Om 'n roes te wees op alles: 'n onderhoud met Willemien de Villiers

Save me. Kunswerke verskaf deur die kunstenaar
Vlekke vertel mos 'n storie
Dis laat September en die lente skud nog die laaste van haar herfsjas af. Ek verruil die heuwels van Tamboerskloof vir die blare van Claremont, waar ek die kunstenaar Willemien de Villiers by haar studio in haar huis gaan ontmoet. Iets in die lug hier laat my voel asof ek dobber – seker die mis wat soos die berg se asem oor die Southern Suburbs hang. Willemien bied vir my koffie aan, terwyl sy probeer om haar kat te keer om die melk in haar melkbeker te drink. Ek sê nee vir die koffie, want ek is bang die skerpheid van die kaffeïen gaan my dobbering steel, en somehow voel dobbering soos die regte gevoel vir vandag se onderhoud. Ons beweeg na haar werkruimte, waar lappe en ’n dooprokkie op ’n lyn gespan teen die muur hang. Op die tafel is nog ’n dooprokkie en lappe en materiaal en implemente waarmee Willemien werk.
(Liewe leser, verbeel my stem in die agtergrond wat oor en oor met ’n ritmiese ja, ja, ja beaam wat Willemien sê.)
CHAN: Willemien, dit is vir my so lekker en boeiend om na jou kuns te kyk. Ek vind so baie aanklank daarby. Ek wil begin by iets wat my aandag die meeste gevang het. Ek is welbekend as iemand wat partykeer bietjie mors, ek is bietjie clumsy en ek het nog altyd gevoel asof ’n deel van Afrikaner-ordentlikheid is dat jy netjies moet wees en jy moenie mors nie, veral as jy grootgemaak word as ’n “dame”, “want dis nie ordentlik nie”. So dit is vir my so mooi en treffend hoe jy asprís mors.
WILLEMIEN: Daar is vir my nie ’n erger woord as die outydse reinheid en skoon nie, en die idee dat iets moet rein en skoon wees. Ek het nog altyd ’n instink om dinge net op te fok. Waar kom die idee vandaan? Ek dink dis universeel, maar ek dink dit is ook ’n besonderse Afrikaanse ding. Ek vind dit interessant dat jy, wat in ’n heeltemal ander generasie is, dit ook ervaar. Mens sou hoop dat somehow is die ou ding al uitgeroei uit mense uit, maar lyk my nie.
CHAN: Ja, presies!
WILLEMIEN: Toe ek die heel eerste keer my Stained Table Workshop aangebied het in New Mexico, was dit ’n fantastiese experience. As gevolg van daardie workshop, kan ek nou vir jou sê: Die druk om skoon en rein te wees is ’n universele ding, want daar het ek gesit met vrouens van Europa, Amerikaners en ek weet nie wat alles nie, en een man, en dit was vir hulle so ’n revolusionêre thought dat ons hierdie pristine tafeldoek gaan vlek. Daar was al hierdie goeters wat hulle kon gebruik. Dis koffie, dis tee, dis wyn en dis turmeric, en ek sê vir hulle: “Julle gaan dit nou uitgooi hieroor.” Dan maak hulle oë só [Willemien rek haar oë groot]. Hulle kan nie! Maar toe hulle laat gaan en dit omtrent met hulle lywe smeer … die genot wat mense kry daaruit! Toe begin hulle ook praat oor die huise waarin hulle grootgeword het: As daar ’n vlek kom, onmiddellik haal jy die vlek uit. Dit word nooit gesien nie. Maar vlekke vertel mos ’n storie. Ek het so gewens dat ek hierdie insig vroeër gekry het toe ek nog baie morsige etes gehad het, want kan jy dink as jy by elke vlek ’n datum en ’n beskrywing geskryf het.
CHAN: Dit sal fantasties wees!
WILLEMIEN: Dan het jy op die ou einde, na 80 jaar se lewe, al hierdie stories.
“Ek het nog altyd ’n instink om dinge net op te fok. Waar kom die idee vandaan? Ek dink dis universeel, maar ek dink dit is ook ’n besonderse Afrikaanse ding.”
CHAN: Dit is ook so boeiend wat jy noem van die mense wat toe sommer begin praat het oor hul lewe en met hul lywe begin werk het met hierdie lappe. So, dis eintlik ’n affektiewe liggaamlike ding.
WILLEMIEN: Die oomblik toe daai permissie gegee word, toe is dit net soos ’n ontploffing van joy in daai kamer. Ek kan maar net hoop dat van hulle dit verder gevat het. Of dat dit hulle net op ’n klein manier anders laat kyk het. My heel nuutste projek nou is – en dit werk veral goed in die Afrikaanse kultuur, maar dis iets wat ook universeel is – hierdie dooprokkies wat ek uitmekaar haal en bevuil. Om dit te bevuil is ’n ander tipe baptism.
Die dooprokke word gedekonstrueer …
En weer aanmekaargestik.
CHAN: Wat het jy gebruik op dit?
WILLEMIEN: Hierdie is cyanotype en dan ’n tipe ecoprinting. Ek het nie soseer ecoprinting hier gedoen nie, maar ek het roeswater gebruik. Roes is vir my so ’n mooi Afrikaanse woord, want my ma het altyd vir my gesê ek is ’n roes op dit en ek is ’n roes op dat, en ek is ’n roes op skoene. Ek is ’n roes op alles! So ek hou van roeswater. Dan het ek ook yster gebruik. Wat vir my so nice is: In ecodyeing word ’n ysterbad ’n saddener genoem.
CHAN: Dit is só ’n mooi woord!
WILLEMIEN: Ja, dit is vir my só mooi. Die saddener maak net alles ’n bietjie meer emosioneel hanteerbaar as die wit.
CHAN: Dis opwindend, want jy tree in op iets wat amper – ek sukkel vir die regte woord hier – heilig is. Dis ’n ding van generasies; dis ’n ding van familie; dis ’n ritueel van reinmaak, van jou lewe oorgee vir god, of jou kind oorgee, en alles wat dit simboliseer. Jy tree in op hierdie, veronderstel om pure, suiwer oomblik te wees, en jy bevry dit eintlik daarvan af. Dis ongelooflik!
Jy praat van die saddener en hierdie oomblik van reinheid wat jy nou bevuil … In jou werk is daar baie van hierdie dualiteite wat jy mee werk, van reinheid in vreugde omskep deur bevuiling, en al hierdie dualiteite wat jy met die dooprokkies doen, maar is dit moeilik? Hoe vind jy eintlik jou pad deur hierdie dualiteite? Want daar’s ’n soort tweespalt wat aan die gang is.
WILLEMIEN: Ja, ek weet nie. Dit raak nou vir my aan die proses. Ek het, byvoorbeeld, op ’n intuïtiewe manier gevoel – dit was seker 2017 of so en vir een of ander rede was dit ’n rowwe jaar vir gender-based violence teen vrouens in Suid-Afrika, of miskien was daar ’n paar aaklige verkragtings en moorde wat die pers aangehaal het – ek het net gevoel ek moet op ’n manier hiermee werk. Ek het stukkies koerantberigte en so aan uitgeknip, maar dit het my so depress om dag na dag hiermee te werk en net te stik aan dié soort woorde soos: “She was buried in a shallow grave.” Op ’n spontane manier het ek gedink ek moet hierdie wapen, die penis, ontwapen. Dit was vir my baie healing om net hierdie anatomical, harmless goed in te bring. Baie mense vra vir my: “Why, why this male organ in your work?” Want dit was ’n healing en net ’n manier van herstel, dalk ’n ander duality. Dit was nie asof ek gaan sit en dink het dit is wat ek wil doen nie. Ek het net skielik op ’n dag besef en gaan soek: male sexual organs, fourteenth-century images. En toe begin dit vloei.
