Die laaste Klyntjies, opgedra aan Juanita Køtzé
Tinarie van Wyk-Loots met karaktersketse deur Bibi Slippers
Klyntji het sedert Maart 2018 saam met Juanita Køtzé, ook bekend as The Rare Librarian, gewerk aan Klyntjies – ’n reeks fotosketse tesame met ander media. Klyntjies het deel gevorm van The Rare Library, Juanita se passieprojek waarby sy talle mense betrek het. Sy was ’n enigmatiese figuur, en is steeds ná haar dood vroeër vanjaar.
Die eerste Klyntjies was oor meubelontwerper David Krynauw en sy vrou Jasmyn. Daarna verskyn ’n surrealistiese storie oor kunstenaar Marlene Hettie Steyn en haar tweelingsuster Christi, ’n karakterstorie oor Lynelle Kenned, ’n rojale uitbeelding van kunstenaar Octavia Roodt, en ’n spa day in Franschhoek saam met vyf skeppers. Uitgawe Six Love: Die Liefdes Ope is van hunks Dean Smith, Jacques Bessenger, Len-Barry Simons en Llewellyn van der Berg op ’n tennisbaan. Uitgawe 7 was nog veronderstel om uitgebrei te word na sewe skeppers, maar is voltrek met Stefanie Langenhoven se fotografie, kunstenaar Gabrielle Kruger, sowel as akteurs Marguerite van Eeden en Carla Smith. Daarna verskyn Emma van Heyn en Mari Borstlap in uitgawes 8 en 9. Die laaste Klyntjies, uitgawe 10, is van Tinarie van Wyk-Loots met karaktersketse geskryf deur Bibi Slippers.
Die fotograwe wat aan Klyntjies gewerk het, is Merwelene van der Merwe, SJ van Zyl, Bernard Brand, Jana Heyns, Marguerite Oelofse en Katinka Bester, met stilering deur Tiaan Schutte, Guy Kleinhaus, Morné Marx, Michelle-Lee Collins, Fajer Sallaj, Retha Erichsen, Rayven Vlok en Andrea van den Houten. Chrystal Birch, Lucy MacGarry van L’Mad Collection, Reg Hart van InJuly, en Løuw Kotzé het bykomende klerasie verskaf. Daar verskyn ook teks deur Antoinette Pienaar en Ané Kotzé.
Dankie vir alles, Niets.
Ons deel ’n huldeblyk aan haar, geskryf deur Eben Keun.
Die rare bibliotekaresse was eerstens ’n portretkunstenaar.
’n Vrou sonder vrees.
Beeldskoon
Vrygewig
Hartstogtelik
Aandringend
Oorspronklik
Haar beste vriendin was Van Hunks se magiese dogter Marie-Johanna.
Sy het ’n stylvolle, wilde vrou-argetipe verpersoonlik wat ’n vonk in ander kon opsteek deur hulle na haar sensuele vlam aan te trek.
Een van haar hartsgenote het gesê Juanita was op haar gelukkigste wanneer ’n klein pawiljoentjie van mense voor haar vergader het. Die verlies van haar helder glans voel soos beurtkrag in ’n groot stadion sonder kragopwekkers.
Magneties, betowerend, ’n bevryde vrou wat massas mense in haar boheemse wonderwêreld ingenooi het.
Dit was nie ongewoon vir ’n huisvol gaste om vir ’n impromptu noenmaal onthaal te word en dan ’n hele nuwe gehoor vir aandete by haar langtafel aan te sit nie.
Sy was ’n skerpskepper, sensoriese kurator, stilis, kreatiewe direkteur, mentor, muse, vryedenker en vervaardiger van wonderlike ondervindings. ’n Bibliotekaresse, verteller van en handelaar in stories.
Haar unieke wyse met woorde het nuwe poëtiese wêrelde laat verrys.
Haar kombuis-eiland ’n verhoog en altaar. Haar vroegoggendjoernaal haar toevlug.
Sy was behep met die idee van sinestesie – ’n harmonie van die sintuie – kos wat lyk soos ’n lied, en oudioboeke wat vloei soos heuning. Sy het ’n enigmatiese visie vir die lewe gehad en kon uiteindelik soos Sinatra sing: “[...] more, much more… I did it my way.”
Mooi, pragtig, eiesinnig, aanloklik, snaaks, sensueel, romanties en vol liefde vir haar familie en vriende.
Een van haar gunstelinggesegdes was: “My beker loop oor”. Haar liefde vir die lewe was aansteeklik en daar was altyd ’n kelkie Cap Classique vir ’n heildronk op lig en lewe byderhand.
Sy was ’n legendariese samesteller van playlists en ’n Olimpiese Scrabble-speler.
Juanita was ’n voorsteller, bekendsteller en inleier. Die gees van die Rare Librarian sal soos ’n vlam dans in die harte van die mense wat sy liefgehad en aangeraak het.