Ons Klyntji uitgestal by die Taalmuseum se Groen Galery

Ons Klyntji uitgestal by die Taalmuseum se Groen Galery

Gedigte in die groen; laat die gedig gate grawe

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het vanjaar kreatiewe kragte met Klyntji gesnoer om ’n keur uit die nuutste Ons Klyntji-zine by die ATM se buitelug Groen Galery in die Paarl uit te stal. Hierdie tydelike uitstalling plaas die kollig op 14 bydraers wie se werke: Bernadette Madell, Chestlyn Draghoender, Elzahn Nel, Jerome Coetzee, Kenan Davids, Mariska Bolleurs, Maya Joubert, Naidene Lottering, Neo Mehlomakulu, Olga Leonard, Toroga Denver, Wentzel Lombard, Wilmien Rossouw en Zian Viviers.

Die ATM se beskrywing van dié samewerking lui as volg:

Volgens Michael Jonas, ATM-direkteur, is die instelling ’n lewende monument waar daar gedurig ’n interaksie tussen die struktuur, natuur, besoekers en taalskeppers is. “Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane,” sê hy.

Francois Lion-Cachet, uitgewende redakteur van Klyntji en afstammeling van ’n bydraer tot die oorspronklike publikasie in die 1800’s, reken “dit is wonderlik dat Ons Klyntji – gebore in die Paarl – deur hierdie samewerking met die ATM weer in hierdie omgewing gevier en bespreek word. Die Ons Klyntji-projek het te doen met die naspeur van Afrikaans se ontkieming en al die rigtings waarin dit vandag groei.”

Volgens Toast Coetzer, mede-redakteur, is die zine “’n rare free space waar kreatiwiteitswoelings van verskillende tale vingerpunte raak met mekaar – Afrikaans in al sy gedaantes sit aan die spil hiervan. Ons Klyntji is ’n underground publikasie wat met elke jaar wat verbygaan, ’n groter kring van mense bereik.”

Ons Klyntji is die eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, gestig in die jaar 1896, maar die huidige alternatiewe zineinkarnasie is in die 1990’s tot lewe geroep deur Koos Kombuis. Sedertdien het dit stelselmatig getransformeer tot wat dit tans is: ’n veeltalige tuiste vir kreatiewe mense van oraloor.

Die uitstalling kan aanlyn besigtig word, of in persoon by die Groen Galery tot einde Februarie 2025. Hier onder is ’n paar gedigte wat deel vorm van die uitstalling.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Ons Klyntji uitgestal by die Taalmuseum se Groen Galery gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand