Van ‘leesstof vir die Afrikaanse volk’ tot ‘iets cools in Afrikaans’
ons klyntij.jpg

Tydlyn

1896: Gestig in die Paarl, deel van eerste Afrikaanse taalbeweging

1900: Ly finansieël weens Suid-Afrikaanseoorlog

1906: Laaste kopie onder Afrikaanse taalbeweging verskyn

1940s / 1950s: Poging tot herlewing deur Vrystaatse onderwysers

1996: Koos Kombuis bring dit weer op die been

1999: Toast Coetzer en Erns Grundling neem die leisels oor

2014: Webtuiste, Klyntji.com, word gestig deur Francois Lion-Cachet

 

Die heropstanding van Ons Klyntji

ons klyntji koos kombuis.jpg

Eenhonderd-en-twintig jaar ná sy stigting in die hitte van die Afrikaanse taalstryd is die tydskrif Ons Klyntji weer aan die voorpunt van ’n beweging. Destyds, in die Paarl, het S.J. du Toit en Jan Lion-Cachet die publikasie die lig laat sien in ’n tydperk waartydens daar gepoog is om Afrikaans as ’n amptelike taal te vestig; een waarop Afrikaans se sprekers kon trots wees. Dit was dan ook die eerste en enigste tydskrif wat Afrikaans geskryf het soos mense dit gepraat het, en nie die voorgeskrewe Nederlands nie.

Op die eerste taalkongres in die Paarl in Januarie 1896 het Lion-Cachet die heildronk op die nuwe tydskrif ingestel – volgens die berig in die Patriot, op “seer luimige wyse”: “Di Kleintji wat van dag gebore is, is ’n Kleintji wat hy al lang verwag het (gelag): want hy het di noodsakelikheid ingesien dat ons Afrikaanse volk ook Afrikaanse leesstof moet hê.”

Vandag is Ons Klyntji meer ’n zine as ’n formele tydskrif en die huidige redakteurs, Toast Coetzer en Erns Grundling, noem pertinent dat hulle nie ideologies is oor Afrikaans nie. Verskeie tale word gepubliseer. “Ons het selfs Pools gehad,” vertel Erns.

Die oorspronklike tydskrif het egter teen 1900 finansieel begin ly weens die Anglo-Boereoorlog en sy laaste uitgawe is in 1906 publiseer.

Koos se droom

Koos Kombuis, protessanger en musikant, het Ons Klyntji in 1996 weer die lig laat sien. “Ek wou jong Afrikaners anders laat dink oor hulself, oor Suid-Afrika en oor hul kultuur … Ek wou aweregse en oorspronklike Afrikaanse tekste publiseer, en jong skrywers help publiseer op informele platforms,” vertel hy.

Kombuis se benadering tot Ons Klyntji stem ooreen met die destydse ideaal van andersgesinde Afrikaanse denke. Du Toit en Lion-Cachet het rebelleer teen die ontkenning van hul taal en wou Afrikaanse kreatiewe gedagtes verhef en Afrikaanssprekendes aanmoedig om te skryf soos hulle praat.

“Afrikaanse jeug se protes, wat in die eerste plek protes teen apartheid was, kan in drie fases ingedeel word,” aldus Kombuis. “Daar was die little-magazine-era van die vroeë tagtigs, die Voëlvry-era van die laat tagtigs, en die ontwaking van Afrikaanse jeugkultuur in die neëntigs. Die derde fase het saamgeval met die ontploffing van ’n swetterjoel kunstefeeste en die opbloei van nuwe Afrikaanse musiek. Mens kan amper sê dit was die Afrikaanse ‘lefties’ se Ossewa-trek,” skerts hy.

In die middel-neëntigs het Kombuis een nag gedroom die tydskrif Ons Klyntji herleef. Hy het die volgende oggend dadelik begin navorsing doen. “Groot was my verbasing toe ek besef die eerste Ons Klyntji het in 1896 verskyn! So het dit gebeur dat ek in 1996, presies ’n eeu na die eerste uitgawe, weer ’n eksemplaar uitgebring het,” vertel Kombuis. “Toe dit vir my te veel word om te behartig, het ek Toast Coetzer en Erns Grundling uitgenooi om daarmee voort te gaan, en hulle het voortgewoeker. Eksemplare is verkoop by feeste soos Oppikoppi.”

moffie.jpg

OK word die Koppi zine

Ons Klyntji oftwel OK het so te sê al die amptelike Koppi zine geword; almal wat al daar was, het ’n plekkie in hulle hart vir die tydskrif, ” sê joernalis Hein Coetzer. “Mens sou kon sê dat dis ’n grassroots beweging. Almal se werk is welkom, al is dit weird en maak partykeer nie eers sin nie.”

Carel Hoffman, een van die stigters van die Oppikoppi-musiekfees, vertel: “Toe ons agterkom die projek het ’n paar rand nodig om aan die lewe te bly, het ons begin bydra. Ons dink dis ’n klein bedrag vir al die waarde en liefde en smiles wat dit bring. Ons Klyntji is ’n platform vir ’n reeks kunstenaars wat feitlik geen ander blootstelling êrens sal kry nie.”

Hoffman weet maar min oor die proses. “Ons Klyntji is amper soos atleetvoet, as jy maar weer sien dan het jy dit.”

Redakteurs Erns Grundling en Toast Coetzer is in beheer. Eenduisend kopieë word jaarliks gratis by Oppikoppi versprei, vertel Erns. Die drukkostes word deur die organiseerders van die fees, Hilltop Live, befonds. Dit beloop ongeveer R15 000 per jaar, en Oppikoppi dek ook die uitlegkunstenaar se fooi van R3000. Verdere onkoste – soos die posgeld en koeverte – kom deels uit die redakteurs se eie sakke. Die bydraers word “betaal” met ’n “gratis copy en drink of their choice as hulle ons vaskeer in ’n kroeg of koffiekroeg,” sê Toast.

“Ons hou gewoonlik so 100 van daai 1000 copies uit wat ons vir contributors gee, of met die hand pos. Dan koop ons self 200 ekstra copies aan, en ons verkoop dit aan wie ookal belangstel. En dis min of meer dit. Ons Klyntji is baie dinge, maar dis nie 'n gejaag na wins nie,” voeg Erns by.

ons klyntji tydskrif.jpg

Klyntji dot com

In 1896 het die skrywer Jan Lion-Cachet,  een van die stigters van Ons Klyntji, die naam van die publikasie voorgestel. (Afrikaans was die kleintjie wat moes groei.) Meer as eenhonderd jaar later, in 2014, het sy nasaat Francois Lion-Cachet die tydskrif aan die kuberruim voorgestel. Francois is ’n kunsliefhebber en nagraadse regsstudent aan die Noordwes-Universiteit. Hy vertel:

Ek het die eerste keer van die tydskrif gehoor deur Oppikoppi se social media. Dit was in 2012 en ek was in my matriekjaar en alreeds besig om websites te design. Toe ek van die tydskrif lees, toe spark daar onmiddellik iets binne-in my. Love at first sight? Ek was geïnteresseerd veral weens Jan Lion-Cachet (my oer-oupagrootjie) se rol in die eerste literêre werke in Afrikaans. Ek gaan lees toe op – hy het die naam voorgestel en als! Alles het op daai oomblik bymekaargekom. My belangstellings, heritage en die bekoring vir Ons Klyntji.

Ek dink die web was die volgende stap vir Ons Klyntji. Ek run die site alleen en dis maar ’n challenge. Dit vat baie tyd. Nou en dan sal iemand vrywillig bydra (Koos Kombuis inkluis), maar die res van die mense nader ek.

Die site se golden thread is identiteit; wat dit beteken om ’n jong, free-born, ingeligte millennial Afrikaanssprekende te wees – van enige ras. Identiteit is die groot vraag vir die jeug, en arts en culture is wat die pad vorentoe bepaal – in enige taal, nie net Afrikaans nie.  

Ons Klyntji het ’n magic x-faktor. Iets wat vrydenkendes se aandag gryp. Dit het in ’n goue era ontstaan net voor die 1900’s, toe weer in die volgende Voëlvry-tyd. As jy na die illustrasies kyk van die eerste OK’s, sien mens ’n vars en jong aanslag vir die tyd waarin dit gepubliseer is. Alhoewel die publikasie maar sy fair share van Afrikaner-propaganda ook bevat het. Die mense agter OK was oor al die jare baie idealisties en gedrewe. Hul gló in die ding.

“Ek is baie opgewonde oor wat Francois doen, en, soos hy, hoop ek dat Klyntji, soos destyds, ’n rol kan speel in die denke van moderne Afrikaanse mense, veral diegene wat nie altyd tuisvoel in die establishment nie,” sê Kombuis. “Soos die redakteurs van die destydse Ons Klyntji minder konserwatief en effens meer uitdagend was as die here aan die stuur van Die Afrikaanse Patriot van dieselfde era, dink ek Klyntji kan vandag ’n teenwig wees teen al die volksvaders, taalbulle en wroegende akademici wat hulself en hul kultuur tog so ernstig opneem, en nie tyd het vir humor en speelsheid nie.”

’n Ligte inslag, die strewe na inklusiwiteit, en dat dit gaan oor geloof in ’n  saak – dalk het die nuwe OK tog meer as net ’n naam in gemeen met sy voorganger.

Mila is redakteur van BooksLIVE.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Van ‘leesstof vir die Afrikaanse volk’ tot ‘iets cools in Afrikaans’ gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand