Afrikaanse lirieke: Hoekom so behep met kos, plaas en seks?

Afrikaanse lirieke: Hoekom so behep met kos, plaas en seks?

Collage-grafika deur Carla de Beer; knipsels uit verskeie publikasies, insluitend Bert Stern se The photo illustration (1974), Kennis-ensiklopedie (1974), Photography year 1976 edition, Valli Little se Delicious: 5 of the best (2006), Weg/go! Platteland (2021) en Taalgenoot (Winter, 2023)

'n Taalkundige luister vir dubbelsinnigheid

Ons het al almal na ’n liedjie geluister wanneer dit jou tref: Early B se ‘Potte’ praat nie van kospotte nie en Brendan Peyper se ‘Lekkerder op my trekker’ verwys na ’n ander tipe ploeg. Stoute lirieke is soos Suid-Afrikaners in Nederland: Jy loop (of luister) hulle oral raak.

Afrikaanse popliedjies is ’n teelaarde vir suggestiewe dubbelsinnighede en ook ’n interessante bron vir taalkundige analise. Eenvoudig beskou, is suggestiewe dubbelsinnighede woorde of frases wat op ’n riskante óf nieriskante manier geïnterpreteer kan word. In Engels staan dit dikwels bekend as double entendre. Vir dié glibberige dubbelsinnighede in Afrikaanse musiek bestaan daar egter nog nie ’n vaste definisie nie en dit is ook nog nie volledig met ’n teoretiese raamwerk beskryf nie – waarskynlik omdat dit as taboe beskou word. 

VAN WAAR, GEHASI, MET STOUTE AFRIKAANSE MUSIEKLIRIEKE?

Die meeste studies oor suggestiewe taal fokus op metafore. Seks word in musiek byvoorbeeld dikwels as spel of kos voorgehou. 

Reeds in 1995 het Gerhard van Huyssteen seksuele uitdrukkings, veral metafore, in Afrikaans ondersoek, en hy toon aan dat ons dikwels ’n woord uit ’n nietaboedomein gebruik om ’n betekenis in ’n taboedomein te beskryf op grond van assosiasies wat tussen die twee gemaak is. (Dieselfde geld vir emoji’s, soos die eiervrug-emoji.) ’n Taboedomein soos seksistiese of geseksualiseerde verwysings na vroue kan byvoorbeeld verbind word met nietaboedomeine, soos met iets wat eetbaar is.

Stoute grappe is ook al soortgelyk ondersoek: In ’n neutedop gebruik mense hul kennis van woordbetekenisse, sowel as konteks om ’n grap te “vang”, al dan nie. Grappe en dubbelsinnighede is voorbeelde van intensionele meerduidigheid: Wat gesê word en wat geïmpliseer word, moet op een of ander manier verband hou, hoe klein ook al. Hier speel polisemie ’n rol – die eienskap van ’n woord of frase om meer as een betekenis te hê, afhangend van konteks.

Dit help natuurlik nie as iets ’n dubbele betekenis het, maar jy besef dit nie. In haar markantheidshipotese verwys Rachel Giora na markantheid om te beskryf hoe waarskynlik ’n sekere betekenis van ’n woord of frase in ’n spesifieke konteks is. Die mees waarskynlike betekenis is die markantste. As jy nie ’n sekere betekenis ken nie, het dit nie vir jou markantheid nie. Die letterlike óf figuurlike betekenis kan dus die mees markante wees, afhangend van konteks, konvensie en frekwensie. Met ander woorde: Context is key.

Gilles Fauconnier se teorieë verduidelik verder hoe betekenisse kognitief gestoor word: As jy jou brein as ’n soort Google Drive sien, word betekenisse in verskillende Drive-vakkies gestoor. Hierdie vakkies kan oorvleuel en sekere woorde kan verskillende betekenisse gelyktydig aktiveer. Wanneer jy taal gebruik, aktiveer jy dikwels meer as een domein tegelyk. By suggestiewe dubbelsinnighede word die seksuele én nie-seksuele domein dus gelyktydig geaktiveer. Konseptuele integrasie is ’n verdere ontwikkeling hiervan: Betekenis uit twee domeine word gedeeltelik saamgevoeg om ’n nuwe betekenis te vorm, soos legkaartstukke wat ’n nuwe prentjie skep.

Die meeste lirieke wat ek in hierdie stuk bespreek, is seksisties. Die domeine waaruit die betekenisse ontgin word in hierdie suggestiewe, dubbelsinnige lirieke blyk ook om nou verwant te wees aan sekere aspekte van die Afrikaanse kultuur, veral ten opsigte van Afrikanermanlikheid.

Manlikheid is ’n sosiale en kulturele konstruk wat voortdurend evolueer, en lirieke is een manier waarop bepaalde idees aangaande gendernorme in stand gehou of gepropageer word. Kobus du Pisani wys byvoorbeeld hoe die Afrikanerman histories uitgebeeld is as eerlik, standvastig, godsdienstig en hardwerkend, met sogenaamde rein waardes. In baie van die lirieke wat volg, is aspekte van hierdie beeld steeds aanwesig, maar ironies word dit juis gebruik om neerhalende seksuele betekenisse te ontsluit – toe nou nie so onskuldig nie. 

’n Mens moet egter jou afvra of die probleem (alleenlik) by die liedjieskrywers en sangers lê en of daar ook ’n mate van druk van musiekvervaardigers is. In dieselfde asem is Jan Publiek waarskynlik net so aandadig, want as dít die tipe lirieke is waarna hulle wil luister, is dít wat die sangers gaan sing. Ekonomie 101: supply and demand. En dieselfde kan oor ander kunsvorme soos boeke en films gesê word. ’n Groter sistemiese kwessie is dus ter sprake.

’n Mens moet egter jou afvra of die probleem (alleenlik) by die liedjieskrywers en sangers lê en of daar ook ’n mate van druk van musiekvervaardigers is. In dieselfde asem is Jan Publiek waarskynlik net so aandadig, want as dít die tipe lirieke is waarna hulle wil luister, is dít wat die sangers gaan sing.
— Corine Raath

KOS AS TAALKUNDIGE SPEELVELD

Ek kyk en luister eerstens na musiek van Biggy, Early B, Snotkop en Peach van Pletzen om te illustreer hoe dubbelsinnigheid gelees kan word.

Sien byvoorbeeld die seksuele én nie-seksuele interpretasie van koek(e): “kan sweer dit is my birthday, surrounded met koeke” (Biggy se ‘Zeka’) en “ek like koek so ek spoeg met ’n soet tand, proe is lekker” (Early B se ‘Wikkel hulle’). Albei betekenisse het verskillende grade van markantheid, afhangend van die luisteraar se kennis en konteks. Die polisemie berus hier op die idee van eetbaarheid, hoewel dit by die seksuele betekenis figuurlik funksioneer. Die woord birthday aktiveer byvoorbeeld ook die domein van verjaarsdae, wat die nie-seksuele interpretasie versterk; tog kan die figuurlike simboliek ook as ’n skakel gesien word waardeur die seksuele interpretasie verder moontlik gemaak word. 

Omdat dit musieklirieke is, wil ’n mens aanneem die dubbelsinnigheid is deurgaans opsetlik en dat die seksuele interpretasie die gewenste een is, veral wanneer iemand soos Biggy se ander liedjies soos ‘Dames’ en ‘Gooi dit af’ in ag geneem word.

’n Soortgelyke geval kom voor in Snotkop se ‘Souserig’: “saam met jou is alles soeterig, nou proe ’n broodjie sommer koekerig”. Hier word die smaakdomein ook by die polisemie betrek. Bread kom byvoorbeeld ook in Engelse slanggebruik voor waar dit dikwels na geld verwys, maar in hierdie konteks aktiveer dit verskillende betekenisdomeine gelyktydig: Snotkop se lirieke vergelyk moontlik anilingus en kunnilingus. Oorweeg nog ’n voorbeeld uit ‘Souserig’ – “ek kort sous op my lamsboud” – waar sous na seksuele vloeistowwe verwys, terwyl lamsboud sowel ’n kositem as ’n liggaamsdeel oproep. Lam word ook dikwels as troetelwoord gebruik (soos in Ryno Velvet se ‘Ai, my lam’), wat verdere betekenisskakels aktiveer.

Peach van Pletzen se ‘Laat’it stoot’ werk op ’n soortgelyke manier: “gooi daai sheba op die brood / maak jou warm en nat soos sop en brood”. Sheba, wat gewoonlik saam met kos soos mieliepap of brood geëet word, verwys hier na seksuele vloeistowwe, terwyl brood weer eens die liggaamlike betekenis oproep met beduidende seksuele interpretasie. Die titel self dui ook waarskynlik op stoot as seksuele omgang. Kos word dus ’n herhalende domein in heelwat suggestiewe dubbelsinnighede. 

PLAAS, DIERE EN JAG AS METAFORE

In die lirieke van Jan Bloukaas, Bok van Blerk, Appel, Robbie Wessels, Ricus Nel en Brendan Peyper word die domeine van plaas en jag (gewild in Afrikaanse liedjies) dikwels gebruik, met subdomeine soos dié van diere en kos. 

Sien byvoorbeeld: “my pere is gesond” (Jan Bloukaas se ‘Boerseun’) en “iets vir iets, sal ons jou ons pere wys” (Bok van Blerk en Appel se ‘Lemoene’). Pere kan hier na vrugte of testikels verwys en gesond versterk die interpretasie van beide moontlike betekenisse. (Koos Kombuis meen immers dat Bok van Blerk se musiek meestal oor “girls, drank en rugby” gaan.) Vrugte word ook dikwels gebruik om na borste te verwys, soos in ‘Lemoene’: “wys my jou lemoene of jou boerpampoene / ek wil so graag aan dit voel / of jou kaalgatperskes [...] ek sal dit definitief moet proe”.

In Robbie Wessels se ‘Leeuloop’ (“knyp twee balle vas tussen jou bene [...] tennisballe, krieketballe, snoekerballe”) word die domein van diere ook ontgin; so ook in Ricus Nel se ‘Bokkies jag’. Dat vroue in laasgenoemde geassosieer word met diere wat gejag word, stem ooreen met Van Huyssteen se bevindinge oor hoe die vrou in seksuele metafore dikwels uitgebeeld word as ’n lewelose voorwerp en die man as ’n lewende en gevaarlike voorwerp. Suggestiewe dubbelsinnigheid verskyn ook in werkwoorde en aksies wat met die jagdomein verband hou. Sien byvoorbeeld verder in ‘Bokkies jag’: “hoe hy gejag het in die goeie ou dae [...] bokkies wat hy vanaand weer plat gaan trek”. Die woord goose en werkwoorde soos kwes en dors kom les aktiveer beide jag- en seksuele betekenisse, en weer eens word die vrou uitgebeeld as iets wat gejag word. “Gemsbokkie, bokkie jy’s ’n wilde trofee” roep verder die idee van ’n trophy wife op. 

In Ricus Nel en Snotkop se ‘Boerepompie’ word die plaas ook betrek met sterk seksuele dubbelsinnigheid: “’n bietjie trek / ’n bietjie stoot [...] ’n bietjie in / ’n bietjie uit”. (Met die vrystelling van die liedjie, het Nel ’n boerepomp beskryf as “’n ou tradisionele konsertina wat ons voorvaders bespeel het en ons doen dit nou nog”.) In hierdie voorbeeld het trek boonop ooreenkomste met draadtrek (masturbasie). Op soortgelyke wyse word die plaasdomein in Brendan Peyper se ‘Lekkerder op my trekker’ betrek en beeld hy die manlike geslagsorgaan as ’n masjien uit: “op, op, op klim op my trekker [...] rof, rof, rof, maar hy ry lekker [...] ek en jy ploeg nou lekker, lekker”.

Dit is opvallend hoe konsekwent die plaasdomein benut word. Sien byvoorbeeld in Stokstyf Dansorkes se ‘Kielie my mielie’ waar beide kos en die plaas betrek word om seksuele betekenisse te suggereer. Dis nie moeilik om af te lei waarna daar werklik verwys word nie: “kom kielie my mielie / dis nou tyd om te ploeg en ’n saadjie te gooi [...] kom vat gou my handjie poppie loop deur my land”. 

Sommige dubbelsinnighede gebruik reeds bestaande idiome, soos in hierdie voorbeelde: “sy krap waar dit nie jeuk nie, by elke Koos en Frikkie” (Biggy se ‘Loskind’) en “’n open book, maar jy lyk toe, maak oop vir my, ek wil jou lees” (Loufi en Jayms se ‘Wit skoene’). 

In ’n laaste voorbeeld van suggestiewe dubbelsinnigheid kan Jan Bloukaas se ‘Suggestief’ oorweeg word: “ek trek my draad … ek trek my draadkar oor die straat [...] ek steek jou ma … ek steek jou ma se skoene weg [...] ek hou van naai … ek hou van naaiwerk en borduur”. Die feit dat die woorde aspris só afgekap word, gee leidrade oor hoe die lirieke geïnterpreteer moet word; die titel bied op sigself ’n semantiese leidraad.

SLINKSE TAALSPEL? AS JY DIT SÓ STEL …

As jy heelwat van hierdie sangers oor hul lirieke uitvra, antwoord hulle dikwels preuts, of ontkennend.

Biggy byvoorbeeld dat hy met ‘Dames’ die spot wou dryf met die manlike ego, eerder as om afbrekend teenoor vroue te wees. Early B praat oor hoe hy onderwerpe soos geweld teen vroue in sy musiek betrek (alhoewel ’n mens wonder hoe liedjies soos ‘Potte’ of ‘Skud jou biscuit’ hierby aansluit). Vir Snotkop is die kritiek oor ‘Souserig’ se musiekvideo “verskriklik lekker”, want dit beteken mense gee aandag aan sy musiek. Sy opmerking impliseer dat suggestiewe lirieke soos klikaas ingespan word om meer interaksie te genereer: die spreekwoordelike wortel voor die neus. Maar die feit dat die luisteraar bly byt, verklap dat baie mense hierdie tipe lirieke geniet, al sou hulle dit nie noodwendig hardop erken nie, óf dit selfs in die publiek kritiseer. Ook Van Pletzen meen dat baie van sy werk satiries is. Wanneer hy byvoorbeeld uitgevra word oor of sy lirieke ’n negatiewe invloed, bewustelik of onbewustelik, kan hê, beskryf hy ’n liriek soos: “Boudjies vetter as die bassline” as “witty”, en hy sê hy het nooit gevoel asof hy ’n grens oorskry nie. 

As die domeine waaruit die betekenisse van suggestiewe dubbelsinnighede nou aan aspekte van die kultuur verwant is, kan ons net hoop om in die toekoms verby plaas, kaas en jag te beweeg …


Hierdie artikel is gebaseer op die skrywer se nagraadse navorsing en vorm deel van die Klyn Akademie-projek, aangebied in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Afrikaanse lirieke: Hoekom so behep met kos, plaas en seks? gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand