Ons Klyntji en Afrikaner-aktivisme: 'n akademiese studie deur Jana Klingenberg en Samantha Miller
Ons Klyntji-zines van die 1990's en 2000's het 'n post-demokratiese, transnasionale en inklusiewe Afrikaneridentiteit gevorm, bevind dié navorsers
In ’n artikel getiteld “Exploring transnational dimensions of activism in contemporary book culture: Ons Klyntji and Afrikaner activism” wat onlangs in die Franse akademiese joernaal Érudit verskyn het, ondersoek Jana Klingenberg en Samantha Miller (beide dosente in UP se Departement van Inligtingswetenskap se Uitgewerswese-program) aan die hand van Thomas Aichner se Country of Origin- (COO-) raamwerk hoe Ons Klyntji sedert 1896 bygedra het tot positiewe politiese en sosiale veranderinge met betrekking tot Afrikaneridentiteit, veral as zine sedert 1996 in die postapartheid-era.
Eers ’n bietjie konteks: Klyntji(.com) het onlangs 10 jaar se bestaan gevier. (Whoo!) Gestig in 2014 deur uitgewende redakteur Francois Lion-Cachet, het die webjoernaal gegroei in redaksie en aanhou ontwikkel as die cyber-weergawe van sy print form en poetry-writing-ouboet, die Ons Klyntji-zine (tans onder redaksie van Toast Coetzer, Erns Grundling, Joe Botha en ’n span bydraers), wat hierdie jaar in sy 128ste bestaansjaar is. Beide die aanlyn en gedrukte publikasies word uitgegee deur Klyntji, ’n geïnkorporeerde nie-winsgewende organisasie. Albeit met ’n paar breaks tussendeur (die zine), in verskillende gedaantes en met verskillende doeleindes voor oë, lê beide Klyntji.com en die Ons Klyntji-zine se wortels in hulle oeroupagrootjie, die OG-Ons Klyntji-tydskrif, wat vir die eerste keer in 1896 gepubliseer is. (Francois se oeroupagrootjie, Jan Lion Cachet, was ’n stigterslid en die een wat die naam Ons Klyntji en die leuse “Klyn begin — anhou win” voorgestel het. Oupa Jan walked so Francois could run! Lees ’n onderhoud met Francois oor dié familiegeskiedenis en sy stigting van Klyntji.com hier en hier.)
Die oorspronklike Ons Klyntji is op die been gebring met die spesifieke doel om ’n Afrikaanse literêre kultuur, waarin gelees en oorspronklik geskryf word in Afrikaans, te skep. Deel hiervan was om ’n bepaalde Afrikaneridentiteit te kweek, een wat anglisering teengestaan het. Die publikasie van dié weergawe is ná 10 jaar gestop, weens die Suid-Afrikaanse Oorlog. In 1996 resurrect Koos Kombuis (ere-redakteur van Klyntji.com) Ons Klyntji in die vorm van ’n (nogal rof en onbeskofte) spoeg-en-plak-protes-zine.
Identiteit het sentraal gestaan in beide Ons Klyntji-projekte. Klingenberg en Miller (2024) skryf:
The publishing of Ons Klyntji occurred during various contexts of repression, first during the repression of the Afrikaans language and later post-apartheid (since 1996) when Afrikaans was still perceived as an oppressive language due to its association with apartheid and a nationalistic ideology. In both contexts, however, the magazine was used to promote progressive causes: first in the creation of an Afrikaans literature, and then as a vehicle for protest by Afrikaners against apartheid. Both these causes triggered a need to find an identity amongst the Afrikaners and Afrikaans speakers of South Africa. We argue that […] Ons Klyntji has campaigned for the redefinition of this national identity.
Die COO-raamwerk verwys kortliks na hoe tekste en visuele cues of elemente gebruik word om ’n beeld van ’n land en sy produkte te bou. COO is direk verbonde aan nasionale identiteit en kultuur en maak dit moontlik om die rol wat stereotipes in nasionale en kulturele identiteit speel, te ondersoek.
Deur die voor- en agterblaaie, headlines, redakteursbriewe en advertensies van Ons Klyntji-zines van die 1990’s en 2000’s in oënskou te neem, wys Klingenberg en Miller hoe Ons Klyntji ’n nuwe, post-demokratiese en anti-apartheididentiteit gevorm het, “loosening the tight grip of apartheid associations and embracing a South African rainbow culture inclusive of various cultural groups and post-apartheid ideologies”.
Aichner verduidelik dat COO op die patriotisme van plaaslike lesers of op die positiewe stereotipes wat buitelanders (of “uitheemse” lesers) van ’n land of kultuur het, steun. In die geval van die Ons Klyntji-zine en Afrikaans, is die stereotipes beslis nie positief nie; stereotipes word eerder op subversiewe wyses gebruik om ’n nuwe soort Afrikaner in die lewe te roep. Klingenberg en Miller (2024) kom tot die gevolgtrekking dat taal en simboliek op satiriese wyse gebruik is om kommentaar op temas soos politiek, geloof en highbrow-Afrikaans te lewer. “Daar is nie meer iets soos ’n tipiese Afrikaner nie,” seg die redakteursbrief van die 1998-uitgawe.
Ons Klyntji — in die revived gedaante van die 1990’s en 2000’s — het dus evolueer en evolueer vandag steeds as die mondstuk van ’n Suid-Afrikaanse subkultuur. Klyn begin, anhou win, nè.
Kry Klingenberg en Miller se volledige artikel hier en check van die voorblaaie wat hulle vir hul navorsing bestudeer het, hier onder uit. As ’n prent ’n duisend woorde spreek, herskryf dié voorblaaie die hele blerrie storie.