Koos Kombuis kan weer asemhaal danksy Churchil Naudé

Koos Kombuis kan weer asemhaal danksy Churchil Naudé
churchil naude.jpg

Die digter as drol, 'n intertekstuele opstel

In Februarie 2020, om saam te val met sy vyf-en-sestigste verjaarsdag, verskyn die digbundel Tuin van Digters deur Daniel Hugo.

Daniel noem dit “’n bloemlesing uit eie werk”. Dit is ’n selfpublikasie.

Ek wonder oor ’n paar dinge as ek deur hierdie bundel blaai. Waarom is daar ’n hond op die voorblad? Waarom het ’n bundel van soveel historiese belang, deur een van die mees gesaghebbende en invloedryke Afrikaanse digters, saamgestel uit sy eie breë oeuvre wat oor dekades strek, nie ’n groter splash gemaak in die boekeblaaie van die groot hoofstroommedia nie? Ek vind nêrens in Joan Hambidge se blog enige verwysing na die boek nie. Al wat ek vind is ’n gesprek op Versindaba. Dit lyk ook darem asof Daniel die geleentheid gegun is om van hierdie werk voor te lees by die Breytenbach-sentrum, ’n teatertjie wat toevallig ook geleë is neffens ’n tuin met dieselfde naam as die naam van Daniel se boek, en ek weet uit eerstehandse ondervinding dat hulle ook ’n hond het, hoewel ek, as ek weer na die voorblad van die boek kyk, moet aflei dat dit dalk nie dieselfde tuin is nie, en dus ook nie dieselfde hond nie.

Dalk is dit omdat Tuin van Digters uiteraard ’n digbundel is wat opgedra is aan ander digters – altesaam drie-en-vyftig van hulle (iemand het die getal genoem op Versindaba, ek was te lui om self te tel). As Daniel dus een gedig per week sou skryf, sou dit hom presies ’n jaar en ’n week geneem het om die boek te voltooi.

Ek wil nie aanhaal uit die boek nie. Dit is vernuftig geskryf, vol slimmighede en interessante woordspelings, soos al Daniel se werk. Hier en daar borrel ’n stekie aweregse humor en selfs ’n teelepeltjie venyn deur. Dit alles maak van Tuin van Digters ’n interessante tydsdokument van alles en almal in en rondom die Afrikaanse digkuns van die afgelope klompie jare.

Die Afrikaanse digkuns. Is daar deesdae nog so iets?

Die Afrikaanse digkuns. Is daar deesdae nog so iets? 

Wat is dit? Waar kom dit vandaan?

Die konsep “Afrikaanse digkuns” is iets wat mens noop tot self-ondersoek, tot ’n diepere delf na betekenis, wat jou vervul met ’n naamlose heimwee en ’n smagting na vergange se dae toe die Dertigers (of was dit die Sestigers?) nog almal verlief was op Ingrid Jonker, en toe trosse wit wolke saamgebondel het in die blou lug bo verlate landskappe en plaashekke, en liefdesverklarings openbaar is tussen wingerde wat ruik na wyn en kollektiewe waansin.

So tussendeur my mymeringe val ’n ander boek in my skoot. ’n Baie gepaste boek. ’n Boek wat, asof uit die hemel, my vraag: “Wat is die Afrikaanse digkuns?” beantwoord.

Dis ’n selfs belangriker publikasie, en meer histories relevant as Daniel se bundel. Dit daag by my op, op dieselfde manier as Daniel se boek, in die pos. (In die dageraad van ons taal, voor die Here die Poskantoor en koeriers geskep het, sou dit natuurlik afgelewer gewees het deur engele).  

Net soos Daniel se boek, het min mense nog notisie geneem van hierdie boek, dalk omdat dit so onlangs die lig gesien het, in die mooiste maand Oktober.

Stil, mense, hier kom ’n ding.

Dis niks anders nie as die langverwagte nuwe publikasie oor NP van Wyk Louw, Vuur in sy vingers, by Hemel & See deur bydraende redakteurs Ampie Muller en Beverly Roos-Muller.

Die publikasie van die boek val saam met die vyftig-jarige herdenking van NP van Wyk Louw se dood. 

Hierdie pragtig gebinde en puik versorgde boek is uiters professioneel uitgelê en swaar van die gravitas. Dit bevat bydraes deur ’n magdom medewerkers, meestal familie, vriende en bewonderaars van die een man wat ongetwyfeld die grootste Afrikaanse digter ooit was.

Nou sit ek met ’n penarie. Hierdie twee boeke, wat nou neffens mekaar op my lessenaar lê, vervul my met die begeerte om resensies te skryf. Ek kan egter nie, want ek is te nou betrokke by beide. Ek het self ’n bydrae gemaak tot die Van Wyk Louw-publikasie (dis hoekom hulle vir my ’n eksemplaar gestuur het). En oor Daniel se bundel kan ek nie objektief skryf nie, want Daniel is al een van my beste vriende sedert sy universiteitsjare. Ek en hy is deel van dieselfde klein gene-poel van Afrikaanse letterkunde.

Dit is hoekom hierdie twee boeke by my spook...

Daniel, die bekende, en NP van Wyk Louw, die onbekende, die Grote Gees wat ek nooit self ontmoet het nie, maar wat opdoem op my Afrikaanse horison soos ’n dreigende spierwit donderwolk in ’n Pierneef-landskap met sulke bome met simmetriese swart takke.

Omdat ek nog nooit baie van Van Wyk Louw geweet het nie – benewens die feit dat ek een enkele werk van hom, die epiese gedig Raka al sowat tweehonderd keer deurgelees het (en elke keer by ’n ander interpretasie uitgekom het), het ek nog nooit aangetrokke gevoel tot sy ander werk nie. Sy kwatryne was nog altyd vir my duister, en Germanicus en Die pluimsaad waai ver voel vir my nou nog, as ek waag om weer daarna te kyk, soos ’n geploeter in die donker tussen seilskepe en wenende vroue.

Sonder twyfel – en hiermee stem ek saam, al is dit net op grond van my obsessie met Raka – dat NP van Wyk Louw ons grootste Afrikaanse digter ooit was. (Hoewel ek soms dink dat Valiant Swart se lirieke, as jy dit in ’n bundel sou sit, amper so goed is, behalwe natuurlik vir daai liedjie oor die meisie met die eye shadow.)

Hy troon uit, kolos wat hy is, bo die Oppermans en die Breytens en die Krogs en die Eyberse, die Cloetes en die Marais’s en al die ander melankoliese siele wat al dekades lank verse neerpen op vergeelde papier by kerslig, rondval van die horries, van eksistensiële krisisse, ver oor die water sit en staar na die vuil opdrifsels van Amsterdamse gragte (watter groot Afrikaanse digter het nooit ’n doktorale jaar of iets in Amsterdam gehad nie?).

Om myself te herhaal: dis hoe ek gevoel het verlede week. 

Verlede week het ek vir myself gesê:

Siel, waarom buig jy jou neer in my? Siel, hier sit jy nou al ’n week lank met hierdie twee boeke. Daniel se behendige ryme en huldes aan mede-digters. En NP van Wyk Louw se gewigtige skandes en skoorsoekery en lojale verset en polemieke van vergange se dae. En hoe meer jy staar na die voorblaaie van hierdie twee boeke, hoe meer depressed word jy, siel.

Is dit al? wil ek my siel afvra. Is dit die somtotaal van Afrikaanse letterkunde? Is dit wat ons bereik het in al die dekades sedert Toon van den Heever daai muskiet doodgedonner het en ’n bloedkol gelos het teen sy kamermuur ’n honderd jaar gelede?

Dis nie dat daar iets fout is met Afrikaanse digkuns nie. Groot werke is met gereelde tussenposes geskep. Ons het wêreldklas-woordsmitte wat, indien hulle hul werk in Engels gepubliseer het, lankal so beroemd sou gewees het in die wêreldletterkunde soos Tennyson, Wordsworth, Milton, Plath, Donne, en selfs Shakespeare.

Maar ons gene-poel bly klein, ons isolasie hier aan die suidpunt van Afrika verstommend. 

As die Afrikaanse letterkunde ’n plaas was, sou daar gesê kon word dat dit klein is, en baie ver van die dorp.

Met ’n skok besef ek dat, indien mens al die groot literêre figure van ons Moedertaal op een plek bymekaar sou kon kry, almal lewend en nugter genoeg om regop te staan, jy hulle sou kon inpas op een enkele rugbyveld. Selfs met social distancing.    

Een bom, en alles is in sy moer. Een skepskop, en ons verloor. Al die intriges daarmee heen. Al die bespiegelinge oor wat NP van Wyk Louw aangevang het met Sheila Cussons en vir wie Barend Toerien almal kwaad was en hoekom Hettie Smit gekom het met die sekelmaan en al die leë wynbottels wat Kannemeyer in mense se snippermandjies gaan soek het en wat op dees aarde PG du Plessis besiel het om aan te sluit by die Broederbond en hoekom Lina Spies nie meer in die NG Kerk is nie en wie se hond – ja, dis die mees tergende vraag van almal! – wie se hond daar langs Daniel Hugo sit in sy tuin van digters!

 ’n Rugbyveld vol skrywers en digters. Sonder toeskouers. Skrywers en digters wat bestaan vir mekaar, skryf vir mekaar en oor mekaar.

Dis nou al dekades lank byna ondenkbaar vir enige Afrikaanse digter om ’n loopbaan af te sluit sonder ten minste drie of vier kwatryne of sonnette opgedra “aan Erns”, sonder ten minste een polemiek met André P Brink of Joan Hambidge, sonder ’n kuiertjie by Uys Krige met ’n seewier-konkoksie aangedra deur Jan en Marjorie, sonder ten minste een reeks wroeginge oor jaargetye in die Boland of iets soortgelyk aan wroeginge oor jaargetye in die Boland, of kommentare oor wroeginge oor jaargetye in die Boland, of iets soortgelyks.

Ons almal ken mekaar. Ons skinder al jare lank oor mekaar. Ons is mekaar se voetnotas. ’n Digterlike lewe sonder wedersydse afguns en karaktermoord, sonder literêre twiste en eindelose debatte, is byna so ondenkbaar soos ’n Etienne van Heerden-roman sonder ’n hoofstuk oor Matjiesfontein.

Ek was self daar. Ek het ook al genoeg sinlose vetes agter die blad. Ek het self al daardie hangovers beleef, al het ek dit redelik vroeg in my loopbaan verruil vir die (veel erger) hangovers van Afrikaanse rock ’n roll.

Dis iets om oor depressed te raak. Dis iets wat jou laat voel jy moet vir Dana gaan kuier en een van daai snaakse Swart Hond-hoedjies koop.

Maar nou ja. Hierdie storie (want ’n resensie kan ek dit nie noem nie) het, kan jy dit glo, tog ’n gelukkige einde. Ja!

Net toe ek lank genoeg na hierdie twee boeke gestaar het om my polse te sny, gebeur daar iets wat my hele luim verander.

Nog ’n boek word afgelewer. (Deur ’n koerier, nogal, nie ’n engel of die Poskantoor nie.)

Woeps, val Churchil Naudé se Drol innie drinkwater (Oktober 2020, Naledi) in my skoot.

Ek maak die boek oop, en ek lees:

ek is’ie drol innie drinkwate’
die gat innie sinkplate
wat jou woord kom besmet met ongesertifiseerde prate
wat jou woord se siel aan die duiwel wil ve’koep
wat die woord dikgesyp maak met vrot wyn op my stoep
wie is jy om die woord gevange te hou in jou teorieë
jou instansies
jou kerk
jou geslote groepe op facebook
het die heelal begin met twee atome en ’n moerse poep
of het dit begin met net ’n woord uit te roep

Ek hou aan lees en lees, enige plek, in die verkeerde volgorde, deurmekaar soos ek wil.

En stadig word my hele wêreld blou.

Ek blaai deur Churchil se digbundel. 

Sy gedigte is vreemd uitgelê op elke bladsy, rymkletse gestulp in poësie en elkeen in die vorm van ’n Rörschasch-toets of ’n kurktrekker. Jy kan lees van bo na onder, of van onder na bo, dis min of meer dieselfde, dis ’n nuwe soort Afrikaans, dit lewe en dit wriemel en dit spartel op die bladsye soos pasgebore babas, bebloed en seer en luidrugtig en mooi, o so goddelik mooi en so waar.

Drol-innie-drinkwater_VOORBLAD_2020-10-16_300dpi_RGB.jpg
Jy kan lees van bo na onder, of van onder na bo, dis min of meer dieselfde, dis ’n nuwe soort Afrikaans, dit lewe en dit wriemel en dit spartel op die bladsye soos pasgebore babas, bebloed en seer en luidrugtig en mooi, o so goddelik mooi en so waar.

Skielik voel dit asof ek kan asemhaal. Ek is nie meer bang vir Raka nie. Ek stap nie meer in doodsangs deur die ou plaas-opstelle se donker gange met die vloerplanke wat onder my voete kraak en die rye en rye skilderye van die-bliksem-in voorvader-portrette teen die mure nie.

Ek steek ’n braaivleisvuurtjie aan. Ek kry weer daai lekker loslit-gevoel wat ek gehad het toe Donald Trump die verkiesing verloor het. Ek lees gedig na gedig, en hier en daar lag ek, en hier en daar pik ek ’n traan weg, en ek weet:

Eindelik het ek tuisgekom in my taal. 

Ek kan nie eintlik ’n resensie oor Churchil skryf nie, want ons is ook al te lank kollegas in die musiek. Hy’t gesing op een van my albums. Ons het al gejêm en sosiaal verkeer. 

Ek moet myself recuse, soos wat Zuma wou gehad het Zondo moes doen. Ek is nie objektief genoeg nie. Boonop gee ons, ons boeke uit by dieselfde uitgewer, en, kom ons wees nou eerlik, Naledi is ’n goeie plek om te wees as jy al die ander Afrikaanse uitgewers al probeer het en jy is lus vir ’n manuskrip wat goedgekeur word deur middel van een WhatsApp-voicenote in plaas van ’n lang intellektuele keurdersverslag. 

Maar ek lees en ek herlees hierdie boek van Churchil; hierdie heerlike blou boekie wat alles vir my verduidelik van wie ek is en waar ek vandaan kom en hoekom dit okei is om net ’n drol ’n drol te noem en ek wonder: wie is nou eintlik anyway die drol? En kan ’n mens nog die water drink al is daar ’n drol in?

Ja, mens kan.

Want ’n era is verby, en iets nuuts het begin.

En meteens voel dit vir my asof die gene-poel van my taal nie meer so klein is nie, die kamer vol sonnette nie meer ruik na die poepe van oorbekende vriende en vyande nie, die tuin van digters skielik minder neerdrukkend en verlep en verlate daar uitsien as tevore.

Meteens het ek hoop vir Afrikaans.

Meteens onthou ek dat ek gelukkig is om hier te woon, tussen sulke mense, met so ’n soepel en wonderlike taal wat alles kan oorleef, alles die hoof bied, en soos onkruid nooit gaan vergaan nie.

Mag die jonger geslag skrywers en digters nog vir ons vele drolle gee soos hierdie enetjie van Churchil.

Want enigiets is beter as die honderd jaar van skouspelagtige en intense en magtig dreundende poepe wat sopas verby is. 💩


Eindnota (wat is ’n opstel sonder ’n eindnota?): Dit is sopas onder my aandag gebring dat Daniel Hugo handjie bygesit het by die keuring en versorging van Churchil Naudé se bundel. Baie dankie, Daniel, jy het jou goeie daad nou gedoen, jy kan nou in vrede aftree in jou tuin met jou hond!

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Koos Kombuis kan weer asemhaal danksy Churchil Naudé gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand