14 Februarie: 'n ware dag van liefde vir Diana Ferrus

Foto’s verskaf deur Gaireyah Fredericks. Die foto van Gaireyah en Diana by die Tuin van Digters is deur Michael Benjamin geneem.
'n Huldeblyk dee Gaireyah Fredericks
Dis Saterdag 14 February ennie gees vannie dag is duidelik oral sigbaar. Mense met rooi en wit klere drom saam by stalletjies wat allerande blomme en novelties vekoep. Opi kalender issie dag designated virre dag van liefde deel, ontvang en waardeer.
Die rit issie soe lank ytie Paarl met Diana Ferrus-staaltjies enne tribute poem an haa, wat ek innie kar vi amal hardop lies. Ek dink an allie tye wat sy die pad gery het en kyk narie berge ennie scenery en wonne hoeveel poems sy hier construct et toe sy hie deegery et. Sy sou nie die rit monotonous gevind hettie. Sy sou die natuur allow et om haa ’n poem te stuu.
Ek, however, voelie creative vedaggie. Die dag rus op my skoues asof ek an instruction gekry et om dit te help dra. Os park effe off-road vannie VGK-kêk sentraal in Adderleystraat in Worcester. ’n Ou sit soese gargoyle oppie samentpalletjie voorie kar en skrie dat hy sal mooi kyk na os kar. Ek smile, want my skrywersbrein record hom en ek dink by myself hy salle kwai character maak virre next poem of short story.
Byrie kêk se ingang isse rooi mat tot oppie teer innie straat neergelê. Os is hie. Dissie laaste 100 meter saam met Diana. Os kyk vi seats en vleg deerie sad looking eyes wat contact maak. Bekende gesigte en kopknikke van ja, it’s real, and happening. Os is hie by Diana Ferrus se funeral. Ek waardee die reminders. My reality need dai check-ins. My oë meet ’n kamerade van fees- en skryfafkoms en ek pace myself tot by haa. Loraine jump op met haa loepstok en virre second sien ek sy’t van haa stok vegiet. Os embrace ennie warmte wat os met sorg koester oo dié dag, pour yt oo mekaa se wange. “Is djy oraait, meisie?” vra ek. “Die wêreld gaan nooit weer dieselfde wees nie,” prewel sy trug. Haa wore slat soes blades dee my. Os hou mekaa vêre virre while. Sy sit by haa geliefde en ek simpatiseer met haa oek. Os was amal familie. Familie van Diana Ferrus – gejoin nou deerie liefde wat os vi Diana voel. Vir iewag joined by this commonality. Ek gaan sit en niemie interior in. Kêke is amal different, maa ek recognise die layout en familiarise myself, just because it’s always a new absorption.
Ek sien Diana se framed portrait met twie kêse voorit oppe rône tafeltjie. ’n Mooi black and white classic photo van haa met haa mooi smile. Dai smile wat ek altyd sê maak mens voel of djy daarin wil kruip en net nestled lê en hibernate. ’n Smile wat jou safe laat voel. Daa is ’n groot Dutch verse of leuse opi mure en dadelik try ekkit lies. Of course is taal een vannie hooftemas oral waa Diana is. Sy bring os altyd na plekke waa daa gelee en geponder moet wod oo taal en event. Ek kry ’n begrafnisprogram en draai et na agter en lies:
Celebrate my life
Remember me with love and joy,
Let gratitude fill your heart.
Thankful for the time we had,
Gone … yet not apart.If we measured life in moments,
Not in the months or years,
I lived a hundred lifetimes,
Loved by all who hold me dearI hope you’ll find your smile,
And generously speak my name.
Share stories and my heart,
Your love for life unchanged.Celebrate the life I lived,
I will be watching from above.
I am always with you,
Sending you my light and love.
Ek wassie ees bewus ek’t begin huil tot ek oplet ek kannie mee liesie. Ek het oekie besef die wore het in my ore in haa stem gekommie. Ek smile en enjoy haa klein praatjie met my. En accept haa light en love.
Daa’s ’n announcement wat my attention briek oo viewing en ek wiet ek moet gaan. Ek moet vi haa sien en ietsie sê. Ek het news vi haa after all! Ek’t alwee ’n string niewe poems geskryf. Ek wiet my koppie is vedag bietjie ytie qibla, maa ek moet dié process volg – vir my future sanity. Islam se perception oo dood en janaza’s is different, maa ek is vedag by ’n funeral. Vedag taqleed ek tussen twee customs en cultural practices waa ek met respek saam Diana se gemeente haa send-off in haa practice observe.
Dominee J Fransman direct almal na die kis wat innie agterkant vannie banke byrie ingang vannie kêk gepak staan. Amal queue om hulle laaste respects te pay en os beweeg vorentoe soes wat die een by die kis time consume. Ek sien my vriendin Loraine innie queue en wag vi haa soesie human-stoet vorentoe vôder. Haa hand rus swaa oppie kierie. Ek sien die metaphor daa’in. It skrie na my. Ek hoep my hand wat hare hou, help oek. Os skoffel starag tot by die glass cover wattie kis seal, maa visually toegang gie en ek sien vi Diana. Die heel eeste ding wat ek oplet, is haa doekie. ’n Mooi wit doekie wat soes ose Moesliems ose mayets cover en my hart swel vannie genade wat ek sien. Ek wiet dissie djys customary nie, maa ek shukr die een wat haa hare bedekkit. Haa gesig is mooi geraam. In my mind is dai die grace wat sy ontvang et. Godsend grace. Iets wat ek nooit sal vergietie en met soveel mee meaning saam my gaan dra. My oë trek lyne ommie kontoere van haa gesig en ek sit my hand oppie kis instinctively en whisper: Ek het vi jou ’n Kramat gebou, Diana, inne poem – waa os kan sit en saam wies.
’n Kramat vi jou Diana
My liewe Diana,
in my binnekamers het ek jou ’n huisie gebou
’n Huisie uit baksteen en marmer –
teëls op die vloer wat soos graniet skitter
as die son deurgaans ingly
’n Witgekalkte geboutjie met ’n groen koepeldak
wat vêr bo-oor alles strek
’n Vierkantige gehuggie wat jou rus raam en
koel briesies egalig deurlaat –
naby die see,
sodat jy die branders kan hoor slaan en
bruis soos hulle na die kus rol en vir
jou allerhande stories bring –
daar word jy omring deur die
welige groen duinsuurbessie,
wasbessie en vetplante wat saam
proteas en fynbos pronk
Ek het jou naam gegraveer by die ingang en
jou gedigte teen die binnemure in sierskrif
geraam, gehang
Jou lig in my lewe in elke lamp netjies gedeel en
jou wysheid en advies in die groot reghoekige skatkis
in die middel van die vloer gebêre
my roukombers het ek van my skouers verwyder
en in ons skatkis netjies verpak
heel onder,
sodat dit die waarde van wie jy vir my was sagkens beskerm
ek het ’n huisie vir jou gebou Diana Ferrus,
want jy verdien een in jou naam …
Loraine se whimpering sounds wat my wore cause, bring my trug in dié space, wan virre brief moment was ek weg. Loraine sê haa prayers en voo os loep, conclude ek aan Diana: Rus sag, mammie. Rus sag. Os move an en ’n anne view en all sorts of pain manifest in sound.
Die kis kom van agter innie gang af tot voo. Die diens begin ennie dominee bid. Daarna kom haar niggie Avril en Anlinn, ’n familielid, en hulle stiek annie kêse. Ek dink trug hoe ek oek byrie Cape Flats Festival ’n kês laat brandit, ommat ek gevoelit soe kan Diana oek saam my wies terwyl ek sukkel om die facilitation dee te maak, sône om van grief te briek. It remind my oek nou fondly vannie dag toe my eie ma maniengal het. Soes ek vi haa ’n candle byrie Cancer Relay for Life aangestiekkit, het my phone gelui ennie news van haa eie lig wat in dié liewe nou distinguish is, an my gerelate. Soe ironic.
Die gemiente staan op enne gesang wod gesing. Hie en daa hoo mens ’n prewel of uitbarsting van unplanned grief wat ontsnap assie lyrics ’n hartsnaar hit. My vestand voel klein, asof taal nettie formulate ie. Wat issie taal hie, wonne ek. Watte taal praat grief? Want clearly vedag skrie it na amal with no distinction na wat djy na toe conform. Die klavier wattie congregation begelei, try ommie spirit vannie wore te relate, maa grief praat bo-oor alles. Almal sit wee.
