Koos Kombuis oor die "diep beswaarde" NG Kerk
'Hou vas julle hoede, hier kom die K.A.K.!'
Die N.G. Kerk het onlangs vir die eerste keer in sowat veertig jaar (’n ruwe skatting; dit kan dalk langer wees) begin sense praat. Hulle het besluit dat gemeentes self moet besluit oor gay lidmaatskap, gay huwelike, al daai goed waaraan die res van ons – GAAP – al dekades lank gewoond is.
Nou ja, laat ons hulle krediet gee. Dit was dalk veertig jaar te laat, maar eindelik het die Kerk, in die oë van gewone mense altans, weer ’n ietwat menslike gesig. Dis vir baie van ons ongelukkig te laat – ek het die laaste keer in my lewe in 1999 uit ’n N.G. Kerkdiens gestap, die dag toe die dominee op ’n Kersoggend besluit het om ’n totale irrelevante tirade teen pornografie te uiter (is mens nie veronderstel om op Kersdag ’n positiewe boodskap uit te dra nie?), so die kerk-lidmaatskap issue sal nie weer in my aardse lewe opduik as iets om oor te besin nie – maar ten minste voel ek, soos die meeste van my gay vriende (ja, ek het gay vriende, wow) ’n ietwat vriendeliker aanskyn as tevore, en ja ek weet, dit was ’n baie lang sin, sorry.
So nou het ’n paar gemeentes besluit hulle is nie happy met die besluit van die hoof-indoenas van die Nederduits Gereformeerde (voortaan bekend as die Nederduits Getransformeerde) Kerk nie. Hulle soek nie ’n demokratiese bestel waarin elke gemeente self mag besluit oor gays nie. O, nee; hulle wil self NAMENS ALMAL besluit, fok julle. Ons boikot sommer die Sinode, ons hou ons geldjies terug, die paar rand wat ons het, want ons is uitgefreak, ons is in ’n flat spin, ons is DIEP BESWAARD.
So wat gaan nou gebeur? Dis redelik voor die hand liggend. Die Kerk gaan waarskynlik skeur. Vir die tweede (dalk die derde?) keer.
Hoeveel Afrikaanse Kerkgenootskappe is daar? Ek weet net van twee, die Getransformeerdes en die Doppers. Ek dink die verskil tussen hulle is dat een van hulle, ek kan nie onthou watter een nie, nie die Psalms mag sing nie, of net die Psalms mag sing, of die Psalms met ander wysies moet sing, of whatever (jy gaan nie hel toe as jy die verkeerde goed sing nie, maar God raak nogal pissed-off, glo my).
Maar daar moet iewers nog ’n derde Kerkgenootskap ook wees, want ek hoor altyd mense praat van die DRIE Susterskerke. Wie is die derde?
Ek het geen idee nie. Dalk is dit Solidariteit?
Newwermaaind. Daar sal dan van nou af VIER wees. Die Getransformeerdes, die Doppers, die derde een (wat dalk Solidariteit is, hoewel hulle duidelik nie eintlik ’n opinie het oor Psalms of gesange nie), en dan die DIEP BESWAARDES.
Die DIEP BESWAARDES sal vir hulleself ’n naam moet uitdink. My voorstel is dat hulle vir hulleself ’n LEKKER naam uitdink. Iets wat catchy en bemarkbaar is. Anders loop hulle die gevaar dat niemand hulle gaan oplet nie, of dadelik van hulle bestaan sal vergeet.
Ek stel voor hulle staan voortaan bekend as die K.A.K. (Konserwatiewe Afrikaanse Kerk).
Want dis mos wat hulle is. Konserwatief.
En hulle is Afrikaans.
En hulle is ’n Kerk. Dis tog obvious.
Die van hulle wat nog EKSTRA DIEP BESWAARD is, wat ook ’n probleem het met Belhar (ja, want dit was mos die vorige groot krisis in die Kerk voor die ding met die gays) kan dan selfs nóg ’n keer afstig en hulleself noem die Konserwatiewe WIT Afrikaanse Kerk (K.W.A.K.!)
Wie weet, dalk is daar in die toekoms nog ’n groep DIEPER BESWAARDES wat nog EKSTRA AFRIKAANS wil wees, en dan word hulle die K.W.A.A.K., tot daar op die ou end netsoveel Afrikaanse Kerke is soos Afrikaanse sangers!
En terwyl hulle nou so in die verlede in wil terug-KWAAAAAK, wil hulle nie sommer all the way gaan, en die togas terugbring nie? Gaan die mans weer hoedens dra soos D.F. Malan? En gaan hulle, soos in die sewentigs, besluit vroue mag nie broekpakke dra nie? Gaan hulle dalk, behoed my siel, weer ekstra Calvinisties word, en, soos die N.G. Kerk in die ou tyd, glo dat vrye wil glad nie bestaan nie en dat Uitverkiesing geskied VOOR Wedergeboorte? (In daai geval, why bother?, dis wat ek nog altyd wou weet, maar toe ek klein was kon die dominees nie daai vraag beantwoord nie).
Hel, ek weet nie so mooi. Die hele storie, as jy my vra, is ’n storm in ’n Nagmaal-glasie.
Amen.