We tolk a lot

Grafika deur Olivia Loots
Wat weet jy van tolking? Stories uit die praktyk
Tolking is nie ’n maklike beroep of navorsingsveld nie, maar dit is eindeloos fassinerend en belonend. Elke bietjie navorsing dra daartoe by dat die kenner én leek die veld beter verstaan, en elke bietjie praktykervaring bring nuwe navorsingsonderwerpe en -idees mee.
In 2019 het ek as grootoog-honneursstudent my eerste blootstelling aan tolking gekry en sedertdien is ek gaande oor hierdie komplekse, inspannende kommunikasiedaad en al die vaardighede wat daarmee gepaard gaan – veral ten opsigte van die wisselwerking tussen taalaanleer en tolking. As nagraadse student en later junior lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het ek my begin vestig as tolknavorser, -opleier en praktiserende vryskuttolk. Dit het gelei tot die ontwikkeling van ’n tolkaanleerstrategiemodel in my PhD – dié model is my pride en joy.
Eenvoudig gestel, is tolkaanleerstrategieë die gedagtes en aksies wat tolkaanleerders gebruik om verskeie aspekte van hulleself te reguleer. Dit help hulle om tolktake te voltooi, hulle tolkwerksverrigting te verbeter en uiteindelik tolkkundigheid te ontwikkel. Ek gebruik die term tolkaanleerders breedweg: Dit sluit tolkstudente, -praktisyns en -opleiers in.
Om die tolkproses suksesvol af te handel gebruik tolke geheue-, kognitiewe en kompensasiestrategieë (direkte strategieë). Maar tolke is ook net mense, en dít is waar indirekte metakognitiewe, affektiewe en sosiale tolkaanleerstrategieë intree. Hierdie strategieë help jou om die leerproses doelbewus te bestuur, jou gevoelens te reguleer en sinvol met ander rolspelers in die beroep saam te werk. Dit is juis dié soort strategieë wat dikwels in tolknavorsing én in die praktyk oorgesien word.
Hoe skenk tolkpraktisyns dan aandag aan hierdie vele fasette van tolking?
Daar is verbasend min begrip van wat tolke werklik doen wanneer hulle tolk. Tolke is nie masjiene wat woorde uit een taal in ’n ander omskakel nie. Hulle maak voortdurend afwegings tussen inspanning en effek, met inagneming van onder meer die spreker se bedoeling en die luisteraars se agtergrondkennis, kultuur en konteks.
Daarom stem die oorspronklike en getolkte weergawes dikwels nie woord vir woord ooreen nie. (Ek onthou byvoorbeeld hoe ’n komitee lekker saamgelag het toe my tolkmaat die frase “Ek het hom gemoer” doelbewus net so in die brontaal behou het.) Soms word iets selfs met rede weggelaat. Tog sal buitestaanders dikwels ’n eiertjie lê as hulle voel die weergawe was nie “perfek” nie. Marné Pienaar meen byvoorbeeld dat die tolk se status “laer as dié van die skoonmaker [is] en al die hooggeleerdes om jou is reg en gereed om jou te korrigeer”.
My navorsing sluit direk aan by my werk as tolkopleier. Vir die model wat ek hierbo genoem het, het ek met ses strategiekategorieë gewerk uit Rebecca Oxford (1990) se oorspronklike taalaanleerstrategiemodel. Gevolglik het ek 61 tolkaanleerstrategieë in ses strategiesoorte herskep. Hier is ’n paar voorbeelde van hoe ek hierdie strategieë in my vroeë tolkervarings ingespan het (of, as ek nou terugkyk, moes inspan). Hierdie ervarings het my laat besef dat die tolkaanleerproses voortdurende ontwikkeling verg en dat strategieë ’n belangrike rol daarin speel.
DIE SPLITSEKONDES MAAK SAAK
My eerste tolkgeleentheid in die praktyk was in 2021 tydens openbare verhore oor die Wysigingswetsontwerp op Kinders. Ek was toe ’n tweedejaar-MA-student en my tolkmaat het pas honneurs voltooi. Ons moes omtrent vyf uur per dag ry en ek het boonop bestuurder gespeel – van Saldanhabaai tot Clanwilliam tot Khayelitsha tot Beaufort-Wes tot George (ja, in daardie volgorde). Dit was die perfekte speelgrond om my veerkragtigheid as tolk te toets.
Ter voorbereiding het ek my woordeskat volgens woordsoort gegroepeer (geheuestrategie) en videomateriaal van vorige verhore bestudeer (kognitiewe strategie). Waarmee ek toe nog nie goed gekonfyt was nie, was kompensasiestrategieë vir wanneer dinge skeefloop, soos toe die spreker sê: “We are deployed”, en ek en my tolkmaat albei swyg. As ek toe ’n ingeligte raaiskoot gewaag het, sou ek sê: “Dit is ons plig”, maar ek het op daardie stadium te veel in die direkte woorde vasgekyk. Toe red ’n lid van die gehoor ons deur in te spring met: “Ons is afgevaardig.” Ek en my tolkmaat het later die sosiale strategie om in ’n span te werk gebruik deur langs mekaar te staan wanneer ons konsekutief tolk, sodat ons mekaar kon help soos nodig.
As ek terugdink, moes ek (weens die angswekkende omstandighede) beter staatgemaak het op affektiewe strategieë, soos asemhalings- en ontspanningstegnieke, humor en positiewe selfgesprek. My selfvertroue is aanvanklik gekelder toe sprekers dikwels van Engelse regsdokumente aflees, want ek kon nie byhou met die moeilike terminologie nie. Die emosionele aspekte van tolking word dikwels onderskat. (Kyk byvoorbeeld hierdie video waar ’n tolk emosioneel oorweldig raak terwyl sy ’n toespraak deur die Oekraïense president tolk. Hierdie oomblik het empatie gekweek en die kollig geplaas op die emosionele lading wat tolke moet dra.)
“Tolke is nie masjiene wat woorde uit een taal in ’n ander omskakel nie. Hulle maak voortdurend afwegings tussen inspanning en effek, met inagneming van onder meer die spreker se bedoeling en die luisteraars se agtergrondkennis, kultuur en konteks.”
ETIEK EN EMPATIE
Oor die jare het ek geleer om by tolkgeleenthede beter na my liggaam te luister deur rus en goeie eetgewoontes hoog op prys te stel – dít is ’n uitdaging wanneer jy heeltyd op die pad is en garage pies jou voorland word. By een geleentheid het die betrokke maatskappy byvoorbeeld nie etes of water aan die tolke verskaf nie, aanvanklik nie verblyf gereël toe ons tot vroegaand ver van die huis moes tolk nie en toe ons almal in dieselfde kamer geprop. (Vir my eie beswil het ek nie weer saam met hierdie maatskappy gewerk nie.)
By ’n ander geleentheid vir gesprekke oor die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Kleinondernemings het ek kognitiewe strategieë – soos om vinnig die idee te kry en te beklemtoon – gebruik om doeltreffend deur dokumente te werk wat ons gekry het toe ons die vertrek binnestap. Laaste-oomblik-voorbereiding is taamlik algemeen in tolking. Teen dié tyd het ek byvoorbeeld ’n generiese woordelys vir parlementêre tolking wat ek deurgaans met nuwe vakwoordeskat aanvul.
As ek terugkyk, kon ek by hierdie geleentheid beelde as geheuestrategie beter benut het deur die narratiewe te visualiseer. Tolke kan byvoorbeeld ’n memory palace bou om beter te onthou.
Foto’s deur die skrywer verskaf
Dan is daar tolkgeleenthede waar metakognitiewe strategieë – soos om georganiseerd te wees en vroeg aan te meld om te kyk hoe die tolktoerusting werk – en neutraliteit noodsaaklik was. Dit sluit ook in om neutrale klere en kleure te dra om ’n professionele indruk te skep. My tolkpersona verskil byvoorbeeld taamlik van my dosentpersona: My studente en kollegas sal my kleredrag as kleurvol beskryf, maar wanneer ek tolk, trek ek byna slegs swart aan en probeer ek in die agtergrond verdwyn. Ek is dan immers ’n bemiddelaar van iemand anders se storie.
Tolke se etiese kode en nakoming van neutraliteit was verder relevant toe een van die sprekers by die Vissersgemeenskap-konferensie in 2024 volhou: “Vroue hoort in die kombuis.” Ons het dit getrou getolk, al het dit nie met ons eie oortuigings gestrook nie.
My mees onlangse tolkgeleentheid was oor die onderwerp grondhervorming en landelike ontwikkeling, waar dit duidelik geword het hoe belangrik dit is om vir ’n verduideliking of bevestiging te vra. Ons was besig om komplekse finansiële aspekte te tolk, toe my tolkmaat by die komitee moes versoek om in gewone taal te verduidelik hoe die uitbetalings werk, want selfs sy was deurmekaar.
Ná die geleentheid het ons gehoor dat sommige luisteraars met die groot Afrikaanse woordeskat gesukkel het. Ek en my tolkmaat kon dus die sosiale strategieë – om ’n kulturele begrip te ontwikkel en bewus van ander se gedagtes en gevoelens te word – gebruik het deur ter wille van empatie te verduidelik en te vereenvoudig, maar dan loop ons weer die risiko dat iemand (soos die kliënt) ongelukkig is, omdat ons nie die “presiese woorde” getolk het nie. Tolking behels dus konstante afwegings binne ’n splitsekonde en is dikwels ’n catch-22.
Tydens dié geleentheid het ek gevra vir bevestiging toe ek via WhatsApp genader is om by ’n ander geleentheid te tolk. Ek kon nie die besonderhede uitpluis nie en het aanvanklik gevoel ek val die persoon lastig met my vrae. Maar ek is toe later baie dankbaar ek het wel gevra, want ek kon uiteindelik aflei die kliënt dink ek is ’n gebaretaaltolk. Gelukkig kon ek ’n stokkie daarvoor steek, anders moes ek daardie dag op die verhoog klim en begin sign. Dan was dit die tolkinsident by Nelson Mandela se begrafnis van voor af.
Nog ’n hulpbron wat tolke kan gebruik, is natuurlik kunsmatige intelligensie. KI-instrumente kan ’n belangrike rol in tolkvaardigheidsopknapping speel en nuwe maniere bied om die tolkaanleerproses te ondersteun. Hierdie aspek sluit by ’n pyplynprojek oor KI-toepassings in taalpraktyk aan, insluitend ’n kortkursus wat ek vanjaar vir ons fakulteit skep en aanbied. KI kan byvoorbeeld help om oefenmateriaal te genereer en vir evalueringsdoeleindes om oor sterk en swak punte te besin. Ons moet egter uiteraard bewus wees dat KI-gegenereerde inhoud misleidende vlotheid en datavooroordeel kan toon. Wanneer KI as ’n aanvullende instrument dien wat menslike kundigheid versterk, moet die mens steeds sentraal in die tolkproses staan.
Want op die ou end gaan tolking oor mense. Ek dink ook terug aan ’n spanete ná ’n tolkgeleentheid toe die kelner vra of ons wil bestel, en ek antwoord: “Ja, dankie.” Hy vra toe: “Lekker, is julle almal Afrikaans?” waarop die gebaretaaltolk antwoord: “We literally all speak different languages.”
Daar is min situasies waar ’n mens soveel tale in een gekonsentreerde groep mense teëkom. Wat ’n voorreg.
Elke tolkgeleentheid gee my nuwe stories om te vertel én nuwe navorsingsrigtings om te verken. Daar is nog baie om te ondersoek, te toets, te verfyn en uit te brei – en ek sal hierdie pad vir niks verruil nie.
Hierdie artikel is gebaseer op die skrywer se nagraadse navorsing en vorm deel van die Klyn Akademie-projek, aangebied in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van We tolk a lot gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