Muhammad Ferrus doenie eeste huldeblyk en hy oepen mettie universal greeting van vriede in Arabic: “Assalau-alaikum wa raghmatullaahie wabarakatu.” Hy’s innie tradisionele drag: sy top en koefieyah. Ek kan sien is mondering wat djy antrek na ’n auspicious event. ’n Plek waa djy die hoegste gesag toon. Nie nette gewone koefieyah wat djy soema gryp vi masiet nie, maa mondering. Die een wat djy nare Labarang sermon die oggend sou antrek. Ek wiet baie sallie dai notice nou ennie connection maakie, maa ek waardeer sy effort en sy communication. Hy wys utter respek vi sy beloved vedag.
Hy vetel ’n storie van Diana van hoe sy altyd sou excitedly wag vi hom om haa te ko smee en dan lovingly sou sê: Ek gan jou ytsort, boeta. Hy lag ligtelik en vra wie gat nou vi hom ytsort, while sy stem briek toe hyrit sê. Hy vetel hoe sy uncles sou sit en Klawedjas speel en hulle as kinnes sou hoo vie different tale as hulle innie omtes speel. En hy vetel met soeveel nostalgia hoe hy vi Diana eenkee gevra het hoekom sy dai poem vi Saartjie geskryfit. Ek’t expect dit wat ek wiet, cos ek herrit soveel kee al gehoo, maa sy narration vêre wasse surprise. Hy vetel dat Diana innie archives op soek was na haa grandfather se storie en is toe ná dai wat Diana oek na Saartjie gelei was. Hy sê Diana narrate dat sy oppe klip gesit het en an Sarah gedinkit. Hoe sy moes gevoelit toe sy weggevat was. Watte letsels dit by haa gelossit. “To be a writer, is to be lonely,” het sy vi hom gesê. Ek vestaan dai statement, want nie net isse mens alien as djy skryfie, maa oek as djy die kompleks issues soms ponder.
Stefan Steyn was daana annie beurt en weer eens het djy gehoor hoe hy twie ma’s gehad het. Hoe sy alles van hom en saam hom gecelebrate et. Hy verwys na haa assie Mother of Literature en na die invloed wat sy op soeveel belangrike veranderinge in Suid-Afrika gehadtit. Hy vetel van legacies of pride en hoe hy tienwoordag was mettie Sarah Baartman bill passing prayer ritual dai aand. Hoe hy met sy aunty Enna, soesie familiekinnes haa genoemit, saamie Khoi-gevolg rituelekruie gebrandtit; ennie ghoema van tromme wat geslaan was, totdat die senate se argument anvaar sou wod, met wide-eyed wonder beleefit. Hy vertel hoe hy later oppe sak kruie annie slaap geraakit. En ek dink: Ja! Dis wat Diana met os amal gedoenit. Sy’t os deel van alles gemaak en expose an dinge wat sal baat in ose liewe. Belewenisse wat profound effects op os sou hê ennie rigting na os heritage en identity help signal het, sodat ossit kan anker in ose komvandaan.
“En ek dink: Ja! Dis wat Diana met os amal gedoenit. Sy’t os deel van alles gemaak en expose an dinge wat sal baat in ose liewe. Belewenisse wat profound effects op os sou hê ennie rigting na os heritage en identity help signal het, sodat ossit kan anker in ose komvandaan.”
Luniëlle Hartzenberg het haa moeder in Covid veloor en praat van haa aunty Enna fondly. Oek asse twiede ma wat op haa sou check elke dag en haa oek, soes met amal, sou saamsliep, while sy jou shape en space gie om te heal. Sy praat van Diana se menswaardigheid en dat haa kindness soft was. Diana het gegloe dat djy doenie wêk, al is daa g’n applous. Luniëlle mien Diana was groot ommat sy menslik was. Sy’t gegloe elkeen het stories en dat mens nie toestemming nodag het ommit te vetelie. Sy vetel hoe Diana haa geleerit dat poetry is nie decoration nie, it’s about writing the truth. En dat mens niemant se toestemming nodag het om te bestaan nie. Diana was diep en waardag en haa menslikheid het niemand ooskadu nie, maa was constant met wie sy present.
Dit het oek nie in haa pen geëindagie, maa in amal wat haa tiegekomit, sê Luniëlle. Haa aunty Enna het gegloe dat mens jou eie storie moet ken, sodat dittie dee anne geskryf kan wodtie. Ek isse getuie van dai wore. My storie en journey met my taal en identiteit was oek dee Diana gementor en my storie het eventually my eie gewod. My komvandaan nou bekent an my, danksy Diana Ferrus.
Die spiritual dancing begin metta sound clip vanne 10-jarige wat haa aunty asse rolmodel inne skoolprojek honour deerie gedig ‘Ons komvandaan’ te lies. Haa wore gly oo narie stem van Diana. Amal join in met “jou ma, se ma, se ma, se ma …” Hie en daa onnebriekie seer harte die gedig. Die dans commence. Tromme echo van êrens byte die kêk innie agtegrond. Die trans swell.
Die dominee Fransman vat weerie preekstoel en bid voo hy sy skrifliesing ytie Bybel doen ennie boodskap virrie dag connect mettie bekende “I’ve come to take you home”-reël in Diana se gedig. Die gedig begin weerklink innie kruisformasie vannie argitektier. Dit echo in vier rigtings bo-oor os sittendes. Dis moeilik om daana te luister, wannit tref jou elke kee. Vedag, even more so. Maa os het vriede. Diana het oek nou vriede.
Os staan wee virrie dodemars en reflekteer ori tye saam haa. Ek dink an my poem en vint troos daa’in dat ekke Kramat vir haar in my giestesoeg gebou et. ’n Plek waar os kan miet en vekeer. Waa ek haa kan vetel van waamie ek biesag is en nog steeds dankbaar voel vi wat sy vi my gedoenit.
Die polisiekapilaan kom an beurt ennie vlag wod ontbied om oorie kis geplaas te wod. Hulle marsjeer af innie gang en shield die kis met hulle lywe. Ek staan. Ek móét alles sien. Die vlag wod ingetuck en coverie deksel vannie kis. Die wore van haa gedig – “Ek het jou bed berei teen die voet van die berg, jou komberse uitgedos in boegoe en kruisement” – kom na my gedagtes en ek vintie oomblik homely. Tender. Innie agtegront hoo djyrie horns vani Khoi-gevolg basyn brullend wat haa procession eerbiedag, acknowledge mettie tradisies observed en Ricardo McKenzie wat in sy toespraak aandag annie feit gie dat Diana nie net Sarah se humanity teruggegie ettie, maa oek os amal s’n. Dit echo Diana se life story. ’n Liedjie speel soes haa kêse, wat haa lig symbolise, geblus wod ennie orrel dreun met intense vibrations: ‘How great thou art.’
“Innie agtegront hoo djyrie horns vani Khoi-gevolg basyn brullend wat haa procession eerbiedag, acknowledge mettie tradisies observed en Ricardo McKenzie wat in sy toespraak aandag annie feit gie dat Diana nie net Sarah se humanity teruggegie ettie, maa oek os amal s’n. Dit echo Diana se life story.”
Dai wore vorm weer eens vir my ’n metafoor. Vedag het ek waargeniem nie-bloedverwant wat as familie saam grief en mekaa liefhet. Liefde vir een mens in unison, simply because sy dee haa liefde vir amal dit reggekry et om dai diversity invisible te maak. Diana het vedag mense saamgebring. En daa was g’n rang of status gemerkie. Daa was vedag net gemeente. Ek het cultures en tradisies sien vreedsaam langs mekaa exist en saamsmelt. Vele tale is geuiter ennie mengelmoes van mense in haa liewe was gerepresent. As daa al ooit ’n oomblik was wat dié dag real meaning sou gie, issit toe os Diana Ferrus sou wegbêre. Liefde was volop sonder ienage grense, net soes sy.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van 14 Februarie: 'n ware dag van liefde vir Diana Ferrus gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




