KYK: Dis óók Klyntji

Kunswerke deur Paula Stephanie Kruger en Drianco Fourie
'n Kortfilm deur Paula Stephanie Kruger en Drianco Fourie (aka Hendriek Bleik)
’n Storie het ’n begin en ’n middel en ’n einde. Maar dié storie begin so:
Ons Klyntji is die eerste en oudste Afrikaanse tydskrif.
Eerste en oudste en Afrikaans in een sin is ’n gevaarlike kombinasie – kan iets regtig die eerste wees in ’n taal wat ouer is as haar geboortesertifikaat? In 2025 was dit 100 jaar sedert Afrikaans as amptelike taal erken is. Vanjaar is Ons Klyntji 130 jaar oud.
In hierdie 130 jaar het Ons Klyntji ’n hele paar gedaanteverwisselinge ondergaan en die geskiedenis van die publikasie kan rofweg in ’n paar fases verdeel word. (Bear with us, ons kom nou-nou by die punt.)
Die eerste fase strek van 1896 – toe Ons Klyntji deur lede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gestig is met die doel om te help bou aan ’n literêre kultuur en Afrikaneridentiteit – tot 1906. Gedurende hierdie 10 jaar het Ons Klyntji een maal per maand verskyn. Daar was ’n fokus op letterkunde, maar inhoud het byvoorbeeld ook Bybel-vertalings en leesmateriaal vir kinders ingesluit. Só lui die redakteursbrief in die heel eerste uitgawe van Ons Klyntji: “Di ouers kan gerus hulle kinders en jonge mense met my laat omgaan; al is ek nou en dan ’n bitji plisirig, ek sal ni onbehoorlik wees ni.” (Vertaling: Staan maar nader, ons byt nie.) Party bronne sê Ons Klyntji was destyds neutraal ten opsigte van politiek en religie; volgens ander het die publikasie juis kritiek ontlok weens sy beheptheid met hierdie onderwerpe. Die laaste uitgawe van die maandblad het in 1906 verskyn as gevolg van finansiële swaarmoed. (Party goed verander nooit – we 🖤 you, print media.)
Die tweede fase sleepvoet deur die 1900’s: Eers, in die 1940–50’s, het ’n groep onderwysers uit die Vrystaat ’n poging aangewend om Ons Klyntji te laat herleef. Min inligting is bekend oor hierdie tyd. Ná ’n paar dekades se stilte het die tydskrif egter uit sy vlak graf opgestaan en nou het dinge heelwat anders gelyk. Ons Klyntji was oud genoeg om nuus te kyk en sigarette te koop. Staan nader, if you dare – dié keer byt ons. In die 1990’s, kort ná die Voëlvry-beweging, het Ons Klyntji verskyn as ’n protes-zine teen apartheidnasionalisme, met Koos Kombuis as redakteur. (In die vroeë 2000’s het Toast Coetzer en Erns Grundling as studente die projek by Koos Kombuis oorgeneem. Hulle is vandag steeds redakteurs van die zine.) Reënboognasie – werklikheid of mite?; Y2K en jou rekenaar; Is Louis Luyt die Antichris?; Het die duiwel ’n stert?; The Afrikaner you think you are lees van die opskrifte op die voorblad van ’n uitgawe uit 1999. Op ’n ander: ’n Dominee sê “fok Kersfees”; Alles oor die derde taalbeweging; Ons polisie kry ’n facelift. Die zine was skerp, satiries, sardonies. Polities-bewus en kultureel-gestem. Plesierig én onbehoorlik. In hierdie tyd het Ons Klyntji help vorm aan ’n nuwe, post-demokratiese en anti-apartheididentiteit deur te spreek van gelyke regte vir almal, oor die grense van ras, geslag en seksuele oriëntasie heen. Die meertalige Ons Klyntji-zine verskyn steeds jaarliks.
Dit bring ons by die derde fase: Klyntji dot com wat in 2014 in ’n universiteitskoshuiskamer deur Francois Lion-Cachet (agter-agterkleinseun van een van die oorspronklike Ons Klyntji-stigterslede) op die been gebring is as onafhanklike webjoernaal wat fokus op diverse en progressiewe kuns en kultuur. Vandag word beide die gedrukte Ons Klyntji-zine en die webjoernaal Klyntji.com deur Klyntji (’n vrywillige vereniging met PBO- en NPO-status) uitgegee. Die twee publikasies word deur afsonderlike redaksies bestuur, maar word dikwels byeengebring deur verwante projekte en inhoud.
Klyntji help bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, klink en lees. Klyntji is “jazz … die jazz van die taal, die jazz van die uitkyk en denke”; ’n “[l]igpuntjie in die kulturele duisternis van kan-kyk-maar-kannie-lees-nie”. Klyntji is ’n “kleinood-kanniedood van die Afrikaanse joernalistiek en letterkunde”; ’n “herontdekking van die duisend (progressiewe) vorme wat kuns en kultuur aan die suidpunt van Afrika aanneem”. Nie almal het sulke mooi goed oor Klyntji te sê nie. “Stop asb julle emails. Ek stel nie belang nie. Het julle nie end nie?” (’n amper-haiku aanmekaargegom uit verskeie kwaai e-posse). Dis okay. Dis ook Klyntji.
Klyntji is ’n lewende kultuur- en taalargief. Klyntji word gelees deur BA-studente wat middernaganalises van Bibi Slippers-gedigte soek vir ’n eerstejaarsopstel. En deur jong creatives wat Ryan Pedro se Klyntji-essays oor en oor lees. (Ja, daar is fan mail! Keep it coming!) En deur ’n boer wat laat weet dis parstyd en hy kan dus nie nou e-posse antwoord soos gewoonlik nie. Klyntji word gelees in Worcester, Hillbrow, Steinkopf, Garsfontein en Delmas. In Namibië, Nigerië en Nederland, in Swede en Suid-Korea. Ons hoor daar is ’n ouetehuis in die Oos-Rand waar Klyntji-stories (uitgeprint en gekopieer) soms die rondtes doen. Party lesers meen daar is te veel vloekwoorde op Klyntji.com en speel dus eerder net Watse, waar daar sover nog nie enige onbekoorlike vyfletterwoorde ingesluip het nie. Party dink die zine is oulik, maar soms ’n bietjie too much. Dít is ook Klyntji.
En dit bring ons uiteindelik by die punt van dié storie uit. Dis óók Klyntji is ’n kortfilm deur Paula Stephanie Kruger en Drianco Fourie (aka Hendriek Bleik), vervaardig vir en in samewerking met Klyntji, wat hierdie everythingness van Klyntji só raak vasvang.
Die film is ’n lappieskombers, ’n laataand-spoeg-en-plak-groeptaak, nes Klyntji.
In die gees waarin Toast en Erns in die early days die Ons Klyntji-zines met ’n skêr en pritt aanmekaargeweef het, was Paula en Drianco die puppet masters wat deur folders en folders beelde en stemopnames gewerk het, dit opgesny en op die kop gedraai en herrangskik het om ’n nuwe storie te vertel – een wat gelyke dele samehangend én onsamehangend is. Die materiaal wat in die film gesien word, is van oraloor versamel – sommige daarvan deur Paula en Drianco self verfilm en ander soos blinkgoed deur kraaie bymekaargemaak deur by elke vriend, tannie, lover, ex-lover, oom en predikant in ons WhatsApp-kontaklyste te bedel vir interessante stories oor werklik enige iets. Dié wie se voicenotes op die ou end as deel van die film gebruik is, het self hul onderskrifte geskryf. Dalk herken jy jou buurvrou of jou gunstelingskrywer se stem …
Die uiteindelike film is dus ’n projek geskep vanuit die Klyntji-lesersgemeenskap. En dít is ons manifes: om die stories in die alledaagse, die vreemde, die aweregse, die lukrake te vind en te vertel, en om mense uit alle uithoeke van hierdie lewe en hierdie taal saam te bring om te lees, te dink, te lag, te treur en te alles-tussenin.
Paula, creative director en editor van die film, vertel oor die proses:
Dit was surreal en so flippen fun om [die film] stuk vir stuk bymekaar te sit. Dit bestaan uit visuals en stories van die Klyntji-community en dit ontbloot ’n eie little Klyntji-wêreld. Die chaos, kompleksiteit, veelvoudige, unieke, lukrake, mooi, funny, sad vibes van die mens kon saamgesnoer word, want dis óók Klyntji. Haha. Ek dink die film is werklik enig in sy soort, nes Klyntji. Dis amazing hoe ons soveel mense kon vra vir random stories in voicenotes, en ’n hele nuwe storie kon skep. Dit vang vas my unieke styl, Hendriek Bleik se unieke styl en talent en showcase exactly wat Klyntji is.
Drianco, oftewel Hendriek Bleik, wat saam met Paula die editor was, sowel as die composer van die oorspronklike musiek (kyk/luister met oorfone vir die ultimate experience!) vertel:
Ek dink die chaos wat ons probeer vasvang het, imiteer menswees mooi. Die musiek het ’n undertone van sadness en so bietjie van ’n donkerte in die begin, wat die vibrance en popkleure van die visuals ’n mooi kontras gee. Ek dink die donkerder klanke gee die stuk bietjie drama en emosionele diepte, amper asof die film met homself worstel en homself nog probeer verstaan en uitfigure. By die donkerder klanke word daar dan ook allerhande klanke bygevoeg wat dan alles op mekaar bou, en aan die einde word dit hierdie dik muur van musiek wat nie regtig een enkele manier klink of voel nie; dis kompleks en dit is net. En ek dink dis cool.
Kom sit hier by ons, kom ons gesels oor bome, terwyl jy jou makeup doen. Bring ’n hose; bring jou blokfluit. Die draadtuinstoele staan hier buite en daar is genoeg vir ons almal.
Dalk is ons nou in fase vier. Aan watter wêreld probeer ons help bou? Klyntji gebruik Afrikaans as taal tussen tale om kulturele grense te bowe te gaan deur die vertel van stories wat vooroordeel van alle oorde uitdaag. Ons doen dit deur diverse kuns, musiek, letterkunde, ontwerp, uitvoerings en kultuur in die breë sin te bevorder, wat lei na ’n meer gelyke, aanvaardende en inklusiewe Globale Suide.
En nee, ons het nie end nie. Klyn begin, anhou win.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van KYK: Dis óók Klyntji gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.




