zulu (1986). In die 1820’s en 1830’s is geen mans, behalwe die Zoeloekoning en ’n paar jong seuns, toegelaat in die isigodlo nie. Suid-Oos van uMgungundlovu is Mthonjaneni, Dingaan se koninklike spruit. Onder Mthonjaneni en langs uMgungundlovu is die Hlomo Amabutho en die enorme falliese kruis van die Dingaanstat-sendingstasie. Dingaan se regimente het by die Hlomo Amabutho geoefen en in 1837 het die sendeling Francis Owen daar kamp opgeslaan in opdrag van Dingaan, spesifiek sodat Dingaan op hom kon spioeneer. Onder in die vallei is ’n groot (gedeeltelik) ondergrondse mediasentrum (gebou in die 2000’s) en ’n toring wat soos ’n spies in die lug na die Voortrekker God steek. Langs my, op KwaMatiwane, staan ’n pyler, of obelisk, ter herinnering aan die 71 Voortrekkermans en -seuns wat in 1838 hier vermoor is. ’n Stel trappies lei na Piet Retief en die Voortrekkers se graf. As ’n geheel, verteenwoordig uMgungundlovu een van die mees mitologies gelaaide plekke in Suid-Afrika, maar tog lê dit tans meestal vergete. 

Dit spook wel hier in uMgungundlovu. Lees enige Google-resensie van uMgungundlovu, en mens kom gou agter dat iets hier nie pluis is nie. Michael O’Neil skryf daar is “something quite haunting about this place”. Ursula Vooght beklemtoon uMgungundlovu as synde “spooky” en Karin Waite noem dit “grim”. Godfrey Dlamini voel die teenwoordigheid van sy voorvaders in uMgungundlovu. 

Die mites wat hierdie land gevorm (en gebreek) het, handel almal oor (of het ’n konneksie met) uMgungundlovu. Die eerste Zoeloekonings is in hierdie kontrei begrawe. Dit is uiteraard die geboorteplek van die Zoeloes. Die Retief-Dingaan-verdrag (of -traktaat) is glo in Februarie 1838 hier geteken, en in dieselfde maand is Retief en sy hele manskap vermoor. 

Vroeg in die 19de eeu annekseer Brittanje die Kaap Kolonie van die VOC. Brittanje ondergaan ’n christelike herlewing en verbied slawerny regoor die empire, insluitend die Kaap Kolonie. Gevolglik verloor die Kolonie se boere ’n groot deel van hulle mannekrag. Terselfdetyd is daar sonde met die bure aan die oostelike grens van die Kolonie – die Frontier. Invalle van krimpende Xhosa-gebiede lei tot groot verliese vir grensboere. Die Empire word beskou as onsimpatiek teenoor die Boere en neem gereeld die inheemse groepe se kant. ’n Paar duisend van hierdie grensboere (en hulle families) besluit om op te pak en te trek na ’n gebied buite Brittanje se jurisdiksie. Dit beteken hulle trek noord-oos. 

Retief se groep besluit om Natal toe te trek. Die grond is ryk; daar is wild, hout en water en daar is ’n hawe (Port Natal, nou Durban) vir handel. Onder party Afrikaners is daar op hierdie stadium hoop vir totale onafhanklikheid van Brittanje. Vir hulle is daar is net een probleem: Natal behoort aan die Zoeloeryk. Die meerderheid van die Zoeloes bly noord in Zoeloeland, maar Natal is belangrik vir die Zoeloes, want daar is goeie weiding en Dingaan sien die potensiaal in die konneksie met Brittanje wat Port Natal vir hom bied. Dus stuur die Voortrekkers ’n entourage van manne om met Dingaan, by uMgungundlovu, te onderhandel. 

Dingaan seg hulle moet die land vat wat hulle van sy vyand Silkaats geneem het. Nee! Retief soek die hawe. Gevolglik seg Dingaan dat hy met hulle sal onderhandel as die Voortrekkers die leier van die Batlokoa-mense Sekonyela arresteer en na Dingaan bring, en as hulle sy gesteelde beeste terugbring. Die Voortrekkers versuim om Sekonyela te arresteer, maar hulle kry wel die beeste. Terug in uMgungundlovu word ’n verdrag (blykbaar) geteken, waar Dingaan ongeveer 50% van sy ryk net so aan die Boere oorhandig. Intussen begin meer as 1 000 Voortrekker-kakebeenwaens om Natal in te tree van die Drakensberge en voetheuwels se passe. Derduisende vrouens, kinders, bediendes en werkers, vee, pluimvee, honde en ossewaens vol goedere (insluitend wapens) mars stadig na Natal. Vir die Zoeloekoning se scouts moes dit werklik soos ’n invasion gelyk het. Dingaan is bewus van die feit dat hy Natal gaan verloor as hy nie iets aan hierdie inval doen nie. 

Dingaan nooi vir Retief en sy gevolg van Voortrekkermans en -seuns uit om bier te drink en om die mag van die Zoeloe-impi te aanskou. Die mans word ingelei na die hoofkraal in uMgungundlovu en die Zoeloesoldate begin ritmies te dans. Die stamp van duisende voete is oorverdowend. Die Voortrekkermans word duiselig en party is al klaar dronk. Die sirkel word groter en dan al hoe kleiner soos wat die dansende impi nader en nader aan die Voortrekkers beweeg. En dan skree Dingaan: “Kill the wizards!” en die soldate spring op die Voortrekkermans en -seuns. Knopkieries word gebruik om die Voortrekkers bewusteloos te slaan. Hulle liggame word na KwaMatiwane gesleep en daar word hulle vermoor. Die soldate dwing Retief om te kyk terwyl sy hele manskap, insluitend sy eie seun, voor hom vermoor word. Party van die mans word deurboor met pale. Ongeveer 30 diensknegte van Khoi-, Afrika- en Asiatiese afkoms, wat buite die kraal na die perde gekyk het, word ook vermoor. Altesaam sterf meer as 100 knegte, seuns en Voortrekkermans. 

Dingaan stuur sy troepe om die naaste Voortrekkerkampe te vernietig. Daar word vrouens, ou mense, kinders en bediendes die teikens van geweld. So ontstaan Bloukrantz en Weenen. As kind het ek naïef gedink Weenen is vernoem na Oostenryk se sprokiesmooi hoofstad. Nee, Voortrekkers het daar geween. Die massamoord oortuig Andries Pretorius om die Kolonie te verlaat en hulp te bied aan die Natal-Voortrekkers. Op 16 Desember 1838, by Ncome (ook bekend as Bloedrivier), sluit die Voortrekkers blykbaar ’n verbond met hulle calvinistiese God. As Hy hulle spaar en laat seëvier, sal die Voortrekkers en hulle nageslagte 16 Desember vier as ’n sabbatsdag – die Geloftedag. Later sou Afrikanernasionaliste hierdie Voortrekkergeskiedenis appropriate en verander in ’n volksgeskiedenis. Retief se verhaal sou die hoeksteen word van Afrikanermitologie, net soos hy op die hoek van die Voortrekkermonument in Tshwane staan. Deur dit mitologie te noem, sê ek nie dat die massamoord en Bloedrivier nooit gebeur het nie, maar dat die nasionaliste hierdie stories geromantiseer het totdat dit iets geword het wat sekere mense uitsluit en onderdruk, eerder as om die tragedie van menswees te betreur. 

“Deur dit mitologie te noem, sê ek nie dat die massamoord en Bloedrivier nooit gebeur het nie, maar dat die nasionaliste hierdie stories geromantiseer het totdat dit iets geword het wat sekere mense uitsluit en onderdruk, eerder as om die tragedie van menswees te betreur.”
— Robert Uys

uMgungundlovu was een van die hoekstene van Afrikanernasionalistiese mitologie. Nasionalistiese historici soos Gustav Preller (1875–1943) het Retief in ’n god verander. Beide Leonard Thompson en John Laband skryf dat die moord van Retief en sy manne vir nasionaliste die Boere-inval van Natal geregverdig het. Party mense glo steeds dat die Retief-Dingaan-verdrag (wat meer as 100 jaar laas fisies “gesien” is) beteken dat die Voortrekkers Natal fair and square gekoop het – vir ’n paar gesteelde beeste (waarvoor Retief na my mening Sekonyela geframe het). Ek glo die verdrag is ’n spul bog wat die Voortrekkers opgemaak het om nog geweld te regverdig. Hier, by uMgungundlovu, het Afrikanernasionalistiese sendelinge vir die Zoeloes gepreek dat die Wit man die beskawing na Afrika gebring het, en dat die Groot Trek deel van God se plan was. Die sendelinge het hulself uitgebeeld as ’n voorbeeld van God se liefde en vergifnis in vergelyking met die Zoeloes se “genadelose wreedheid” teenoor die Voortrekkers by KwaMatiwane, Bloukrantz en Weenen. Intussen het die sendelinge met geskiedenis op uMgungundlovu gekapitaliseer – Afrikanergeskiedenis was eens ’n cash cow waaruit Afrikaners gebaat het. 

Vir Zoeloes verteenwoordig Dingaan se uMgungundlovu maar net ’n klein gedeelte van hierdie kontrei se geskiedenis. uMgungundlovu is geleë in die Emakhosini-vallei – die Zoeloes se weergawe van die Vallei van die Konings. By die noordelike ingang van uMgungundlovu staan Nkosinkulu se graf – een van die stamvaders van die Zoeloes. Sy monument lyk soos die monoliet van Stanley Kubrick se 2001: a space odyssey (1968). Dingaan het sy hoofstad hier gestig, wetende dat die teenwoordigheid van sy voorvaders vir hom en sy regime geloofwaardigheid sou gee, veral nadat hy Shaka Zoeloe (sy halfbroer) help vermoor het. 

DIE STRUKTUUR VAN HUANTOLOGIE

Die titel van my (ongepubliseerde) PhD-tesis is The place where elephants meet: nationalist myth-making at uMgungundlovu and Dingaanstat, 1838–2020 (2026). Hoekom hierdie studie? Hierdie plek het my verlei. Ek het van Dingaanstat gehoor in die kantoor van die gay-aktivis Laurie Gaum. Ek het toe, in 2019, ’n kursus geloop by die Universiteit van die Wes-Kaap se Sentrum vir Christelike Spiritualiteit (wat nie meer bestaan nie). Ek het vir Laurie leer ken deur my ma toe ek uit die metaforiese kas gespring het. Nadat ek vir my ouers gesê het ek is gay, het my moederlief ’n studie van homoseksualiteit gemaak om haar seun beter te verstaan. Sy maak toe kontak met Frits en Henda Gaum, om te hoor hoe hulle die skok verwerk het – nogal sweet, as jy vir my vra. Baie Afrikaanse ouers verwerp hulle queer kinders en gaan deur die sewe fases van rou vir die kleinkinders wat hulle nooit gaan kry nie. Asof die aarde nie al klaar oorbevolk is nie! Nie mý ma nie! 

Ek en Laurie het op ’n reënerige middag tee gedrink en gesels oor die fotograaf David Goldblatt se South Africa: the structure of things then (1998). My MA-tesis het gehandel oor ’n monument (Riebeeck-Kasteel se Rooi Os) wat voorkom in hierdie fotoboek. Laurie wys toe vir my in Goldblatt se boek ’n foto van die afgebrande kerk op Dingaanstat-sendingstasie. Dit is ’n vreemde foto. Dingaanstat se ikoniese kruis lyk of dit skeef hang. Al wat nog staan, is die roetbedekte mure en wat oorbly van die verkoolde banke. Dit lyk of iets satanisties daar aan’t gebeur is, of was. Die kerk het al reeds in 1989 afgebrand (alhoewel Goldblatt beweer dat dit vernietig is in 1985). Goldblatt se foto is die oorsprong van my PhD. 

David Goldblatt, Assegais, shield, and 23-metre-high cross of the Nederduits Gereformeerde Kerk in Afrika, (Dutch Reformed Mission Church to Africans), which stands above Dingane’s destroyed capital, uMgungundlovu. The church was burnt down in 1985; Dinganestat, Natal (1989). Via Goodman Gallery

In 2019 vat ek en my eggenoot ’n roadtrip na Eswatini. My regverdiging vir die uitgawes aangegaan, is dat ek ook navorsing by Dingaanstat doen. Zoeloeland het ons helemaal betower. Ons airbnb by ’n sangoma naby Melmoth. Op Oujaarsaand reël sy vir ons ’n hoenderbraai. Sy nooi al die jong Zoeloemans van die omgewing. Ons is in een van die hutte wat bedoel is vir die sangoma se voorvaders. Zoeloesangomas gebruik ’n aparte hut (bekend as ’n Indumba) om met kliënte te konsulteer, om medisyne te stoor en om met die voorvaders te korrespondeer. Ons drink Black Label en sing saam as ’n koor. Ons kompeteer oor wie die diepste stem het. Ek het in ’n koor gesing as jongeling, en show af. ’n Sangoma kan meer as een Indumba hê as hulle voorvaders van verskillende kulture afkomstig is. Die sangoma het Skotse bloed, en my ma se voorouers is self afkomstig van Skotland – my teenwoordigheid gee vir haar ’n geleentheid om haar Europese voorvaders se hut in te wy. Dit is middernag en ons is dronk, maar die aand is nog nie klaar met ons nie. ’n Groep kerksangers kom aangestap en gebruik die veld voor die sangoma se kraal vir lofprys en aanbidding. Ons sluit die aand af deur by hulle aan te sluit en sing stadig ritmiese Zoeloe-hymns onder die melkweg. Ek dink aan Belinda Carlisle se ‘Heaven is a place on earth’ (1987):

Heaven is a place on earth
They say in heaven, love comes first
We’ll make heaven a place on earth …

Dis hemel in Zoeloeland ... 

Oujaarsaand, 2019. Melmoth, Zululand

Die historikus voor Dingaanstat se “nuwe” kerk. Die ou kruis staan nog. Fotograaf: Hikmet Emre Kaya, 2020

Op 1 Januarie 2020 besoek ons uMgungundlovu. Ek staan by die Dingaanstat-sendingstasie se uitkykpunt langs die bouvalle van die kerk en kliek skielik. Hierdie storie handel nie net oor die NG Kerk se sendingstasie nie, maar oor ál die monumente van uMgungundlovu. Ek kon hoor hoe elke monument se spoke met mekaar stry. Elkeen verdedig ’n ander weergawe van die verlede. Daar is die gees van Nkosinkulu en al die Zoeloevoorvaders van die Emakhosini-vallei. Die stemme van Zoeloesoldate vibreer tussen die bouvalle van Dingaan se “stat”. Dan is daar Retief en 100 Voortrekkermans, -seuns en -agterryers wat skree vanuit die massagraf en die monument wat dateer uit 1922. Ek kan die duisende stemme van siele wat die doodvonnis ontvang het op KwaMatiwane, hoor. Dan is daar die stemme van die sendelinge van die Dingaanstat-sendingstasie, onder ander Flip Stander (die stigter en voormalige rektor van die Dingaanstat-sendingstasie). Herman Charles Bosman skryf oor die Marico (in die Noordwes-provinsie) in A cask of jerepigo: “There is no other place I know that is so heavy with the atmosphere, so strangely and darkly impregnated with that stuff of life that bears the authentic stamp of South Africa.” Dieselfde kan van uMgungundlovu gesê word – ek is besotted op die Marico, maar klaarblyklik het Bosman nooit vir uMgungundlovu besoek nie. 

“Hierdie storie handel nie net oor die NG Kerk se sendingstasie nie, maar oor ál die monumente van uMgungundlovu. Ek kon hoor hoe elke monument se spoke met mekaar stry. Elkeen verdedig ’n ander weergawe van die verlede.”
— Robert Uys

DIE HERWINNING VAN MAG

Die baat vind uit die herskryfde geskiedenis het nie met die sendelinge en Afrikanernasionaliste gestop nie. In die negentigerjare besluit die premier van Natal om uMgungundlovu te rebrand. Hy laat bou ’n R30 miljoen multimediasentrum. Hy sloop die ou uMgungundlovu Museum om plek te maak vir ’n eko-vriendelike ondergrondse isivivane. Die Zoeloes het nie voor kolonialisme monumente gebou nie. Bewaarplekke van herinnering het bestaan, maar het ’n ander vorm aangeneem in die Zoeloes se wêreldbeskouing. Die verlede is oorvertel en geheg aan die berge, dale en riviere van Zoeloeland. Die enigste voorbeeld van ’n mensgemaakte monument in die Zoeloekultuur is die isivivane – ’n klipstapel ter herdenking aan belangrike gebeurtenisse of grafte. Die multimediasentrum swyg egter oor Dingaan en die Boere se verhale en fokus op die voorvaders van die Zoeloenasie. 

Die sentrum sluit ’n tuin in, waar ons gids vir ons vertel van ’n boom se bas wat jou “manlikheid” kan vergroot. Ons lag, maar nasionalisme is afhangend van ’n vrugbare, groeiende bevolking. ’n Groot peester maak saak! Die multimediasentrum se mees imposante ruimte is ’n donker gang, bekend as die Hall of the Ancestors – kompleet met inligtingsborde en klankkoepels wat vir jou leer oor die izibongo (prysgedigte, of praise poems) van die Zoeloekonings. Daar is ’n pot gebalanseer op twee olifanttande, genoem die Flame of Remembrance. Dit herinner my aan die “ewige vlam” in die Voortrekkermonument se Senotaafsaal. Die multimediasentrum het ook ’n fliekkamer. Die gids speel vir ons ’n video wat handel oor ’n stadskind wat sy wortels kom vind in Zoeloeland. 

Dit is juis een van die belangriker vrae van my tesis – hoekom bou ons monumente? Sanford Levinson en Tony Bennett (die Australiese geskiedkundige, nie die sanger nie!) skryf dat monumente en museums twee uitgangspunte kommunikeer. Eerstens, wie het politieke mag en wie is in beheer? En tweedens, wat wil diegene met mag aan jou kommunikeer oor “goeie burgerskap”? Vir die Zoeloes kommunikeer die multimediasentrum wat, volgens die Zoeloe-establishment, ’n getroue Zoeloe is: Iemand wat hulle voorouers vereer; wat Zoeloekinders maak en so bydra tot die groei van die bevolking; en iemand wat die Zoeloekoning eer. Dit is nie veel anders as wat die Retief-monument aan Wit Afrikaanssprekendes in the 1920’s gekommunikeer het nie: As jy ’n “regte” Afrikaner is, sal jy eer betoon aan volkshelde soos Piet Retief. Jy sal ’n volksmoeder (of -vader) wees en kinders produseer vir die nasie, vir die volk. Jy sal getrou wees teenoor jou volk en sy heilige koeie aanbid. Dit was die wêreld van my oumas en oupas en van my ma en pa. Dis hierdie wêreld wat my pa grens en polisie toe gestuur het (en onbeskaamd opgefok het) en wat my ma (met haar eie amazing fokken PhD!) verkleineer het tot ’n “hokkiebokkie” sitting pretty. My relatiewe liberale ouers het my gehelp om hierdie nasionalistiese wêreldbeskouing te verwerp. Zoeloenasionalisme lyk in sommige aspekte maar net soos Afrikanernasionalisme, en in ’n xenofobiese wêreld lyk Suid-Afrikaanse nasionalisme maar baie na aan Wit nasionalisme. Monumente vereer nie die verlede nie – hulle leer vir jou wie en wat mense met mag wil hê jy nóú móét wees. 

Emile Bevan Sonnekus (2000–2023). Oktober 2021. Fotograaf: Robert Uys

In 2021 doen ek navorsing by die argief in Pietermaritzburg. Ek ry met my Nissan 1400 van Kaapstad na Natal. My nefie Emile gaan die bakkie by my koop. Hy werk as ’n duikinstrukteur in Sodwana. Hy kom haal die bakkie, maar sorteer nooit die oordragdokumente uit nie. ’n Paar maande later besoek ek uMgungundlovu vir ’n tweede keer en besluit om vir Emile uit te help deur saam met hom die munisipale verkeersafdeling te besoek. Hy het egter die oordragdokumente verloor. Ná twee weke se navorsing in die Zoeloeland, slaap ek vir twee aande oor in Sodwana by Emile se duikskool, om weer by die verkeersdepartement in Richardsbaai te probeer. Omtrent ’n jaar later het Emile homself in daardie selfde kamer gehang. My wilde, mooi nefie wat so lief was vir die see. uMgungundlovu het my gedra in die maande ná sy dood. My PhD het my gedwing om op iets anders as rou te fokus. 

Omtrent ’n vyfde van my lewe is deur uMgungundlovu gedefinieer en nou is dit tyd om aan te beweeg, want my PhD is ingehandig. Of gaan hierdie plek altyd by my spook? Bosman skryf in die opstel Marico revisited:

I found, what I should have known all along, of course, that it was the present that was haunted, and that the past was not full of ghosts. The phantoms are what you carry around with you, like you carry dreams under your arm.


Hierdie artikel is gebaseer op die skrywer se nagraadse navorsing en vorm deel van die Klyn Akademie-projek, aangebied in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van 'n Bewussynstroom aangaande uMgungundlovu gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand