Toast Coetzer deel filmfoto's uit sy reisargiewe

’n Mens mag nie gunstelingpiekniekbome hê nie (want hoe moet die ander dan voel?), maar hierdie is een van myne. Dis ’n witgatboom (genoem ’n matopi in Botswana) waarvan die skadu so wyd span dat daar plek is vir twéé stelle tafeltjies-en-stoeltjies. Dit is naby die dorp Mopipi, waar ek altyd iewers stop om langs die pad te pipi. Net omdat.
Geneem tussen hier en wie-weet-waar (iewers waar die grein saak maak)
Wanneer ek reis vir “werk” (as reisjoernalis vir Weg-tydskrif), neem ek natuurlik honderde, soms duisende, foto’s met my digitale kamera – om nie van my slimfoon te praat nie. Gewoonlik ry my Nikon F-filmkamera ook saam. Soms vergeet ek om dit uit te haal en ry dit al die pad maan toe en terug sonder dat ek een foto daarmee neem.
Maar ander kere onthou ek. Ek onthou hoe ánders dit is om met ’n filmkamera te werk. Dit klink anders wanneer jy die sluiterknoppie druk. Die Nikon F wat ek besit, dateer uit 1961. Dit gebruik nie eers batterye nie! Jy trek ’n hefboompie oor na regs met jou duim om die film aan te draai. Ek raai wat die verstellings moet wees, want die ligmeter werk nie. Maar ek is gelukkig, want ek het van fotografie geleer as hoërskoolkind en later universiteitstudent in die era net-net vóór digitale kameras. Ek onthou dus hoe film werk, en hoe sluiterspoed en jou lensopening en die ISO van jou film saamdans om ’n exposure te maak.
Wanneer ek die Nikon F (dit het ’n 50 mm lens aan wat ek nog nooit afgehaal het nie) optel en deur die viewfinder kyk, voel ek dadelik rustiger. Met die legio moontlikhede van digitale fotografie kan ’n mens mal gaan, en selfs mal raak. As ek ’n restaurant sou begin, sou ek elke dag net een ding op die spyskaart hê sodat niemand hoef te wonder wat om te eet nie. Met filmfoto’s neem voel dit vir my só – dat ek net hoef te werk met wat voor my is, want daar is geen ander opsies nie. Daardie gestrooptheid is lekker. Jy haal asem. Jy kyk deur die viewfinder. Jy raam jou foto. Jy laat sak die kamera en kyk weer na die toneel. Jy kyk na die lig. Helder sonlig. Sluiterspoed 1/500 van ’n sekonde, lensopening f5.6 sodat die boom effens uitstaan teen die agtergrond. Die ISO is vas op 400, want ek gebruik gewoonlik Ilford HP5 400 (swart en wit). Dit is ’n filmsoort met ’n lekker grein en dit gee dadelik ekstra gevoel aan jou foto. Daar’sy. Kliek.
Ek hou van bome afneem, veral dié wat in dorre plekke alleen staan en oorleef. Ek hou van plekke ver hiervandaan waar niemand jou pla nie. Hierdie handvol foto’s kom uit my versameling van eensame bome en veraf paaie van die afgelope dekade of wat. Party is onlangs uitgestal by Prince Albert Open Studios (Junie 2026) en van hulle word binnekort uitgestal by Betrag Art Gallery (Stanford, Augustus 2026) en Kingsbridge Art Studio (Bellville, September 2026).
Ek is op Instagram by @toastcards as jy nog foto’s wil sien, of dalk ’n print by my wil koop.
Hierdie pad is die Niemöllerpad (gebou deur ’n pionier van hierdie streek, Gertjie Niemöller) in die Boesmanland doer anderkant Pofadder, Noord-Kaap. Ek hou van die estetika wat ’n telefoonpaal bring tot ’n landskap. Dit lyk ook of ’n obsessiewe landscaper die bossies presies ewe ver uit mekaar geplant het.
’n Karoo-drie-enigheid: ’n turksvy waarskynlik ouer as die Republiekwording, twee windpompe waarskynlik opgerig net ná die Tweede Wêreldoorlog en ’n koppie doer agter (dis geneem by Drie Susters), ouer as al die tyd altesame.
Bobbejaanvoetspore naby Amspoort in die Hoanibrivier, noordweste van Namibië. Bobbejane was voor ons hier en sal ná ons ook hier wees.
Hierdie mopanieboom staan op ’n klipperige vlakte naby die Ongongopoele in Namibië. Dit is die Sesfonteinberg in die agtergrond.
Ek dink hierdie is ’n kareeboom – dit staan op ’n ou damwal by Stuurmansfontein, waar jy in ’n korbeelhuis kan oornag. Een van die mooiste plekke in die Karoo, naby Carnarvon, Noord-Kaap.
Die Gamkapoortdam naby Prins Albert was vir baie jare so droog dat die modderkrake so wyd begin span het dat jou voet omtrent daarin sou wegsak. Dit is tans vol – as ek jy is, sal ek gaan kyk hoe lyk dit, want jy sien dit tien teen een nooit weer in jou lewe vol nie.
Hierdie anaboom se ongewone kurwes val my elke slag op wanneer ek (in ’n goeie jaar) ’n toer in dié deel van Damaraland (Huabrivier, Namibië) doen saam met my vriend Douwe Vlok van Heuningland Toere. Ons stop altyd by hierdie knoets anabome en bewonder hulle.
Xhumaga (ook gespel “Khumaga”) is ’n klein dorpie langs die meestal droë Botetirivier in die middel van Botswana. In ’n alternatiewe realm sit ek elke middag vyfuur hier met ’n quart St Louis-lager en twee beeswagters vir geselskap.
Ook hierdie boom het ek al ’n hele paar keer afgeneem. Dis sommer net ’n bloekomboom op die godverlate stuk stof tussen Sendelingsdrift en Alexanderbaai in die Noord-Kaap. Maar kyk hoe het die wind dié boom gevorm sedert kindsbeen. Ek is ’n groot fan van survivors.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Toast Coetzer deel filmfoto's uit sy reisargiewe gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




