Ons Klyntji se mense
“Dit was nog voor e-mail” – Redakteurs Erns en Toast
Dis ’n snikhete dag in Kaapstad en die Suidoosterwind loei. By die buitelugtydskrif Weg! se kantoor ontmoet ek vir Toast Coetzer en Erns Grundling, tans redakteurs van Ons Klyntji. (Albei is digters en werk by Weg!) Ná daar koffie gemaak is en tuisgebakte beskuit aangebied is, begin die verhaal: “Ek het vir Koos die eerste keer live gesien in ’97, in my matriekjaar,” vertel Erns. “Ek was heeltemal gushing en pass half uit backstage en toe gee Koos vir my actually ’n copy van Ons Klyntji. Ek dink dis omtrent die tweede ene wat hy toe gedoen het op daai stadium.”
“Toe het ek vir hom ’n poem gepos – jissie, dit was seker ’n posadres nog gewees? Ja, dit was nog voor e-mail,” onthou hy. “En toe, in Maart 1998, daag die Ons Klyntji in ’n koevert by my huis op en daarin is die poem toe ge-publish en dis nou my eerste published poem … toe voel ek moerse chuffed.” Die glimlag op sy gesig getuig van hoe in sy noppies hy was. “Toe het ek ingeteken op Ons Klyntji en so nou en dan het die tydskrif gekom, nou en dan nie. En toe in 2000,” knik hy in Toast se rigting, “het Koos ons altwee genader en gevra … die admin en dinge raak vir hom bietjie baie en hy’s besig met boekskrywery en of ons wil oorvat. Ons was toe heel jonk en keen vir alles en ons sê toe ja, sure.”
Tydens die gesprek maak Erns ons bedag op “een of twee revivals” van die publikasie. “Ek dink die een was in die 30s of die 40s en die ander een in die 50s in die Vrystaat, maar die idee lyk my was nog altyd dieselfde gewees – om oorspronklike, skeppende werk in Afrikaans te publiseer.”
Maar vandag het die tydskrif ’n nuwe inslag. “Dit maak nie rêrig vir my sin om hierdie net ’n Afrikaanse ding te hou nie,” sê Toast. “Dit gaan vir my veel eerder oor kreatiwiteit across the board en across languages. Afrikaans word op sekere vlakke – in aanhalingstekens – bedreig,” beduie hy met sy vingers, “maar eintlik is dit ’n baie sterk taal vergeleke met ander tale.”
Hulle ontvang nie gereeld bydraes in ander tale buiten Engels en Afrikaans nie, maar het al Pools publiseer en “ons het al ietsie in Xhosa,” voeg Erns by.
“Almal leer iets deur nou en dan ’n ander taal te lees of ’n ander taal te probeer lees, en sodra jy goed begin vertaal of wanneer ’n tweedetaalspreker ’n ander taal begin praat, gebeur daar interessante goed in daai taal, en Ons Klyntji is ’n lekker plek om dit speling te gee,” vertel Toast.
“Daar is min sulke publikasies in SA,” gaan Erns voort, “en as jy iets wat reeds so niche is net Afrikaans maak, dan maak jy dit double niche, triple niche,” sê hy emfaties. Toast lag. “Ons het laasjaar so klein bekendstelling gehad by die Book Lounge met die boeke en die t-shirts en goeters,” gesels Erns. “Dit was net so nice – die verskeidenheid mense, die verskeidenheid kulture, die verskeidenheid stemme, tale, agtergrond, alles. Ek het nogal gedink, jislaaikit ek wonder wat sou die – nie net dat mense hulle altyd wil stereotipeer nie, want dis glad nie reg om te doen nie – maar ek wonder wat sê die groep regte Afrikaners van die Paarl?”
Ná die gesprek, bied die twee goedgunstelik aan dat ek “Die Argief” mag huis toe neem: ou kopieë van vroeër Ons Klyntji’s, asook ’n jaarboek wat in 1900 publiseer is.
“Dis die laaste een,” begin Toast. “Die hoop op die bestaan van alles,” sê hy met ’n deadpan gesig.
“Just don’t fucking lose it,” voeg Erns by.
“Dis soos The Ring. Daar’s net een,” gaan Toast voort.
“Dis kosbaar,” sê Toast, in ’n stem wat JRR Tolkien se Lord of the Rings karakter, Gollum, se “preciousss” naboots.
“Just don’t fucking lose it.”
Glo my, ek het nie.
“There’s a reason you’re on this list”: Die bydraers vertel
Toe Toast en Erns die leisels by Koos oorgeneem het om die herlewing van Ons Klyntji te waarborg, het Toast ’n nou beroemde e-pos uitgestuur aan skrywers, redigeerders, kunstenaars en fotograwe. (Die aanbod sluit bydraes van grafika, gedigte, kortprosa, stippe en meer in.) Een van die hoof teksredigeerders wat destyds deur Toast genader is, is joernalis Joe Botha.
Joe is van mening dat die voortbestaan van Ons Klyntji in sy huidige vorm baie te doene het met “die keuses van diegene wat bydrae. Toe die zine die eerste keer in sy nuutste gedaante herleef het, het Toast ’n mail gerig aan almal wat hy gedink het die potensiaal het om ’n bydrae te maak. Sy meesterlike sin vir PR was vervat in die sin: There’s a reason you are on this list.”
“Ek wou van dag een af meer betrokke wees, want die projek was duidelik uit die ou skool,” vertel Joe. “Nie om geld te maak nie, maar net because. Dit is natuurlik lekker om saam met die meer bekende name te verskyn, maar dis beslis nie net ’n ego-trip nie. Ons Klyntji is iets cool in Afrikaans. Die eerste Ons Klyntji was mos in 1896 die eerste tydskrif in die ‘kombuistaal’ Afrikaans eerder as Nederlands. Die taal was toe figuurlik nog ‘klyn’, iets wat gekoester moes word.”
Volgens Joe is Ons Klyntji “nie net ’n cool zine nie, maar iets om saam op trots te wees; iets wat wys mense wíl nog vrye denkers en skrywers in Afrikaans wees. As keurder sien ek hoe die gehalte van inskrywings jaarliks verbeter en dit is vir my ’n uitstekende teken vol hoop vir die toekoms. En ons almal doen dit vir die liefde van die saak.”
Hein Coetzer, ook ’n bydraer, deel Joe se sentiment oor Afrikaans wat gekoester moet word. Hy wil hê meer mense moet sy werk lees, en dit gee hom boonop die kans om onderhoude met musiekgroepe te voer.
’n Ander gereelde bydraer tot Ons Klyntji, die joernalis Bienné Huisman, is van mening dat Ons Klyntji oorspronklik ’n “deel was van ’n beweging om Afrikaanse kreatiwteit te vier”. Volgense Bienné het Toast en Erns dit sedertdien reggekry om die publikasie meer inklusief te maak; “dus ’n viering van Suid-Afrikaanse kreatiwiteit in ’n breër sin.”
Bienné was ook by die bekendstelling in die Book Lounge en beskryf dit as heerlik divers met mense van verskillende agtergronde en rasse. “Ek dink Erns en Toast is ware cultural trend-setters; Ons Klyntji is besig om te groei en om by te hou met veranderende cultural landscapes in ons land. Ek hou van die underground aspek van Ons Klyntji – die anything goes mentaliteit. Niks is te weird of verregaande nie. Hy het nogals ’n galge humor, wat lekker is,” voeg sy by.
Die joernalis en gesoute Ons Klyntji-bydraer, Donnay Torr, is van mening dat dit die “subversive natuur” van die zine is wat haar “soos ’n handskoen pas – dit is ’n geleentheid om buite die gewone korporatiewe boksies en sosiaal aanvaarbare standaarde iets te skep wat aweregs en interessant is – iets wat ék wil doen.”
Torr beskryf haar aangetrokkenheid tot die publikasie as “’n hartsprojek, dalk – om iets te doen wat vir jou lekker is, en wat ook eintlik vir Die Saak is … Om interessante stemme en opinies ’n platform te gee, en om ander inhoud as byvoorbeeld die gewone Huisgenoot-goed daar buite te plaas. Veral mense wat nie in ’n skryf- of joernalistieke beroep is nie, maar wel ’n kreatiewe streep en iets te sê het, sien Ons Klyntji as goud.”
Hetsy bydraes gelewer word vir die blote lekkerheid daarvan, of ’n poging om ’n wye kulturele gehoor te bereik – klyn begin hou beslis aan win.
Mila is redakteur van BooksLIVE.