Ek was ook nog altyd gefascinate deur plante. As ek in ’n ander loopbaan kon gewees het, sou dit botany gewees het. Mens hoef nou nie veel met plante te doen te hê om te weet dat die reproductive organs baie dieselfde is nie. Dit is ook wat ek baie inbring: die stamens en die ova van plante – as ’n softening, om te praat oor die fokken hideousness van wat in ons land aangaan. Gender-based violence is heeltemal buite beheer, maar as ’n kunstenaar kan ek net soveel doen, jy weet. Ek kan nie begin preek dat mense hulle seuns op ander maniere moet grootmaak nie. Hoe ver terug gaan jy? Waar begin jy?
CHAN: Dit is so fassinerend om te hoor dat alles vloei uit jou lyf uit in ’n baie natuurlike manier. Mens kan dit sien, want daar is ’n manier hoe jy die lap toetree. Jy is besig om affektief te werk vanaf jou lyf. Dit is dan natuurlik omdat dit so ’n tasbare soort kuns is; jou audience kom in dieselfde manier, met hulle lywe, na die kuns toe. Dis nie cerebral nie. Dit ís, maar die cerebral aard daarvan kom voort vanuit die lyf. Ek het ook só visceral reaksie gehad vanuit my lyf toe ek na jou kuns kyk.
WILLEMIEN: Dit is baie goed om te hoor. Ek het geskilder, met pen en ink gewerk, ceramics en whatever. Maar niks kom naby aan hierdie ding nie. Met ’n kwas is daar ’n afstand. Maar hier … heeltyd is dit tasbaar. Ek dink baie keer hoe my fingerprints, my DNA in elke werk is.
CHAN: In dit is …
WILLEMIEN: In dit is …
CHAN: Ja, jy is so reg. Selfs met ’n skildery is daar ook ’n afstand tussen die kyker en die skildery. Daar is ’n oopheid aan jou kuns wat die kyker toelaat om deel te word van dit, ’n ruimte vir my om in te tree en te voel wat ek wil. Wanneer mense na jou kuns kyk, hoe voel dit vir jou as hulle daaraan wil vat? Is jy precious daaroor?
WILLEMIEN: Nee, ek sê die heeltyd vir mense ek verkies dit. Ek het baie gehuiwer aan die begin: Moet ek glas gebruik; moet ek dit net los laat hang; moet ek dit raam, maar sonder glas? Toe op die ou einde was dit ’n gesprek met ’n Franse persoon wat my uitstalling kom kyk het en wat vir my gesê het dat die Franse term vir iets wat agter glas geraam word, is eintlik entombment; dis eintlik asof dit in ’n coffin is. Sy was positief krities daaroor. Sy het vir my gesê: “Ek is mal oor jou werk, maar personally sal ek nie aangaan om dit agter glas te sit nie.” Toe het ek baie daaroor gedink. Ek kry nog steeds mense wat vra: “Kan ek dit na my ramer vat? Ek is so bang dit word vuil.” “Ek is so bang dit en dat.” Ek het goed wat al so lank hier hang, en dit word nie vuil nie. Dit kan niks oorkom as iemand daaraan vat nie. As die baie sad ding gebeur dat iemand ’n glas wyn na iemand gooi en dit val toevallig op my werk, bring hom dan maar net, dan werk ons met die stain, dan doen ons iets anders. So ek sê vir mense, as jy daaraan wil raak, dis hoekom daar nie glas is nie. Voel daaraan; dit is ’n tactile ding.
“Gender-based violence is heeltemal buite beheer, maar as ’n kunstenaar kan ek net soveel doen, jy weet. Ek kan nie begin preek dat mense hulle seuns op ander maniere moet grootmaak nie. Hoe ver terug gaan jy? Waar begin jy?”
CHAN: Jou proses oor die algemeen klink asof daar ’n baie meditative aspek daaraan is. Hoe baie van wat jy voel terwyl jy kuns maak, gaan in die kuns in en hoe weet jy wanneer iets klaar is? Is dit klaar wanneer jy reg deur dit gevoel het, tot aan die einde? Of hoe werk dit vir jou?
WILLEMIEN: Dit is ’n kombinasie, tien teen een, van bloot visueel en komposisioneel. As ek kyk na iets, weet ek hierdie stiksels moet groter wees. Dis nie noodwendig dat ek nog die wond moet voel wat maak dat ek nou daar moet stik nie. Dit is bloot komposisioneel. Ek begin baie keer uit ’n sterk emosionele posisie, maar die kleure moet balanseer, of hier is te veel stikwerk. So, dis bietjie van ’n kombinasie, maar dis intuïtief.
Die werk self, die aksie van om ’n naald in en uit te steek, is meditative, want dit is repetitive en dit vang my partykeer, veral met wat nou aangaan in die wêreld. Ek praat nou nie net van Gaza nie; ek praat van die hele wêreld. Mense, ons het almal mekaar nodig. We have to save each other. Want, god alleen weet, daar gaan niemand anders kom nie. So, ek het nou ’n reeks wat ek Kiss of life noem en daar is ook ’n Save me by wat vir my regtig op daai vlak healing is. Kom ons gaan kyk daarna.
[Willemien neem my na haar etenstafel om vir my die Kiss of life-reeks te wys.]
Kiss of life I
Kiss of life II
Kiss of life III
CHAN: Dis verskriklik mooi. Ag, en ek hou so baie van hoe mens nie heeltemal kan agterkom watse gender die mense is nie …
WILLEMIEN: Ja, mense kan soveel interpretasies maak. Dit is twee individuals.
CHAN: Hier sien ek ook weer die plante. Dis so mooi, want dit kan mouth to mouth breathing wees, maar dit kan ook ’n soen wees.
WILLEMIEN: Ek dink die oop interpretasie is vir my baie belangrik, dat mense kan bring wat hulle wil. From where they are at.
CHAN: Wat ek heeltyd voel, is dat hierdie, jou werk, ’n feministiese gebaar is. Sien jy dit so?
WILLEMIEN: Ek hoop dit word só gesien. Ek dink regtigwaar, as ek terugdink aan myself, my jóng self, toe ek nog baie unenlightened was, het ek ’n feministiese instink gehad voor ek geweet het wat daai woord beteken. Ek was só jonk toe ek getrou het, en ek was toe lankal nie meer ’n kerkganger, of ’n christen of gelowig nie, maar my ma-hulle was so gebroke dat ek nie in ’n kerk gaan trou nie. As mens terugdink: Hoekom trou in die eerste plek?
Hoe kan jy ’n vrou wees en nie ’n feminis wees nie? Ek kan dit nie verstaan nie. Dan is jy captured op een of ander manier.
CHAN: Dis vir my so interessant dat jy praat van die feit dat jy hierdie instink gehad het. Voordat jy dit só gesien het, was dit al daar. My ouma was so gewees. Sy het waarskynlik glad nie wat sy doen as feministies gesien nie, maar dit was net hierdie feministiese leefwyse. As ek dink aan jou kuns, dan kan mens net, sonder dat jy êrens die teoretiese agtergrond daarvan het, dadelik daai feministiese gebaar, daai feministiese toeëiening sien wat jou tref op ’n liggaamlike manier. Sonder dat jy eers dit hoef te weet, weet jy dit.
Het jy toe al as jong vrou begin kuns maak?
WILLEMIEN: Ek het vir ’n lang ruk werk geskep wat ek nie kuns sou noem nie, in die tye wat ek my jong kinders gejuggle het. Ek het meer pottery gemaak, en ek het deur ’n fase gegaan van paper mache-bakke maak wat ek vir Pieter Visser Interiors verkoop het, toe hulle nog bestaan het. Dan het ek uitknipsels van tydskrifte gevat en ingesit, en daar was altyd so bietjie subversive images. So dit is ’n bak wat jy as ’n gebruiklike ding koop. Ek dink daai behoefte om so bietjie te stir was daar in my. Ek dink ek het altyd probeer om aan huiswerk en kinders grootmaak dieselfde value te gee as enige ander werk, want dit word tog so chronies undervalue.
Ek het nou die dag op ’n goeie post afgekom waar die persoon praat oor hierdie ding van emerging artists. Dit het ’n afsnypunt van 30 jaar oud of wat ook al. Maar baie mense emerge eers wanneer hulle 70 is. So waar pas hulle nou in; watter kompetisie kan hulle aan deelneem? Dan praat hierdie persoon spesifiek oor hoe daar nie value gegee word aan hierdie gap wat baie keer in vrouens se loopbane is nie, omdat hulle iets anders gekies het en ook doen. Daai Motherhood-uitstalling – was jy al daar? Dis nou by Iziko aan. Jy moet dit gaan sien. Dis nog vir nege maande aan.
CHAN: Ek is baie gretig om dit te sien.
WILLEMIEN: Ek het twee werke daar wat vir my wonderlik is. Dis wonderlik dat die kurator weet van my!
CHAN: Voel jy ooit dat dit moeilik is om die kunswêreld toe te tree en te voel asof jy deel is van ’n groter gesprek?
WILLEMIEN: Ek dink dis baie moeilik as jy, soos ek, gekies het om nie verder te studeer nie. Ek het my graad gekry, toe het ek gaan werk vir ’n paar jaar en toe het ek my kinders begin kry. As jy jou MFA gekry het en dan miskien selfs ’n PhD doen, dan is jy outomaties deel van ’n groep wat jy vir ewig deel van gaan wees. Jy kry akademiese ondersteuning, galerye stel belang in jou, jy het daai ding. Dis baie moeilik om in te tree ná die tyd. Ek dink dieselfde gebeur met letterkunde – dis my gevoel. Jy móét amper deur daai masters in creative writing gaan.
So ek is ’n late starter, op ’n manier, alhoewel ek die hele liewe tyd gewerk het aan goed, maar ’n late starter in terme van wanneer ek begin uitstal het. Ek is bietjie van ’n rebel en ’n loner; ek hou van op my eie werk en my eie ding doen. Ek vind my eie paadjie.
Everything all at once
CHAN: Dit voel soms vir my soos ’n instink wat sit in die hart van Afrikaanse kultuur oor die algemeen. Ons het eintlik ’n klomp kunstenaars wat net hulle eie pad wil vat. Daar is die storie wat ons móét volg, maar dan is daar eintlik baie mense wat kultuur en kuns skep en skrywers wat sê: Ek gaan maar eerder my eie paadjie inslaan.
WILLEMIEN: Dit is dalk in ons. Ek doen heeltemal goed. Vandat ek jare terug my werk op Instagram begin bemark het, verkoop ek. So nou en dan sal ’n galery my vra vir my werk. Somehow weet mense van my.
Social media het baie vir my gedoen. Ek weet nie mooi hoekom nie, maar ek het werklikwaar ’n solid groep mense wat my daar ondersteun.
CHAN: Ek dink iets wat my bygeval het, is dat ons in die afgelope tyd die woord messy toegeëien het, en ek weet nog nie of die Afrikaanse woord morsig dieselfde toeëiening het nie, maar daar’s iets in jou werk wat my aantrek na hierdie idee dat ons maar bietjie messy mag wees en dat messiness eintlik die human condition is. Jou werk is ook ’n werk van connection: jy en die lap, die draad en die lap, maar dan is dit ’n werk van connection, waar jou kunswerk vra vir connection.
WILLEMIEN: Mense is emosioneel oor my werk – dit verras my altyd – wanneer iemand iets koop en wanneer dit by hulle huis aankom. Ek waardeer dit só. Jy weet, as skrywer, dit is ’n lonely job. Jy sit maar daar en jy doen jou ding. Vir dae lank sien jy niemand nie en niemand sien wat jy maak nie. Om dan ’n emosionele email te kry van iemand wat sê wat dit vir hulle beteken om elke oggend in jou kuns vas te kyk, dis fabulous.
CHAN: Voel jy baie keer dat jou werk amper meer complete is as daar iemand begin interact daarmee, omdat hulle met hul emosies na die werk toe kom?
WILLEMIEN: Ek dink nie dit is iets wat ek gereeld ervaar het nie, want ek sê totsiens vir ’n ding wanneer hy gaan. Maar dit gee uiteraard ’n ander vlak van completion.
CHAN: Dis prikkelend dat jy noem jy sê totsiens.
WILLEMIEN: Eenkeer het ek ’n werk gemaak waar ek eerlikwaar nie geweet het hoekom ek daai werk maak nie. Dit was ’n groterige ding van my. Ek is net gelei deur die vlekke en die imagery, en daar was very much nog blomme en die female sex organs en baarmoeders en babas betrokke. Ek het gevoel ek het nie meer iets te doen hiermee nie, maar ek doen die werk, want dis ’n mooi werk; ek kan sien hy werk mooi uit. Toe is daar daai uitstalling by Zeits Mocca, net post-Covid, waar enige iemand werk kon stuur. Ek het toe dit gedoen en daai werk soontoe gevat. Toe gaan daar ’n Amerikaanse man na die uitstalling en stap verby, sien my werk en bars in trane uit, want hy en sy partner het op daardie stadium al vir vyf jaar met surrogacy en IVF probeer om ouers te word. Hy sê – en hy het die woord messy gebruik: “Your work perfectly encapsulated our messy journey to parenthood. All the messiness.” Toe koop hy dit. Ons het ontmoet vir die eerste keer en dit was soos ou sielsvriende. Ons het daar by Montebello gestaan en mekaar omhels. Hy’t vir my ’n foto gestuur, nie te lank gelede nie, van die werk wat hulle in hul seuntjie se slaapkamer opgehang het. Nou dink ek: Dit is completion. Toe weet ek hoekom ek daai werk gemaak het.
CHAN: Somtyds is kunsmaak iets wat beyond jou verstaan is.
WILLEMIEN: Dit is in die verstaan van wat aangaan in die wêreld. Dit het my geleer om niks te resist nie. As ek hierdie ding wil opsny, dan sny ek hom op. Die rede sal homself reveal en dit sal uitwerk.
CHAN: Deel van kreatiwiteit wat moeilik is, is jy gaan sit en dan het jy ingeboude resistances, wat jou eie shame is, jou eie gevoelens van onwaardigheid, gevoelens van jy moet dit op ’n sekere manier doen en jy moet só wees. Hoe oorkom jy daai resistances en hoe laat jy kreatiwiteit net vloei?
WILLEMIEN: Wel, partykeer werk ek nie. Partykeer gaan klim ek net weer in die bed, want dit gaan net nie werk nie. Wat ek wel weet werk, is ek moet sit en ek moet net stik – dis hoekom ek dié lap het [sy wys vir my ’n lap met fyn naaldwerk daarop] – en wat ek doen, is ek kom terug na dié werk wat ek weet gaan net nooit klaarkom nie. Maar as ek niks het nie, as ek leeggetap is en ek weet nie wat om te doen nie, dan, die oomblik as ek ’n naald en gare in my hand het en ek begin werk, is dit asof ek weet wie ek is en wat ek moet doen, en dan sal daar iets kom.
CHAN: Dis ongelooflik; jy vertrou maar net.
WILLEMIEN: Partykeer help dit net om die goed om jou te rearrange. Dit is vir my ook so belangrik dat ek so ding het soos daai draad wat gespan is, waar ek partykeer alles kan afhaal en dan gaan ek weer deur alles; dan kan ek kyk na verskillende goed. Hier het ek ook my bokse images en alles wat jy hier sien wat toe is, is net lap en lap en lap en kant. Net kontak daarmee ontsluit iets vir my.
CHAN: Werk jy baie met ander kunstenaars en mense om hierdie soort healing-aspek van die werk vir hulle te bring?
WILLEMIEN: Ek het al ’n paar werkswinkels aangebied, maar dit put my so uit; ek weet nie hoekom nie. Ook want ek cut nie corners nie; ek is all in. Dit is ’n groot ding, ’n helse beplanning. Dit verg people energy. So dis hoekom ek besluit het om dit online te sit. So, ons het daai Stained Table Workshop en my ander een, Dirty Blues, verfilm en dit het ’n helse klomp modules, en mense koop dit. Dan praat ek en die studente met mekaar en mense sit comments en ek antwoord hulle.
CHAN: Dis ’n slim manier om nog steeds daai teaching te gee.
WILLEMIEN: Daar is realiteite; mens moet geld verdien. Gelukkig doen hierdie online werkswinkel goed genoeg dat ek geld verdien, want ek móét geld verdien. Dis die basic reality. Ek moet ook werk verkoop, maar die in-persoon-ding is net té taxing.
CHAN: Die ander kant van jou werk wat mense emosioneel move, is op sigself ’n soort teacher, sonder dat jy al daai teaching-werk hoef te doen.
WILLEMIEN: Dis ’n mooi manier om daarna te kyk.
CHAN: Ek wonder of jy, terwyl jy die kuns maak, baie dink aan jou audience. Dink jy daaraan om hulle te inspireer om hul eie bestaande norme uit te daag en om nuwe maniere van sorg en bestaan te skep? Dink jy daaraan, of gebeur dit maar net?
WILLEMIEN: Dis nie deel van my proses nie. Ek dink nie dat ek officially ’n teaching duty het nie. Maar wanneer dit spontaan gebeur en wanneer ek dit witness, is dit baie powerful vir my. Ek wil gou vir jou daai ander werk wys wat gehang het in my vorige studio. [Willemien neem my na haar sitkamer.]
Shallow grave
WILLEMIEN: ’n Ma en haar tienerjarige seun het na my studio gekom. Ek het baie gedink aan dié ervaring, want ek het onlangs Adolescence gekyk. Hy het gaan staan voor hierdie werk, Shallow grave. Jy kan nie onmiddellik die woorde lees nie. Toe lees hy saggies: “A shallow grave under his bed” en toe recoil hy. Hy kyk so vir sy ma en hy word bleek, en toe begin hy huil. ’n Dertienjarige seun. Dit was die eerste en enigste keer wat dit met my gebeur het. Maar ek dink hy het net iets verstaan van gender-based violence en sy ma het bietjie daaroor gepraat en oor vrouens, en he just got it. Dit was vir my baie powerful. “A shallow grave under his bed” is een van daai aanhalings wat uit ’n koerantberig uit gekom het.
CHAN: Dit is so powerful, want ’n jong seun is juis die soort audience wat moet verander op ’n jong ouderdom.
WILLEMIEN: En hy is tien teen een al klaar oop daarvoor. Ek stereotipeer nou, maar ’n jong seun soos dit wat saam met sy ma travel na uitstallings en na artists’ studios, het ’n spesifieke tipe upbringing, so hy is tien teen een sensitief en wonderlik, maar nogtans: He needs to get the message.
CHAN: Dit is uiteindelik wat mens voor hoop as jy kuns maak, is dat iemand moved is op ’n manier. En jy kan nie eintlik enige beheer hê nie. Dis hoekom dit so opwindend is wat jy gesê het, dat jy totsiens sê vir die werk. Jy het nie meer beheer oor hoe dit daarbuite meaning aanvat nie. Dankie dat jy my in jou studio ingenooi het, want ek het sover nog net jou werk op skerms gesien en om dit in persoon te sien en die tekstuur daarvan te sien … Ek voel asof ek nuwe teksture van myself deur die werk kan voel.
“Mense, ons het almal mekaar nodig. We have to save each other. Want, god alleen weet, daar gaan niemand anders kom nie.”
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Om 'n roes te wees op alles: 'n onderhoud met Willemien de Villiers gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




