Koos Kombuis oor die stand van literêre kritiek in Afrikaans

Koos Kombuis oor die stand van literêre kritiek in Afrikaans
Illustrasie: newageadam

Illustrasie: newageadam

Te veel monoloë wat eggo in leë vertrekke

In 2011 het daar iets gebeur in die Afrikaanse literêre wêreld wat baie naby gekom het aan kollektiewe selfmoord van 'n ganse taal.

Destyds het dit nie op die oog af na 'n baie belangrike gebeurtenis gelyk nie. Net nog 'n storm in die koffiebeker? Of net Breyten wat gal afgaan oor iets?

Ek wonder nou, noudat ek terugkyk en begin besef wat die gevolge van daardie insident was, of ons onsself nie dalk nek-af gesny het sewe jaar gelede nie.

Wat het in 2011 gebeur wat so erg was?

Wel, in 2011 het die grootbase van die Afrikaanse pers die besluit geneem om die redaksionele afdelings, die resensente en die meningsvormers van die kunste en die letterkunde, te verskraal vanaf drie na een.

Met ander woorde, sedert 2011, so verstaan ek dit – ek weet nie hoeveel mense vir hom of haar werk nie, en ek is nie seker hoe dikwels hierdie pos geroteer word nie - het Netwerk24 een oorkoepelende boekeredakteur.

Die besluit het destyds baie skrywers ontstel. So sterk het party van hulle daaroor gevoel dat Breyten Breytenbach byvoorbeeld versoek het dat sy werk nooit weer geresenseer word nie.

BooksLIVE beskryf die herrie van 2011 so: "Die skrywers sê die besluit kom neer op 'n 'verskraling' en 'n 'afdomming' deurdat dit die verskeidenheid van stemme oor Afrikaanse letterkunde sal verminder."

Wat beteken dit in die praktyk?

Voor 2011 kon enigiemand wat 'n nuwe Afrikaanse boek publiseer, na ten minste ses uiteenlopende resensies uitsien: een in Die Burger, een in Beeld, een in Die Volksblad, hopelik iets in Rapport, en moontlik ook iets in Die Huisgenoot of ten minste op LitNet of (in die geval van digkuns) Versindaba.

Sedertdien word sommige boeke slegs deur een resensent beoordeel. As die skrywer gelukkig is, kry hy, benewens die hoof-resensie op Netwerk24 ook 'n resensie in Rapport. En benewens LitNet is natuurlik ook nog – 'n klein genade! –  Joan Hambidge se beroemde blog. Om nie van die klein maar lewenskragtige Ons Klyntji (die enigste “little magazine” wat my vandag herinner aan al die Afrikaanse protesbewegings van die tagtigs) te praat nie. 

Ek self was gelukkig om vir 'n onlangse digbundel darem sover ten minste drie resensies te kry, een in die pers en twee op die internet. Twee slegtes en een goeie. Die slegtes het my ontstel. Die goeie een het my meer ontstel, omdat ek dit nie kon verstaan nie.

Die storie het my aan die dink gesit. Tot watter mate moet 'n skrywer hom of haar aan resensies steur?

Eers wou ek vir myself sê: "Glad nie. Dis alles 'n akademiese getjommel."

En tog. Om kritiek waarmee jy nie saamstem nie af te maak, is om in dieselfde strik te trap waarteen Dr. P.C. Schoonees reeds in die dertigerjare gewaarsku het.

Dit het destyds in 'n moerse bekgeveg ontaard, tot Langenhoven was kwaad vir Schoonees, en die uiteinde was dat Schoonees kwansuis geweier het om by die Broederbond aan te sluit en as gevolg daarvan nooit aangestel is as professor nie. Hoeveel hiervan waar is en hoeveel familie-oorlewering is (Schoonees was toevallig my oupa), is ek nie seker nie, maar Wikipedia stel dit so: 

"Die Afrikaanse letterkundige kritiek was destyds nog in sy kinderskoene en vele kritici het elke boek wat in Afrikaans geskryf is aanbeveel om so die taal en erkenning van die taal te bevoordeel. Schoonees se standpunt was dat letterkunde van blywende waarde nie so gebou kan word nie en hy beoordeel werke suiwer volgens letterkundige meriete. Op genadelose wyse lê hy dus die swakhede van eietydse en selfs gevierde skrywers bloot in sy toepassing van internasionaal aanvaarde norme by die beoordeling van die letterkunde."

Ek loop nou al die hele week en dink oor my oupa. Tien teen een sou ek, as ek en hy tydgenote was, destyds een van die skrywers gewees het wat swak resensies by hom sou kry en tien teen een sou ek en hy lelik vasgesit het.

Maar nou dat ek ouer en wyser is, moet ek hom dalk gelyk gee.

As daar een argument is waarvan die Taalbulle niks hou nie, en dalk het hulle hier 'n punt beet, is dit die argument van "hoekom worry daaroor as jy jou Afrikaans-Nederlandse department kan verloor? Afrikaans is meer kreatief as ooit, met al ons TV-kanale en koerante en skrywers en uitgewers en derduisende Afrikaanse sangers."

Dit tref my toe soos 'n bom: ons het resensente nodig. Hoe meer, hoe beter.

Ons het resensente nodig, want die populêre gebruik van 'n taal, hoe prolifiek ook al, is nie standhoudend as die kritiese fakulteit afwesig is nie. Ek het op 'n stadium gedink dis genoeg, maar nou is ek nie meer so seker nie. Sonder 'n intelligente gesprek en 'n warboel lewendige en ingeligte opinies sal alles mettertyd vervlak tot blote geraas of hoogstens entertainment. Soos wat inderdaad al lankal begin gebeur het met 'n te groot persentasie van Afrikaanse musiek.

Gepraat van die "little magazines" van die tagtigs.

Dit voel soos nou die dag dat ek by Irna van Zyl se afskeidspartytjie in die hartjie van Kaapstad was. Ek ken Irna sedert die wilde jare van die stryd teen sensuur en die "little magazines" in die tagtigerjare, toe ons albei lede was van Etienne van Heerden-hulle se sogenaamde "Kaapse Groep" was (kan julle dit glo, jongmense was toe nog geïnteresseerd in die letterkunde). 

Die rede vir Irna se vroeë uittrede uit haar hoë-profiel-media-job? Sy wou voltyds skryf.

Ná die partytjie sien ek haar vir jare lank glad nie. Ek hoor haar eerste boek verskyn, maar sien geen resensies nie, kom nie daarby uit om dit self te lees nie. Toe verskyn daar waaragtig 'n tweede boek. Met die mooi naam Gifbeker

Ek vra rond, en iemand deel my mee: "Ek hoor die tweede een was blykbaar 'n flop."

Ek gaan soek op die internet, en tik in: Irna van Zyl resensies. Ek probeer allerhande verskillende frases om die soektog wyer te maak. Ek kry slegs een resensie, geskryf deur Jean Meiring en gepubliseer op Netwerk24.

Dis 'n verdoemende resensie, en eindig met die woorde:

"…Van Zyl se prosa (is) meesal saai. 'n Mens soek hoog en laag vir 'n werklik onthoubare beeld of motief. …dié gif – en rillose beker moet maar eerder verby."

Vir 'n paar dae loop ek rond in 'n depressie. Is my oud-kollega se loopbaan nou moer toe? Is dit nou nog die moeite werd om Irna se boeke te koop en lees, soos wat ek nog altyd wou?

Ek soek verder, en kry gelukkig meer inligting. Die Engelse vertaling van die boek het 'n sogenaamde rave review gekry in die Engelse pers op Artslink

En as mens lank genoeg krap, was daar ook kort na die verskyning van die boek 'n positiewe paar sinne in Rapport.

Om die een of ander rede spring die positiewe kommentaar nie na die bopunt van die lysie as mens jou soek-enjin inspan nie. Die een negatiewe resensie is egter die hele internet vol.

En wat sê die lesers? Ek is gelukkig om na 'n baie lang soektog 'n forum te vind waar mense kan stem oor Irna se boek. Daar is twaalf lesers wat hul stemme uitbring. Drie lesers gee haar volpunte, vier ander sê die boek is baie goed, drie sê dis okei, en slegs drie uit die twaalf het nie daarvan gehou nie.

Jean Meiring se opinie is dus 'n minderheids-opinie. Dis dalk geldig, en ek het geen rede om te vermoed dat hy nie 100% objektief probeer wees het nie.

Die probleem is in elk geval nie Jean Meiring nie. Die probleem is dat, wanneer jy jou ore spits vir terugvoer oor Irna se boek, dit net Jean Meiring se stem is wat mens hoor. Tensy jy berge omkeer op soek na alternatiewe inligting. 

Ek het darem nog my "day job" (of moet ek sê "night job"), maar vir iemand soos Irna wat voltyds skryf kan hierdie toedrag van sake ernstige implikasies inhou.

In plaas van 'n gesonde dialoog tussen resensente, het ons hier, vir alle praktiese doeleindes, net nog 'n monoloog wat hol eggo in 'n leë vertrek.

Irna verdien meer as dit. Haar uitgewers verdien meer as dit. Haar lesers verdien meer as dit.

Die Afrikaanse letterkunde verdien meer as dit.

Illustrasie: newageadam

Illustrasie: newageadam

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Koos Kombuis oor die stand van literêre kritiek in Afrikaans gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand