Iemand om dop te hou: Emma van Heyn
Teatraal en musikaal
Emma van Heyn se eerste album, Asylum (2016), gaan tematies daaroor om allerhande tipes ongeregtigheid teen te staan. Dié album is nie polities van aard nie, alhoewel ’n vrou al buite een van haar vertonings geprotesteer het, omdat haar feministiese uitlatings oënskynlik te kontroversieel is. Emma skryf self haar musiek, en sy put uit haarself vir inspirasie. Sy beskryf die eerste album, wat uit 15 liedjies bestaan, as ’n “showreel of my teenage mind”.
Haar nuwe musiek (’n nuwe album kan in Augustus verwag word) gaan oor die “underbelly of love”, soos Emma dit beskryf. Die musiek handel oor liefde wat nie sugarcoated is nie: die verval van ’n verhouding, obsessie, stalkers. Vrou- en millennial-wees is opmerkbaar in haar aanslag en uitbeelding.
Emma se musiek kan onskuldig voorkom, maar daar is dikwels iets meer edgy daaraan. Dit neig na pop rock, met Emma wat Lana del Rey en Lady Gaga as invloede erken. Imogen Heap het waarskynlik die sterkste invloed op haar gehad. Emma verwys na kunstenaars se personas as musikale wêrelde, as prentjies wat ingekleur moet word. “Ek neem my ervarings en bou ’n storie daarom [sic], soos om die produk van begeerte te wees,” vertel Emma. Haar musiekvideo ‘Taboo’ handel oor objektivering en sensualiteit.
Die prentjie van Emma van Heyn word nog ingekleur. Sy het vroeg reeds begin liedjies skryf in ’n musikale huis. Dit was vir haar ook ’n manier om te rebelleer teen die samelewing. Haar fokus was eers op drama, terwyl musiek nog net ’n sideline thing was, vertel sy. Sy het later in ’n underground psychedelic rock scene beland en was ook in ’n band. Kort daarna het sy solo optredes begin doen, en musiek in drama begin inkorporeer deur middel van kabaret.
As ontvlugting het Emma vir ’n jaar, aand-na-aand in ’n hotel in Shanghai op ’n marmer verhoog met ’n vleuelklavier haar kuns beoefen. Dié werkservaring het die verhoogproduksie Met Slenterslag na Shanghai tot gevolg gehad, wat deel vorm van beide die 2019- en 2020-Woordfeesprogramme. Vir Emma was haar hotelkamer in Sjina ’n plek van intense isolasie, maar ook ’n plek waar sy op haarself kon fokus. “Dit is ’n baie eerlike storie van wat in die hotel gebeur het. Dis nogals rof, amper soos ’n beeldskone trauma,” brei sy uit. Ná Sjina is sy na Londen, New York en Los Angeles, en het sy ook daar opgetree.
Vir nou het Emma nog ’n day-job in die televisiebedryf in Kaapstad. Sy het tydens die onlangse Fiëstas 2020 saam met Amanda Strydom op die verhoog verskyn waar sy haar weergawe van Amanda se ‘Slippers van Satyn’ opgevoer het. Wanneer sy gevra word as watter tipe kunstenaar sy gesien wil word oor vyf tot tien jaar, antwoord Emma in breë terme en sê dat sy ’n inspirasie vir ander wil wees: “Of dit nou motivering, ontsluiting van kreatiwiteit of blote aanhou beweeg is. Een ding lei altyd na die volgende.”
Die foto’s vorm deel van die agste storie in die Klyntjies-reeks deur Juanita Køtzé (The Rare Librarian), geneem deur Marguerite Oelofse. Sien die visuele storie hier.