RIV Diana Ferrus: 'n onderhoud deur Britney Chabell

RIV Diana Ferrus: 'n onderhoud deur Britney Chabell

Scans van familiedokumente en koerantuitknipsels in Ons komvandaan (2006). Foto van Diana Ferrus via Poetry Africa

Geskiedenis, skrywerskap en taal in Ons komvandaan

Mens se komvandaan is soes bloed wat deurie are vloei, ’n essential part van jou being. Waar jy vandaan kom speel ’n groot rol in wie jy is, nes wie jy is ’n influence kan het op waar jy vandaan kom. Nou wat bedoel ’n concept soes ons “komvandaan” nou eintlik vir iemand wat nie heeltemal seker is waar hulle originally vandaan kom nie? Jy mag dalk familiar is met dié rondom jou, ma wiet jy wie is jou “ma se ma se ma se ma se ma, of haar pa se pa se pa se pa se pa” (bl.3, Ons komvandaan) en vir dié wattie wietie, hoe determine jy dan wat vir jou “being” essential is?

Diana Ferrus, die aktivis-digter-performer en skrywer, was iemand wat hierdie challenge hands-on aangepak het. Diana se debuut met haar groundbreaking bundel, Ons komvandaan (self-gepubliseerd in 2006), het nie net die (Suid-) Afrikaanse literêre konteks verander nie, maar oek ’n groot impak gehad op die geskiedenis van die land. Hierdie bundel, wat die verband tussen plek, geskiedenis en identiteit in die Suid-Afrikaanse konteks bevraagteken, het ’n belangrike rol gespeel in die bewusmaking van Suid-Afrikaanse legends (insluitend Winnie Mandela, Brenda Fassie en Patrick Petersen) en oek die fokus geplaas op die erkenning en geskiedenis van ons moeders en vaders wat jare teruggaan (dié wie ons moes vergeet, ma despite all efforts, steeds deel van ons is). ’n Bundel soe touching dat dit ’n massiewe rol gespeel het in die long overdue homecoming van ons voorouer, Sarah Baartman. Die gedig, ‘Vir Sarah Baartman / I’ve come to take you home’, was central in die geveg vir die terugbring van haar oorskot, asook in die skep van die Franse wetgewing wat verseker het dat sy vandag weer in haar moederland is. Ons komvandaan, met temas soos vroulikheid, herkoms en erkenning, was dus (en is nog steeds) ’n literary baanbreker. 

Sedert die publikasie van hierdie bundel, het Diana ’n aantal gedigte en boeke geskryf en gepubliseer, wat fokus plaas op die geskiedenis van onderdrukte groepe en oek kritiese vrae stel oor die jare van slawerny – vrae oor wie en wat ons voor hierdie jare was en hoe dit result in wie ons vandag is. Sy het ’n sentrale rol gespeel in die stigting van die organisasie Women in X-chains, asook die Mengelmoes-digters en verder was sy deel van talle organisasies waar die werk van Swart (veral vroulike) skrywers bevorder word. Die fokus wat haar werk plaas op Afrikaans as taal, asook die aanmoediging van die gebruik van verskeie variante van die taal (van Kaaps tot Oranjerivier-Afrikaans, tot die insluiting van die bry-r, you name it), veral in die werk van nuwe en opkomende skrywers wat uit plekke kom waar daar dikwels min geleenthede is vir die bevordering van hul skryfwerk, is welbekend.

Regdeur haar lewe het Diana haar gedigte by talle geleenthede opgevoer en het sy verskeie werkswinkels vir opkomende skrywers aangebied. Sy het gedien as ’n inspirasie en voorganger vir talle skrywers in sowel die Suid-Afrikaanse as die internasionale literêre konteks. 

Die werk van hierdie skrywer het nie net ’n groot impak gehad op die dinge wat ek prefer om oor te skryf nie, maar oek op myself, as mens – ’n mens wat ná die eerste reading van Ons komvandaan meer nagedink het oor wat it truly mean om êrens vandaan te kom en daarna soema nog ’n hele paar van Diana se gedigte en bundels gaan opsoek het. Dit was werklik ’n groot voorreg om laat in 2025 ’n onderhoud met Diana te kon voer. Ek het haar werk bestudeer tydens my honneurs in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad en was bevoorreg om met Diana te kon gesels oor haar bundel, Ons komvandaan. Tydens die onderhoud het haar woorde gewys hoe belangrik dit is om te wiet waar ons vandaan kom, maar oek hoe daai tipe knowledge (en ’n nuwe generation van skrywers en denkers) kan determine waantoe ons gaan. 

Rus in vrede, Diana.


BRITNEY: Diana, Ons komvandaan is ’n versameling gedigte wat oor baie jare geskryf is. Kan jy my vertel oor hierdie tydperk – wat sal jy sê was die grootste bydraes tot en uitdagings terwyl jy die bundel geskryf het?

DIANA: Ek weet nie of ’n bundel oorspronklik beplan was nie, maar vrees vir “substandaard”, wat dit ook al beteken, en ook dat die gedigte relevant moet wees … maar oor die algemeen was dit ’n onsekerheid oor wat ek as ’n Swart digter wou deurgee en ook omdat ek geweet het dat ek gaan selfpubliseer, het dit my nie juis gepla of dit lank gaan vat nie. Ek dink die kommentaar van vriende oor my werk het die deurslag gegee dat ek moet publiseer. Die druk is nou groter as daardie tyd om te publiseer. Nou verstaan ek wat aangaan in hoofstroomuitgewery en wat die verwagtinge is. Nie dat ek my regtig daaraan steur nie. Ek dink daar is ’n soort gevoel wat mens kry wat jou sê dit is tyd om te publiseer. Ek dink dat gedigte hoeka oor ’n lang tydperk geskryf moet word. Die gedigte moet eers lewe binne-in ’n mens se kop en hart kry en ook by mens se gehoor. Ek lees graag ongepubliseerde gedigte voor en kyk na die reaksie van my lesers en gehoor.

BRITNEY: Die gedig, ‘Vir Sarah Baartman’ (bl.1 in Ons komvandaan), is wêreldwyd bekend. Dit hettie net ’n groot impak gehad op die terugkeer van haar oorskot naar Suid-Afrika nie, maar het oek, soes Barbara Boswell skryf, die belangrikheid van die erkenning van dele van die geskiedenis wat doelbewus uitgevee is, gehighlight. Die tema van erkenning, veral van die geskiedenis van slawe, is ’n belangrike tema in die werk van Swart Afrikaanse vroueskrywers, soes Ronelda Kamfer, Lynthia Julius en Jolyn Phillips (onder andere). Wat sal jy sê is die relevantheid van erkenning, nie net in die Afrikaanse literêre konteks nie, maar in Suid-Afrika as geheel? 

DIANA: Die toepaslikheid van erkenning is belangrik vir genesing. In ’n land waar die uitvee van geskiedenis maklik plaasgevind het, vind ek dat daardie geskiedenis ’n breek in die identiteitsvorming en só die selfbeeld veroorsaak het. Die terugroep van die geskiedenis is belangrik vir die heelmaakproses in ons land. Waar daar versoening moet geskied, moet daar eers genesing plaasvind. Herkenning en erkenning maak genesing moontlik.

Die terugroep van die geskiedenis is belangrik vir die heelmaakproses in ons land. Waar daar versoening moet geskied, moet daar eers genesing plaasvind. Herkenning en erkenning maak genesing moontlik.
— Diana Ferrus

BRITNEY: In die gedig ‘Ons komvandaan’ (bl.3) kom vrae oor herkoms voor wat deur baie mense gevra word, ma steeds onbeantwoord bly as gevolg van die feit dat min bronne wat oor en deur slawe geskryf is, bestaan. Wat is jou mening oor die gebruik van kennis wat deur ouer lede in Bruin en Swart gemeenskappe om slawenarratiewe oorgedra word as ’n way om hierdie issue te tackle?

DIANA: Dit is moeilik om te besluit. Slawerny is in 1838 afgeskaf. Nie baie stories is in my kinderjare oor slawerny vertel nie. Dit is asof daar ’n shame was om ’n slaaf te gewees het. Maar daar waar daar wel stories oorvertel is, is goed. Mens kry ’n soorte beeld, ’n narratief oor wat daardie tyd aan die gebeur was. Ook kan mens luister na die stories van ander slaafgemaaktes van ander lande en parallelle probeer trek. Ek dink dit het gebeur, so daar is sekere inligting wat nie betwis kan word nie, want die modus operandi was dieselfde. 

BRITNEY: In die bundel word daar talle verwysings gemaak na unsung heroes (soos Brenda Fassie, Patrick Petersen en lede van die Cape Corps). Watte metodes (in jou opinie) kan gebruik word vir die bewusmaking van die sentrale rol wat mense soos hierdie individuals in die geskiedenis van Suid-Afrika gespeel het en in vandag se tyd (byna 20 jare ná die publikasie van hierdie bundel) steeds onbekend is aan baie van dié wie mens sal hoop hulle ken (soes mense in Swart en Bruin gemeenskappe)?

DIANA: Hier kan die literêre bedryf baie doen. Daar moet publikasies wees van gedigte, kortverhale, romans, dramas en dokumentêre oor die figure wat groot rolle gespeel het in die vrymaak van die gedagtes van die voorheen onderdruktes. As hoofstroomuitgewers nie die vermoë het om dit te laat plaasvind nie, moet die klem op selfpublikasie wees sodat dit vinniger kan geskied, want soos mens sien, word die sosiale euwels waaraan die nie-kennis en shame en die verlies aan identiteit te danke is net groter. Die stem van die mense moet na vore kom; dit kan op vele maniere geskied. Weer eens is dit noodsaaklik dat die stem na vore tree om armoede, geweld en gebrek aan identiteit hok te slaan. Dit is uiters dringend dat dit gebeur.

BRITNEY: Die bundel bevat familiedokumente, soes doepsertifikate, dankbriewe, sowel as huldeblyke opgedra aan lede van jou familie, wat vir die leser meer inligting gie oor jou komvandaan. Kan jy my meer vertel oor jou besluit om hierdie persoonlike dokumente in te sluit? 

DIANA: Dit is heel per ongeluk ingesluit. Ek het die dokumente ook aan die drukker gewys en toe die bundel kom, het dit al die dokumente vervat. Ek wou net twee koerantuitknipsels gebruik en toe doen die drukker dit. Ek was pleasantly surprised. Dit was die rede hoekom ek besluit het om ’n aantal dokumente, soos briewe en koerantuitknipsels, ook in my bundel Die vrede kom later (2019) in te sluit.

Scans van familiedokumente en koerantuitknipsels in Ons komvandaan (2006)

BRITNEY: In die gedig ‘Vir Patrick Petersen’ (bl.15) word die fokus geplaas op die belangrikheid van Petersen as skrywer en bemagtiger, veral in die Afrikaanse literêre konteks. Kan jy uitbrei oor die rol en belangrikheid van skrywers en digters in die aanspreek van ongelykheid en sosiale kwalle in die kontemporêre konteks?

DIANA: Ek glo so sterk daarin. Ek het ook die Mengelmoes-digters gestig en werk met groepe oraloor in die Wes-Kaap. Ek hou werkswinkels en identifiseer dié wat sterker skrywers is. Daar moet ’n vrag skrywers wees wat dit doen. Laat my dink aan die lees- en skryfrevolusie wat in Kuba plaasgevind het.

BRITNEY: Gender kom oek gereeld ter sprake in die bundel, in gedigte soos ‘Vir Sarah Baartman’ (bl.1), ‘Antie Sarie’ (bl.12), ‘Winnie Mandela’ (bl.14). Kan jy uitbrei oor die invloed van die feminisme, veral Swart feminisme, in die skryf van hierdie bundel?

DIANA: Ek het my studies in genderstudies voltooi, terwyl ek aan die bundel gewerk het. Die feminisme het ’n groot rol gespeel in hoe ek oor hierdie vrouens geskryf het. My studies in die feminisme het my geskool oor hoe ek na vrouens sal verwys.

BRITNEY: Vannie temas wat vir my uitstaan in die bundel, is kuns, jazzmusiek, liefde, asook ervarings en herinneringe uit die kinderjare. Kan jy uitbrei oor die posisie wat veral die laasgenoemde inneem in die bundel?

DIANA: Hierdie bundel het grootliks te doen met genesing op ’n makro- en mikrovlak. Ek het myself blootgestel deur oor my kinderjare te skryf, wat swaar was. Ek moes daaroor kom. Ek moes myself kon voorstel as Diana Ferrus wat kom uit ’n huis waar daar alkoholmisbruik, gesinsgeweld was. Ek het vir jare swaar gedra aan ’n minderwaardigheidskompleks. Ek het maar twee dekades gelede begin om te genees.

BRITNEY: Die narratief dat Afrikaans as taal mainly verband hou met onderdrukking, word in vandag se tyd verander met die inklusiwiteit van die verskillende varieties vannie taal. Wat is jou mening oor die insluiting en erkenning van variante van Afrikaans, soos Kaaps, die gebruik van Oranjerivier-Afrikaans (deur skrywers soes Lynthia Julius, byvoorbeeld) en die gebruik van die bry-r deur skrywers soos Ashwin Arendse in die literêre konteks?

DIANA: Dit is ’n positiewe stap in die regte rigting vir Afrikaans. Afrikaans het maar nog altyd haar eie gang gegaan. Soos ek al in die verlede gesê het, Afrikaans het haar nie laat straightjacket nie.

BRITNEY: Het jy dalk enige advies vir opkomende skrywers, veral jong Swart skrywers?

DIANA: My raad aan jong Swart skrywers is om eerstens te weet wie hulle is, waar hulle vandaan kom, om van die shame ontslae te raak. Hulle moet geskiedenis ken; hulle moet navorsing doen. Hulle moet ernstig wees as hulle hulself wil skrywers noem; hulle moet met ander skrywers skakel, ander skrywers lees; hulle moet werkswinkels bywoon, hulle werk laat edit; hulle moet hulle nie laat afskrik deur die verwerping deur hoofstroomuitgewers nie; hulle moet werk en edit en self-publiseer en geleenthede gaan soek, al moet hulle volunteer, daardie ondervinding sal handig te pas kom. 

My raad aan jong Swart skrywers is om eerstens te weet wie hulle is, waar hulle vandaan kom, om van die shame ontslae te raak. Hulle moet geskiedenis ken; hulle moet navorsing doen. Hulle moet ernstig wees as hulle hulself wil skrywers noem [...].
— Diana Ferrus
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van RIV Diana Ferrus: 'n onderhoud deur Britney Chabell gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R

Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand